Wen: Lam in wolfsklere

  • 0

Titel: Lam in wolfsklere
Skrywer:Bernette Bergenthuin
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799358438

 

 

 

Koop Lam in wolfsklere by Kalahari.com.

 

 

 

Met ’n naam soos Bernette Bergenthuin het Bernette Bergenthuin amper nie ’n keuse gehad as om reeds in haar vroeë twintigs te begin boeke skryf nie: liefdesverhale wat lesers laat droom en sug van die romantiek. Dis alles daar: kersligetes; viriele helde met breë skouers en hoekige kakebene; beeldskone heldinne; prentjiemooi sonsondergange en asembenewende soene. Natuurlik baklei die held en heldin soos kat en hond, al kwyl hulle van lus vir mekaar. Maar die einde is altyd, altyd soet.
 
Dis juis die clichés en relatiewe voorspelbaarheid wat liefdesverhale so onweerstaanbaar maak: jy wéét jou tone gaan krul.

 

Maar soms duik daar ’n skrywer op wat nuut en oorspronklik bínne die beproefde liefdesverhaalresep skryf en die genre haar eie maak. Bernette se eerste romanse is in 2011 uitgegee; daarna het ’n paar tydskrifverhale en nog twee romanses gevolg. Haar skryfloopbaan het ’n nuwe hoogtepunt bereik met Lam in wolfsklere, ’n romantiese komedie. Of “chick-lit”, as jy wil.

“Ek was altyd lief vir skryf en taal,” sê sy, “maar dinge gebeur geleidelik. Dis nie ’n kwessie van voeg water en twee eiers by, klits kloksgewys, bak ’n uur op die middelste rak en jou manuskrip is gereed om geproeflees, geset en gedruk te word nie.”

Die karakters in Lam in wolfsklere is uitsonderlik: Amie is’n prokureur in die Kaap. Haar kêrel is een van die hubaarste mans in die stad. Toe sy besef hy gaan haar nie vra om te trou nie, spring Amie in haar Mini Cooper en jaag Bloemfontein toe, na haar ouerhuis toe. Om troos te soek en van voor af met haar lewe te begin.

Maar in Bloemfontein dans die poppe éérs. Haar ma, ’n voormalige voorbladmodel, het veel te sê oor haar dogter se mansoekvermoëns. Haar pa besluit om self ’n skoonseun uit te soek.

Die storie kry ekstra woema wanneer ’n gay paartjie op die toneel verskyn. Anthony is ’n coiffeur en Kobus beplan ’n winkel wat stout speelgoed verkoop. Caro, Kobus se broer – ’n befoeterde alpha male in ’n donker pak wat wantrouig na Amy staar – probeer ingryp.

“Ek is dol oor romantiese komedie,” gesels Bernette. “Daar is ruimte vir humor, maar dit dra tog ’n boodskap oor. Dis speels en opwindend, baie soos ek self! Daar is mense wat nie kan vat kry aan ‘ligter’ boeke nie. Dit beteken nie rom-com is minderwaardig of bedoel vir oppervlakkige lesers nie. Baie besigheidsmense wat daagliks Sandton se middestad herrangskik, vind ontvlugting in ’n ligter boek. Die genre hét sy plek.”

Sy kon self ’n karakter in so ’n storie gewees het: “Ek neem myself en die lewe nie te ernstig op nie. Ek hou van rooi lipstiffie, mooi skoene en vroulike rokkies. Dit laat my lekker voel. So hoekom nie skryf soos ek leef nie? Ek sal altyd cappuccino bo espresso verkies. Ek is nie gekultiveerd genoeg om koffie te drink asof dit ’n shooter is nie, maar dit beteken nie ek is oppervlakkig of dom nie. Ek weet waarvan ek hou en maak nie ’n geheim daarvan nie.”

Maar lig mense se wenkbroue nie oor die soort boeke wat sy skryf nie? Sy is tog “slim”: ’n prokuréúr en binnekort ’n advokaat. Moet sy nie liewer mik vir die Hertzogprys nie?

“Vandat ek klein was,” antwoord Bernette, lig die wenkbroue wanneer ek verbywoer. “Ek is gewoond daaraan. Eers was dit oor my amper té rooi hare, later omdat ek tennisrondomtalie gespeel het in ’n T-hemp met blinkers op, nog later oor my eklektiese kleresmaak. As my manewales die tonge laat klap, is dit omdat die mense nie veel anders het om oor te dink nie.

“En hoekom mag net ‘onintelligente’ mense romantiese fiksie skryf of lees? Dis soos om te sê net maer mense mag mooi klere dra. Ek funksioneer nie goed in ’n boksie-bestaan nie. Ek het diverse talente. Dit is wonderlik om die hele spul te ontwikkel.”

Dis nie onmoontlik dat sy eendag iets anders as liefdesverhale sal skryf nie. “Ek het ’n baie dramatiese, byna donker kant. As ek eendag tyd het, sal ek daarvan hou om saam met ander skrywers aan ’n sepie te werk of ’n draaiboek vir ’n fliek te skryf. Maar skryf is vir my ook ontvlugting, daarom werk die liefdesgenres so goed vir my. Ek soek nie ontvlugting in moord en doodslag nie.”

Caro, Lam in wolfsklere se alpha male by uitstek ... hy word wel oortuigend beskryf en ’n mens hou van hom, maar is hierdie soort held nie uitgedien nie?

“Kuns, ook skryfkuns, is ’n produk van die samelewing,” verduidelik Bernette. “Ons ‘susters’ van ’n generasie of twee gelede het mans verlos van hulle rol as hoof van die huis. Ek vind dat meisies en vroue nou weer ‘n behoefte het aan alpha males. Elke man het ’n alpha-streek in hom. ’n Vrou moet net toelaat dat dit tot sy reg kom. Sy kan dit doen sonder om die snyerspakkie, baba op die heup en Purity in die aktetas prys te gee. Ek dink Amie en Caro beeld hierdie sosiale tendens goed uit.”

En hoe voel haar ma daaroor dat haar dogter súlke boeke skryf?

“My ma is ’n kieskeuriger leser as ek. Sy is ’n baie goeie oor en ’n groot hulp wat kortverhale betref, maar my boeke is nie haar ‘ding’ nie. Sy is baie ondersteunend en trots op my, maar sy hou my voete op die aarde.

“Sy sien natuurlik hoe die skryfproses gebeur. Dit is nie asof ek in ’n kamer vol kristalkandelare by ’n vergulde tikmasjien sit en dan gebeur die magic vanself nie. Dis eerder ’n geval van ’n skootrekenaar wat jy oral moet saamsleep, liters tee en soms ’n skewe antwoord wanneer ’n storie my vat.”

En wat het sy oor die liefde in die algemeen te sê, so in die gees van ‘n Valentynsdag?

“Maak elke dag die meeste van die liefde. Dit is ’n wonderlike geskenk wat die lewe vol en ryk maak.”

Twee lesers kan elk 'n getekende eksemplaar van Lam in wolfsklere kan wen. Stuur inskrywings na wen@litnet.co.za. Sluitingsdatum: 25 Junie 22013.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top