Kuns ná COVID-19: Ironie in isolasie

  • 1

Fotobron: Canva

Dalk moet ons eers ’n bietjie besin oor wat kuns is. Wat dit was en kan wees: ’n Diep, maar ook vlak vraag. Of is dit juis wat die afsluiting van die virus-inperking op ons afdwing? Om die paradoksale vol in die gesig te kyk?

..........

Kort na die virus se sosiale versperring effe gelig is, kry ek ’n e-pos van een van my gunsteling-kunsmense wat – ná die gewone vrae na welsyn, toestand, doen-en-late – verneem of ek haar lokaal se nuwe uitstalling wil kom kyk. Dit sal ’n afspraak wees na my gerief. En alle afstande en protokol sal eerbiedig word.

Die galery is ook een van my gunsteling-ondernemings waar werklike talent soms uit die bloute verskyn en – en dís belangrik – behoorlik gekoester, bestuur, aangebied en bemoedig word. Dus, waarom nie? Dis al baie lang dae, weke en maande.

As ou kuns groupie was en is dit my neiging, beleid en noodsaak om so anoniem moontlik na kunswerke te kyk. As ’n toegewysde kunsresensent (waar ek my soms begewe het; ook soms as beoordelaar), was die anonimiteit belangrik. Nie net om "afstand" en onbetrokkenheid te hou nie, maar ook om die persoonlike ruimte te hê van kyk, bewonder, bepeins en straks te oordeel.

Die e-pos van gunsteling-galery-eienaar het my onkant gevang. En ek moes alles van vooraf deurdink. Kuns op afspraak? Enig en alleen in die wit lokaal? Onder die priemende oë van die galerybeampte? Wil ek/mens/ons kuns só ervaar?

Dalk moet ons eers ’n bietjie besin oor wat kuns is. Wat dit was en kan wees: ’n Diep, maar ook vlak vraag. Of is dit juis wat die afsluiting van die virus-inperking op ons afdwing? Om die paradoksale vol in die gesig te kyk?

Met die wêreld se beroemde kunsmuseums wat nou geleidelik die deure effe oopskuif, plaaslike galerye wat nie hul gereelde tentoonstelling oudergewoonte met sosiale partytjies kan open en aanbied nie, en selfs bekende handelaars wat nou kunsveilings aanlyn hou, dwing dit ons om die aard van die kunswerk self te herformuleer.  

Wat dit was, is nie meer nie.

Hordes toeriste met selfone omhoog vertrap mekaar nie tans voor die Mona Lisa in die Louvre nie. (Ieder geseënde besoeker kry nou tyd om alleen te kyk). Ons eie Irma Stern en William Kentridge word meer plaaslik in "virtuele werklikheid" aanlyn verkwansel – met geen aanspraak dat die welgestelde koper of versamelaar selfs die prente in die "egte werklikheid" aanskou het nie. En nou kan ek self nie oor middagete by my gunsteling-galery inglip om anoniem die nuwe talent te gaan kyk en beoordeel nie. 

Maande lank het ek nie ’n skildery of ’n kunswerk bekyk wat nie op my muur of in my ruimte is nie. Ek verlang na die meesterlike bekendes wat ek oor en oor in die museums gaan bekyk. Ek mis die opwinding van die eietydse galery om nuwe talent na te speur.

Maar vir nou kan ek net my gedagtes laat gaan. In die afgeslote tyd en ruimte kan ek die kunswerk dieper bepeins, selfs by wyse van spreke van nader beskou. Die ironie van isolasie.

Die klassieke, libertynse gedagte het juis die kunswerk tradisioneel in dié intieme verhouding voorgehou: een-tot-een, kyker en denker teenoor die uitdaging en omgang met die werk in oënskou. Die intimiteit van die gedig. Die nabyheid van die ets. Die roman wat in jou leestyd afspeel. Die beeldhouwerk wat net jóú driedimensionele ruimte deel.

Die verbeelding – waar al hierdie kunswerke aktief is – is eie en inspirend aan die individu. Tyd en ruimte behoort aan die alleenloper-flaneur in die kunswêreld. Om die verbeelding geolie te laat funksioneer, is dié spasies nodig. Jy kan kwalik in kore of gelid droom.

Die verbeelding is eeue al besing as die bemagtiging van die kundige – later die fynproewer, nog later die snob. Reeds in sy beroemde essay, "Pleasures of Imagination", skryf Joseph Addison in 1712 hoe aangesig-tot-aangesig met die kunswerk die verbeelding met gedagtes aanpor sodat  "… the power of retaining, altering, and compounding those images, which we have once received, into all the varieties of picture and vision that are most agreeable to the imagination ; for by this faculty a man in a dungeon is capable of entertaining himself with scenes and landscapes more beautiful than any that can be found in the whole compass of nature".

Foto’s van die Mona Lisa en die Louvre: Pixabay

Inderdaad ’n bemagtiging van die verbeelding!

Die sleutel, volgens Addison, is egter daardie fisieke blik op die kunswerk. Maar nou is ons in ’n ander tyd. Vasgevang in ons eie ruimte, verwyderd van die werklikheid van die galery, museum en kunsateljee – met vóór ons, die onwerklikheid van die rekenaarskerm se weergawe van die kunswerk.

Vir die wêreld van veral die visuele kunste was die koms van die internet destyds ’n merkwaardige werktuig. Skielik was dit soveel makliker om te illustreer (in stede van daardie vae skyfies teen die muur!), feite en kommentaar dadelik beskikbaar te stel. Museums en kunshandelaars het dit aangegryp.

Die sluiting van die deure het die rol van aanlyn illustrasie, inligting en reklame gou-gou tot sy uiterste gedryf. En nou skielik word dit die enigste toegang tot die kunswerk.

Om munt te probeer slaan uit hierdie situasie, het die kunsbedryf om oorlewing die volume opgedraai met alles waaraan hulle kon dink – van kunstenaar, kurator, resensent-gesprekke, seminare en debatte tot virtuele tentoonstellings.

Maar, en dit is ’n groot maar, wat het verlore gegaan? 

Wel, presies daardie persoonlike, intieme kontak in ’n driedimensionele ruimte en werklikheid is weg: die teenwoordigheid, asem en gees van die kunswerk voor jou as toeskouer en bepeinser is bloot ’n spook. Hetsy die waarheid van die hout, marmer of brons van die beeldhouwerk, die sagte of bonkige, amper tasbare aard en soms dampie reuk van die tekening, skildery of afdruk – dié kan nie die reis deur die kuberruimte aflê nie. Dáárdie wêreld is plat, maatloos. En bestaan dit?

In my kuber-eensaamheid moet ek my verbeelding priem om die attribute van die kunsmedia na te gaan en dan te besluit of dit saak maak. Wat is dit wat ek voor my sien? Kan my verbeelding soos Joseph Addison hiermee op vlug staan?

Nog ’n ironie in hierdie enkelspel is die feit dat kuns sedert Addison se dae ’n geleidelike geskiedenis na die populêre loop. Wat eens aan die individu as kunswaardeerder (straks snobisties en elitisties) toevertrou is, het mettertyd die speelveld van die middelklas oorgeneem.

Die koms van openbare kunsmuseums was die eerste sneller, die bevryding van al gewilder veelvuldige media en bewegings soos popkuns het ons nou tot die "demokrasie" van "sosiale media" gelei. Laasgenoemde kan en het in ’n groot mate kundigheid in gelyke mate met eksklusiwiteit opgeoffer.

Terwyl kunsmuseums en kunslokale nou voetjie vir voetjie die deure oopskuif – eersgenoemde nou sonder die kaartjie-inkomste van byvoorbeeld die sg "blockbuster"-tentoonstellings (stellig permanent iets van die verlede weens uitgawes van vervoer ensovoort); laasgenoemde wat bes moontlik as kunshandelaar aan mededingers op webwerwe oorgegee het – is dit ’n hoogs veranderende en onseker kunswêreld waarin beide die eietydse (en dooie oue!) kunstenaars en ons wat so op hul aangewys was, hul nis moet vind.

Presies in watter medium die kunswerk hierna gaan voortbestaan, laat ’n mens met onsielige ongemak die ironie van isolasie herkou.

  • 1

Kommentaar

  • Die wyse wat ons na kuns gaan kyk sal verseker verander. Ek dink aan die Venisiese Biennale wat verskuif is na 2022 (i.p.v. 2021). Die goeie nuus is nou dat dit saam val met Document (wat elke 5de jaar is). Dit is as ’n volgende pes nie wêreld tref nie!
    Ek is ook bekommerd oor hoe beperk die temas vir kunstenaars word. Hoeveel van daardie “vrolike” virussimbole het ons al opgemerk?! Kunstenaars het nog altyd in isolasie gewerk, maar darem so nou-en-dan gekuier en genetwerk by openingsaande en ander kunsmakieties.
    Die ander aspek is hoe om aan die lewe te bly. Kunstenaars is afhanklik van hulle inkomste van uitstallings. Die goeie nuus is dat hulle nog altyd ondernemend was, en geleer het om te “smous” met hul werk. Baie verkoop nou op die internet.
    Kom ons hoop dat hierdie hoogs innoverende veld met goeie planne vorendag kom.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top