Titel: Laslap en Kwilt
Saamgestel deur: Die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799356663
Koop Laslap en Kwilt by Kalahari.com.
Hierdie boek is beslis uniek in die samevatting van meesterkwilters van Suid-Afrika se vertolkings oor ons eie antieke kwilte. Daar word geslaag in die doel om die vindingrykheid van ons voorgangers se kreatiwiteit aan lesers oor te dra. Dit skep ’n verwondering oor wat vermag kon word met heel moontlik beperkte middele wat tot hulle beskikking was. Vir doeleindes van hierdie boek is vyftien antieke kwilts uit museums geselekteer en die woord kwilt is hier baie los vertolk; daar is byvoorbeeld gekwilte babaskoentjies en Voortrekkerkappies ingesluit.
Die gebruik van kleurblokkies om verskillende afdelings te beklemtoon maak dit gebruikersvriendelik. Die kleurryke omslag nooi kwilters om dit nader te trek, maar die gryserige drukwerk by die uiteensetting van elke meesterkwilter sorg vir ’n effens wolkerige leesproses.
’n Breë spektrum van pragtige ou kwilts sorg vir interessantheid en die feit dat drie kategorieë onder die vaandel van Tradisioneel/Innoverend/Kuns geskep is, maak dat enige kwilter, hetsy tradisioneel of vernuwend in denke, hierdie patrone met soveel variasies goed sal kan benut.
Met verwysing na die spesifieke kategorieë waaronder die genooide kwilters inpas, word dit duidelik hoe verskillende tegnieke toegepas word. Dit is interessant om te sien hoe handwerk, soos byvoorbeeld Engelse laslapwerk by die tradisionele sowel as die vernuwende ingeskakel kan word. Dieselfde geld vir handappliek. Masjienstikwerk word in al drie kategorieë aangebied en dit laat lesers weer eens besef dat geen tegniek vir slegs één afdeling van kwiltwerk bestem is nie.

Dis ’n ongelooflike voorreg om deur sulke bekwame kwiltkunstenaars beïnvloed te word, van wie nie minder nie as twaalf boonop as gekwalifiseerde kwiltbeoordelaars bekend is.
Die ryklike en oorvloedige gebruik van feitlik alle soorte materiale wat in die erfeniskwilts gebruik was, behoort ook as inspirasie te dien om nuwerwetse kwilts te maak. Mens is geneig om stiksienig te wees en jouself te beperk tot sekere soorte materiale, terwyl daar vroeër in een kwilt die gebruik van katoen, sis en selfs flennie waargeneem is. Dit word dus aangeneem dat dit dikwels reslappies was wat van herwinde ou klere afkomstig is.
Daar word ook in verskeie afdelings, saam met die kwiltpatrone, vele raad en tegnieke aan die lesers verskaf om die lapwerk se hantering netjies en eenvoudiger te maak.
In die kategorie van kuns kan enige leser se verbeelding aangegryp word deur die milde gebruik van kwiltwerk sowel as borduurkuns.

Met elkeen van die kwilters se spesifieke beskrywing, biografie, inspirasie en bygevoegde patroon plaas die boek hierdie besonderse kunstenaars nader aan elke leser en maak van hulle ’n bekendheid in die kwiltwêreld. Foto’s van hierdie kunstenaars waar koppe afgesny is, steur egter.
Laslap en Kwilt is meer hartsboek as patroonboek, in die sin dat die nuuskierigheid van ons as oningeligtes oor ons ryke kwiltgeskiedenis in Suid-Afrika hierdeur geprikkel word. Aan die keersy sou ’n leser nie noodwendig hierdie boek aanskaf vir die verkryging van spesifieke kwiltpatrone nie. Foto’s van die volledige antieke kwilts sou tot lesers se voordeel gestrek het.
Hierdie boek kan nie geredelik aanbeveel word as sodanige patroonboek nie, hetsy vir ervare of onervare kwilters, maar beslis as ’n leersame en interessante handleiding tot ons ryke kwilterfenis. Dit dien ook as ’n nuttige inligtingboek wat ons meesterkwilters aanbetref.
Hierdie kwilters, saam met die Suid-Afrikaanse Kwiltersgilde, het ’n meesterlike taak verrig om ons kwiltgeskiedenis aan ons tuis te bring in die uitgee van so ’n lewendige en kleurryke boek.


