kykNET-Rapport-boekprys vir niefiksie 2019

  • 0

Vanjaar se kykNET-Rapport Boekprys vir niefiksie gaan aan Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey (Tafelberg).

Met Jeremy vannie Elsies verruim Vearey die geskrewe Afrikaanstalige kultuur- en kennisveld met belewenisse, lewensbeskouings, geskiedenisse en ervarings wat tot nou toe nog nie met soveel elegansie in populêre Afrikaanse niefiksie geboekstaaf is nie.

“Dit is ʼn ontsettend belangrike boek vir die tyd waarin ons leef,” skryf Valda Jansen, een van die beoordelaars. Hierop brei sy uit: “Soms voel dit vir my asof die laaste 25 jaar net eenvoudig te vinnig verbygegaan het, asof te veel ander dinge ons aandag geverg het, dat daar nie genoeg tyd, verdraagsaamheid, geduld, respek was vir ander se opinie nie. Daar was nie genoeg ruimte vir refleksie/selfrefleksie nie. Die tyd ná 1994, die Mandela-jare en nou ook die tyd ná Mandela, die woede en skaamte oor wat ons vir Zuma en kie toegelaat het om te doen, het ons – mens kan amper sê: gestoomroller. Jeremy Vearey het vir homself die tyd en ruimte geskep om oor sy eie verlede, dié van sy familie en gemeenskap, dié van sy land, te reflekteer en daarmee gee hy vir almal wat in die boek verskyn of oor wie geskryf word, ook vir die leser as buitestander, die ruimte om self na te dink. Dit is iets waarvoor ons nie altyd genoeg tyd het nie.”

Jeremy vannie Elsies verruim die Afrikaanstalige sosiale geskiedskrywing van intellektuele tradisies en onderwys in bruin werkers- en middelklasgemeenskappe en -skole in die 1970’s en 1980’s. Die Unity Movement se impak op onderwys in Afrikaans word byvoorbeeld uitstekend geïllustreer. Dit wys dat daar, benewens Christelik-nasionale onderwys, ʼn ryk en subversiewe tradisie was waarin soveel swart (Biko se definisie, m.a.w. swart inklusief) sprekers van die taal geskool is. Alhoewel Vearey, soos soveel ander, later van die ideologiese aspekte van die Unity Movement agterlaat, bly hy ʼn produk van onderwysers wat deur Paolo Freire en ander beïnvloed is.

Ook die populêre onderwys vanuit sy ma se vakbondagtergrond speel ʼn rol in sy vorming as aktivis. Vearey is ʼn produk van ontneming, diskriminasie en uitbuiting, maar hy is eweneens ʼn produk van hierdie outodidaktiese leeskultuur, wat later meer formeel op skool en universiteit geslyp word. As skrywer is hy bewus van die wisselwerking tussen sy situasie en sy agentskap as denkende mens – hy noem telkens die boeke wat hy gelees het. As hy N.P. van Wyk Louw aanhaal, bewerkstellig hy ʼn gesprek tussen Louw se elite wêreld as willige en later onwillige Afrikaner-nasionalis en die Marxisme waarin Vearey homself later skool. Leesstof is nie deurgaans ernstig, soos die Afrikaanse vertaling van die Kommunistiese Manifes, nie, maar die leser hoor van Fritz Deelman, Konzalik en James Hadley Chase – wat ten spyte van die ligte aard daarvan tóg ʼn invloed op manlikhede en die subjektiewe plasing van die swart leser teenoor die wit held het.

Herman Binge skryf hieroor in sy verslag: “Vir elke Afrikaanse leser is dit opwindend om in 'n skrywer se voetspore ʼn reis te onderneem deur ʼn landskap wat nog nooit in die Afrikaanse letterkunde ontgin is nie. By Elsiesrivier (Elsies) en “ons djaart in Balvenielaan trek mens weg, noordoos deur die sinkbedekte sandveld van Malawikamp, verby meneer Matunsi se huis” en verder “oor die sandvelde deur sinkkrale tot by dokter Arnold se steenhuisspreekkamer in Connaughtweg”, verby “die nuwe munisipale bloksteenhuise van Uitsig met hulle blikdeure waar elke plek sy eie djaart het”, verder aan tot by die “skipbouers van Eureka­landgoed voordat jy langs die weë van ons gemeenskaplikheid in Tiervlei beland”.

Jeremy vannie Elsies verruim ook die Afrikaanstalige literatuur oor persoonlike transformasie ten tye van politieke transformasie. Waar baie van die boeke in hierdie tradisie handel oor wit sprekers van die taal se inkeer en omkeer (Antjie Krog, Beyers Naudé, Wilhelm Verwoerd, helaas ook Carl Niehaus), word hier van die ander kant af geskryf. Die outobiografiese vertelling is hier van ʼn moontlike bendelid, student-onderwyser en gelyklopende ondergrondse operateur, gevangene, hoëprofiel-lyfwag en later dan polisieman wat bendegeweld bekamp. Persoonlike tragedies word deurgaans onderspeel – Vearey se foltering deur die veiligheidspolisie, die verlies van ʼn liefde terwyl hy in die tronk is.

Dis ook ʼn merkwaardige boek weens subtiele vorme van selfrefleksie, oor byvoorbeeld die konstruksie van manlikheid en hoe dit ʼn rol in sinnelose geweld speel. Die boek staan hier in teenstelling met die meestal middelklas- en wit elite perspektiewe op persoonlike transformasie van die meerderheid Afrikaanstalige outeurs in hierdie genre – Vearey skryf beslis oor “ras”, maar dit word ondervang deur ander vorme van identiteit en dominasie, soos geslagsrolle, seksuele identiteit en klas. As vertelling slaag die boek daarin om die biografiese vertelling binne die groter sosiale omwenteling te plaas.

Die boek verruim verder Afrikaans as geskrewe taal, deur middel van ʼn volgehoue gesprek oor die politieke vorming van die taal en pogings van swart Afrikaanssprekendes om hul liefde vir die “taal van die onderdrukker” met integriteit uit te druk en uit te leef. In hierdie verband is die vertelling oor die 1976-studenteopstande besonder onderhoudend. Vearey skryf ook oor sy liefde vir Afrikaans, maar verwys na ʼn subalterne Afrikaans, die Afrikaans waarin weerstand teen die apartheidsregering beplan en uitgevoer is. Binne hierdie tradisie spot Vearey met ʼn tipe politieke verengelsing by die Universiteit van Wes-Kaapland, ʼn ligter oomblik in die boek, maar ook ʼn belangrike een. Indien die teenswoordige “taalbulle” ernstig is oor al die sprekers van die taal, gaan hulle ook hierdie politieke tradisies moet leer ken en internaliseer, veral in geskiedskrywings van die ontwikkeling van die taal. Neffens die Afrikaanse vertaling van Die Bybel staan daar die Afrikaanse vertaling van die Kommunistiese Manifes. Benewens die NG Kerk as politieke vormgewer, is daar die Morawiese Kerk se subversiewe invloed op Vearey en ander.

Veral verruim die boek die Afrikaanse lesersgehoor. As primêre gehoor is Jeremy vannie Elsies vir Afrikaanssprekendes wat reeds simpatiek is jeens Vearey se politiek geskryf (m.a.w. waarskynlik oorwegend swart sprekers van die taal), maar is inklusief in hoe dit aangebied word, sodat sy sekondêre (wit) lesersgehoor die boek tog toeganklik vind. Valda Jansen skryf in haar verslag: “Feit is vreemder as fiksie. Die storie van een man, marginaal in die verlede, staan nou in die middel van die diskoers in die land van ná-Mandela, ʼn land wat stadig maar seker die stukke optel van die gemors waarin ons onsself bevind. Dalk is hierdie die gewenste boek vir die onsekere tyd waarin ons ons bevind, 'n tydperk waaroor ons ons behoort te skaam. Deur middel van hierdie boek kyk ons terug na waar ons vandaan kom, kyk in hierdie spieël na wat ons vermag het, ten spyte van ons omstandighede.”

Ter opsomming: Jeremy vannie Elsies getuig van uitstaande vakmanskap en uitstekende vormgewing – spesifiek die kreatiewe gebruik van taal, wat soms in die digterlike oorloop, asook die feit dat die vertelling biografie so suksesvol met historiografie verbind. Dit is inhoudelik oorspronklik in taal en tema – met verwysing na die hoek waaruit persoonlike transformasie aangepak word, asook die vervlegging van identiteitsvorming met idees, asook “ras”, plaaslike kulture, klas en manlikhede. Dit het die beoordelaars as lesers tot dieper en soms nuwe insigte gebring – spesifiek met verwysing na die gesprek tussen Marx en Louw. Wat hulle ook van Vearey se skrywerstem waardeer, is die manier hoe hy sy ouderdom in sy taalgebruik herwin. Sy beskrywings van interaksie met vroue ná sy vrylating uit die tronk is nogal riskant, maar effektief om ʼn sekere atmosfeer te bewerkstellig.

Weer Valda Jansen: “Die boek bewys: Afrikaans is baie meer as dit wat mense tot dusver gedink het.”

En dis ’n waardige wenner van die kykNET-Rapportprys vir 2019 wat kan kers vashou by die beste fiksie, plaaslik sowel as internasionaal.

Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey: ’n resensie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top