Die hoofsanger van aKING, Laudo Liebenberg, het onlangs ’n rugoperasie ondergaan. Hy beantwoord enkele vrae oor waar dié band op die oomblik is, die operasie en die toekoms.
Goeiedag, Laudo. Hoe’s dinge?
Dinge is lekker.

Rocking the Daisies, 2011
Foto: Henry Cloete
Jy moes onlangs ’n operasie aan jou rug ondergaan. Wat het hiertoe aanleiding gegee en wat moes hulle doen? Hoe voel hy nou?
Ek het maar ’n slegte rug al van hoërskool af, met rugbybeserings ens, en soos die tyd aangeloop het, het ek ’n disc in my onderrug ’n paar keer geslip en beskadig. So ’n paar maande terug het ek gaan bergklim saam met ’n groep en na dit was my rug nie weer dieselfde nie. Na ’n MRI-scan was die beste keuse om ’n discectomy te kry. Ek voel baie goed nou, dis nog “early days”, maar ek is al klaar heelwat beter en kan perform sonder om te wil skreeu van die pyn.
Dalk voel dit net so, maar aKING het die afgelope jaar of so effens minder gereeld gegig as wat vroeër die geval was … Is dit net in my kop, of hoe was/is die situasie in terme van die waar en wanneer van jul optredes?
Ons het definitief bietjie minder opgetree hierdie jaar – tussen nuwe materiaal skryf en my rug se probleme kon ons nie volspoed toere aanpak nie, maar ons glo dit is gesond om nie te veel te speel op dieselfde plekke nie, want hopelik is daar dan weer vars ore teen die tyd wat jy ’n nuwe produk uitbring en toer. Ons het ’n tawwe paar jaar gehad met die bedryf wat so rampspoedig verander en ’n paar bestuursprobleme wat ons op die agtervoet gesit het. Nou “self-managed” en “independent”, lyk die toekoms rooskleurig en met ’n skoon blaadjie kan óns die “shots call” van wat volgende moet gebeur.
Onlangs het ’n “re-release” van The Red Blooded Years verskyn, onder die vaandel van ’n nuwe verspreider. Wat is die situasie daar en hoe was die reaksie op dié vrystelling?
Die nuwe songs op die release doen baie goed, en mense kon ’n voorsmaak kry vir die volgende album. In stede van nog ’n batch van dieselfde albums print, het ons gedink ons sit ’n paar ekstras op onder die nuwe uitgewer en toets die kanale.
Gepraat van Red Blooded Years, dit het in 2011 verskyn – is ’n nuwe album al op die kaarte?
Ons kom nou net uit die eerste paar studio-sessies uit en beplan om die album einde van die jaar reg te hê en vroeg volgende jaar te release. Dis exciting stuff aangesien ons dit hierdie keer self-finansier en die album ook self-produce.
Hoe verloop die skryfproses in aKING deesdae? Is daar ’n verskil in julle benadering, die onderskeie aanslae in die vorige albums in ag genome, van hoe dit vroeër aangepak is?
Elke keer is anders en dit maak dit lekker. Mens is elke album in ’n ander head space. Almal bring stukke musiek daar aan en so begin ons kies watter idees in songs moet verwerk word. Partykeer het ek al iets geskryf en dan workshop ons dit tot almal daarvan hou. Ons is baie gemaklik tussen mekaar en nie meer bang om ons opinies te deel nie. Die nuwe materiaal maak my baie opgewonde en dit klink soos wat ons wil hê dit moet klink.
Aanhangers van aKING sweer by die aanslag en aard van die lirieke wat aKING pleeg. Wat is jou gevoel en filosofie oor liriekskryf? Hoe gebéúr dit?
Lirieke moet net van die regte plek af kom. Soms gebeur dit sonder dat jy agterkom en soms wil mens bietjie meer van ’n storie aanheg, maar ek glo dit moet eerlik wees en lekker sing. Anders, wat's die punt van die song se bestaan?
Julle het al die land platgetoer – enige interessante staaltjies waarvan min mense weet? Enige plekke waarheen julle nie sommer weer sal toer nie?
Ons was al op ’n paar plekke wat ek nie sommer weer sal besoek nie, maar dit beteken nie dat ek nie bly is ek was daar nie. Die land is vol allerhande lekker mense en party mense wat ek nooit sal verstaan nie. Ek is so bly ek doen wat ek doen en kry die kans om soveel verskillende groepe mense te ontmoet.
Wat hou die verre toekoms vir aKING in?
Nog musiek en ons mik om oorsee ’n paar nuwe circuits te begin speel.
Wat is die sin van die lewe?
Nee, ek weet nie? Om dit nooit te probeer verstaan nie, en om mekaar lief te hê.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

