kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Herman Binge

  • 0

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Herman Binge was een van die beoordelaars van die Niefiksie-kategorie, sowel as die Film-kategorie.

Herman Binge

Koop Die Afrikaners by Kalahari.com.

Koop Die gewildste Afrikaanse gedigte by Kalahari.com.

Koop The Myth of Sisyphus by Kalahari.com.

Koop The Die groot gedagte by Kalahari.com.

Wat beteken die instelling van die kykNET-Rapport Boekprys vir die Afrikaanse boekbedryf?

Gelukkig is daar besorgde instansies soos kykNET en Rapport wat sorg vir pryse en borgskappe binne die dinamiese en inspirerende nismark van Afrikaanse boeke. En natuurlik is dit ’n blye dag as daardie instansies na vore kom en geld beskikbaar stel en ’n uitstekende organiseerder soos Hettie Scholtz aanstel om dit te bestuur. Dit strek direk tot voordeel van uiters talentvolle en vindingryke Afrikaanse skrywers en hulle lojale en geesdriftige lesers. Op hierdie manier bly Afrikaanse skrywers binne die huidige bestel relevant en kan hulle vergestalting van die werklikheid waarin ons leef aanhou om vir ons meer betekenis aan ons lewens te gee tot voordeel van Afrikaans en Suid-Afrika. So kan die skrywers se vernuwende denke en nuwe navorsing die lewensbelangrike tweegesprek met die lesers voortsit en ons almal se uitkyk op en insig in ons lewensituasie verryk. Aangesien kykNET en Rapport goed geplaas is om goeie publisiteit rondom so ’n prys te genereer, hoop mens dat meer potensiële Afrikaanse lesers aangemoedig sal word om te lees. My komplimente en dank aan kykNET en Rapport wat hierdie vlag laat wapper!

Jy het so pas deur die Afrikaanse boeke wat uitgewers as hul beste van die jaar beskou, gelees. Is ons boekbedryf tans in 'n goeie fase of is daar kommer?

My opdrag is om veral te kyk na die niefiksie-afdeling van die prys. Terselfdertyd kyk ek na die moontlikhede om betekenisvolle dokumentêre programme vir televisie op hierdie werke te baseer. Dan lees ek ook vir die film-kategorie vir die fiksie-afdeling en dit is aangenaam om te kan sê dat daar vanjaar ’n hele paar swaargewigwerke tot die Afrikaanse boekebedryf toegevoeg is. Ek het trouens so lekker gelees dat ek nie kans gehad het om oor enigiets bekommerd te wees nie.

Is daar gemeenskaplike temas wat opval in die boeke wat vir die prys(e) ingeskryf is?

In die niefiksie-afdeling is Karel Schoeman se ongelooflike navorsing en optekening genomineer. Nie minder nie as drie merkwaardige werke van Schoeman het in aanmerking gekom: Deelstad: ’n boek oor Berlyn; Twee Kaapse Lewens – oor die Becks en dan Here en Boere – oor die Kaapse kolonie onder die Van der Stels, wat uiteindelik op die kortlys verskyn. Die werk wat Karel Schoeman doen, is regtig uitsonderlik en Afrikaans kan homself gelukkig ag dat ons steeds ’n produktiewe skrywer en historikus van sy formaat met ons het. En dan die uiters toeganklike en boeiende werk van Albert Grundlingh en Bill Nasson met die titel Die oorlog kom huis toe oor die rol van die vroue en gesinne in die Suid-Afrikaanse Oorlog. So natuurlik is die gemeenskaplike tema hier die geskiedenis en nuwe, relevante perspektiewe daarop – beide persoonlik en algemeen. En dan was daar ewe belangrike bydraes, miskien nie op dieselfde monumentale skaal as bogenoemde werk nie, maar wat getuig van deeglike, insiggewende en goedgeskryfde werk, soos Onder die radar van Dana Snyman wat (soos Irna van Zyl dit stel) “met groot presiesheid en oorspronklikheid sy inligting ingesamel en sy stories gekies het”.

Kan jy kortliks verduidelik wat die boeke op die kortlys prysenswaardig maak?

Wat die film-kategorie aanbetref, is die titel Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word van Jaco Jacobs se boek net so filmies en visueel as die storie daarrondom.

Score my ’n gwai van Marlize Hobbs is belangrike sosiale kommentaar en dit weerspieël ons naakte werklikheid sonder om dit in kommersiële klere te verdoesel, en dit kan ’n kortfilm word wat Afrikaanse gehore sal boei.

’n Ander mens van Zirk van den Berg is so visueel geskryf, met soveel bruikbare oortuigende dialoog, dat dit amper reeds ’n draaiboek is. Die storie is spanningsvol en uitdagend, alhoewel die moord nie reeds op die eerste bladsy gepleeg word nie!

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?

Natuurlik is daar nie ’n kort of volledige antwoord op hierdie vraag nie. Ek geniet internasionale populêre boeke van onder andere Dan Brown, JK Rowling, Stieg Larsson, Bill Bryson, Khaled Hosseini, David Nicholls, Ian McEwan, Sebastian Faulks, Arthur Golden, Alexander McCall Smith, John Grisham, Thomas Harris ens.

Ek lees graag die klassieke werk van Alexandre Dumas, Victor Hugo, Charles Dickens, Leo Tolstoi, JRR Tolkien, Thomas Hardy, Fjodor Dostojefski, Boris Pasternak, Jane Austen, Albert Camus, Friedrich Nietzsche, Jean-Paul Sartre, Lawrence Durrell, Nikos Kazantzakis, James Joyce, Virginia Woolf, Douglas Adams, Harper Lee, Charlotte en Emily Brontë, Joseph Heller, JD Salinger, John Steinbeck, Graham Greene, Gabriel García Márquez, LM Montgomery, F Scott Fitzgerald, Ernest Hemingway, Evelyn Waugh, George Orwell, Roald Dahl, John Fowles, William Golding, Arundhati Roy, Aldous Huxley, Jack Kerouac, Mario Puzo, Paulo Coelho, Jeffrey Archer, Salman Rushdie en John le Carré. (Asem!)

In Afrikaans lees ek Ingrid Winterbach, Kerneels Breytenbach, Marita van der Vyver, Breyten Breytenbach, Etienne van Heerden, Karen Brynard, Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Abraham H de Vries, André P Brink, Elsa Joubert, Dana Snyman, Rachelle Greeff, Eben Venter, Alexander Strachan, Deon Meyer, Chris Karsten, Hennie Aucamp, Dan Sleigh, Deborah Steinmair, E Kotze, JM Gilfillan, George Weideman, Johan van Wyk, Koos Kombuis, Jeanne Goosen, Fransi Phillips, Harry Kalmer, Riana Scheepers, Johann de Lange, Jaco Fouché, Marié Heese, Chris Barnard, PG du Plessis, Rian Malan, Esta Steyn, Welma Odendaal, Winnie Rust, Francois Smith, Irma Joubert, Piet Steyn, Sonja Loots, Zirk van der Berg, Dominique Botha en Jaco Jacobs. (Asem!)

In Engels lees ek JM Coetzee, Damon Galgut, Ivan Vladislavi?, Finuala Dowling, Mike Nicol, Michiel Heyns, Gillian Slovo, Henrietta Rose-Innes, Imraan Coovadia, Cynthia Jele, Graeme Friedman, Craig Higginson, Denis Hirson, Christopher Hope, Jenny Hobbs, Yewande Omotoso, James Whyle, Boykey Sidley, Karen Jayes, Chris Wadman, Alistair Morgan, Ken Barris, Nadine Gordimer, Andrew Brown, Barbara Mutch en Jayne Bauling. (Uitasem!)

Is daar (’n) boek(e), fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Afrikaans: Sover as wat niefiksie aangaan, het ek Die Afrikaners van Hermann Giliomee weer en weer gelees, omdat ek op die oomblik daarmee werk. So ook Thomas Packenham se Boer War en Deneys Reitz se Kommando. Fiksie het ek Karel Schoeman se Op ’n Eiland onlangs nog ’n keer gelees. NP Van Wyk Louw se opstelle, soos Lojale verset en Liberale nasionalisme, en sy poësie weer gelees omdat ek dit op universiteit laas gelees het. Dieselfde met Gideon Joubert se Die groot gedagte en baie werke van Breyten Breytenbach, omdat ek dink dat ek dit elke keer beter verstaan. Die gewildste Afrikaanse gedigte en Groot verseboek is ook werk wat weer en weer gelees word.

Ek het ook onlangs The God Delusion en The Greatest Show on Earth van Richard Dawkins weer gelees om te kyk of ek dit nie kan verstaan nie. Ek loerlees ook vir pure plesier klassieke boeke waarvan ek baie hou, soos The Alexandra Quartet van Lawrence Durrell en Christ Recrucified en Zorba the Greek van Nikos Kazantzakis, en Ernest Hemingway se Old Man and the Sea en Death in the Afternoon – vir vriende wat Spanje toe gaan. Ek lees ook baie keer weer stukke uit The Myth of Sisyphus van Albert Camus (ook Thus Spoke Zarathustra van Friedrich Nietzsche), omdat ek soveel “quotable quotes” daaruit kry. Ek het War and Peace van Leo Tolstoi al ’n paar keer probeer ...

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top