Lafras Verwey: Deur die wêreld getreiter

  • 0

Carel Nel is Lafras Verwey by Clover Aardklop 2012. Hy speel al 'n geruime tyd hierdie hoofrol en Naomi Meyer het hom tussen vertonings by Aardklop voorgekeer.

Hallo Carel, dankie vir jou tyd terwyl dit nou so besig is – ek sien Die rebellie van Lafras Verwey speel amper elke dag by Aardklop. Raak jy nie nou al uitgekuier hiermee nie? Of dink jy die stuk het rypgeword soos goeie kaas en nou ken jy en jou karakter mekaar deur en deur ...?

Hi Naomi. Nee, geen probleem nie. Nee, ek sal nooit uitgekuier raak met hierdie stuk nie. Dit is net so ’n wonderlike storie om te vertel, en die mense saam met wie ek dit doen is ongelooflik. Dit raak wel vir my elke keer moeiliker om Lafras te speel, want elke keer besef ek watter komplekse karakter hy is. Dis natuurlik ook baie maklik om net terug te sit en dit dieselfde te doen as die vorige keer, maar daar is soveel wat ek met elke nuwe speelvak agterkom. Die lekker ding van die produksie is dat ons dit teater-spesifiek doen. Dit was nog nie by twee speelvakke dieselfde nie. Ons moet elke keer aanpas by ’n nuwe teater. Dis baie opwindend, maar ook baie stresvol, want ons werk teen die horlosie.

Chris Barnard, wat pas die draaiboek van Die Wonderwerker geskryf het, het hierdie stuk geskryf, eers vir die radio en nou vir die teater. Hoe dink jy werk die stuk anders op die verhoog as op die radio?

Wel, ons voer die radiodrama-teks op. So daar is geen verhoogaanwysings nie, net stemaanwysings. Dis vreesaanjaend, maar terselfdertyd lekker. Die ding is, Chris Barnard is ’n ongelooflike skrywer; hy het my werk so maklik gemaak. Die verskil, vir my, is die visuele voordele wat die verhoogweergawe bied en dat dit lewend gebeur. Jy hóór nie net Lafras se stryd teen die “grootkoppe” en die samelewing nie, jy sién dit. Jy erváár dit. Jy sien sy soeke na iets beter, sy pyn en lyding. Dit is wat teater vir my wonderlik maak. Jy kan saam met hom deur sy reis gaan; sy hele ervaring deel. Die sukses van Lafras is opgesluit in die storie; ’n goeie een.

Die karakter Lafras is ’n buitestander-figuur. Ek wil nie te veel verklap as mense nog nie hierdie stuk gesien het nie, maar hoe het jy jou karakter beleef? (Ek wil fluister: Is hy in voeling met die werklikheid? Hoekom smokkel hy so met mens se kop?)

Lafras kan enigiemand wees. Ek speel hom amper as ’n paranoïese skisofreen, want wanneer die storie begin, is hy al só lank deur die wêreld getreiter dat hy heeltemal in sy eie wêreld leef, buite die werklikheid. ’n Mens voel vir Lafras, want een of ander tyd het elkeen van ons al gesê ons wil “die wêreld weer maak soos hy was, toe elkeen nog ’n kans gehad het”. Lafras is oor die hoop vir ’n beter wêreld vir Lafras en Petra en die samelewing. Die meeste mense is op soek na iets beter, en dis hoekom die stuk so met jou kop smokkel. Want jy hou van hom, en jy sien ook so ’n bietjie van jouself in hom.

Gaan jy nog in ander stukke ook speel by Aardklop vanjaar?

Nee. Net Die rebellie van Lafras Verwey. Maar ek gaan vir seker ’n hele paar gaan kyk.

Het jy kans om bietjie fees te hou tussendeur? Watter stukke sien jy uit om daar te sien? Of is daar lekker eetplekke in Potchefstroom wat jy ken en kan aanbeveel?

Ek gaan definitief Nagwond, Babbel, Ubu and the secrecy bill, Kind Hamlet, Op dees aarde, Hol en Ont kyk. Snowflake is natuurlik ’n lekker kuierplek waar almal kan ontspan.

Foto's: Alwyn van Zyl

Kyk wanneer Lafras by Clover Aardklop 2012 speel. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top