I
"Kuba gaan oor ’n dekade baie anders lyk," sê ek vir my vrou terwyl ons vliegtuig se toere vir opstyging opgejaag word. "Ek sal vir ’n jaar wil terugkom om my …"
"Liewer jý as ek. Ek het genoeg armoede in my lewe gesien,” sê sy bo die geraas. Vir meer as ses dekades is Kuba die vaandeldraer vir wêreldverbetering, die opheffing van die armes, sosialisme en internasionale solidariteit, en dít is haar eerste gedagte: armoede.
........
Ek het aan dié gesprek teruggedink toe ek in die loop van Maandagmiddag 12 Julie 2021 van die betogings op die eilandstaat verneem het. Hoe verstaan ’n mens dié gebeure? Daar is diegene wat uit ervaring of oortuiging klinkklare antwoorde het, óf wie se gevestigde belange alles verklaar, óf dié wat versigtig die kompleksiteit met ekonomiese en sosiologiese data wil ontrafel.
.........
Ek het aan dié gesprek teruggedink toe ek in die loop van Maandagmiddag 12 Julie 2021 van die betogings op die eilandstaat verneem het. Hoe verstaan ’n mens dié gebeure? Daar is diegene wat uit ervaring of oortuiging klinkklare antwoorde het, óf wie se gevestigde belange alles verklaar, óf dié wat versigtig die kompleksiteit met ekonomiese en sosiologiese data wil ontrafel. Vir ’n teoretikus wat ’n paar weke in ’n vreemde land deurgebring het en hortend oor die weg moes kom, bly toegang tot die land en sy mense beperk. Enige omvattende verklaring sal grens aan beterweterigheid. “Que?” Wat? Hoe dikwels moes ek nie dié vraag vra nie, en byvoeg: “Más despacio, por favor …” Stadiger asseblief. Wat wel drie jaar later steeds in die herinneringe dobber, is die insidente, die terloopse gesprekke en waarnemings wat ietsie van die onderliggende patrone, versugtinge en angste van ’n komplekse samelewing blootlê.
Fidel Castro Ruz en Ché Guevara het met die Kubaanse revolusie van 1959 die ikone van ’n jong geslag se gelykstellende idealisme geword. In ’n wêreld van ongelykheid was Fidel Castro, die buite-egtelike kind van ’n landheer, die een wat ’n diktator omvergewerp en vir die kleinboer, die werker en die vaderland opgestaan het. Vir dekades pryk Ché Guevara charismaties op mure, miljoene T-hemde en jong lywe, die geykte simbool van revolusie en vryheid. In Kuba en regoor die wêreld is daar duisende Fidels en Chés wie se geboortesertifikate die tekens van hul ouers se bewondering dra.
In die televisiebeelde dreunsing duisende betogers met Kubaanse vlae "¡Libertad! Libertad!" Vryheid! En as jy jou ore spits, klink "¡Patria y vida!”, Die vaderland en lewe!, op, ’n toespeling op "¡Patria o muerte!", die slagspreuk wat vir dekades die simbool van revolusionêre selfopoffering op Kubaanse munte, mure en murasies geword het.
Slagspreuke in Kuba vervul die funksie van advertensies in ’n verbruikersamelewing. Elke kreet bemark die stryd en vestig die eiland as die draer van die ewige revolusie; dit lig voor; skep aspirasies en probeer oortuig. Elke spreuk vier die bakens van ’n eerbare stryd. Op mure, geboue en groot kennisgewingborde kom jy die aanmoedigings tot stryd teë: “¡Venceremos!” Ons sal oorwin! We shall overcome! Of “¡Hasta victoria siempre!” Voorwaarts na oorwinning! Soms herroep die spreuke historiese momente soos die missielkrisis van 1962. Soms is slegs ’n kode soos "M-26-7" nodig. Dié kode vir Movimiento 26 de Julio wat op rooi-en-wit bane geverf word en Castro en sy opstandelinge se eerste mislukte aanslag op die Kubaanse weermag op 26 Julie 1953 gedenk, die begin van hul revolusionêre opstand. Daarnaas is dikwels die spreuk "Victoria de las ideas", die sege van idees.
II
Die revolusie van 1 Januarie 1959 oorheers die Kubaanse openbare ruimtes. Op die dorpsplein in Santa Clara lig Fidel Castro na sy dood steeds voor oor die waarde van die revolusie. Op ’n tafel voor die deur van die Cienfuegos-museum is ’n uitstalling van tydskrifte en boeke met Fidel Castro en Ché Guevara as onderwerp en tussen-in een met Meyer Lansky, die mafioso van die 1950’s op die omslag. Op ’n Sondagoggend in Santa Clara kom ons af op ’n tweedehandseboekemark met die ware uitgestal op seile op die grond. "¿Tienes nuevos libros?" vra ek die boekeman.
“Si, si," sê hy en loop ’n nabye ou kerkgebou binne en kom met ’n stapel nuwe boeke aangestap, Discursos de Fidel en los aniversarios de los CDR. "Hoeveel wil jy hê?" Ek besef hy het my verkeerd verstaan – nié nuwe boeke nie … nuwe skrywers. Hy skud sy kop.
Verder af in die pad kom ons ’n man teë met ’n pakkie boeke in ’n lapsak. Hy het ons by die boekemark gesien. Hy wys sy boeke vir my. Nog Fidel-toesprake en Carta de despedida. Die man kyk verwagtend na my. Uiteindelik, na ’n gekibbel, koop ek Ché se cartas, sy afskeidsbriewe aan Fidel, sy ouers, vrou en kinders. “Ek dra die verantwoordelikheid van ’n Kubaanse revolusionêr,” skryf Ché aan Fidel. “Ek is nie spyt dat ek niks materieel vir my vrou en kinders nalaat nie, want ek weet die staat sal genoegsaam vir hulle voorsien en dat hulle ’n opvoeding sal kry.”
“More solidarity shopping," sê my vrou. Sy beskuldig my daarvan dat ek te veel betaal vir my guayaberas, die Kubaanse hemde. “Die materiaal is nie behoorlik behandel nie. Één was … Jy mors jou geld.” Dis ’n waarheid wat ek later na elke was sou agterkom, en mettertyd moes my guayaberas skraler en korter eienaars kry. Maar solidarity shopping en toerisme is die lewensbloed van Kuba.
Die ineenstorting van die Sowjetunie in die 1990’s wat op gladnost en perestroika gevolg het, het tot ’n diep ekonomiese depressie in Kuba gelei. In dié tyd was daar grootskaalse afname in Sowjet-skenkings en algemene handel met die Oos-Europese lande. Vir jare was Kuba afhanklik van die Sowjetunie vir allerlei materiaal, olie, lewensmiddele en goedere, basies en niebasies, en meesal is dié rekeninge met die opbrengste van die enigste ekonomiese gewas, suiker, betaal en is skuld selfs vergewe. Die staat kon nie genoegsaam voorsien nie, want sy ekonomiese basis was te beperk. Die ergste was die inkorting van lewensmiddele wat tot rantsoenering en selfs verhongering gelei het. En nog was het einde niet. Vandag sien ’n mens steeds die tekens van ontbering: mense wat in winkels en apteke met byna leë rakke toustaan vir karige middele, selfs rantsoene vir sout.
Die Maleconazo, die kortstondige betoging langs die bekende hawemuur in Havana, was die onmiddellike gevolg van die verslegtende ekonomiese situasie na die opbreek van die Sowjetunie. Destyds kon ons, die nuutbevrydes in Suid-Afrika, op ons televisieskerms die derduisende vlugtelinge sien, talle op gehawende bote en onseewaardige vlotte, wat Kuba in Augustus 1994 vir Florida, 170 km wes in die VSA, verlaat het.
Dié bootmense was vir Fidel "teenrevolusionêre" soos die 125 000 Marielitos, emigrante vernoem na Marielbaai, van wie talle in die somer van 1980 per boot of later per vliegtuig uit Kuba ontvlug het. Die hoon wat op die “teenrevolusionêres” gewerp is, was dat hulle ’n verbruikerskultuur wou najaag, Selfs die opeenvolgende proregeringsopmarse kon nie die onderliggende versugtinge van dié vlugtelinge ontken nie, want die tekorte was wesenlik, die belewing van vryheid beperk en die dood van ’n benaderde 60 000 vlugtelinge ’n klad op die naam van ’n regime wat gelykheid en vryheid gepredik het.
Die Maleconazo het tot ingrypende maar versigtige skuiwe in die land se bevelsekonomie gelei. Koöperasies is ontwikkel, organiese boerderye is op oop erwe in dorpe aangelê om dorpenaars en stedelinge selfversorgend te maak. Toerisme is doelbewus ontwikkel, sodat dit onontbeerlik geword het. In 2019 was die bydrae van toerisme tot die Kubaanse ekonomie 10,6%.
III
Die toergids wat ons by ons gastehuis, of casa particular, met sy blinkgevryfde grasgroen 1958 Opel Rekord kom ophaal, is van Chinese afkoms en hy praat vlot Engels. Voorheen was hy ’n linguistiekprofessor aan ’n universiteit, maar in 2017 is hy ons gids. Hy word hoog aangeslaan en sy netwerk strek oor verskeie casas particulares. Toe die Kubaanse regering die eerste span dokters na Suid-Afrika stuur, was hy een van hulle taalinstrukteurs, vertel hy. Sy maandelikse salaris was destyds gelykstaande aan 20 dollar, dieselfde as enige ander werker. “Ons word gelyk betaal, maak nie saak watter werk ons doen nie.”
“En nou is jy ’n gids?”
“Ja, en in een dag verdien ek meer as drie maande van my vorige werk se salaris sonder fooitjies. Ek werk vir myself. My kar is my eie. Dit het ’n nuwe ingevoerde enjin. Ek het lank daarvoor gespaar en ’n jaar daarvoor gewag. Jy moet jou beurt afwag as jy ’n enjin bestel, maar nou’s hy in.” Hy lig die kap op en daar lê die enjin: netjies, blink en Chinees. “Kant en klaar betaal.”
Hy is nie die enigste wat in die vryer ekonomiese klimaat van die vroeë 2000’s sy voete gevind het nie. Ons gastehuis is een van drie wat aan dieselfde uitgebreide familie behoort. Hulle het die voorafgaande agt jaar geleidelik hul eiendomme opgeknap, aangehelp met remises van familielede in Amerika. ’n Hele netwerk van cuentapropistas, mense wat vir hul eie sak werk, het rondom hulle ontstaan: messelaars, skrynwerkers, voorsieners van hardeware, karweiers.
Maar daar is verydelende beperkings. Teen sy Kubaanse ekwivalent is Suid-Afrikaanse beurtkrag ’n luukse. Dit is nie ongewoon om toeriste-eetplekke uit te ken aan hul helder elektriese lig te midde van die algehele donkerte in ’n hele buurt nie; toeriste en burgers drom saam om plekke waar die internet beskikbaar is. In Havana Vieja, Ou Havana, staan talle bouprojekte stil. Voor ’n gebou naby ons gastehuis in Havana is ’n man besig om spykers uit ’n plank te trek en reguit te kap. Sy opbrengs aan bruikbare spykers is minder as skraal. Daar is werk, maar dit is of die ritme traag is. Waarom die gesloer? Ek sou my antwoord eers later by ’n gastehuiseienaar in die dorpie Sancti Spiritus kry. “Ek is op ’n lys om sement te kry, maar ek moet wag. Wat kan ek met twee of drie sakkies sement elke tweede of derde maand doen?” Dit het hom jare geneem om sy huis vir gaste leefbaar te maak. “As ek net meer sement te koop kan kry, sal sake vinniger en beter loop.” Hy herinner aan ’n hings wat teen sy sin gehalter is.
“So julle is eintlik ’n maatskappy,” sê ek een oggend vir die jongman wat in Havana groente by ons gastehuis aflewer en met die gaste praatjies maak.
“Nee, ons mag nie maatskappye oprig nie; ons mag net vir onsself werk. Net die regering mag maatskappye hê. Jy sien mos ’Cimex’ oral. Dis die weermag se maatskappy. Hulle beheer alles.” Dan begin ’n mens die filiale se handelsmerke raaksien, en jy besef dat handel, van koffiewinkels tot finansmaatskappye, totaal in die hande van die weermag is.
“En TRD, Cadenas de Tiendas Caribe en Tienda Panamericana?” (die winkels wat soos supermarkte ingerig is).
“Regering se besigheid.” Dis eers wanneer ’n mens die ineenstrengeling van die weermag, party en staat sien dat jy besef dat die Kubaanse weermag nie slegs op verdediging ingestel is nie. Die kern van staatsmag, die welvaart en toekoms van die land, berus in hul monopolistiese hande. In Cienfuegos sien ek een van dié kontradiksies in ’n wandelhal raak. Die kantoor van die Kommunistiese Party van Kuba, die Partido Comunista de Cuba (PCC), die “leidende krag van die gemeenskap en die staat”, is geleë neffens TRD. In die venster pryk Nestlé se roomysetiket, een van die min internasionale handelsmerke wat ’n mens in hierdie land sonder advertensieborde teëkom. Wat sou die band tussen die PCC, die Kubaanse weermag en Nestlé wees?
Dit is ook in Cienfuegos met sy gerestoureerde stadskern, ’n Unesco-erfenisgebied, dat ons agterkom dat die mense ronder en frisser voorkom, anders as die skraal mense wat ons in dorpies verder wes en oos teëgekom het. Die mense van dié stad het klaarblyklik toegang tot groter salarisse óf kry hulle gereelder oormakings van familielede in die buiteland, of miskien is dit bloot ’n geval van die stad wat ’n aantoonbare sakekern het. Later sou ek nalees dat Cienfuegos een van die hoofhawens vir koffie-, tabak- en suikerhandel is. Op die twee dae wat ons daar deurgebring het, was daar min beweging in die baai.
IV
In ’n terloopse gesprek met ’n jongman in Sancti Spiritus wat met my Frans begin praat, kom ek agter dat hy ’n opgeleide chemiese ingenieur is wat naas Spaans en Engels ook Frans praat. My Frans is egter te primitief. Dit is ’n gesukkel om Frans in sy dorp aangeleer te kry, sê hy. Hy moet oor ses maande ’n toets aflê. Hy vind sake druk en tussen sy werk deur kry hy nie behoorlik tyd om alles in te ruim nie. Daarom is hy bly as daar Franse gaste kom, dan kan hy sommer sy Frans oefen. Sy kop staan Kanada toe, en alles is byna gefinaliseer, maar hy het die kwalifikasie in Franse taalvaardigheid nodig vir die streek waarheen hy gaan. Alles is gereed; dis net die tegniese taalvaardigheidstoets.
Sy reaksie toe ek vra of sy land hom nie nodiger het nie, is sprekend. “Ek is ’n Kubaan, en ek sal altyd ’n Kubaan bly, maar ek kan nie meer in Kuba bly nie. My oupa het in die revolusie geglo, my pa het in Fidel geglo. Ek glo nou in myself.” Hy glo nie in die Kubaanse revolusie waarvan hy op skool geleer en op die staatsmedia gehoor het, of van die slagspreuke wat hy oral op die mure om hom sien nie. Sy broer is reeds in Kanada en sy suster is ’n balletdanseres in Spanje. Hy is nie ouer as 25 nie. Op ’n ander stadsplein repeteer ’n dansgroep van sy portuurgroep. Hoeveel van daardie jongmense dans steeds op daardie verhoog in Santa Clara, of het ook hulle ’n nuwe heenkome gevind?
In Trinidad loop my vrou vooruit terwyl ek foto’s neem. ’n Jong vrou keer haar voor, praat en beduie. My vrou roep my nader om te kom tolk. Die vrou praat so vinnig dat ek nie kan agterkom wat sy sê nie en eers na “no te entiendo”, ek verstaan jou nie, en ’n paar “más despacio’s” kom ek agter dat sy eintlik alleen met my vrou wil praat. “La vida es dura.” Die lewe is swaar. Dan kom ek agter wat haar versoek is. Het my vrou ’n paar panties vir haar? Verleë word ek ’n tolk oor vrouehigiëne en -onderklere. Later die aand in een van die toeristerestaurante verstik my vrou in haar quiche. “Hier sit ons en in dié dorp is daar mense wat nie panties kan bekostig nie.” Dit was nie die laatste keer dat ek of sy om klere gevra is nie. Ons land weke later op Schiphol met net ons klere aan ons lyf en ons solidarity shopping. Is Ché se oortuiging dat die staat genoegsaam sal voorsien steeds geldig?
V
COVID-19 het ’n vernietigende uitwerking op ekonomieë regdeur die wêreld. In lande soos Kuba het die krake in die stelsel skeure geword. Die ekonomie onderpresteer reeds vir dekades en die gesondheidskrisis dra daartoe by dat die gemiddelde Kubaan se lewensgehalte verder agteruitgegaan het. Die winkelrakke is nog leër as voorheen en die rantsoene waarskynlik kleiner. Die toue voor die apteke is langer en ten spyte van die ontwikkeling van hul eie entstowwe blyk dit dat Kubane teen die COVID-19-virus blootgestel voel. Die staat voorsien, maar veel-veel minder, met die gevolg dat die meeste van sy burgers nie werklik bo die vlakke van armoede en ontbering leef nie.
Waar toerisme vir derduisende cuentapropistas ’n inkomste gebied het, het die voordele van dié bedryf sedert 2020 byna totaal opgedroog. Die eienaars van die casas particulares, die toergidse, die karweiers, die ambagsmense se spaargeld het opgedroog. In die staatswinkels soos TRD of Tiendas Panamericana kan dié wat remises uit die buiteland kry, waarskynlik steeds aankope maak, maar die meeste mense moet daarsonder klaarkom. Die toerismebedryf het onbedoeld ’n bestel van have en have-nots geskep. Is dit hoegenaamd verrassend dat juis dié winkels in die betogings van 11 Julie geplunder is?
Steek daar genoeg in die ou revolusionêre spreuke om nuwe stryders te lok? Waar is die nuwe idees wat Kubane se harte vinniger sal laat klop om hulle tot ’n nuwe stryd te verbind? Wanneer mense, onder meer opponerende kunstenaars soos dié in die San Isidro-beweging, sê dat hulle nie gehoor word nie en die staat hulle stemme onderdruk, is dit tyd om te vra wat beskerm die staat? Waarom word die stelsel hartstogtelik verdedig as ’n betekenisvolle deel van die bevolking hul rûe daarop gekeer het. “Ek sal altyd ’n Kubaan bly, maar ek kan nie meer in Kuba bly nie.” Hoe word hulle gehoor?
.........
Daar is ’n ou waarheid: As mense voel dat hulle nie gehoor word nie, voel hulle nie deel nie, dan is verset, ondermyning en die vernietiging van die stelsel die onvermydelike vooruitsig.
..........
In sy reaksie op 11-J, die betogings van Julie, het president Miguel Díaz-Canel die VSA geblameer vir aanhitsery en daarop aangedring dat die algehele ekonomiese blokkade wat nou reeds meer as ses dekades geld, opgehef moet word. Die blokkade is ’n oorblyfsel van ’n verbygegane tydvak en dit is inderdaad tyd om dit te beëindig: ¡Fin al bloqueo! Maar sal die beëindiging van die blokkade die panasee vir Kubane verteenwoordig? Die proregeringsopmarse bevestig dat talle steeds die stelsel ondersteun, maar die stemme van die hip-hoppers Maikel Osorbo en El Funky klink dringender as ooit tevore. Om hulle en hul geslag, verteenwoordig onder meer deur die San Isidro-beweging, met skeldwoorde af te maak en die sangers en medestanders te bespied, op te sluit, en te onderdruk, dui op die heersende leierskap se onvermoë om die diepgang van die bestaanskrisis in Kuba te begryp en koersveranderinge aan te bring. Daar is ’n ou waarheid: As mense voel dat hulle nie gehoor word nie, voel hulle nie deel nie, dan is verset, ondermyning en die vernietiging van die stelsel die onvermydelike vooruitsig.
Kommentaar
Insiggewend, en hoe toepaslik op 'n stelsel waarop onse regering afstuur.
Dankie vir die beeld wat geskep is, Hein!
Ek het baie geniet van jou artikel, Hein! Dis rêrig ongelukkig dat die revolusie geen progressie gebring het nie. En ja, dis reg, as mense voel hulle word nie gehoor nie, sal dit nie werk in enige stelsel nie ...
Dankie vir jou mooi artikel en mooi foto's en die lekker dans-video. Nou is ek ook somaar lus om te gaan dans ... as dit kon liefste in Kuba 😉
Dankie vir die deel van u ervarings met die Kuba-besoek.
Lesers kan gerus ook die volgende insiggewende program op YouTube volg, getiteld: “Black in Latin America E01, Cuba: The Next Revolution” - https://youtu.be/k7p30a4auyA .
Kuba is geen utopia nie. Netso ook nie die ANC se beloofde doelwit van ‘n Mzansi National “Democratc” (Communist) Society Animal Farm waar almal ewe ryk gaan wees maar sommige ryker as ander.
Beste Hein,
Baie dankie vir hierdie uitstekende artikel oor Kuba. Wat my veral interesseer is wit-swartverhoudings en watter rol dit daar speel in die samelewing, indien enige. Is Kuba die eerste land ter wêreld wat totaal kleur blind is en waar kleur geen rol speel nie?
Tweedends, die verhouding tussen die Katolieke Kerk en die sekulêre ateïstiese staat. Ek merk dat daar geen poging was om plekname van Katolieke heiliges soos bv Santa Clara, te verander nie
Derdens, die mate wat die VSA se vyhandige beleid jeens Kuba met boikotte en isolasie bygedra het tot die mislukking van die sekulêre ideale van die revolusie. Mens kan nie alleen leef van edele ideale nie, maar het ook brood nodig.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Beste Pieter
Dankie vir jou kommentaar.
Net kortliks my reaksie jou vrae oor "wit-swartverhoudinge" en die plek van die Katolieke Kerk in Kuba.
My indruk is dat daar in Kuba 'n uitgesproke bewustheid van sinkretisme is, of van wat deesdae hibriditeit genoem word of verbastering om 'n ou Afrikaanse begrip te gebruik. Die mense met wie ek in aanraking was, gebruik maklik die begrip ajiaco of hutspot om hul samelewing te verduidelik. Dit is die byeenbring van verskillende tradisies, agtergronde en perspektiewe om volgens hulle 'n wesenlike Kubaanse identiteit tot stand te bring. Dit is dan trouens ook 'n onderstroming van die revolusie om die mestizo-aard van die samelewing voorop te stel. Daardie hutspot-identiteit is natuurlik nie uniek nie. Die meeste eilande in die Karibiese eilande het daar element van hibriditeit wat Éduard Glissant van Martinique creolité genoem het. Die naaste wat ons aan so 'n gemeenskap kom, is waarskynlik in die Kaap waar kreolisering gewoon 'n realiteit is.
Daardie sinkretisme beteken byvoorbeeld dat mense hul godsdienstradisies uitleef, en ons het verskillende kerke en tempels betree waar mense inderdaad aanbidding gedoen het. In Havana het my vrou kerse aangesteek in 'n Grieks-Ortodokse kerkie terwyl die koster besig was om van hul relikwieë af te stof. Ons het 'n Santería-aanbiddingsplek besoek wat juis die versnit tussen Afrika- en Westerse godsdienstradisie vergestalt. Elders het ek geskryf van die miljoen Katolieke wat op Revolusieplein byeengekom het om na Pous Johannes Paulus II te luister. So godsdiens as 'n geloofsoortuiging bestaan inderdaad, met die meerderheid Kubane— nagenoeg 60% — wat hulself as Katolieke beskou, Godsdiensbeoefening as 'n praktyk, te oordeel aaan die meesal leë kerke, lyk dit my, is egter 'n ander saak. Terselfdertyd is dit waar dat oor die algemeen godsdiens nie 'n noemenswaardige rol in die politieke openbare lewe speel nie, en dat 'n aansienlike persentasie Kubane — nagenoeg 25% — hulself as ateïste beskou.
Die element van creolité beteken egter nie dat daar nie opvallende verskille in die lewenstrajekte van swart, metizo en wit Kubane is nie. As 'n Suid-Afrikaner kyk 'n mens nogal maklik met 'n ras-onderskeidende oog, en dit is opvallend dat in sekere dele van die land mense wat minder daaraan toe het, van Afrika-afkoms is, terwyl dié wat gastehuise het en aangehelp word met oordragte uit die VSA of ander lande dikwels metizo is of hulself as Cubano blanco bestempel. Hoe velkleur mense se toegang tot lewensmiddele bepaal, is 'n komplekse saak, maar talle uitgewekenes se agtergrond as wit of metizo Kubane is in dié opsig nie onbelangrik is nie.
Wat jou vraag oor die blokkade betref. Daar is wyd geskryf oor die blokkade en die invloed daarvan op Kuba, en dit is seker nie nodig om dit in besonderhede te bespreek nie. Wat wel vir my interessant is, is hoe uitgeweke Kubane dikwels vryheid van uitdrukking vooropstel en die blokkade dan as 'n "mite" afmaak. Ek dink dit is 'n geforseerde redenasie.
My indruk is dat die blokkade wel verreikende gevolge vir Kuba het — 'n vernietigende uitwerking wat op talle sektore aangevoel kan word, veral ten opsigte van die ekonomie, doodgewone handeldrywing. Obama se strategie van die verslapping van fasette van die blokkade het nie lank gehou nie, want met Trump se presidentskap is die sanksies versterk. Interessant is dat in Kuba die Obama-strategie ook nagevolge gehad het. Van die mense met wie ek gepraat het, het aangedui dat die Kubaanse regering lugtig was vir die nagevolge wat 'n té vinnige verslapping van die maatreëls kon hê. So, weer eens 'n komplekse saak, maar een wat myns insiens besliste negatiewe nagevolge vir Kuba gehad het.
Vriendelike groete
Hein Willemse
Beste Hein,
Dankie vir jou breedvoerige antwoord op my vrae aangaande jou artikel oor Kuba. Sedert 1960, toe die Amerikaners saam met hulle mafia uit Kuba gedryf is, het hulle die mes in vir hierdie klein Karibiese eiland. Ek interpreteer hulle beleid jeens die land as gebaseer op pure venyn en wraak. Vandag verky Kuba egter steun van die Europese Unie en Kanada.
'n Soortgelyke venyn het 'n rol gespeel in die VSA se vyandige buitelandse beleid jeens Viëtnam toe hulle daar die oorlog verloor het en ook moes padgee. Die VSA het hierdie vernietigde land enorme probleme besorg deur te verhinder dat die Viëtnamese die internasionale kapitaalmarkte kon benut vir die herbouing van hulle land.
Tot dusver was Obama die mees geleerde president wat die VSA ooit gehad het, maar hy is gehaat deur die Republikeine van die Trump-soort.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys