LAPA Lekkerlit 2012

  • 0

Tien maande, tien boeke. En uiteindelik die groot aankondiging!

Die boek wat as wenner van LAPA Uitgewers se 2012-Lekkerlit-kompetisie aangewys is, is Maanschijnbaai: Jo & Sue deur Chanette Paul.

Die Lekkerlit-kompetisie het oor ’n tydperk van tien maande (1 Februarie – 30 November 2012) gestrek. Elke maand het LAPA ’n Lekkerlit-boek gekies. Die mengsel van boeke het spanning, romanse en avontuur ingesluit. Lesers moes op LAPA se Facebook-blad ’n kompetisievraag beantwoord. Benewens die kompetisievraag oor die spesifieke Lekkerlit-boek van die Maand, het Madri Victor besprekings oor die boeke saamgestel, wat vrae vir leeskringe, onderhoude met die skrywers en ander brokkies inligting ingesluit het. Dit het alles op LAPA se webwerf en Facebook-blad verskyn.

Een gelukkige leser het elke maand R1 000 kontant losgeslaan. Nadat die deelnemers al tien Lekkerlit-boeke gelees het, het lesers van 3 tot 14 Desember 2012 die geleentheid gehad om vir hul gunsteling- Lekkerlit-boek van die Jaar te stem. Die wenner is pas bekend gemaak. Chanette Paul het ’n R10 000-kontantprys as outeur van die Lekkerlit-boek van die Jaar gewen met Maanschijnbaai: Jo & Sue. Dit is die eerste aflewering in ’n tweeluik oor die Calitze: vier uiteenlopende vroue – elkeen in ’n ander lewensfase, elkeen met haar eie geite en ’n verlede – wat die inwoners van Maanschijnbaai behoorlik laat regop sit toe hulle op ’n dag die dorpie in ’n pienk Cadillac binnevaar.

In die gesamentlike tweede plek is twee debuutromans, naamlik Een stad, drie rooikoppe, sewe dae (Lili & Adeline Radloff) en Lam in wolfsklere (Bernette Bergenthuin). LAPA is veral verheug dat die twee debuutromans so gewild onder die lesers was. Leon van Nierop se Insomnia het ’n trotse derde plek ingeneem.

Een gelukkige deelnemer, Annelene von Willigh, ’n Grondslagfase-onderwysstudent aan CPUT, Wellington, is ook deur middel van ’n gelukstrekking met ’n kontantprys van R10 000 beloon!

Lesers moet op LAPA se Facebook-blad en webwerf (www.lapa.co.za) vir die meer vaartbelynde Lekkerlit-kompetisie van 2013 op die uitkyk wees.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top