Die tweede Kunste Onbeperk Teksmark het op 8 en 9 November in die Baxter-teater plaasgevind. Tydens die Teksmark is 15 nuutgeskrewe tekste voorgedra (gelees of gespeel) en kunstefeeste, die Baxter-teater en NATi (Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief) kon besluit watter van dié toneelstukke hulle graag verder sou wou ontwikkel.
Elke skrywer kon 10 minute van hul teks voordra, hulle kon iemand kry om die regie daarvan te doen, en gevestigde sowel as jong akteurs kon daarin speel. Elke skrywer kon ook vooraf ’n inleiding gee oor hul stuk en na afloop daarvan kon die gehoor vrae vra of kommentaar lewer.
Opwindend aan vanjaar se Teksmark was die verskeidenheid onderwerpe wat deur die stukke gedek is. Marina Albertyn se Offerlam handel oor ’n dogter wat na haar familieplaas terugkeer nadat haar pa agteruitgegaan het. Nadat haar pa diensplig gedoen het, is hy verslaaf aan alkohol, maar hoe gemaak met dié dat hy eintlik ’n goeie man is? Hierdie stuk resoneer met die onlangse omstredenheid rondom plaasaanvalle en die klimaat waarin Suid-Afrika hom bevind met betrekking tot mag, reg en geregtigheid.
Nog ’n stuk met groot relevansie tot onlangse nuusgebeure, is Llandi Beeslaar se Vuurdoop en heuning. In dié stuk begin ’n 40-jarige man ’n verhouding met sy vriend se 12-jarige dogter. Hy keer dan na 17 jaar terug wanneer hy hoor die vrou (nou ’n onderwyseres) met wie hy in ’n verhouding was, is nou in verhouding met ’n jonger leerder. Die vrou probeer die man oortuig om voor haar paroolverhoor te erken dat hulle jare gelede in ’n verhouding was, maar die man, wat teen dié tyd al sy eie familie begin het, besef die skade wat dit aan sy familie kan doen as hulle moet uitvind hy was in ’n verhouding met ’n 12-jarige. Dit raak nog meer ingewikkeld, want die vrou besef dat sy op 12-jarige ouderdom nie so onskuldig was nie. Beeslaar se stuk laat ’n mens dink aan Lolita, deur Vladimir Nabokov, sowel as aan die hele debat rondom wanneer ’n mens toestemming gee dat jy seksueel met iemand in verbinding kan tree.
Rokkie, deur Denver Breda, handel oor ’n 40-jarige vrou wat op die Kaapse Vlakte woon. Sy is besig om vir haar ’n rok te maak, sy is amper ’n vrou en amper 40. Die stuk vertel die verhaal van ’n transgendervrou vir wie die lewe al hard geslaan het, maar deur die pyn sien sy nog hoop.
Jason Jacobs se Die grondgrawers handel oor vier seuns wat die onskuldige besluit neem om oorskietwyn te begrawe sodat hulle dit jare later uit die grond kan haal om te verkoop. Soos wat die seuns in die grond grawe, maak hulle ontdekkings wat hulle lewens begin affekteer. Hulle grawe ook omdat hulle op soek is na iets beter, iets wat hulle nog nie in hul gemeenskap gevind het nie. Jacobs se dialoog klink soos die reinste vorm van poësie wat ’n mens kan vind en hy bring ’n variant van Afrikaans teater toe wat sorg vir opwinding, sowel as waardering vir die vele kante wat daar aan Afrikaans is.
Die kunstefeeste en NATi kon uit die 15 tekste kies watter hulle graag verder wil ontwikkel. AK21, ’n privaatorganisasie het vier tekste gekies wat hulle graag sal wil deurlees voordat hulle besluit watter een hulle wil ontwikkel. Die vier tekste is Swerfgoed deur Bauke Snyman, Offerlam deur Marina Albertyn, Die grondgrawers deur Jason Jacobs en Dors/Thirst deur Augusta Zietsman.
In slavenhuis 39, geskryf deur Herschelle Benjamin, word deur Woordfees en NATi verder ontwikkel. NATi en Suidoosterfees ontwikkel Rokkie deur Denver Breda. Offerlam deur Marina Albertyn word ontwikkel deur Aardklop Nasionale Kunstefees en NATi. Jacobs se Die grondgrawers word ontwikkel deur Woordfees, KKNK en Suidoosterfees. Die Meerminkompleks deur Du Toit Albertse word ontwikkel deur die KKNK se Uitkampteater.
Die groot wenner, die stuk wat deur NATi, die Baxterteater en Woordfees ontwikkel word, is Bauke Snyman se Swerfgoed. Swerfgoed is gebaseer op Aeschylus se Oresteia-trilogie en op Euripides se Iphigenia in Aulis. In die stuk, wat in ’n verlate plek afspeel, is daar nie meer water nie, en diegene wat wel toegang tot water het, word aangeval. Die water word dan ’n metafoor vir grond, en so vra die stuk ook vrae rondom grondhervorming en -herstel.
Amee Lekas se Die dans van die watermeid is by verlede jaar se Teksmark gekies as die stuk wat verder ontwikkel gaan word. Die hoë gehalte van dié stuk, wat nog tot 25 November in die Baxterteater speel, getuig van die sukses van Teksmark en die proses wat die skrywer en teatermaker deurgaan om uiteindelik ’n produk op die planke te sit.
Die Teksmark bied jong sowel as gevestigde skrywers die geleentheid om werke ten toon te stel, vrae te vra, uit te daag en ook om van mekaar te leer. Vir my as gehoorlid was dit ’n groot leerervaring, want dit is interessant om te hoor hoe skrywers aan hul idees kom, wat hulle inspireer, en sodoende kry ’n mens ’n vinnige blik op die toekoms van teater in ons land.

