kykNET-Rapport Boekpryse: Onderhoud met Eben Venter

  • 0

Die kortlys van die eerste kykNET-Rapport Boekpryse is pas bekendgemaak en die wenners word op Vrydagmiddag, 21 November aangekondig by ’n geselligheid in Kaapstad.

Wolf, wolf deur Eben Venter is genomineer in die kategorie: Fiksie.

Eben Venter

Koop Wolf, wolf by Kalahari.com.

Koop Artic Summer by Kalahari.com.

Wat beteken dit vir jou om vir die eerste kykNET-Rapport Boekprys genomineer te word?

Alle lof aan kykNET-Rapport wat die boekeprys weer afgeskop het. Met alle pryse werk dit so: jy sit net op hom as jy op hom sit. Jou rat moet wees: neutraal. Anders is jy simpel.

Kry Afrikaanse skryfwerk die nodige erkenning?

Ja, wat. Hoeveel erkenning wil Afrikaanse skrywers nou ook hê? 'n Goeie werk styg uit.

Wat het jou geïnspireer om hierdie spesifieke boek te skryf?

Ek wou die vader-seun-verhouding ontgin in 'n post-'94 stedelike milieu. En die kwessie van pornoverslawing en hoe dit jou brein kan verander, interesseer my lankal.

As jy kyk na die boek in sy geheel, van die eerste gedagte tot die finale produk, wat is vir jou die lekkerste aspek van die skryfproses en wat frustreer jou die meeste?

My partner maan my altyd: geniet nou 'n slag die skryfproses. Ek sal sê ek het lekker geskryf aan die storie. Ek het nie terughou en selfsensuur toegepas nie. Frustrasie kom as jy moet gaan kos koop en jou gedagtegang word onderbreek. Dit vat lank om weer op dreef te kom.

Waar en watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Oggendskrywer mét koffie. Op 'n goeie dag skep ek vier nuwe bladsye, Cambria-font, nommer 14.

Wie is die skrywers, Suid-Afrikaans of internasionaal, wie se werk jy die graagste lees?

Hier's my tien bestes op die oomblik:  

Arctic Summer – Damon Galgut
Train Dreams – Denis Johnson
'n Ander land – Karel Schoeman
Street of Crocodiles – Bruno Schultz
Austerlitz – WG Sebald
Last Evenings on Earth (kortverhale) – Roberto Bolaño
The Life and Times of Michael K – JM Coetzee
Brokeback Mountain (lang kortverhaal) – Annie Proulx
Conversations at Curlow Creek – David Malouf
Imperium – Ryszard Kapu?ci?ski

Is daar een of meer boeke, fiksie of niefiksie, wat jy gereeld herlees?

Sewe dae by die Silbersteins – Etienne Leroux
Hennie Aucamp se vroeë kortverhale wil ek weer vat.
Dubliners, kortverhale – James Joyce
The Great Gatsby – F Scott Fitzgerald

As jy nou aan jouself dink as ’n nog ongepubliseerde skrywer, watter raad sou jy aan jouself gee?

Lees wyd en hard. Probeer in oefening bly deur elke dag te skryf. Slegs ín die skryfproses kom die volheid van die verhaal na vore. Vergeet van publiseer. Vir eers.

Werk jy aan ’n nuwe boek?

Ongetwyfeld. 'n Soort transgenre-storie – dis my strewe om altyd te vernuwe. Of dan ten minste te probeer. Ek skryf ook dié slag eerste in Engels, omdat ek die manuskrip direk aan my Britse agent wil gee. Maar dan gaan die Afrikaanse weergawe kom, ter ere aan al my Afrikaanse lesers wat my gelees-dra het tot waar ek vandag is.

 

Lees meer oor die kortlys van die kykNET-Rapport Boekpryse

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top