Krummels is mos die lekkerste deel: ’n gesprek oor boeke, kos en die lewe

  • 0

Titel: Krummels in my koffer
Skrywer: Emile Joubert
ISBN: 9781485313182
Uitgewer: Protea

...
Die sogenaamde socarrat-kors is nie ’n kombuisflater nie, skryf Emile, maar “bros en sout, met so ’n diep rokerige geur soos die sous van die hoender en chorizo in die laaste laag aangebrande rys ingetrek het”.
...

“Emile Joubert is sy lewe lank ’n kosgenieter,” verklaar die kort beskrywing op hierdie platform op 11 Mei vanjaar oor Emile se nuutste boek, Krummels in my koffer.

Ek kan self nie aan ’n beter woord dink om hom te beskryf nie, maar sal daarby ook wyngenieter en lewende wyngeskiedenis-ensiklopedie byvoeg. En jy moet saamstem, sy beskrywing: “[K]oel witwyn, kondensasiedruppels wat teen die glas afloop. Of inkswart rooiwyn, diep en donker asof dit die geheime van die lewe bevat,” is darem maar mooi. Of: “Nou en dan sal Pa ’n bottel Franse wyn oopmaak en met die natoog-blik van ’n dromer aan die glas persrooi vloeistof teug en na die dak staar.”

Die boekbeskrywing borduur voort: “Op sesjarige ouderdom het sy ouma se kerrie ’n groot indruk op hom gemaak en van daar af het kos hom inspireer – of dit nou die skoolmaaltye tydens sy kortstondige verblyf in Londen was, die honger en dors in die weermag, of die seekos wat hy uitgeduik het – Joubert se kosobsessies word lewend in sy lekker skryfstyl in die oortreffende trap.

“Sy kosreise strek van Londen tot Griekeland, Italië, Frankryk en die dorre landskap van Angola. Mars-sjokolade, fondue, sousboontjies, oesters en boeliebief is enkele van die kossoorte wat sy reise vergesel.” Hy beskryf sousboontjies as sy “vroegste kos-obsessie”.

’n Mens kan nie help om kort-kort die boek te laat sak en aan jou eie kos-obsessies te dink nie: kondensmelk uit ’n blik, rys met vleissous, soetpatat met bruinsuiker, botter en kaneel, en kits kapokaartappel is maar net ’n paar waaraan ek vinnig kan dink.

Die verskeie beskrywings in die boek van sy eerste kennismaking met goed is lekkerlees, maar dis die oesters wat my trane in die oë gegee het. Hy wou dit vinnig wegsluk soos hy met enige ander ongewenste smake gedoen het, vertel hy. “Maar toe die oester my mond binnegaan, is dit asof ek ’n brander insluk, die skreeu van seemeeue hoor, onder die oppervlak van diep rotspoele induik en ’n ander wêreld betree... Dit is nie net kos vir kou en eet nie. Dit is ’n ervaring soos nog nooit tevore nie... Asof hierdie enkele oester die volle mag van die see aan my sintuie gebied het.”  

My ander gunsteling – omdat dit in ons huis altyd ’n debat is – is die beskrywing van die gebrande ryskors in paella. Die sogenaamde socarrat-kors is nie ’n kombuisflater nie, skryf Emile, maar “bros en sout, met so ’n diep rokerige geur soos die sous van die hoender en chorizo in die laaste laag aangebrande rys ingetrek het”.

My mond maak sousies, soos my vriendin altyd sê.

Hierdie boekgenre, wat Johann van Zyl in Rapport beduie bekend is as ’n foodoir (’n kruising van food en memoir), is geen nuutjie in die boekewêreld nie, maar soos Johann tereg opmerk: “Boonop geskied alles in ’n verfrissende suiwer Afrikaans (vrek skaars deesdae!) wat jou ná skaars 170 bladsye kwylend dog versadig laat.”

Jy skryf in die voorwoord dat hierdie herinneringe tydens jou plat-op-jou-rug Covid-ervaring in jou kop begin draai het. Het jy gedink jy gaan dood en moet hierdie goed onthou voor daai wit lig aan die einde van die tonnel, of was dit bloot die enigste tyd dat jou lyf jou gedwing het om stil te word?

Hoewel ek ’n swak pasiënt is, was dit nie heeltemal so dramaties nie. Ek het Covid in April 2020 gekry, toe als onbekend was en die meeste mense geen blootstelling aan of kennis van die virus gehad het nie. So ek het nie geweet wat om te verwag nie – net platgesak en daar bly lê. My dokter het my laat weet ek is nie reg vir die hospitaal nie, so ek neem toe net aan ek moet op my rug bly tot dinge beter gaan. Intussen het talle die ding gehad, en weet hoe dit voel. Maar in daardie toestand van gevrekte-slaperige-dromerigheid, sonder die krag om te lees of rolprente te kyk of te skryf, het ek maar in my kop ’n skildery van my jong lewe gemaak en gevind dat daar hier en daar tog ’n paar kleurryke elemente was.

Hoe beangs was jy toe jou smaak en reuk met Covid verdwyn? Jy skryf in jou boek dat niks ooit beter kan smaak as die geur van goeie herinneringe nie, is dit waaraan jy vasgeklou het of het jy geweet dis net tydelik?

Ek kon vir vyf dae niks, maar niks eet nie – dit was uiters goed vir die middellyn, natuurlik – en tussen hierdie herinneringe deur het ek aan kos begin dink, my blootstelling aan geregte, bestanddele, die mense wat vir my gekook het, en op watter plekke. Van Bellville tot Sevilla, en die Sandveld tot Parys. Dit is baie goeie herinneringe waarvoor ek veral my ouers te danke het. Toe begin ek later daardie selfde jaar daardie herinneringe neerpen, aanvanklik net vir my ma en pa. Om dank te betuig vir dit waaraan hulle ons as kinders blootgestel het.  “Thanks for the memories,” daardie klas ding.

Die Joubert-kroos: Lise, Maureen (ma), Emile en Fritz (voor)

Het jy ooit gedink dat jy hierdie tipe boek sou skryf met meer van ’n outobiografiese inslag en jouself so sou blootlê aan die publiek?

Glad nie. Ek hou baie van om memoires en goed te lees deur onder andere JM Coetzee, Ernest Hemingway, Herman Charles Bosman, en so, maar wie is ek nou om oor myself te skryf? Ek het dit, soos genoem, vir my ouers geskryf en miskien as een van die nageslagte sou belang stel. Toe ek die laaste hoofstuk bereik, waar ek op 20 klaar gereis het deur Europa en terug moet gaan na Suid-Afrika en die universiteit, stop ek. Nou wat gemaak met al die blaaie? Ek stuur toe vir my uitgewer by Protea, sommer net, en wel, hier is ons. 

Voel mens meer blootgestel as skrywer as met fiksie?

Uiteraard. Tog, as jy werklik binne jouself dink jy het iets om uit jou lewe te vertel, en voel jy kán dit vertel, dan is jy as skrywer half verplig om dit neer te pen. Dit mag opgevat word as die stem van die ego, en miskien is dit, maar dan is dit die ego wat in die onderbewussyn lê. Deon Meyer het een keer aan my gesê skryf is ’n oer-drang, en ek kan my met hierdie primale plig vereenselwig. Dit moet uit: vir wie en waar en hoe, ek gee nie om nie. Skryf.

Hoeveel van jou kinderdae-herinneringe het jy neergeskryf om sulke presiese beskrywings van ervarings te kan gee, of is hierdie ervarings alles onthou deur die koorsige walms van Covid?

Deesdae kan ek nie meer so goed onthou waar ek verlede week hierdie tyd was nie, maar die afgelope paar jare besef ek hoe tot-op-die-punt ek dinge uit my jeugjare kan onthou. Familie en ou vriende herinner my gereeld daaraan as ek iets opdiep uit die verlede. Dit moet egter dinge wees wat die moeite werd is om te onthou, nie soos Graad 11-algebra nie, byvoorbeeld. En weet jy wat? Wat ek onthou, is goeie dinge, meestal goeie dinge. As dit nie geseëndheid is nie, wat is?

Vertel my waar is die 15 boeke met wynetikette wat jy as jong seun begin hou het, en soek jy vandag steeds in die atlas die plekke op waar die wyne wat jy drink, gemaak word?

Die boeke het tussen Londen, Seepunt, Paarl, Stellenbosch en Amerika verlore geraak… Maar ek het ’n paar jare gelede afgekom op ’n klomp van daardie ou wynetikette uit die 1970’s wat ek nog nie in ’n boek geplak het nie. Sal seker van voor moet begin. Die soektog na wynplekke duur onverpoos voort. Ek reis per boek, kaart en internet na nuwe wyn-areas, en herbesoek ou gunstelinge. Heeltyd.

Waarskynlik in Spanje

Vertel meer oor die voorbladfoto?

As ek die manuskrip oorhandig aan ’n uitgewer, dan eindig my betrokkenheid. Hulle is die eksperte. Dus was daar van Protea se kant ’n paar voorstelle vir die voorblad, maar Nicol Stassen, hoof van Protea, was nie tevrede nie. Ek is gevra om klomp ou foto’s te stuur van my en my broer en susters… Daar is toe die foto wat my pa van my geneem het toe ons in Londen gewoon het en met vakansie was in Cornwall. Hy meen ek was so nege jaar oud. Toe ek my weer kry, stuur Kristèl van Protea die voorstel vir ’n voorblad. En hier is ons!

As joernalis is jy opgelei om die nuus heelbo te vertel en so kripties moontlik en gou by die einde (en saamknoop van alles) te kom. Boekskryf – selfs kortverhale – is amper die presiese teenoorgestelde. Hoe moeilik was die kopskuif?

Fiksie en joernalistiek is heeltemal, heeltemal verskillende dissiplines. Talle briljante joernaliste – nie almal nie! – faal as romanskrywers, en goeie romansiers wat soms gevra word om joernalistiek te pleeg, sukkel om twee feite binne 3 000 woorde te betrek. Die feit dat my fiksie tans in kortverhaal-vorm verskyn, bewys seker dat die joernalistiek nog sterk deur my loop. Begin vinnig en kom so gou moontlik uit by dit wat jy wil vertel. Voor ek by ’n roman kom, sal ek my van my joernalistieke benadering moet afspeen.

Voel jy, jy het jou nis gevind in kortverhale? Benewens jou eie bundels, is van jou werk ook opgeneem in ander versamelbundels.

Ek voel nooit so gemaklik met fiksie as met joernalistiek nie, maar kortverhale pas my pal-veranderende gedagtestroom en my beperkte aandagspan… Ek sal egter graag die konsentrasie, dissipline en sin vir narratiewe struktuur wil vind om te volhard met die roman.

Jy het nou ses boeke op jou kerfstok. Word die skryf makliker en glo mens meer in jou eie vermoë of bring dit net meer twyfel?

Gelukkig het ek nog nooit daardie gevoel van “uitgeskryf” ervaar waaroor sommige skrywers kla nie. Om ’n rekenaar oop te slaan en my gedagtes te laat vloei, gee vir my sin in die lewe.

Hoekom is jou eerste boek Vir vis en vaderland onder ’n skuilnaam geskryf en hoekom die naam Tim Uys?

In die vroeë 2000’s is ek deur wyle Jacques Visagie van Die Burger gevra om vir sy buitelug-bylaes rubrieke te skryf oor hengel en visse, een van my dieper belangstellings. Maar ek was reeds besig met ’n weeklikse TV-rubriek vir dieselfde koerant. Toe wonder ek of ek my vlerke nie té wyd versprei nie deur een week te skryf oor die deugde van The Sopranos of Carte Blanche, asook oor die regte manier om rooiaas op ’n hoek te plaas en die paar-gewoontes van die rooi steenbras – onder een naam. Toe besluit ons op ’n skuilnaam, kort en kragtig. Uys Krige, een van my helde, was ’n motivering.

Let op die pette

Hoe hanteer jy kritiek oor jou skryfwerk? En hoe gemaak met komplimente – gaan dit na jou kop toe, of is jy maar wantrouig?

Ek het al as kritikus op Media24 se kunsblaaie genoeg kritiek uitgedeel om te besef jy moet dit kan vat ook. Die kreef raak gewoond daaraan, en my vel is dik. Om nie kritiek te kan vat nie, is ’n bewys van emosionele onvolwassenheid. Dis jammer dat vandag se media so vroom is en ’n banggeit toon om kritiek uit te spreek as dit kom by dinge soos kuns, kos, restaurant en wyn – deur als deur ’n rooskleurige lens op te dis, doen jy die leser ’n onreg aan. 

Oor komplimente, wel, as ek bevoorreg is om dit te kry, ontvang ek dit met nederigheid, grasie en dankbaarheid.

Hoe het oupa-word jou uitkyk op die lewe verander en is daar dalk ’n kinderboek in jou toekoms?

Dis fantasties en ek herleef met graagte weer wat Marita van der Vyver noem die “dinge van ’n kind”. My kleindogter Isabel is byna twee-en-’n-half en ek kyk net met verwondering na hoe sy alles in die lewe bewonder met geesdrif en onvoorwaardelike dankbaarheid. Ek het talle kinderstories wat ek haar vertel en ondersoek die kinderboek-geleenthede.

Ek was nogal verbaas oor jou Facebook-inskrywing op 14 Junie waarin jy skryf hoe lief jy is vir die Britse kinderkaraktertjie, Basil Brush. Maak oupa-wees jou sag?

Basil, die drukbare pratende handpop, was deel van my kinderjare toe ons in Londen gewoon het van 1970 tot 1974. Hy was ’n instelling op televisie waar Basil met bekendes geskerts het, wetende dat hy te ougat is om voor kwaad te raak. Die beste is sy lag wanneer hy aan die einde van een van sy flouerige grappe kom: “Get it! Ha-Ha… Boom! Boom!” Hy bly een van my beste pelle.

Hoe gaan jy jou kleindogter aan die lees kry? Het jy nog jou kinderboeke?

Daar’s baie en ek koop met elke besoek nog een – ons is nou deur daardie dinosourus-fase, maar glo my, oupa is geen fossiel nie.

  • Foto’s: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top