Sondagaand om 19:30 kan julle op kykNET kyk na die eerste van 13 episodes oor boerekos. Dis 'n vrolike gekook, 'n gekuier en geknie, dis braai en roer en vuurmaak en proe. Dis vol nostalgie en die mooiste Afrikaans.
Die hele besigheid van ‘n reeks oor boerekos het begin toe ek ‘n program op BBC Food kyk. Ek dag, ja nee, ek kan daai Jamie Oliver niks leer oor Mediterreense kos nie – maar hy wat Jamie Oliver is, kan my niks leer oor boerekos nie.
Ek was besig om Die Groot Boerekosboek te skryf – nee wag nou, hou vas aan jou roksak, handsak, sysak, broeksak, dit verskyn eers in Junie. My kop was vol boerekos. Ek het boerekos gekook, boerekos geëet, boerekos geleef. Nóú was dit die regte tyd om ‘n televisiereeks oor boerekos te maak.
Saam met Riaan Badenhorst van Pieter Cilliers Produksies – julle ken sy werk op Kwêla – het ons boerekos herontdek. Ons het elandpot gekook onder rotskuns van elande, ons het waterblommetjiebredie gemaak op die oewer van die Breede, ons het harders gebraai aan die Weskus, ons het Hertzoggies gebak in die Strandveld, ons het koeksisters hoor sis in die stroop op Caledon, ons het mosbolletjies gebak, potjies gemaak, al daai lekker dinge.
Dit was salig, hemels, lekker. Ons is nog nie klaar geskiet nie, die lekker hou aan, maar die uitsending begin hierdie Sondag. Moe-nou-nie agterna kom sê so jammer jy het dit gemis nie. Maak ‘n knoop in jou oor vir die uitsaaitye. Dis Sondae om 19:30 vanaf 15de April 2012, herhaal Maandae om 14:00, Dinsdae om 10:30 en 00:00.
Kom geniet dit saam met ons en sê my of julle saamstem - daai Jamie Oliver het nog baie om te leer (sawwe lippe en al). Soos dat ons tamatiebredie met ‘n flentertjie vars groengemmer maak, dat soutribbetjie sing as dit braai op die kole en dat ‘n “skilpadjie” nie vier pote het nie.
Die resepte wat in die reeks gebruik word, sal verskyn op www.pcp.co.za, op www.kyknet.co.za en op www.boerekosresepte.co.za – dis my nuwe webwerf net vir resepte en dit sal vanaf Maandag in werking wees, miskien vroeër, as ek die besigheid onder die knie kan kry.
Nou oor Die Groot Boerekosboek. Dit verskyn in Junie. Daar sal ook ‘n Engelse weergawe wees, The Great Boerekos Book. Ek belowe ek sal vroegtydig laat weet sodat getekende eksemplare direk van my kan bestel word teen ‘n spesiale prys.
Dan groet ek nou maar eers. En o ja, almal van julle wat so nuuskierig is, maar te bang om te vra: dit gaan goed met die liefde, dankie. Ek leef my droom vanjaar. Daar is ‘n nuwe boek op pad, ‘n TV-reeks oor boerekos, ‘n sielsgenoot wat my soos ‘n prinses behandel.
Soos julle teen dié tyd weet: “ek kook – soms selfs in die kombuis”.
Dine van Zyl


Kommentaar
Dit is 'n uitstekende program en ons sien uit daarna om nog te sien. Daar is een probleem en dit is dat die musiek in die agtergrond moet wees en nie so oordadig hard moet wees nie. So 3dB laer sal alreeds werk. Baie Dankie. Derick
absoluut fantasties
Het Boerekos Resepte reeks baie geniet. Kan gerus meer soortgelyke programme uitsaai.
Kyk, die program is briljant. Kan nie wag vir "Die Groot Boerekosboek" nie.
Wat het van Dine van Zyl geword?