kykNET Silwerskermfees 2022: Apokaliptiese kortfilm Die beskermer ook diep persoonlike reis

  • 0

Foto: verskaf

Masjiene jag die laaste oorlewendes in ’n postapokaliptiese Kaap, waar die wit strande verlate is afgesien van die moorddadige masjiene wat alles in vlamme en roet verander. Tink en haar getroue volgeling, Indy, ’n skaaphond, soek robotonderdele, want saam met haar suster Kari bou hulle ’n beskermerrobot waarop al hul hoop rus.

Die kortfilm My beskermer is een van 17 by vanjaar se Silwerskermfees en dis in Afrikaaps. Jazmine Ryan, Shamilla Miller, Hein de Vries en Christy Morcos speel daarin.

Maryke Roberts gesels met Diana Mills Smith, regisseur en medeskrywer van My beskermer, vir wie hierdie film veel meer as net kykgenot gebring het. Dit was ’n persoonlike ontdekkingstog.

Diana Mills Smith as Tink (foto: verskaf)

Diana vertel dat sy tydens die projek as ’n trans vrou “uitgekom” het. “Ons het die projek in die nasleep van die apokalips as ’n storie van die oorgang na volwassenheid voorgestel. Ek het gevoel my persoonlike storie was ’n uitkoms in die nasleep van die pandemie.”

Diana sê die film is nie ’n transnarratief nie, maar deur die skryf en ontwikkeling van hierdie verhaal is daar eggo's van baie dinge wat sy oor haarself geleer het.

“Kuns was nog altyd ’n manier waarop ek my kon uitdruk wanneer ek nie gevoel het ek kan in die regte wêreld nie. Hierdie storie is egter geskryf gedurende die mees kwesbare tyd van my lewe. Hoe meer ek oor hierdie karakter geskryf het, hoe meer het ek besef dat haar karakterontwikkeling juis die ding was wat in my eie lewe ontbreek.”

Die film volg ’n jong meisie wat voel sy moet haarself aan haar familie bewys. Aan haar suster en die nalatenskap van haar ouers. Sy dra hierdie “kuberletsels” op haar lyf, waaroor sy haar diep skaam. Diana verduidelik dat Tink op ’n jong ouderdom deur ’n “beskermer” aangeval is en haar pa kubernetika moes gebruik om haar aan die lewe te hou. Sy glo dit is die herinnering dat sy swak en kwesbaar is; dat sy nie goed genoeg is nie. Sy gaan op hierdie epiese reis om die vermiste stuk vir haar gesin se robotvoogprojek te vind en dit word as’t ware ’n reis om daardie letsels uit te vee.

........
Tink leer uiteindelik dat die ontbrekende stuk om ’n familiebeskermer te wees, nog altyd binne-in haar was. Sy leer om daardie letsels nie uit te vee nie, maar om dit te omarm.
.........

Tink leer uiteindelik dat die ontbrekende stuk om ’n familiebeskermer te wees, nog altyd binne-in haar was. Sy leer om daardie letsels nie uit te vee nie, maar om dit te omarm.

“Ek was lank skaam oor wie ek is. My reis was lank en moeilik, maar dit het een van selfliefde geword. Ek is dankbaar vir die film, aangesien ek die vermoë gehad het om my emosies en ervaring in ’n projek te stort, wat vir my só baie beteken. Dit is dalk ’n besonder betekenisvolle storie vir myself, maar daar is reeds so baie mense wat ook daaraan gekoppel is.

“Die span was passievol daaroor om hierdie storie lewe te gee, omdat hulle hulself daarin kon sien. Dis ’n verhaal van moed en reusestruikelblokke wat soms onoorkombaar lyk. Dit het skaal, aksie en hart. My persoonlike reis is dalk uniek, maar hierdie storie is universeel.

“Dit is ’n boodskap vir enigiemand wat al ooit gevoel het dat hulle nie genoeg is nie. Jy is egter. Omhels dit. Jy is alles wat jy moet wees om dinge te laat slaag.”

Waarom ’n postapokaliptiese kortfilm in Afrikaaps?

Ek en die filmmakers agter hierdie projek, is groot aanhangers van dié genre. Vir my was genre nog altyd meer as net ontvlugting. Ek dink dit is 'n geleentheid om werklike wêreldwaarnemings en vrae in ’n versterkte medium te verken. Wetenskapfiksie gaan nie dikwels oor ons toekoms nie, maar is ’n allegorie van die hier en nou.

Die wêreld van My beskermer verskil nie so van ons eie nie. Ons leef in ’n wêreld waarin daar ’n reuse-welvaartgaping en ’n veranderende klimaat is wat vinnig versleg. Die rykes en magtiges is meer besorg oor hul eie welvaart as oor die welstand van dié in nood.

........
Die wêreld van My beskermer verskil nie so van ons eie nie. Ons leef in ’n wêreld waarin daar ’n reuse-welvaartgaping en ’n veranderende klimaat is wat vinnig versleg. Die rykes en magtiges is meer besorg oor hul eie welvaart as oor die welstand van dié in nood.
.........

Die wêreld van die film verduidelik hoe die elite die aarde verlaat en ’n plan bewimpel om die oorblywende mense van kant te maak sodat die aarde se klimaat kan terugkeer na wat dit eens was. Ons storie word vertel vanuit die perspektief van diegene wat agterbly.

Dit was vir ons belangrik om die storie vanuit ’n Suid-Afrikaanse – en selfs Kaapstadse –  ervaring te verken. Met die geskiedenis van die stad en die manier waarop haar burgers behandel is as agtergrond, was dit vir ons vanselfsprekend om ’n outentieke Kaapse stem in die dialoog te hê. Ek praat nie Afrikaans nie, maar Suid-Afrikaanse skrywers wat Afrikaans praat, was van begin tot einde by die projek betrokke. Ek is wit en weet nie waardeur mense van kleur is nie.

Dit was belangrik dat ek luister en ander se professionaliteit, eerder as my eie insette, respekteer. Ek is so dankbaar dat ek filmmakers aan boord gehad het wat hul kundigheid kon bring. Ons het baie tyd aan die dialoog bestee en dit is nie net deur die skrywers verfyn nie, maar ook deur die ​​akteurs. Die elfjarige Jazmine Ryan (Tink) praat ’n pragtige en bekoorlike Afrikaaps wat só innemend is. Sy het gereeld gevra of sy die dialoog van haar toneel kan aanpas om meer eg vir beide die taal én haar ouderdom te klink. Ons was verheug om so baie storievertellers as deel van die projek te kon hê wat só passievol oor die taal is.

Hoe het julle die masjiene gebou?

Dit was pret! En oorweldigend. Ons het ’n boosaardige antagonis nodig gehad wat oortuigend lyk. Ons wou nie net hê dat hy kon kers vashou by karakters uit Hollywood-rolprente nie; dit moes ook vars en opwindend wees.

Ons almal het al baie moordrobotte gesien. Ons wegspringplek was die wêreld van die storie en hoe dit moes lyk. Ons het ’n amper stoom-punk apokaliptiese Kaap ontwikkel wat gevul is met geroeste en gebreekte metaal. Die aanvanklike inspirasie vir die voorkoms van die “beskermers” was die doodsengel.

Ons wou wegbreek van die norm waarin die antagonis ’n reusagtige, gespierde robot is en het ons robot afgeleef en verslete gemaak. Ons het saam met my goeie vriend Hein de Vries gewerk wat die “beskermer” uitgebeeld het op ’n manier wat net ’n gesoute akteur en eersteklas waagkunstenaar kon doen. Die fisiese spel wat hy na dié rol gebring het, was uitmuntend.

Jy kon nie hierdie rou weergawe van die storie met rekenaareffekte gedoen het nie. Ons het hard gewerk om die grimering en prostetika reg te kry. Ons is so dankbaar vir die harde werk wat die Opulence-groep aan die kostuum, grimering en finale voorkoms van die karakter gedoen het. Dit was eers op die dag toe die kameras begin rol dat ek gevoel het ons het uiteindelik die voorkoms van die beskermer reggekry. Dit was ’n maak-of-breek-oomblik. Ek is opgewonde oor die finale voorkoms en ek dink die gehore sal hom vreesaanjaend vind.

Wat het die spesiale effekte behels?

Daar was baie dink en beplanning in elke individuele VFX-skoot op hierdie projek. Ons het saam met bekroonde maatskappye Black Ginger en Left Post Production gewerk. Ons is geëerd dat ons saam met van Suid-Afrika se bestes in hul veld kon werk.

Gesprekke met produksiehuise het begin terwyl ons nog besig was om die draaiboek te skryf. Spesiale effekte soos die letsels, vuurpyle en matskilderye was drome wat ons van die begin af gehad het. Die VFX moes die karakters en storie dien. Dit gaan nie oor spoggerige beelde wat  beïndruk nie. Ons wou eerder hê die kyker moet verlore voel in hierdie uitgebreide vertelling. Daar kon geen oomblikke wees waar die gehoor uit die ervaring geneem word bloot omdat die effek nie oortuigend is nie.

Tyd en geld is altyd beperk, maar ek is absoluut verstom oor wat ons bereik het. Elke skoot is noukeurig bespreek, volgens ’n storiebord uitgelê en uitgevoer. Ons het geweet ons moet versigtig wees om nie hoër te probeer vlieg as wat ons vlerke lank is nie

Vertel meer oor die twee jong aktrises?

Hierdie is 'n storie oor 'n gesin van drie: ’n ouer suster, ’n baie jonger suster, en hul hond. Hulle is alleen in hierdie wêreld en moet mekaar teen dodelike meganiese jagters beskerm.

Hierdie susterdinamiek is pragtig uitgebeeld deur Shamilla Miller (Blood and water, Dead places en Troy: Fall of a city), ’n gesoute aktrise wat in uitsonderlike plaaslike en internasionale rolprente te sien is, en Jazmine Ryan, ’n nuweling met geweldige rou talent en professionaliteit wat haar ouderdom jare vooruit is.

Dit was amper ongelooflik om Jazmine te ontdek. Dit was asof ons die einste karakter gevind het wat ons neergepen het. Sy is dié karakter in voorkoms en gees en het – soos haar karakter Tink – ’n aura van avontuur. Ek is so dankbaar dat ons haar aan boord gehad het, want sy is duidelik ’n ster met ’n blink toekoms.

Ek wou al lank saam met Shamilla werk. Haar vermoë om een te word met haar karakter was gou duidelik. Die band tussen die susters speel ’n groot rol in die film. Ons het geweet ons moet dit regkry. Kari is ’n komplekse rol, omdat sy beide rolle van suster én ma moet balanseer. Shamilla kon albei rolle uitbeeld met ’n unieke dinamiek.

Hulle het soos susters gevóél. Nie net voor kamera nie, maar agter die skerms ook. Ek dink hulle was albei perfek vir hul rolle in die film.

  • My beskermer is Vrydag 25 Maart om 15:00 te sien.

Vervaardiger: David Franciscus
Produksiehuis: Protagonist Studios
Uitvoerende vervaardigers: kykNET, Silwerskerm, IdeaCandy
Regisseur: Diana Smith
Draaiboekskrywer: Diana Smith, David Franciscus
Redigeerder: Dan Mitchell
Kinematograaf: Rick Joaquim
Klankbaan: Ettiene Hachler
Rolverdeling: Jazmine Ryan, Shamilla Miller, Hein de Vries, Christy Morcos
Ouderdomsperk: 13 VLH

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top