
Jaco Nothnagel, vervaardiger en regisseur (foto: https://www.stellatalent.co.za/jaco-nothnagel), en De Klerk Oelofse, aanbieder van die program (foto: https://kyknet.dstv.com/program/kyk-wie-praat).
Jaco Nothnagel, vervaardiger en regisseur van die kykNET-program Kyk wie praat, gesels met Naomi Meyer oor die realiteitsreeks.
Hallo Jaco! Kyk wie praat is heerlike gesinsvermaak! Kan jy asseblief vir ons lesers agtergrond gee van hoe hierdie program werk? Waar kom hierdie konsep vir ’n program vandaan?
........
Die struktuur van die program werk so: In elke episode het ons ’n klas van nege kinders tussen die ouderdomme van 6 en 9 jaar wat vooraf ’n reeks vrae beantwoord het. Vier “grootmens”-deelnemers moet dan probeer om te voorspel wat die kleinspul se antwoorde op die vrae was, en sodoende genoeg punte versamel om te verhoed dat hulle uitval.
..........
Baie dankie! Die struktuur van die program werk so: In elke episode het ons ’n klas van nege kinders tussen die ouderdomme van 6 en 9 jaar wat vooraf ’n reeks vrae beantwoord het. Vier “grootmens”-deelnemers moet dan probeer om te voorspel wat die kleinspul se antwoorde op die vrae was, en sodoende genoeg punte versamel om te verhoed dat hulle uitval. Die deelnemer wat deurdring tot die finale ronde kies dan vyf van die kleuters met wie hy/sy die beste vereenselwig en vir hulle vra ons elkeen verskillende vra. Die mikpunt is 500 punte vir ’n naweek weg, en 750 punte vir R10 000 in kontant. Indien die R10 000 nie gewen word nie, rol daardie week se prysgeld oor na ons boerpot in episode 13, waar die vier beste deelnemers van die reeks meeding vir die groot prys.
Die formaat kom uit Engeland en behoort aan Fremantle. Herman Binge, die uitvoerende vervaardiger van Kyk wie praat, het die Engelse weergawe van die formaat genaamd Small talk in die jare 2000 en 2005 vir SABC 2 vervaardig. Ek self was ’n groot aanhanger van die program (alhoewel ek in 2000 net 13 jaar oud was) en een aand het ek met De Klerk Oelofse aan die gesels geraak en ons was dit eens dat dit tyd is om Small talk in Afrikaans terug te bring Suid-Afrika toe. Dit het twee jaar se onderhandelinge met die kanaal en die formaathouers gekos, maar vroeg in 2021 het ons die groen lig gekry en kon ons begin voorberei.
Dit klink of enige ouer, onderwyser of volwassene wat met kinders werk sal kan raai hoe kinders se koppe werk, of hoe? Maar die mees humoristiese deel van hierdie program is die totale onvoorspelbaarheid van die kinders se antwoorde! Wie het die vrae saamgestel? En as jy die kinders se antwoorde sien, sou jy dink jy kon hulle antwoorde voorspel? Enige gunstelinge van antwoorde wat mens eenvoudig nie sou kon raai die kinders gaan anders beantwoord as wat jy as grootmens dink nie?
Ek, De Klerk en El Wolf het saamgewerk om die vrae saam te stel. Soos jy jou kan voorstel, is dit ’n magdom inhoud – daar is nege kinders en sewe rondes per episode. Die hartseerste is dat sommige goue antwoorde dit nie tot in die episode gemaak het nie, omdat elke kind nie in elke ronde gekies word om te antwoord nie. Ons het hard gewerk om tematies om te gaan met die tipe vrae wat ons vra, deur te begin met kennisvrae, dan na opinievrae te beweeg, en op die einde bietjie dieper/filosofies te raak met wat ons vir die kleintjies vra. Hulle het ons élke keer onkant gevang met hulle antwoorde – ons het reeds met die kinders se verfilming geweet dat die grootmense nie ’n kat se kans gaan staan nie! My gunstelingantwoord van die reeks is verseker Connor in episode 3. Op die vraag "Watter tale kan jy alles praat?" het hy geantwoord: "Ek kan witmens en bruinmens praat, daai's al". Kyk ook gerus uit vir ons diep denker Philip, wat op die vraag "Sal jy vir ewig wil lewe?" nee geantwoord het, want hy sal vir Liewe Jesus wil vra: "Wanneer het alles begin, of WAS daar ooit ’n begin!?" En dit van ’n sesjarige!
Ek haal my hoed af vir die samestelling van die deelnemers ook. Dit konfronteer die kyker met vooropgestelde idees oor hoe sekere kinders gaan reageer, en dit stel almal bloot aan Afrikaans in al sy variëteite. Kon kinders oudisie aflê? Hoe is daar besluit wie gaan deelneem?
.......
Ek was baie gesteld daarop om ’n diverse groep kinders bymekaar te kry, juis vir daardie rede – dat ons almal kan lag vir die onskuld en perspektief van ’n kind, ongeag van hulle agtergrond.
.........
Ek was baie gesteld daarop om ’n diverse groep kinders bymekaar te kry, juis vir daardie rede – dat ons almal kan lag vir die onskuld en perspektief van ’n kind, ongeag van hulle agtergrond. In die rolverdelingsproses het ons ’n massiewe aansteekbord gehad waarop ons seker gemaak het elke episode se samestelling is eweredig in terme van ras en geslag – en ek moet sê ek is baie trots op wat die span hier reggekry het. Ons het plaaslike skole gekontak en het ook ’n uitnodiging op sosiale media geplaas en ouers aangemoedig om klein video’tjies per WhatsApp te stuur waarin die kinders die volgende vrae moet beantwoord: 1. Sal jy die president wil wees? en 2. Wat is ’n rolmodel? Te danke aan tegnologie kon ons toe die sowat 250 inskrywings vinnig deurgaan, minder maak en die kortlys na die ateljee nooi, waar ons gekyk het hoe hulle reageer in ’n kamer met ligte en ’n kamera, en sonder ’n ma of pa wat vir hulle voorsê wat om te antwoord. Ons het opgeëindig met ’n rolverdeling van 62 kinders, versprei oor die 13 episodes.
Dis ’n gelukspel, dit weet ons as ons die kinders se antwoorde hoor! Daar is ook ’n groter doel: geldpryse wat vir liefdadigheidsorganisasies geskenk word. Wie het almal by die program gebaat?
Vir die eerste episode het ons vier bekendes gevra om die speletjie te kom speel: Emo Adams, Margit Meyer-Rödenbeck, Tracey Lange en Pierre Greeff. Hulle kon elkeen speel vir ’n liefdadigheidsorganisasie van hulle keuse. Omdat Tracey nie tot by 750 punte gekom het in die finale ronde nie, het ons die prysgeld tussen die vier organisasies verdeel.


Kommentaar
De Klerk is die beste aanbieder en ons geniet die program verskriklik.
Gaan ons weer 'n "Kyk wie praat' kry, en indien, hoe en waar vind die keuring plaas? Ek weet elke ouma dink haar kleingoed is die bekkigste, maar myne is voor op die wa bekkig.
Goeiemore
Is daar ooit 'n spesifieke manier waarop 'n ouer sy kleinding kan "slyp" om aan so 'n program deel te neem?