Laat die klokke beier met Tiffany Ng

  • 0

Tiffany Ng (Foto: Eric Bronson)

Klokke is so deel van ons lewe dat dit soms heeltemal vergeet word.

Dink maar aan die skoolklok van ons jonger jare, en die kerkklok wat Sondagmis aandui. In kleiner dorpe soos die een waar ek woon, dui ’n klok ook tyd aan. Klokke is funksioneel, en soms, soos wanneer dit vreugdevol op Paassondag beier, ’n oproep tot speelsheid. Maar aan die mense wat die klokke lui, die beiaardiers, het ek nog maar min aandag gegee.

...........
Wie kan die bekendste literêre beiaardier, die tragiese Qasimodo van Hunchback of Notre Dame, vergeet? Maar beiaardiers in die regte lewe? Voor Tiffany Ng, professor en musikoloog in die Skool vir Musiek, Teater en Dans aan die Universiteit van Michigan en amptelike universiteitsbeiaardier, het ek nooit vantevore een ontmoet nie.
.............

Wie kan die bekendste literêre beiaardier, die tragiese Qasimodo van Hunchback of Notre Dame, vergeet? Maar beiaardiers in die regte lewe? Voor Tiffany Ng, professor en musikoloog in die Skool vir Musiek, Teater en Dans aan die Universiteit van Michigan en amptelike universiteitsbeiaardier, het ek nooit vantevore een ontmoet nie.

Ek het  Ng onlangs ontmoet toe ons saam paneellede was by ’n konferensie aangebied deur die universiteit se Departement van Germaanse Tale en die Instituut van Afrikastudies. Sy moes oor musiek praat, en ek oor taal, in die konteks van dekolonialisering van kunsinstrumente. Ek beken my onkunde. Voor hierdie gesprek het beiaarde, of klokke, nooit by my indruk gemaak as musiekinstrument, of setel van aktivisme soos wat Ng dit gebruik nie.

Ek moes eenvoudig net meer uitvind. Gelukkig is Ng ’n bron van inligting.

So vertel sy byvoorbeeld dat daar net ses beiaarde in Afrika is. Drie van hulle is in Suid-Afrika. G’n wonder ons ken dit nie regtig nie. Die beiaarde waarop sy daagliks speel, bestaan uit 60 klokke in die een toring, en 53 in die ander.

Ons paneelbespreking het oor dekolonialisering gegaan. Ng beywer haar daarvoor om die beiaard te dekolonialiseer, want soos sy verduidelik, is die instrument ontwikkel vir wit Europese, meesal Christelike gebruik. In die VSA word dit alreeds tot groot mate as ’n sekulêre instrument beskou, deel sy my mee.

...........
Hoe dekolonialiseer sy die instrument?
In stede daarvan om net klassieke musiek te speel, doen sy uitvoerings van allerlei ander tradisies. Met die studentegemeenskap in gedagte speel sy goed soos die tema van Star Trek: Discovery en Westworld, asook Katy Perry se “Rise”. Daarmee maak sy dit meer toeganklik vir ’n breër gehoor.
............

Hoe dekolonialiseer sy die instrument?

In stede daarvan om net klassieke musiek te speel, doen sy uitvoerings van allerlei ander tradisies. Met die studentegemeenskap in gedagte speel sy goed soos die tema van Star Trek: Discovery en Westworld, asook Katy Perry se “Rise”. Daarmee maak sy dit meer toeganklik vir ’n breër gehoor.

Sy lê ook groot sorg aan die dag om te verseker dat die komponiste wat sy gebruik, uit ’n diverse agtergrond kom.

Sy maak  die interessante keuse om deur middel van haar musiek aan aktivisme deel te neem. So het sy kort nadat Christine Blasey Ford haar getuienis in die Brett Kavanaugh-aangeleentheid afgehandel het, Aretha Franklin se “Respect” op die beiaard gespeel. Ditto met musiekkeuses ná die Christchurch-massa-aanval, en nou onlangs ter ondersteuning van Oekraïne nadat Poetin die land binnegeval het. Sy het verder ook musiek op die beiaard aangebied om kommentaar te lewer op #BlackLivesMatter en #MeToo.

Ek is nuuskierig om te sien wat sy gaan aanbied om die bevestiging van regter Ketanji Brown Jackson te vier.

Ek het die voorreg gehad om haar in aksie te hoor. Op Vrydag 1 April 2022 het sy in ’n wêreldpremière uitvoerings gedoen van werke deur die Suid-Afrikaanse komponiste Chantal Willie-Peters, Kendall Williams en Bongani Ndodani-Breen. Mense het in die snerpende koue, met sneeuvlokkies wat neerval, botstil buite gestaan om na haar te luister.

Anders as met tradisionele musiekinstrumente, merk Ng op, is die beiaard ’n openbare instrument. Jy hoef nie ’n kaartjie te koop om na ’n konsert te luister nie. Die gehoor het geen keuse of hulle wil luister of nie. Juis daarom is daar so ’n groot verantwoordelikheid op beiaardiers om te verseker dat hulle hulself nie op die gehoor afforseer nie.

Ek dink aan twee gevalle, beide uit Italië, wat hierdie verantwoordelikheid illustreer. In 2008 het ’n hof in Chiavari ’n priester van Lavagna skuldig bevind aan geraasbesoedeling, onderbreking van sosiale lewe en morele skade, wat dit ook al mag beteken. Inwoners het vir 13 jaar probeer om die priester te laat ophou voor hulle hulle na die howe gewend het.

Meer onlangs, vroeër vanjaar, het die inwoners van Coverciano naby Florence hulle na die hof gewend omdat die priester daar sy klokke tot 200 keer per dag gelui het. Ook hier het die “oorlog van die klokke” soos die koerante dit begin noem het, vier jaar geduur voordat die saak in die hof gedraai het. Die priester is ’n boete opgelê en beveel om die klokke net sekere tye van die dag te lui.

In weerwraak speel hy nou blykbaar heeldag viool.

Gedagtig aan die “oorlog van die klokke” het ek Ng tydens ons paneelbespreking gevra hoe sy te werke gaan om te verseker dat die keuse van musikale aanbieding die gehoor in ag neem. Dink net, waar die priesters hier bo genoem net toegang tot een of dalk twee klokke het, het Ng ’n arsenaal van  tussen 50 en 60 tot haar beskikking, sou sy wou!

Dis grappenderwys gesê. Ng neem haar instrument, en haar verantwoordelikheid, baie ernstig op.

Sy, tesame met haar studente, doen baie moeite om te verseker dat daar nie wat sy noem “sonic underrepresentation” op kampus is nie. Daarom voer sy byvoorbeeld gedurende die Kersseisoen ook niegodsdienstige musiek uit.

Deel van haar verpligtinge is om tien uitvoerings per week aan te bied, vyf op elkeen van die universiteit se twee beiaarde. Gelukkig het sy heelparty talentvolle studente wat haar bystaan. Dis lang ure en harde werk. Ter voorbereiding van die 1 April-uitvoering het sy byvoorbeeld vir drie weke elke weeksdag twee ure lank geoefen.

Dis die tipe toewyding wat mens verwag van ’n musikant wat al meer as 200 uitvoerings in 17 lande oor drie kontinente gegee het. Dis die tipe toewyding wat twee weke gelede aan haar die Henry Russell-toekenning, die hoogste eerbewys van Michigan-universiteit vir jonger akademici, besorg het.

Dis maar die nuutste in ’n lang rits toekennings. En die finansiële komponent van elke toekenning gebruik sy om onderverteenwoordigde komponiste opdrag te gee om nuwe werke te komponeer.

Sy het ’n gevestigde openbare persona. Tiffany Ng die mens is egter verbasend moeilik om te leer ken. Sy is pynlik beleefd, maar hou persone wat sy nie goed ken nie, op ’n deeglike afstand. Oor haar werk praat sy graag, oor haarself nie regtig nie. Eers toe ons op my voorlaaste dag in Ann Arbor in ’n park gaan stap het, het ek ’n glimp van ’n speelse persoonlikheid gekry. Dis asof ’n gewig waarvan sy waarskynlik nie bewus is nie, van haar skouers afrol wanneer sy in die natuur is.

Sy’s ’n enigste kind, vertel sy. Haar ma, ’n boorling van Guangdong, moes gedurende die Kultuurrevolusie na Hongkong vlug. Hier het ma en pa Ng mekaar in die hoërskool ontmoet en blykbaar ’n kortstondige romanse gehad. As volwassenes in San Francisco het hulle mekaar weer raakgeloop, getrou en jong Tiffany gehad. Dit klink soos die tipe verhaal waarvan jong meisies droom. Ek het haar nie gevra nie, maar ek wonder tog of haar ouers se verhaal haar aan een ware liefde laat glo.

Sy is tenger. Ek het die impak daarvan eers werklik begin waardeer toe sy my op toer tussen die klokke neem. In die Lurie-toring, waar ons was, weeg die grootste klok, die bourdon, ses ton. Daar is 60 klokke, en geen meganiese bystand om die beiaardier te help om die klokke te beweeg nie! Ek het nie besef dat dit so ’n fisiek veeleisende instrument is om te speel nie.

Sy bly fiks deur joga en Pilates te doen, ligte gewigte op te tel en die trappe tussen die 9de vloer van die Burton-toring waar haar kantoor is en die 4de en 5de vloer waar al die geriewe is, te klim. Verder is sy as toegewyde omgewingsbewaarder voortdurend besig om indringerplante uit te kap en wilde blomme te plant – harde fisieke arbeid wat haar fiks hou en die natuur bevoordeel.

Gedurende die inperkingstyd het sy byvoorbeeld gereeld as vrywillige bewaarder die Kuebler-Langford-park besoek en beplant, met die hoop dat die Monarg-skoenlapper sig weer daar sal kom vestig. Met elke besoek moes sy ’n 23 kg-emmer gevul met ’n mengsel van sand en wildeblomsade, asook toerusting om indringerplante uit te kap, saamdra. Hoekom sand saamdra? Om te keer dat die sade nie wegwaai nie, verduidelik sy.

Op die dag van ons wandeling in die park het sy weer teruggegaan om plante uit te kap en sade te plant. Ek kan nog steeds nie besluit of ek hartseer of dankbaar is dat sy my nie aan daardie harde arbeid onderwerp het nie.

Dit het my laat wonder oor haar hande. Die musikante met wie ek die mees vertroud is, pianiste en kitaarspelers, is heilig op hul hande. Vingers is nie belangrik nie, deel sy my egter ongeërg mee.

Ook maar goed sy kon nie op daai oomblik my gesig sien nie.

Sy het my later geneem om die klokke te sien, en my toegelaat om die klapper te lui. Ek het versigtig die hefboompie wat die klapper beweeg, gestoot. Nee, beduie sy, ek kan die klapper sommer in my hand vat en dit lui. Gmf. Vingers mag dalk nie vir haar belangrik wees nie, maar ek hou van elke liggaamsdeel presies waar dit is, selfs al weeg die klok waaraan ek raak, nie ’n paar ton nie.

Waar sy die tyd vandaan kry, weet ek nie, maar sy doen ook soms vrywilligerwerk by Food Gatherers, ’n plaaslike organisasie wat hulle beywer vir voedselsekerheid vir minderbevoorregte gesinne.

Toe ek aan haar verduidelik dat die onderhoud in Afrikaans gepubliseer word, vertel sy dat sy Nederlands magtig is, van die tyd toe sy in België studeer het. Sy reken sy sal die artikel kan lees. Sy praat ook Kantonees, Frans en Duits.

Wat kan die vrou nie doen nie? Dit klink asof sy uitblink in als waaraan sy haar hande slaan.

Wat lees sy, vra ek. Op die oomblik is sy opgewonde oor Douglas W Tallamy se Nature's best hope: a new approach to conservation that starts in your yard. Omgewingsbewaring is ’n belangrike tema vir haar, lyk dit my. Sy noem ook die filosoof Michael Sandel se The tyranny of merit: What’s become of the common good? as ’n boek wat sy wyd en syd aanbeveel. Ek ken nie die boek nie, maar ek het Sandel se On justice-kursus aanlyn geneem. Die man is briljant. Ek begryp haar entoesiasme.

En musiek? Waarna luister iemand wat musiek haar lewe gemaak het? Ng geniet lewende vertonings van eksperimentele musiek. Ek moet erken, ek het iets soos jazz of dalk klassieke musiek verwag.

My laaste vraag aan haar was die Oprah-vraag: Wat weet sy vir seker? Weer duik omgewingsbewaring as tema op. Wanneer die jonger generasie haar vra wat sy gedoen het om klimaatsverandering te bekamp, wil sy ten minste kan antwoord dat sy iets gedoen het wanneer sy kon, antwoord sy.

Om ’n 23 kg-emmer vol sand en wilde sade rond te dra en in ’n natuurreservaat te plant is heelwat meer as net iets klein doen.

Die antwoord is tipies van Ng se beskeidenheid. Toe sy ná die uitvoering van 1 April die saal binnestap onder luide applous, was haar eerste instink om na die beiaard in die toring te beduie. Dis waar die applous hoort, nie by haar nie.

Tiffany Ng is ’n begaafde musikant en akademikus. My eerste gedagte wanneer ek na haar kyk, bly egter: Haar ma is seker só trots op haar.

 Met reg ook.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top