Persvrystelling: kykNET bring animasieflieks oorgeklank in Afrikaans vir die jongspan

  • 0

Mammas en pappas — die jongspan kan na animasieflieks oorgeklank in Afrikaans op kykNET (DStv-kanaal 144) uitsien!

Vanaf vroeg Januarie 2021 saai kykNET splinternuwe oorgeklankte animasieflieks in Afrikaans uit. Die tradisie van animasie oorgeklank in Afrikaans strek dekades terug waarvan gunstelinge soos Heidi ’n gesogte plek in die kanon van Afrikaanse televisievermaak het.

"Kinders geniet animasie, en daar is tans nie genoeg kinderprogramme vir ons Afrikaanse kinders nie. Daarom was die besluit gemaak om nuwe en moderne animasieflieks vir kykNET oor te klank," sê Nicola van Niekerk, Senior Bestuurder: Teksgedrewe produksies en Aktualiteit.

Eerste aan die beurt is Wiekie die Viking en die Towerswaard (die oorgeklankte weergawe van Vik the Viking and the Magic Sword). Wiekie die Viking se grootste behoefte is om aan sy kaptein pa se sy te wees op hul avontuurlustge ekspedisies. Na ‘n tragiese gebeurtenis waar sy mamma in ‘n goue standbeeld verander, het Wiekie geen keuse as om te wys waarnatoe hy in staat is om sy familie te red nie.

Die Meermin-Prinses (die oorgeklankte weergawe van The Mermaid Princess) is ’n pretbelaaide avontuur. Nadat ’n skip deur ’n verskriklike storm getref is, word die Meermin Prinses gedwing om ’n klein mens-dogtertjie te red. In hierdie pretbelaaide avontuur besef die Meermin Prinses dat die einste mense, teen wie sy so lank gewaarsku is, eintlik almal goedheid in hulle dra, soms neem dit net bietjie geduld om dit wel raak te sien…

"Daar is nog vele animasieflieks oorgeklank in Afrikaans wat vir die kleingoed op pad is —  dis net die begin van vele meer," sluit sy af.

Opkomende animasieflieks oorgeklank in Afrikaans waarna kykers kan uitsien sluit Ella Bella Bingo, Snoet, Die Groot Avontuur en Vonk, ’n ruimteverhaal in.

Wiekie die Viking en die Towerswaard wys Saterdag 2 Januarie om 20:00 en Die Meermin-Prinses 9 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top