Twee van LAPA Uitgewers se kleuterboeke het uitgeblink by die Nasionale Ontwikkelingsagentskap se Vroeë-kinderontwikkeling-toekennings (Early Childhood Development Awards) wat Donderdagaand, 26 Maart 2015, tydens ’n glansryke geleentheid by Montecasino, Johannesburg, oorhandig is.
Maja Sereda se My eerste woordeboek, ’n baanbreker-kleuterwoordeboek in vier tale (Afrikaans, Engels, isiXhosa en isiZulu), is as wenner in die kategorie Beste Publikasie vir Vroeë Kinderontwikkeling aangewys.
Die illustreerder Alzette Prins is bekroon as beste illustreerder vir 2014 met haar illustrasies vir Leon de Villiers se gewilde kleuterboek Parmant (in Engels gepubliseer as Cheeky en in isiXhosa as uTshiki).
Die toekennings word jaarliks gedoen om erkenning te gee aan persone en instansies wat bydra tot die strewe na uitnemendheid op die gebied van vroeë kinderontwikkeling.
Die toekennings is deur die minister van sosiale ontwikkeling, Bathabile Dlamini, oorhandig.
* * *

My eerste woordeboek en Parmant is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek die webblad: www.lapa.co.za.

