Last night in Soho: ’n filmresensie

  • 0

Plakkate van Last night in Soho: YouTube

Last night in Soho
Met Thomasin McKenzie en Anya Taylor-Joy
Regisseur: Edgar Wright

Jy moet in die regte bullebakbui wees om hierdie bisarre Edgar Wright-rolprent soos ’n smulpaap te verorber. Hy het ook onder andere gesorg vir die ewe eksentrieke Shaun of the dead (2004) en tonekrullekker Baby driver van 2017. Dis soos om ’n partytjie by te woon waar almal gekoring is behalwe jy. Wright verlei jou dan om ook ’n filmiese loopdop te geniet, want anders sal jy die teater al gillende verlaat.

Dis ’n superkoel eksploitasie-mallemeule-rit waarvoor jy fliekfiks moet wees.

.......

Dis ’n superkoel eksploitasie-mallemeule-rit waarvoor jy fliekfiks moet wees.

.........

Nog ’n stukkie raad: Jy moet Roman Polanski se rolprente, spesifiek The tenant 1976) en Repulsion (1965), asook veral Nicolas Roeg se meesterlike Don’t look now (1973) ken. Dan, en slegs dan, het jy ’n vae idee waarvoor jy jou inlaat. Want Wright is ’n wrede avant-garde-regisseur wat leen en dit dan oorspronklik maak.

Met pragtige, nostalgiese popliedjies uit die sestigerjare, soos Downtown, verlei hy jou gedurende die eerste kleurvolle en dol uur en lei jou op ’n lekker dwaalspoor. Maar dan tree sy Shaun of the dead-maniere in en klits hy jou met drogbeelde, gruwelike geweld en intense moordtonele om sodat jy later aan jou eie normaliteit begin twyfel. Kortom: Hy maak jou mal. En hy oordoen dit.

En tog ... en tog ... So tussen al die grusame en verwarrende drogbeelde wat gedurende die tweede helfte volg, en die eksplisiete keelafsnygruwels, dikwels op die maat van 1960’s-popmusiek, geniet jy dit op ’n masochistiese manier, maar erken dit teenoor niemand nie.

Feit is, Wright raak die kluts uiteindelik heeltemal kwyt en raak selfverheerlikend, sodat die effek tot vermoeienis en visuele uitputting lei. ’n Kyker kan net sóveel drogbeelde, verwarrende drome en kleurvolle lekkerkrymoordtonele hanteer alvorens jy die regisseur in ’n gestig wil opsluit. Ook omdat hy Dario Argento se klassieke seksploitasiefilm Suspiria (1975) so skaamteloos naboots. Adolessente meisies op skool of in ’n kollege is skynbaar sy kos.

Dit word duidelik dat jy eintlik ’n fliekfoendie moet wees om al die verwysings, nabootsings maar ook huldeblyke uit te pluis en te waardeer. (Die laaste woord daar word met groot versigtigheid gebruik.)

Die kyker kan ook kla dat die rolprent die misbruik van en aanranding op vroue goedkeur, en ’n buitelandse resensent het kapsie teen rassisme gemaak.

Die storie? Hoogs onwaarskynlik en hallusinerend, maar hier kom hy.

.......

Die storie? Hoogs onwaarskynlik en hallusinerend, maar hier kom hy.

........

’n Jong meisie wat graag ’n mode-ontwerper wil word, Eloise, arriveer in Londen met die wete dat haar oorlede ma, wat selfdood gepleeg het omdat sy onder andere gehallusineer het, haar einde hier teëgekom het. Gou trek die heldin uit die woonstel wat sy met ander aspirantmode-ontwerpers deel (eggo’s van Suspiria se feekse met styl) en bevind haar in ’n spokerige Rosemary’s baby-woonstel. Die hospita is ’n skrikwekkende Diana Rigg in haar laaste rol, wat die meisies met ’n ysterhand regeer. En kort voor lank begin Eloise droom oor moorde en word sy deur gesiglose spoke, met gelaatstrekke en lywe wat lyk of dit smelt, geteister.

Kort hierna beland sy in 1966 in seker een van die mees uitbundige, kleurvolle en ekstrovert-baldadige tonele van die jaar wat ’n mens nie hier wil verklap nie. En sien sy ’n alter ego (?), die fenomenale Anya Taylor-Joy in nagklubs en in donker Nicolas Roeg-straatjies. Net Venesië was meer boos in Don’t look now (1973) as hierdie Londen in veral die moderne tyd. Ons hallusineer saam met Eloise (’n briljante Thomasin McKenzie) – natuurlik gebaseer op die Eloise van die bekende popliedjie, en raak beneuk verward en vreesaanjaend bang. Maar ook broos.

Meer wil of kan ’n mens nie sê nie, behalwe dat dit ’n allegaartjie van vroulike skoonheid is wat bloedig vernietig word, gevul met hallusinasies, prostitute, swinging Londen en grieselgeeste wat die lewe uit jou pers. Dit raak natuurlik gruwelik oordrewe.

Wright is meer behep met effek, hier uitgerekte spooktonele, as om kommentaar te lewer op jong meisies wat destyds, maar ook vandag, deur wrede mans verlei en verniel word, wat ’n jammerte is. Met die verkorting van ’n paar drogbeelde en kommentaar wat die #Youtoo-beweging sou gebaat het, kon hierdie ’n baie beter rolprent gewees het.

Feit bly staan die kyker moet hom- of haarself ten volle aan hierdie oordadige gruwelplesier oorgee of eerder iets anders gaan kyk. Dis dikwels net so onverantwoordelik soos die Netflix-reeks Alice in Borderland (2020), maar dit trek daardie geheime polities inkorrekte laaitjie in jou onderbewussyn oop wat skree: “Voer my! Voer my!” en klap jou in die gesig dat die bloed spat.

......

Slegs vir hoogs avontuurlustige en oopkop kykers aanbeveel.

........

Slegs vir hoogs avontuurlustige en oopkop kykers aanbeveel. Ek het later letterlik die ritteltits begin kry. En dit was nie altyd lekker nie ...

Naskrif. Kyk ’n bietjie volledig na die slottitels. Tussenin is ’n rits sekonde lange tonele, ’n soort koddige montage, waar ’n verlate Londen in ongeveer 15 skote gewys word. Hierdie skote is in die middel van die pandemie in Londen geskiet en is ’n toonbeeld van doodse verlatenheid.

Nou het jy dalk ’n idee waarvoor jy jou inlaat.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top