kykNET Silwerskermfees-onderhoud: Gaia dalk dié kultusfilm van Suid-Afrika?

  • 0

Anthony Oseyemi en Monique Rockman in Gaia (foto: verskaf)

Die Covid-regulasies mag dalk die 10de Silwerskermfees in 2020 in die wiele gery het, maar dit het filmmakers kans gegun om diep in hul kreatiwiteit te grawe en met verbysterende werke na vore te kom.

Een van die films wat vanjaar by die hibriede fees, wat van 23 tot 26 Maart in Kampsbaai en op die Silwerskermfees-webwerf vertoon gaan word, is Gaia, wat in die kategorie vir beste speelfilm meeding. Dit het al verskeie toekennings regoor die wêreld ingepalm.

Dis die eerste ekologiese grufilm in Afrikaans en het die Forbes Top 10-lys as beste riller vir 2021 gehaal, en die aanhaling uit die beoordelaarsverslag is ’n aanduiding van die kwaliteit van die film: “The realization of the threat in question, namely its effects on human bodies, is one of the most haunting images of the year in any horror entry.”.

Gaia vertel die verhaal van ’n boswagter, Gabi, wat saam met haar kollega toesig hou oor ’n afgeleë wildernisgebied. Tydens ’n roetinepatrollie word sy beseer en vind skuiling in ’n geheimsinnige hut in die bos. Later sal sy ontdek dat dit behoort aan die kluisenaar Barend, wat saam met sy seun aan die samelewing onttrek het. Haar verligting maak egter gou plek vir ongemak en vrees wanneer sy hulle okkultiese toewyding tot die natuur sien.

Jorrie van der Walt was die kinematograaf en het die Zeiss Cinematography-toekenning by die jaarlikse South by Southwest- (SXSW-) filmfees in Texas ingepalm en by verskeie ander internasionale feeste lof ontvang.

Hy was ook saam met Tertius Kapp en Jaco Bouwer een van die vervaardigers. Jaco was regisseur en Tertius het die draaiboek geskryf.

Maryke Roberts praat met heelwat van die rolspelers wat by hierdie film betrokke is.

Tertius vertel dat baie van die onderliggende idees al jare lank in sy kop is. “Maar in ’n praktiese sin het ek en Jaco en Jorrie vroeg in 2019 begin praat oor ’n cabin in the woods-tipe gruwelfilm. Ons het gehou van die storie van Isak (wat amper deur sy pa geoffer is) en het geweet ons wil dit gebruik. Ek het heelwat opgelees oor al die onlangse wetenskaplike ontdekkings rondom fungi en plante en hoe ingewikkeld hulle netwerke regtig is, en toe begin werk aan ‘n storie wat dit ook kan betrek.”

Hy voeg by dat dit nie moeilik was om ander te oortuig van die film se moontlikhede nie – nie onder die span wat dit wou maak nie, en ook nie by M-Net nie. Jan du Plessis was onmiddellik entoesiasties. “Maar elders was mense maar skepties, natuurlik net totdat die film aanvaar is by een van die top filmfeeste in die wêreld, verkoop word en pryse wen. Dit is seker nie so ongewoon nie. Waarde is ’n vreemde ding in die filmbedryf.”

Tertius sê hy dink nie enige van hulle het gedink die fliek sal so ver reis soos dit reeds het nie. “Maar ons het almal ons cult films, en ek dink as mens eerlik is, is daar met elke projek ’n geheime hoop dat dié een iets groots sal wees. Ek kan seker byvoeg: Toe Covid gebeur, het Gaia onheilspellend relevant begin voel.”

Gaia is baanbrekerswerk in Afrikaans. Tertius sê dis meer gruwelfantasie (fantasy horror) as wetenskapfiksie, maar daar is ’n wetenskapfiksie-element daarin.

“Ek wil nie te veel verklap nie, maar die film gaan oor ’n infeksie wat dreig om oor die wêreld te versprei, om die mens en sy vernietiging van die planeet uit te wis. (Dalk klink dit bekend!) 

Hy sê al die lof is heerlik, maar vir hom staan die insluiting op Variety se lys (saam met A Quiet Place II en Titane!) as ’n selfs groter kompliment.

Vir hom is die belangrikste van spanwerk met mense soos Jaco en Jorrie se kaliber hul gedeelde waardes. “Die werk kom eerste, afwesigheid van ego’s, onselfsugtigheid en toewyding,” vertel hy. “Ons het deur ’n pandemie saam ons eerste fliek vervaardig, en moes in die middel van die eerste shoot huis toe gaan. Dit was nie eers duidelik of ons die fliek sou kon klaarmaak nie, so dit was ’n goeie toets vir ons vasberadenheid.”

Jaco palm ook die Asteroid-prys vir regie op die Trieste Science + Fiction-rolprentfees in Triëst, Italië in. Hy sê veral in hierdie tyd voel dit asof internasionale feeste en vrystellings so effens in ’n vakuum gebeur. “Die toekenning voel nog heel onwerklik, en is ’n wonderlike hupstoot vir my as ’n creative. Om die werk wat mens ingespit het – onderbreek deur ’n pandemie – eerstens net te kon voltooi, maar nou ook die internasionale sukses en erkenning daarvan, gee my ook moed om saam met ander creatives werk te kan ontwikkel wat op ’n internasionale vlak kan kompeteer en waar taal nie ’n issue is nie. Vir my is dit net so ’n eer om saam met films soos vorige wenners  Aniara, Sputnik of Monsters te staan.”

In ’n onderhoud met Jaco nadat hy dié prys gewen het en waarin Gaia as “oorlewingsprent waar die onheil in die paradyslike Eden uitbroei”  beskryf word, sê Bouwer aan die kunsjoernalis Laetitia Pople dat hy die gru-genre as die beste medium om politieke kommentaar mee te lewer, beskou.

Jaco sê dat hy Gaia as ’n crossover beskou en dat hy met die rolprent probeer het om die gehoor ’n instinktiewe ervaring te gee, dat hulle die onheil kan aanvoel; asof dit onder hul velle groei.

..........
Jaco sê dat hy Gaia as ’n crossover beskou en dat hy met die rolprent probeer het om die gehoor ’n instinktiewe ervaring te gee, dat hulle die onheil kan aanvoel; asof dit onder hul velle groei.
..........

Pierre-Henri Wicomb se klankbaan dra beslis by tot daardie gevoel. Jaco sê: “Die klankwêreld is baie belangrik vir my en daar is redelik baie gesprekke met die komponis vooraf asook gedurende die maak van die film. Ek moet ook byvoeg dat ek en Pierre-Henri al vir jare saamwerk, so ons het ook ’n tipe shorthand in die manier waarop ons werk en mekaar se werk aanvul.

“Ek dink klank is so ’n immersive medium, selfs meer as die beeld. Ek mik daarna om werk te skep wat mens op alle vlakke meevoer, van sintuiglik tot serebraal. Om ’n tipe ‘gesamtkunswerk’ te skep waar al hierdie aspekte soos klank, akteurs, fotografie en teks bymekaarkom.”

Sy besluit om Gaia in Afrikaans te doen, het natuurlik sy eie uitdagings gebring. Hy vertel daar is iets primitief aan die klank van Afrikaans wat hy voel bydra tot die wêreld van Gaia vir ’n internasionale gehoor. “Daar moes mooi kop gehou word saam met Tertius oor wanneer karakters codeswitch. Die pa en seun praat byvoorbeeld Afrikaans met mekaar, omdat die seun in die bos grootgeword het sonder enige ander invloede. Gabi kan beide Afrikaans en Engels praat, so die pa kan dan na Engels oorslaan as hy nie wil hê die seun moet verstaan nie.”

Sover hy weet, gaan daar subtitels in ongeveer agt tale wees.

Hoe kies jy vier akteurs uit die menigte goeie akteurs tot jou beskikking?

“Dis ’n moeilike vraag – dit gaan oor wie is reg vir die rol en dit is ’n kombinasie van baie faktore! Ek het voorheen ‘n paar keer saam met  Monique Rockman gewerk en wou graag weer iets saam met haar doen. Ek dink ook dat beide ek en Tertius (skrywer) die film ontwikkel het met Carel Nel in gedagte en ek ken Carel van my vorige teaterwerk.”

.........
Die grootste uitdaging van die film was beslis die feit dat verfilming deur inperking gestaak moes word en eers vier maande later voltooi kon word.
..........

Die grootste uitdaging van die film was beslis die feit dat verfilming deur inperking gestaak moes word en eers vier maande later voltooi kon word. Jaco erken dis vir hom moeilik om die film te skei van die oorweldigende gevoel wat almal sekerlik tydens die eerste golf van die pandemie ervaar het: die gevoel van dreigende ondergang en ’n stadig-groeiende gevoel van vrees – wat onbewustelik sinoniem geword het met die temas wat in die film aangespreek word.

“Ek dink nie die akteurs se optredes in Gaia sou dieselfde emosionele onderstrominge gehad het as dit nie vir die pandemie en die onderbreking van produksie was nie. My visie om ’n paranoïese chamber piece oor vertroue, verraad en oorlewing te konstrueer, is onbewustelik gevoed deur hierdie nuwe gevoel van vrees en onsekerheid tydens die eerste streng inperking, wat in beide die rolverdeling en span gemanifesteer het. Maar om die vertonings in ooreenstemming te hou met hierdie vier-maande-onderbreking tussenin, was een van my grootste uitdagings as regisseur.”

Bring al hierdie uitdagings saam met die intensie storielyn dan na Pierre-Henri om ’n gepaste klankbaan te skep ... Hy vertel dat hy al  ’n hele paar jaar saam met Jaco werk en daarom was daar nie regtig ’n amptelike “opdrag” oor die klankbaan nie, “maar soos ander projekte iets wat hy redelik aan my oorgelaat het.

“Hy deel wel verskillende musiekvoorstelle met my wat die potensiële wêreld van die film vir hom vaspen, en verder gebruik hy ook veral visuele bronne as rigtingwysers, insluitend natuurlik die weergawes van Tertius se draaiboek soos dit ontwikkel.
 
“Wat wonderlik was van hierdie projek, was dat ek regtig baie tyd gehad het om aan die klankbaan te kon werk. Ek dink ’n komponis verkies dit so – ’n mens wil eindeloos kan eksperimenteer om sodoende hopelik vorendag te kom met iets spesiaals, ’n klankwêreld wat uniek voel en terselfdertyd die wêreld van die projek laat lewe. Sover ek kan onthou, het ek ses maande of selfs meer gehad vir die klankbaan.”

...........
Hy vertel in ’n projek soos hierdie is dit altyd vir hom belangrik om ’n tipe klankwêreld te skep waarmee hy streng omgaan en waaruit die musiekkomposisie gebeur.
............

“So die materiaal/kleure waarmee ek ‘verf' kom dus eerste. Akoestiese instrumente wat ek vroegtydig in die projek geïdentifiseer het, was die fluit (klassieke dwarsfluit) en Tibettaanse horing, die dungchen. ’n Verdere basis is verkry deur die skep van ’n melodie wat die woudwêreld ‘voorstel’ of vasvang. Hierdie melodie verskyn so ’n paar keer in die film ook in verskillende klankkleure en teksture,” vertel Pierre-Henri.

Hy verduidelik dat daar ook ’n groot elektroniese aanslag in die klankbaan is. “Ek het veral gesoek na klankkleure wat hulleself amper as tasbaar voorstel. Hierdie klankkaraktertrek was ook ’n sterk oorweging met die vroeër genoemde akoestiese instrumente. Die fluit het ook dan ’n baie soet toon, amper iets verleideliks wat dinge verbloem soos die oppervlakervaring van die bos, waaragter baie geheime skuil. Die elektroniese aftransponeer van hierdie instrument het dit moontlik gemaak om basklanke te genereer wat vir my ’n noodsaaklikheid was in hierdie klankwêreld en terselfdertyd verteenwoordigend kon wees van die aarde of Gaia.

“Ander elektroniese tegnieke het byvoorbeeld gehelp om die ‘elektriese’ netwerk van die fungi onder die aarde ’n klankwêreld te gee.”

Ek wonder natuurlik hoe hy weet wanneer die klank net reg is en wanneer hy eerder oor moet begin?

Hy lag en sê dis ’n moeilike en eeue oue vraag, want mens se eie opinie oor jou werk kan letterlik so ekstreem van een oomblik na ’n volgende verander.

“Daarom, in die eerste plek, is dit belangrik om genoeg tyd te hê, sodat ’n werk regtig uit alle hoeke en gevoelens en toestande besigtig kan word. Mens moet maar altyd aanhou luister na daardie selfkritiese stemmetjie en ironies genoeg nie te ‘verlief’ of beïndruk raak met jou eie skepping nie. Dit kan so gevaarlik wees, want ’n beter opsie is dalk net om die draai.”

Hy sê voorts daar is ook die situasie dat ’n klank op sy eie só reg kan voel, maar nie saam met ander klanke kan werk nie en dus nie eintlik geskik is nie.

Hy werk tuis en meestal alleen, so inperking het nie noodwendig sy werksproses beïnvloed nie. “Die feit dat verfilming deur Covid onderbreek is, het my egter baie meer tyd gegee om my regtig te verdiep in die klankwêreld en komposisies.”

In Gaia se rolverdeling is Monique Rockman, Carel Nel, Alex van Dyk en Anthony Oseyemi. Die film dra ’n ouderdomsbeperking van 16 VSNL.

Alex was te sien in The harvesters en Griekwastad, wat albei hul premières by die Silwerskermfees gehad het. Hy vertel dat hy self nie ’n groot aanhanger van die film se genre is nie, maar tog  geïnteresseerd is as dit by sulke films kom.

“Dit was ongelooflik opwindend om deel van die pionierswerk in Suid-Afrikaanse én Afrikaanse film te wees. Ek was baie nuuskierig om die eindproduk te sien.”

Alex sê sy medespelers het hom geleer hoe om professioneel te bly en aan te hou werk deur die slegte dae en net te fokus op die eindproduk. “Daar was dae gewees wat dit baie koud en nat was en ek glad nie lus was vir werk nie. My mede-akteurs se voorbeeld om vas te byt en deur te druk, was baie belangrik.”

Hy het net lof vir Jaco Bouwer. “Ek was mal daaroor om saam met hom te werk. Hy het vir ons as akteurs baie vryheid gegee om ons unieke maniere van toneelspel te gebruik, eerder as om vir ons te sê wat ons moet doen. Hy het ons gelei om ons eie unieke maniere net perfek oor te dra aan die kamera.”

Alex sê hy glo films moet verskuilde boodskappe hê, soos Gaia ook het. “Mense is altyd meer geheg aan ’n film wanneer hulle kan aanklank vind by sommige gebeurtenisse in die film. Verskuilde boodskappe maak dit ook vir die kyker meer interessant en ek voel elke film se verskuilde boodskappe is tog wat dit uniek maak.”

Carel Nel in Gaia (foto: verskaf).

Carel speel die rol van Barend. Hy is onder meer bekend vir sy filmrolle as Karl die Android in Ridley Scott se Raised by wolves, Abraham Lincoln in Grant op The History Channel, en die Emmy-genomineerde Roots, asook Blood drive, shepherds and butchers, The last days of American crime en plaaslike televisieproduksies soos Dwaalster, Fynskrif, Die byl en Die spreeus, maar dis sy toneelwerk en kortfilms waar hy die uiteenlopendste rolle vertolk wat sy veelsydigheid as akteur bevestig.

Hy vertel: “Barend is ’n baie komplekse karakter. Dus was dit vreeslik lekker om hom lewe te gee. Hy is so geskryf dat mens binne-in die riglyne baie kan rondspeel met hoe hy sal reageer op elke situasie. Amper enigiets is moontlik met hom, wat hom ook onvoorspelbaar maak, en dis altyd lekker om te speel.

“Ons ontmoet hom ook redelik laat in sy storielyn, so dit was baie belangrik vir my om sy geskiedenis lewe te gee. Sy seerkry, sy angs, geloof, sy liefde vir sy seun, die aarde en sy vrou en dan natuurlik hoe hy die samelewing aanskou en hoe hy dit só lief het dat hy bereid is om dit alles op te offer.”

Carel vertel dat die nuwe genre – of enige genre – nie regtig vir hom van belang is in rolvoorbereiding nie. “Op die ou end speel ek ’n mens. ’n Mens met vrees, liefde, geluk, genot, hartseer, kwaad en al die emosies wat ’n mens ervaar.

..........
Carel vertel dat die nuwe genre – of enige genre – nie regtig vir hom van belang is in rolvoorbereiding nie. "Op die ou end speel ek ’n mens. ’n Mens met vrees, liefde, geluk, genot, hartseer, kwaad en al die emosies wat ’n mens ervaar."
...........

“Of dit nou horror, drama of komedie is, lê die uitdaging daarin om die menswees vas te vang. Wie is hy? Wat is sy einddoel? Waarvoor is hy bang? Waarvoor is hy lief? Dis maar net ’n paar vrae wat mens kan vra; die genre sal dan sy situasie bepaal. Dus speel ek ’n mens wat in ’n horror-situasie vasgevang is.”

Dat hy die rol geniet het, is gewis. “Dit bewys net weer eens vir my wat ons as die Suid-Afrikaanse filmbedryf kan vermag. Dat ons met die kleinste begrotings sulke ongelooflike films kan maak wat internasionaal goed ontvang word. Dit is ongelooflik. Kyk net na Indemnity, The wound, Barakat, This is not a burial, it’s a Resurrection, en al die talle ander films wat al oorsee gedraai het. Ek wens net meer belegging word gedoen in die skrywers, regisseurs, akteurs en filmspan. Dat die begrotings groter word en dat ons almal ’n goeie lewe uit ons bedryf kan maak, want hoe dit tans gaan, is dit ongelukkig nie volhoubaar nie.”

Carel sluit aan by Alex oor die verskuilde boodskappe van films wat meer kykgenot gee, hoewel hy nie glo flieks hoef noodwendig ‘n boodskap te hê nie. “Maar persoonlik geniet ek films wat my laat dink en my laat anders kyk na die lewe of sekere temas. Hierdie genre is meer ecohorror, so daar is temas soos: Wat doen ons as mense aan die aarde? Hoe lank sal ons die planeet kan aanhou verwoes? Hoe ver is jy bereid om jou geloof na te volg? Watse planeet los ons vir ons nageslag? Ek dink elke mens sal sy eie boodskap kry, of dalk selfs geen boodskap nie. Dis die wonderlike ding van stories vertel – dit praat met die mense wat kyk en hulle maak met dit wat hulle wil.”

Is daar ooreenkomste tussen sy karakter en sy eie persoonlikheid? “Dit voel soos ’n strikvraag! Ek stem nie saam met wat Barend aan die einde doen en hoe hy verval in sy waansin in nie, maar ek verstaan hoe hy daar gekom het. Ek het ongelooflik baie empatie vir hom en ek hou van wie hy is. Sy intensies was rein op ’n stadium. As mens na die monoloog luister, is daar sekere dele waarmee ek saamstem en sekere dele nie.

“Vir voorbereiding het Tertius vir my The Unabomber manifesto gestuur om te lees. Dit was die vreemdste gevoel, want ek weet wat hierdie man gedoen het, ek weet hoeveel mense hy vermoor het, maar as jy lees wat hy geskryf het, maak van dit sin. Nie als nie, glad nie als nie, en weer eens ek stem geensins saam met wat hy gedoen het nie, maar sommige daarvan kan mens verstaan, hoekom hy so voel, en tot ’n mate saamstem. Dis wat ek met Barend ook wou doen. Ek wou daai selfde vreemde gevoel in die kyker kweek. Ek wil hê jy moet tot ’n mate saamstem met wat hy glo en dit moet jou ongemaklik laat voel.”

Om in die hartjie van die winter in die bos te verfilm was natuurlik geen grap nie. Carel vertel daar was baie uitdagings. “Die Gaia-boom was op ’n 45 grade-hoek en dit het gereën, so ons almal het aanhoudend gegly en geval. Toe ons terug is om die film klaar te maak, was dit winter en baie koud. Om dan vir ure rond te loop en van kop tot toon met modder besmeer te wees, is nie ’n grap nie. Ek en Alex het bitter koud gekry. Maar dit was alles die moeite werd. En waar gaan ek ooit weer iets soos dit ervaar?”

Monique Rockman speel die hoofrol van Gabi, en was ook te sien in Number 37; Die smaak van saffraan en Die spreeus. Sy is ook vanjaar by die Silwerskermfees te sien in die makabere kortfilm Barber waarin sy die rol van ‘n eksentrieke barbier se dogter, Mynie, speel.

Monique vertel benewens die uitdagings wat Carel noem, was Gaia die eerste film waaraan sy gewerk het nadat sy ’n ruk terug haar been gebreek het. “Ek moes ’n afrigter kry om my been sterk genoeg te maak om op en af tussen die bome te hardloop. Ek kon nie rêrig soos voorheen beweeg nie en dit was frustrerend.”

Sy het die rol van Gabi geniet en erken daar is ’n tipe rebelsheid en hardkoppigheid in Gabi wat sy ook het. “Sy is ’n survivor en baie nuuskierig, oop om nuwe dinge te ervaar. Ek egter is nie só nuuskierig nie.”

Mens wonder of die spesiale effekte en onderwerp haar dalk bang gehad het of nagmerries gegee het? “Nie nagmerries noodwendig nie, maar daar was definitief ’n paar vreemde drome terwyl ek in hierdie vreemde wêreld geleef het. Die spesiale effekte was great, maar omdat ek gesien het hoe ons monsters se grimering aangewend is terwyl hulle koffie drink en gesels, was ek baie ontspanne daarmee.”

Monique dink sy is vir die hoofrol gekies omdat sy voorheen die rillerreeks Die spreeus geskiet met dieselfde span. “Dit was meestal night shoots, hectic schedule en creepy temas. Ek het ’n goeie verhouding met Jaco, Tertius en Jorrie gebou. Ek dink hulle het geweet wat hulle vir die rol wil hê en het my daarmee vertrou. Ek het nie eens vir oudisies gegaan nie. Ek is dankbaar. Ek werk hard daaraan om altyd die waarheid te speel. Ek laat toe dat die karakter oorneem en ek maak altyd vriende met die filmspan,” vertel sy.

Sy het die tyd in Gaia geniet. “Ek het dit geniet om in die natuur te wees. Daar het op ’n stadium iets in my verskuif en ek het net vry gevoel. Dit was werklik ’n trip om aan die fliek te werk. Ons was rêrig in ’n ander wêreld, weg van die samelewing. Die hele span was daar saam met my en het my op elke manier moontlik ondersteun en laat veilig voel.”

Die Brits-gebore Nigeriese akteur Anthony Oseyemi was onder meer in Five fingers for Marseilles, The Congo murders en Isidingo te sien. Hy speel die rol van Winston in Gaia. Sy grootste persoonlike uitdaging was om seker te maak sy vertolking van Winston het sy plek volgestaan sonder om die hele storielyn te vroeg te verklap.

Hy is in ekstase oor die film. “Die konsep – dis wild; ek was mal daaroor.” Hy sê elke Suid-Afrikaner behoort Gaia te sien, want dis goed, dit staan op sy eie voete en probeer nie enigiets anders namaak of iemand anders se kinestyl steel nie.

Hy is mal oor wetenskapfiksie en erken hy is ‘n volwaardige geek, en die film is die tipe storielyn wat hy wens hy uitgedink het en waarmee hy heel moontlik sou kon opkom. “Grufilms is onverwags en goeie grufilms verras jou,” glo hy.

Gaia is in Nature’s Valley in die digte Tsitsikamma inheemse woude verfilm, en die kinematograaf, Jorrie van der Walt, vertel daar is baie vooraf beplanning wat in die kameraskote ingaan, maar die realiteit is dat skietomstandighede ook altyd verander. “Omdat baie van Gaia afspeel in die natuur, moet jy bereid wees om konstant aan te pas en steeds die visuele styl behou. 

“Een van die grootste uitdagings was om op die hero locations te kom. Baie keer was dit meer as 30 minute se stap en al die toerusting moes saam. Dit was ’n baie fisieke shoot met locations wat net per voet bereik kon word. As gevolg van Covid het ons ook baie van ons locations verloor, omdat dit deel was van SANParke, en dit het ons forseer om baie vinnig alternatiewe opsies te kry en ons moes werk met wat ons tot ons beskikking gehad het.”

Jorrie erken: “Dit is maklik om krediet te neem vir sterk visuele storievertelling, maar jy kan nie visueel ’n storie vertel sonder die bydrae van die kunsdepartement, grimering en kostuums nie. Jaco is ook ’n ongelooflik visuele regisseur en sy visie het ’n baie groot impak gehad op die styl en visuele voorstelling van Gaia. Ons het ook al op heelwat projekte saamgewerk en verstaan mekaar se prosesse, wat help teen enige beperkinge op kreatiwiteit.”

Hy vertel dat om die toekenning by SXSW te gewen het, ’n ongelooflike ervaring was. “Dit was die bevestiging dat ons al die talent en vaardighede in die Suid-Afrikaanse filmbedryf het, om te kan kompeteer op die internasionale mark. Ek sien daarna uit om Gaia met Afrika te deel. Die film is nou uiteindelik tuis en ons sien uit na die terugvoer van die Suid-Afrikaanse gehoor.”

Gaia se première is op Vrydag 25 Maart om 20:00 by die Silwerskermfees in die Rotunda by die Bay Hotel en op die Silwerskermfees-webwerf. Registrasie vir die virtuele aspek van vanjaar se hibriede Silwerskermfees kos R190 vir vier dae se puik plaaslike fliekvermaak en die opbrengs word geskenk aan die Tribuo-fees.

Vier van die Silwerskermfeesfilms word ook tydens die fees by Ster Kinekor Tygervallei vertoon.

Gaia wys Saterdag 26 Maart om 20:00 by Ster Kinekor Tygervallei.

Dit sal ook vanaf 22 April beskikbaar wees op DStv Boxoffice.

Kyk gerus die lokprent hier:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top