Lara se pienk mandjie, verslag een deur Anzil Kulsen

  • 0

Hierdie storie het die potensiaal om ’n lekkerlees-wetenskapfiksieverhaal te word, ook met ’n blik op die komplikasies wat dikwels in vriendskap opduik.

Die storie kom tans nie tot sy volle reg nie – die tempo aan die begin, veral met die paragrawe wat verwys na Lara en Joshua se laerskoolvriendskap, en die daaropvolgende paragraaf. Hier is baie meer ruimte vir intrige en om spanning en afwagting by die leser te wek.

Met die aanvanklike lees van die verhaal is die perspektiefverteller vaag. Die titel skep die verwagting dat die storie vanuit Lara se perspektief weergegee gaan word.

Wie is aan die woord tydens die eerste vraag? Joshua? En sal hy dan in die volgende paragraaf na homself verwys as ’n sestienjarige seun in HS Luiperdsdrift?

Die skrywer behoort eerstens te besluit uuit wie se perspektief die leser die gebeure moet waarneem en tydens dialoog die verskillende karakters aan die leser bekendstel. Weens die skoolopset is dit logies dat daar verskeie karakters gaan wees, en juis daarom behoort elkeen op so ’n wyse voorgestel te word dat die leser tussen hulle kan onderskei. Soos dit tans is, sal die leser se aandag maklik by die eerste paar paragrawe dwaal – daar is geen aanduiding dat iets vreemd of opwindend gaan volg nie.

Indien Lara tydens die openingsparagraaf iets sou doen, dalk selfs ’n gilletjie as die mandjie tuimel, enigiets wat Joshua se aandag trek, sal die leser dadelik meer wil weet. Meer oor Lara en meer oor die mandjie. Die leser verwag dat daar enige oomblik iets sal gebeur, dat Lara ’n soort wraak wil neem omdat sy so kwaad is vir die lewe, maar dit lyk asof sy self verras word deur die plant.

Hul vriendskap wat weggekwyn het, kan ook beter uitgewys word, byvoorbeeld deurdat Joshua Lara vra oor haar mandjie en Marie hom dan eerder antwoord, in stede daarvan dat die leser vertel word hoe hulle nie meer vriende is nie. Dis ook onduidelik hoekom nie.

Die skrywer kan met die herskryf van die storie na die vertelstyl wat gebruik word, oplet.

In Om te skryf, bladsye 2–9, is daar “twee maniere waarop ’n karakter geskep kan word: deur kommentaar of vertolking. Met kommentaar vertel die skrywer ons bloot reguit wat die eienskappe van die karakter is.”

Lara, wat ’n baie belangrike karakter in die storie behoort te wees, word deur kommentaar aan die leser voorgehou, te veel vertelling: “Sy lyk kwaad vir die hele wêreld. Dit lyk of hoërskool ’n straf is vir Lara.”

Al die karakters, asook die verteller, lewer kommentaar oor Lara, maar die leser hoor en ervaar Lara self nie. ’n Spreekbeurt vir Lara, dalk enkele stukkies dialoog waarin haar eie emosies en hoe sy haarself isoleer, gaan dalk meer doeltreffend wees.

Wanneer vertolking gebruik word, word die eienskappe egter indirek oorgedra deur hulle op die karakter se fisieke kenmerke, maniertjies, kleredrag, optrede en spraak te projekteer.

My volgende voorstel is dat die skrywer na die chronologiese volgorde van gebeure kyk en die gebeure so aanbied dat dit tegelyk afwagting skep en realisties ervaar word. Kyk na die paragraaf waar meneer Brandt die potplant uit die mandjie lig. Dit is onduidelik wie aan die woord is met die dialoog in die paragraaf daarna.

Na Marie weer met Joshua spot oor sy crush op meneer Brandt, het meneer Brandt intussen met sy les oor plantorgane begin en die leerders maak aantekeninge. Die leser het hier verlore geraak. Meneer Brandt het die een oomblik nog die potplant bewonder en Joshua hou vir Lara dop. Maar daar is absoluut niks in die teks wat Joshua sal noop om Lara dop te hou nie – nie haar eie optrede, ’n geluid by die pienk mandjie, meneer Brandt se (gebrek aan) woorde nie. Lara het tot nou toe nie op so ’n wyse reageer dat die leser kan sien iets is nie pluis nie, nie eens die eens die beskrywing van haar en Marie of Hanna se opmerkings oor haar nie.

Die skrywer moet dalk deeglik besin oor hoe hy/sy hier die leser gaan meevoer. ’n Knoop wat afstuur op konflik, ’n klimaks bereik en dan die ontknoping.

Om te skryf, 5-33: “’n Storie se gebeure moet georganiseer en as ’n reeks tonele aangebied word.” Of ’n verhaal dan nou ’n knoop het of nie, dit moet in eenhede verdeel word wat geskik is vir die lengte van die storie.

Met herskryf en fyn beplanning behoort die eindproduk interessant te wees.

Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>
Lees ook:

Lara se pienk mandjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top