LAPA se kinderboeke skitter by ATKV-Veertjies

  • 0

lapakinderveertjies2015

LAPA Uitgewers pronk vanjaar weer met ’n hele rits wenners by die jaarlikse ATKV-Kinderboektoekennings. Dié kompetisie is die enigste van sy soort in Afrikaans waar jong lesers self in verskillende ouderdomskategorieë vir hul gunsteling-boeke stem – volwassenes se stem tel glad nie.

LAPA het vanjaar oudergewoonte uitstekend gevaar en ses van die agt toekennings ingepalm.

In die voorleeskategorie (graad RR-graad 1) is Marita van de Vyver se prettige prenteboek Die coolste ouma op aarde as die wenner aangewys. Dié boek met sy versameling aweregse en interessante oumas is ook deur die jongspan aangewys as die prenteboek met die mooiste illustrasies, wat aan Zinelda McDonald die prys vir beste illustreerder in hierdie kategorie besorg.

In die kategorie graad 2-3 is die bekende kinderboekskrywer Fanie Viljoen se boek Plons as die wenner aangewys. Dit is ’n lekkerlag-storie oor ’n seun se dilemma nadat ’n parmantige meermin en haar familie hulle in sy swembad kom tuismaak. In hierdie kategorie kan lesers ook vir hul gunsteling-illustrasies stem, en Arnelle Woker is as die wenner aangewys vir haar illustrasies in Plons.

Ouer lesers in graad 6-7 het vanjaar die boek Wian Verwey het ’n crush op my as hul gunsteling gekies. Dit is geskryf deur die baie gewilde Tania Brink – skuilnaam van die skrywer Jaco Jacobs.

Marisa Haasbroek se eerste roman vir tieners, Iewers vlieg daar fairy dust, het in die kategorie graad 8-10 met die louere weggestap. Dié aangrypende jeugroman vertel die storie van Elmien, wat in ’n plakkerskamp bly en daarvan droom om eendag ’n dokter te word.

Die ATKV-Kinderboektoekennings word op 11 September tydens die jaarlikse ATKV-Woordveertjie-geleentheid in Durbanville oorhandig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top