Leë nagte

  • 0

LitNet se Stemme is ’n reeks van 10 kort, kragtige monoloë, geskryf deur gevestigde en opkomende dramaturge, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi.

In Saartjie Botha se Leë nagte vertolk Geon Nel die rol van ’n man wat bewus word van twee hawelose mense wat op die sypaadjie langs sy huis nes skrop. Nicole Holm is die regisseur.

Hier gesels Nicole Holm en Geon Nel oor hulle werk aan die produksie.

Leë nagte

Ek sien die hopie op die grond toe ek uitklim om die hek oop te maak. Iets wat afgelaai is of afgewaai het en net bly lê het. Danksy loadshedding is ons derde hekbattery in drie maande daarmee heen. Die body corporate sê as ons nog ’n nuwe ene soek, gaan die levies op met R250. Julle moet stem. Ons stem. Nee vir die R250. Die hek bly op manual.

Dis eers die aand toe ek in die bed lê en ek die stemme hoor dat die hopie mens word. Mense word. Twee van hulle, twee mans. Op die stoep. Nou nie eintlik ’n stoep-stoep nie, dis teen die straat. So jy kry die straat, pavement, extended pavement, muur, twee treë, my bed. Hulle is naby, die twee hopelose, hopeless, homeless mense op die extended pavement. Hulle praat oor Debbie-Lee. Debbie-Lee het nou ’n nuwe boyfriend. Debbie-Lee het sy hart gebreek. Dit klink of hy lag en dan huil. Hulle is seker dronk. Ek probeer slaap. Ek kan nie. Dis te koud. Ek is nie grootgemaak om so doof en blind te wees vir my naaste se nood nie. Twaalfuur is hulle stil. Behalwe die gesnork. Drie-uur klink dit of een van hulle teen die muur pis. Halfses is hulle wakker. Sesuur is hulle weg. Ek staan met my neus teen die toe venster. Asof ek hulle probeer ruik. Al wat ek ruik, ruik is ’n stowwerige gordyn.

Ek gaan kyk: Daar is nie ’n piskol teen die muur nie. Net ’n paar blare wat rondwaai. Verder is dit skoon.

Toe ek die laatmiddag sesuur van die werk af kom, is hulle nie daar nie. Goddank vir my middelklas- middeljarige stedelike bestaan. Ek kyk ’n bietjie TV, gaan slaap vroeg. Twee-uur word ek wakker van die gesnork. Hulle is terug. Ek staan by die venster. Ek kan nie hulle koppe sien nie, dis te naby aan die muur. Hulle lywe is styf teen mekaar, onder vodde en plastic. Só close dis nogal intimate. Ek wonder waar’s Debbie-Lee vanaand.

Ek mail die body corporate: Sal hulle asseblief reël dat die mense verwyder word. Die body corporate sê dis extended pavement, dis nie ons besigheid nie. Ek bel Law Enforcement. Law Enforcement sê “No problem, Meneer, ek sal hulle vir jou kom verwyder. Ek kom. Maar hulle is nie nou hierso nie? They’ll be back. Ek kom. Op ons kan jy staatmaak, Meneer. Op Law Enforcement.”

Maar dié aand is die twee weer terug. Hulle sit en kyk vir my toe ek stop by die manual hek. Ek sien nou eers die een is wit. Ek wonder wie se hart het Debbie-Lee gebreek. Is Debbie-Lee wit of bruin? Maak dit saak? Ek maak nie oogkontak nie. Hulle kyk vir my. Ek voel hoe brand hulle oë my toe ek inry, parkeer, terugstap, hek toemaak. Hulle bly kyk vir my al is my voordeur toe. Daar waar ek kosmaak, eet en bad, brand twee pare oë deur mure en vensters. Ek slaap op die bank, ver van die pavement af. Die muur is net te dun tussen my en die brandende oë en ’n liggaam smagtend na Debbie-Lee. Smag ’n mens as jou maag leeg is? Ek sal nie weet nie.

Law Enforcement kom. “Môre-môre, menere, julle kan nie hierso slaap nie. Kom, op is julle!” Net na eenuur is dit stil. Ek slaap. Onrustige drome van kos, lywe en hitte. Drie-uur is hulle terug. Hulle sit en praat oor hoe die DA die Wes-Kaap opgefok het, hoe vuil die shelters is en dan weer oor Debbie-Lee. Hy’t gaan kyk na die huis waar sy nou bly. Daar hang wasgoed in die voortuin. Jeans en overalls van ’n vet man. Miskien hou Debbie-Lee van ’n vet man. Wys my ’n vet man wat op straat is. Dit bestaan nie. ’n Vet man het altyd ’n huis.

Vergeet net van Debbie-Lee, vergeet van haar. Sy is net ’n droom.

Ek staan by die venster, ek wil alles hoor.

“Sy sit hier, agter my oë, in my kop. Aan die binnekant. Ek sien hoe sy aangestap kom na my met ’n rok van bont lapgoed, soos my ma vir my sustertjies gemaak het. Met haar Singer-masjien.” “Man, Debbie-Lee is net ’n droom, vergeet van haar. Sy is nie nou hierso nie. Sy is by die vet man in sy huis.” “Jirre got, ek verlang nou na my ma. Debbie-Lee kan gaan kak. Ek weet nie of my ma nog lewe nie.”

En toe slaap hulle. Ek sit aan dié kant van die muur. Ek dink aan Debbie-Lee by die vet man. Hoe lank voor sy weer die pad vat.

Ek luister na hulle asemhaling. Nou en dan ’n sug. Tot dit lig word. Hulle lê laat. Ek maak die hek so saggies moontlik agter my toe. Maar soos ek omdraai, sit en kyk hulle al twee vir my.

“Hallo buurman,” sê die een.

 

***

Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die Stemme-monoloë word in die volgende weke op hierdie blad vrygestel:

Stemme

Lees hier meer oor die Stemme-projek:

Stemme: LitNet se monoloogprojek met Suidoosterfees, KKNK en NATi

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top