kykNET-Rapport-prys vir fiksie 2023: Eugene deur Kirby van der Merwe

  • 0

Wenner: Kirby van der Merwe vir Eugene (Human & Rousseau)

Commendatio: Thys Human

In sy langverwagte tweede roman, Eugene, gee Kirby van der Merwe gestalte aan ’n romankarakter wat net so kleurvol en kompleks – net so kwasterig en charismaties – is as die befaamde vlees-en-bloed-figure (plaaslik én internasionaal) met wie hy sy voornaam deel. Maar Eugene, ’n “gentleman-skollie” met ’n swakheid vir boeke en vroue, is niemand se kloon óf epigoon nie.

Daar bruis immers Bolandse bloed in sy are. Sy helder verstand het hy op die smokkeljaarts, langstoepe en in die vuilhoeke van die ghetto se killing fields gekry. Sy morele kompas is deur sistemiese onreg, polisiebrutaliteit en sy mede-“comrades” gekalibreer. Onder sy byderwetse biker jacket klop ’n weerspannige hart en op sy skouer hurk ’n sekelstertbobbejaan.

Hoewel die leser in dié bobbejaan iets van Eugène Marais se “Burgers van die berge” of C Louis Leipoldt se swerwerspaar “Boggom en Voertsek” mag herken, of in sy duiwelsfluisteringe dalk ’n eggo van Breyten Breytenbach se “verdrommelde Bitterblaf” mag bemerk, is hy in die eerste plek kennelik ’n Kirby van der Merwe-kees. Vir Eugene word hy bevryder, brandwag én geswore bondgenoot. Vir Van der Merwe ’n sinryke motief aan die hand waarvan hy ’n hele mitologiese verwysingsveld in sy roman aktiveer, maar terselfdertyd ook op verbeeldingryke wyse bespiegel oor die “moedswillige mote, merke en insnydings” wat geweld, marteling en ontbering kan laat. In laasgenoemde opsig is Eugene se bobbejaan sowel ’n bevestiging van, as ’n dapper verset teen, die gedagte dat “alle verbygaan van vergeet gemaak” is.

Veral vermeldenswaardig is die vernuftige wyse waarop Van der Merwe sy vertelling verpak – hoe hy die gebeure uit die verlede doelbewus “verkap”, maar uiteindelik weer saamstring binne die gerusstellende omlysting van die raamverhaal in die hede. Met ’n skerp oog vir besonderhede en ’n bykans intuïtiewe aanvoeling vir historiese “tekstuur” laat Van der Merwe verskillende skerwe, skimme en stemme uit die verlede op veelseggende wyse oor mekaar skuif sodat groter patrone gaandeweg sigbaar word; nie net ten opsigte van Eugene se politieke bewuswording en persoonlike metamorfose van Bolandse seun tot “full-on urban cowboy” nie, maar ook ten opsigte van die uitgelewerde, onder-die-radar lewens van die gemeenskappe waarin hy tydens sy omswerwinge opgevang word.

Benewens die soms ongemaklike vrae wat Eugene oor vraagstukke soos verraad, wraak, verontskuldiging en vergifnis vra, is dit veral Van der Merwe se uitsonderlike slag met woorde wat die leser bybly: die vlugvoetigheid waarmee hy sy register na gelang van tyd en omstandigheid afwissel; hoe hy soms skaamteloos met digterlike beskrywings en beelde flikflooi; hoe hy ’n mens met sy humor ontwapen en verlei; net om jou dan – wanneer jy dit die minste verwag – met ’n verpletterende uitklophou te verras. ’n Sjarmante smoelslaner wat die mat, by wyse van spreke, onder jou voete uitruk.

Eugene is ’n waagmoedige roman wat ’n aanslag op jou kop én ingewande maak. Dit is ’n waardige wenner van vanjaar se kykNET-Rapport-prys vir fiksie.

Hier is die ander wenners van kykNET-Rapport-boekpryse vir 2023.

Lees ook:

Eugene deur Kirby van der Merwe: ’n leeskringbespreking

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top