kykNET Lekker loods binnekort op DStv Access

  • 0

DStv-kanaal 148 sal vanaf 9 Maart voorts bekend staan as kykNET Lekker waar reeds bestaande kykNET-inhoud op die DStv Access-pakket beskikbaar sal wees.

kykNET Lekker sal kykers die geleentheid bied om ’n verskeidenheid van die beste kykNET-programme van sepies, leefstyl- en kinderprogramme tot musiek te kan geniet. DStv Access kykers kry nou toegang tot die beste plaaslike Afrikaanse inhoud wat op ander DStv-pakkette beskikbaar is.

kykNET is ’n premiumkanaal op die DStv-platform wat verlede jaar hul 20ste verjaarsdag gevier het met ’n waardevolle skatkis van Afrikaanse inhoud.

DStv Access-kykers sal gewilde programme soos Jou Show met Emo seisoen 1 vir komiese vermaak kan geniet, terwyl die legendariese fiksheid guru, Linda Kriel, kykers sal inspireer om fiks te word met Kry daai Lyf. Afrikaanse sepies soos Suidooster(vanaf seisoen 1) en Binnelanders (vanaf seisoen 4) sal ook op kykNET Lekker beskikbaar wees. Die kleinspan sal ook vermaak word met kinderprogramme soos Teddies, Bundu Buddies en Groentjie.

En wat is ’n Afrikaanse kanaal sonder musiek? Die programmering sal daagliks afsluit met musiekblokke van verskillende musiekvideo’s en gewilde musiekprogramme soos Joltyd, Kom ons Karaoke, Luister, #Duidelik en Sakkie Langarm.

kykNET Lekker sluit aan by ander kanale soos Mzansi Wethu, TLC, Telemundo, Supersport Blitz, The Home Channel, Mzansi Bioskop en CBS Reality op die goedkoopste DStv-pakket – Access.

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale: “kykNET Lekker sluit aan by die ander kykNET-kanale om Afrikaanse inhoud bekostigbaar en toeganklik aan DStv-intekenaars te bied. Dit sal ’n verskeidenheid van die beste Afrikaanse programme uit die kykNET-skatkis huisves en sal slegs beskikbaar wees op die DStv Access-pakket.”

kykNET-kykers op DStv Family and Premium-pakkette sal voortaan steeds die beste en nuutste Afrikaanse vermaak op kykNET-kanale kan geniet. Daar is nog meer uitstekende inhoud op pad in die komende maande met gewilde programme wat terugkeer vir splinternuwe seisoene en nuwe programme wat hul buiging sal maak.

Die bekende Afrikaanse sanger, Karen Zoid, keer terug as President vir die 5de seisoen van Die Republiek van Zoid Afrika. Haar klets- en musiekprogram sal weereens verskillende Suid-Afrikaanse bekendes en legendes na kykNET-kykers bring.

Daarby sal Emo Adams die tweede seisoen van die gewilde talentkompetisie, Maak my Famous, op kykNET en kykNET & Kie aanbied waar van die land se beste opkomende kunstenaars hulle talente met kykers sal deel.

Die ikoniese Casper de Vries is ook terug met sy nuwe sketsprogram, Cas oppie Kassie.

Kykers kan ook uitsien na ’n nuwe drama uit die pen van Paul C Venter later vanjaar. Venter was die skrywer van vorige kykNET-dramas soos Vlug uit Egipte en Knapsekêrels.

Op DStv-kanaal 145 sal kykNET & Kie ook ’n nuwe program verwelkom met die gewilde gospel-musikant, Jonathan Rubain, wat sy debuut met die klets- en musiekprogram, Koortjies, sal maak.

En die nuus is uit – die SAFTA-benoemde misdaadreeks, Op Seer se Spoor, sal ook vir ’n tweede seisoen na kykNET & Kie terugkeer met Kuier se artikel-redakteur, Ernusta Maralack, as aanbieder. Op Seer se Spoor bekyk wrede misdade wat gemeenskappe reg oor die land skok.

“Die 68 SAFTA-nominasies vir kykNET-programme getuig van die harde werk en toewyding van voor en agter die kameras om te verseker dat kykers die beste plaaslike Afrikaanse inhoud kan geniet,” sluit Meiring af.

kykNET is op Compact Plus en Premuim terwyl kykNET & Kie op Family tot Premuim DStv-pakette beskikbaar is.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top