LAPA by die Tulbagh Lentefees

  • 0

LAPA se skrywers het by drie geleenthede opgetree by Tulbagh Lentekunsfees op Saterdag 7 September 2013.

Carla van der Spuy, die outeur van Mens of Monster, het ’n optrede gehad by Tulbagh se korreksionele fasiliteit. Sy het vertel dat oortreders graag stories lees waarin die swart skaap uiteindelik tog bo uitkom.

Dit was ’n vol program. Die geestelike hoof van die fasiliteit was die seremoniemeester.

Die hoof van die opleidingsdienste by die fasiliteit het trots vertel hoe hulle die oortreders help om hulle opleiding te verbeter.

Die hoof van die fasiliteit het baie komplimente gehad vir Carla se navorsing. Hy besit ’n kopie van Carla se boek, wat hy self gekoop het.

Die streekskommissaris van Korrektiewe Dienste het vertel hoe die projek “Reading through redemption” werk. Die lees van boeke is geweldig belangrik en word aangemoedig – oortreders kan selfs afslag kry van hulle vonnis as hulle genoeg lees. Carla het ’n kopie van Man or moster (die Engelse vertaling) aan hom oorhandig.

Die publiek is gevra om boeke te skenk vir die fasiliteit se biblioteek en talle mense het gehoor gegee.

Kuns, wat deur die oortreders gemaak is, is uitgestal. Twee kore en ’n orkes, bestaande uit oortreders, het opgetree by die geleentheid.

Ná ’n koppie tee genuttig is op die rugbyveld, is belangstellendes deur die selle geneem. Kameras is nie daar toegelaat nie.

’n Kort rukkie later het die aksie verskuif na die nabygeleë Manley-wynlandgoed se troukapel.

In die kapel het Elsa Winckler, Kristel Loots en Alta Cloete gesels oor die uitdagings om lekkerleesboeke relevant te hou vir hulle gehore. Die praatjie is baie goed ontvang – deels omdat dit met baie humor gepaardgegaan het.

Daarna het Carla van der Spuy met Chanette Paul gepraat oor misdaadromans. Paul sê met Siende blind het sy, anders as met die Gys Niemand-reeks, die sosiale patrone in die samelewing aangespreek. Sy het ook opsetlik die moordenaar gesigloos gelaat, juis sodat die leser saam met haar karakter moet bly wonder. Paul sê ook dat haar skurke het heelwat sagte kante het, anders is hulle nie interessant nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top