kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Jaco Jacobs

  • 0

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word deur Jaco Jacobs is genomineer in die kategorie: Film.

Jaco Jacobs

Koop Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word by Kalahari.com.

Koop Triomf by Kalahari.com.

Koop Suurlemoen! by Kalahari.com.

Lees 'n onderhoud met Jaco Jacobs oor Suurlemoen! by die kykNET Silwerskermfees.

Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?

Dit is natuurlik ’n baie groot voorreg. Des te meer omdat die fokus van die pryse nie primêr of uitsluitlik op jeugliteratuur is nie.

Kry Afrikaanse skryfwerk die nodige erkenning?

Weet jy, ek dink nogal so. Onder meer danksy pryse soos hierdie dink ek Afrikaanse skrywers en boeke kry in die algemeen waarskynlik (plaaslik) meer erkenning en blootstelling as Suid-Afrikaanse skrywers wat in ons ander landstale, selfs Engels, skryf. Ek is egter wel bekommerd omdat daar deesdae te min resensies van Afrikaanse boeke verskyn. Kinder- en jeugboeke word meestal bloot geïgnoreer wat resensies betref, of daar word slegs in boekaankondigings daarna verwys.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke boek te skryf?

My liefde vir hoenders, en my vrees vir wiskunde en die dood. Ek het al van kleins af ’n ding oor hoenders – daar is iets slim en ... ek weet nie ... oertyds in hulle oë. Dit was vir my ’n uitdaging om te skryf oor ’n karakter wat fanaties oor wiskunde is, want ek het hoërgraadwiskunde enduit tot in matriek geneem en elke oomblik daarvan gehaat. En wat die dood betref: dis iets wat ek nog nooit goed kon hanteer nie – ek’s een van daai mense wat op ’n vreemdeling se begrafnis sal huil. Die boek was my manier om op ’n (hopelik) onsentimentele en selfs soms humoristiese manier daarna te kyk. 

As jy kyk na die boek in sy geheel, van die eerste gedagte tot die finale produk, wat is vir jou die lekkerste aspek van die skryfproses en wat frustreer jou die meeste?

Dis simpel, maar die lekkerste aspek is waarskynlik die dag as ek die eerste keer ’n voorbladontwerp van die uitgewer kry waarvan ek hou – ek is mal oor die voorblad van Oor ’n motorfiets. Die aspek wat my die meeste frustreer, is die herskryfproses. Hulle sê “The art of writing is rewriting”, maar in daardie opsig is ek soms ’n baie trae en onwillige woordkunstenaar. In hierdie boek se geval was die titel ook ’n kopseer. My aanvanklike titel het nie gewerk nie, en die lang titel was op die ou end my uitgewer se slim voorstel.

Waar en watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Soggens vroeg, in my kantoor. Ek probeer so vyfuur se kant by die huis uitsluip sonder dat my tweejarige my hoor, want as sy wakker word, is die oggend se skryfsessie outomaties gekanselleer.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees, en waarom hou jy van hulle werk?

Ek gaan nie eens probéér slim klink nie – ek lees redelik wyd, maar my gunsteling-skrywer sedert my skooldae is Stephen King. Twee baie eenvoudige redes: storie en karakters. Selfs in sy vrotste boeke – en daar was ’n hele paar – bly die karakters by jou spook.

Is daar een of meer boeke, fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

A, nou is dit my kans om darem ’n bietjie slim te klink! Ek het JM Coetzee se Disgrace en Marlene van Niekerk se Triomf seker albei reeds sewe of agt keer gelees.

As jy nou aan jouself dink as ’n nog ongepubliseerde skrywer, watter raad sou jy aan jouself gee?

Jis, ek dink ek sou net tjoepstil bly en my ongepubliseerde self los om maar self aan te karring. Aspirantskrywers kry (en soek) soms te veel raad en aanmoediging; maar skryf is ’n allenige ding wat jy alleen moet aanpak – niemand kan jou régtig daarmee help nie. Ek raak moedeloos as ek sien hoe ’n ouer sy/haar kind of tiener se skryftalent probeer ryp druk.

Werk jy aan ’n nuwe boek?

Altyd.

Indien jou boek verfilm word, sou jy wou betrokke wees by die draaiboekverwerking en verfilming?

Slegs in ’n raadgewende hoedanigheid. Met die onlangse verfilming van my jeugboek Suurlemoen! het dié benadering vir my uitstekend gewerk, en ek was baie in my skik met die eindproduk. Ek het raad gegee en kommentaar gelewer wanneer ek daarvoor gevra is, en ek het die verskillende weergawes van die draaiboek vooraf te lese gekry, maar omdat ek nie ’n filmmaker is nie, dink ek dis beter om die storie in die hande oor te gee van iemand wat die kuns van rolprente ken. 
 

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top