Landbou Boerekos – die beste gebak deur Arina du Plessis: ’n resensie

  • 8

Linkerkantste plakskildery: Facebook

Landbou Boerekos – die beste gebak
Arina du Plessis
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798179164

Ek het in 2005, gedurende ’n skooluitruilprogram vir twee maande in Europa, by huisgesinne gaan bly. Die eerste stop was Nederland, toe af na Frankryk en uiteindelik Duitsland toe. Dit was ’n verruklike ervaring en daar was só baie avonture wat ek nooit sal vergeet nie.

Maar, ek is wie ek is en kos was nog altyd heel bo aan my prioriteitslys, so ek moet eerlik wees as ek sê dat die helderste herinneringe vir my natuurlik die kos is! My Hollandse en  Franse gesinne was glad nie mense wat lief vir kosmaak óf onthaal was nie – dit het gevoel asof ek vir vyf weke op ’n detoxdieet was. My aankoms by my volgende familie, die Duitsers, was egter ’n heel ander storie. Toe ek by die voordeur instap, het ’n walm van tuisgebakte geure my totaal en al oorweldig. Op die eetkamertafel was koekies, brode en koue vleise,   kase, terte en Kuchen. Absoluut hemels. Ek was dadelik tuis!

Chris Burgess, Landbouweekblad se hoofredakteur, skryf in die voorwoord van Arina du Plessis se resepteboek Boerekos: Die beste gebak oor hierdie einste Duitse nostalgie en gasvryheid as dit by sy eie familieherinneringe kom. Arina skryf ook oor háár herinneringe van hul plaas en familie en bak. Kos is die een ding wat ons almal, oor grense heen, binne enkele sekondes in ’n oomblik kan plaas: ’n reuk, ’n smaak, ’n gevóél … nostalgie! En dit is presies wat Arina in haar boek so perfek regkry.

Armand Aucamp (foto: Izak de Vries)

Ek moet ook vooraf noem dat ek ’n groot voorstander van ’n laekoolhidraatleefstyl is, bedoelende suiker- en graanvrye kos, maw geen meel nie. Dit beteken nie dat ek nie waardering vir wonderlike tuisgebak het nie. Inteendeel, ek het ’n wonderlike stukkie wysheid van ’n vriend se ma gehoor waarmee ek nogal saamstem. Sy het altyd vir haar kinders gesê: “Julle kan absoluut enigiets eet, mits julle dit self gemaak het. So, as julle ’n KitKat wil eet, moet julle dit self, van scratch af, maak.” Ek dink as ons by hierdie beginsel bly, sal ons alreeds op ’n baie beter plek wees. Gelukkig word elke resep in Boerekos: Die beste gebak van scratch af gemaak.

Met die eerste oogopslag roep Boerekos ’n behoorlike dosis nostalgie op met Suurlemoenblokkies (85), voorgesit op ’n emaljebord op die voorblad. Onmiddellik is ek terug in my eie ouma Euodia se kombuis, met háár emaljebord gevul met Hertzoggies en melktert.

Soos ’n mens deur die boek blaai, kom ’n mens agter dat Arina werklik niks uitgelaat het as dit by eg-Afrikaanse gebak kom nie. Daar is beskuit, kleinkoekies, brode en allerlei koeke, poedings, bruintjies en kolwyntjies, asook terte en Kersgebak. Die boek bars behoorlik uit sy nate met opsies, bederfies en moontlikhede.

Wat vir my opvallend (en ’n lekker verrassing) was, was dat Arina die verlede en hede so moeiteloos deurvleg met haar keuse van resepte. Daar is eg-tradisionele gebak soos Tradisionele mosbolletjies (17), Kweper-en-kaneel krummeltert (101) en Gunsteling-Vlakoek (129). Dan is daar nuutskeppings met ’n moderne twist soos Rooifluweel-Kaaskoekbruintjies (86), Biltong-en-Fetakaaskoek (103) en die überdekadente Dom Pedro-koek met oondgebakte karamel en ganache (120) ... Dônner!

Dit is vir my hierdie fusion van die ou wêreld en die nuwe wat Arina só goed doen wat die   sukses van hierdie boek sal verseker. Dit spreek tot die bobaas tradisionele bakker asook die jonger-geslag-amateur wat deesdae al hoe meer wil terugkeer na handgemaakte kultuur soos van ouds.

Kyk, ek is nie veel van ’n bakker nie. Ek was altyd onder die indruk dat beskuitbak ’n kuns is en dat dit ongelooflik moeilik en tydrowend is. Arina se resepte is onintimiderend, eenvoudig uiteengesit en ongelooflik toeganklik. Sy mag my pas dalk nét oorreed het om Meng-en-bak-beskuit (18) aan te pak – veral omdat die foto daarvan in presies dieselfde koekblik is wat al jare lank in my ouerhuis (en ek vermoed in duisende ander Afrikaanssprekendes se huise) pronk!

Die fotografie en stilering pas ook perfek by die tema – ’n mens voel sommer asof jy in die vertrek by die gebak staan. Die gevoel van ’n plaaskombuis is onmiddellik tasbaar met emaljeborde, egte plaaslappies, antieke koekvurkies en breekware uit die ‘50’s en ‘60’s. Daar is wel elke nou en dan ’n foto van ’n resep wat ’n bietjie opgezoesj is in terme van stilering om ’n feeslike atmosfeer te skep. Dit help om die algehele gevoel van die boek ook dinamies te hou.

Die uitleg en ontwerp van die boek is ook weer eens eenvoudig, dog doeltreffend. Die foto van ’n resep moet die fokus van elke blad wees en as ’n mens te veel ontwerptierlantyntjies oral inwerk, kan dit ’n leser se aandag vinnig aftrek. Dit is nie die geval hier nie. Die eenvoud van die skoon blaaie met ’n bietjie pret hier en daar in die vorm van ’n klein skets werk goed en hou die boek ook jonk en vars. Ek is absoluut mal oor die lappie- en doiliedetail aan die rand van elke bladsy.

Dit is moeilik om iets te vind waarop ek kritiek kan lewer in ’n boek wat so vol (soet)liefde is. Ek het ook nou al twee kookboeke geskryf en is bewus van die magdom werk, passie, bloed en sweet (en natuurlik pret) wat in ’n kook- of bakboek ingaan. Ek self wil wel graag ’n foto vir elke resep sien. Ek weet dis nie altyd uitvoerbaar nie – ’n boek kan gans te dik word – maar dan sou ek dalk effe aan die getal resepte skaaf en kieskeurig wees om te verseker dat elke resep van ’n foto voorsien word. (Die pluspunt is dat jy dan resepte oor het vir ’n opvolgboek!)

Arina du Plessis het ’n fantastiese boek vol geur, smaak, herinnering en nostalgie bymekaar gesit. Dit sal tot alle tuiskokke en bakkers spreek (en ek vermoed ’n hele nuwe spul aanwakker óók). ’n Boek wat kort voor lank geag sal word as ’n staatmaker in enige goeie boerekombuis.

Hoe ry die Boere? Sit sit so …
Hoe sny die Boere? Soetkant bo!

  • 8

Kommentaar

  • Marika Swanepoel

    Wanneer sal die boek op die rakke wees? Ek koop nie meer ander tydskrifte nie, maar ek hou by elke winkel wat tydskrifte verkoop, stil, tot ek die nuutste Landbou Boerekos kry. Arina is onverbeterlik.

  • Hi Arina

    Uitgawe 16 het 'n dadelpoedingresep ingehad met bloubessies bo-op. Kan jy asb sê op watter bladsy dit is aangesien my ma my boek geneem het maar ek benodig die resep vir 'n geleentheid. Ek het 'n nuwe kopie bestel by Johan en klaar betaal maar dit neem 2 weke alvorens ek dit kan kry.

  • Hi Debbie, daar is ‘n karringmelkpoeding op bl 43 wat met bloubessies versier is. Ek dink dit is dalk die een waarna jy op soek is? Stuur vir my ‘n e-pos na aduplessis@landbou.com dan stuur ek vir jou die resep. Groete Arina

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top