Wie kritieke minerale beheer, beheer meer as ’n uitvoerproduk. Kobalt, koper, litium en seldsame aardmetale is skakels in die voorsieningskettings van elektriese voertuie, halfgeleiers, kragnetwerke en moderne wapenstelsels. Afrika het ongeveer ’n derde van die wêreld se bekende minerale hulpbronne, en die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) is die grootste kobaltverskaffer ter wêreld en ook ’n groot kopervervaardiger. Dit verklaar waarom China, die VSA en ander moondhede die kontinent al hoe minder as ’n blote ekonomiese mark beskou en al hoe meer as ’n sekuriteitsruimte. Hierdie inligtingstuk voer aan dat mededinging tans nie net gaan oor wie die minerale ontgin nie, maar oor watter rolspelers die vervoer-, verwerkings- en datanetwerke beheer wat die minerale aan die wêreld voorsien. Mededinging tussen dié rolspelers bied Afrikastate ’n groter mate van strategiese voordeel en onderhandelingsmag.

Foto: cocoparisienne (Pixabay.com)
Van handelsware tot strategiese bate
Die klemverskuiwing van ekonomie na sekuriteit het ’n duidelike grondslag. Oor die afgelope twee dekades het China ’n sterk posisie opgebou, nie slegs in mynbou nie, maar veral ook in die verwerking en raffinering van kritieke minerale. Minerale wat buite China ontgin word, maak gevolglik steeds gebruik van Chinese verwerkingsprosesse voordat dit vir nywerheids- en tegnologiese toepassings bruikbaar is. Beijing se oorheersing van hierdie kritieke skakel in die waardeketting het gevolge wat verder as die ekonomiese sfeer strek. Dit verskaf aan die land strategiese onderhandelingsmag oor die verwerking en beskikbaarheid van minerale wat vir industriële sowel as sekuriteitsdoeleindes van belang is.
Teen hierdie agtergrond benader Washington Afrika se mynbou-, infrastruktuur- en vervoersektore toenemend vanuit ’n nasionalesekuriteitsperspektief. Die United States Africa Command (USAFRICOM) se 2026-posisieverklaring weerspieël hierdie benadering deur die verband tussen ekonomiese betrokkenheid, toegang tot kritieke minerale en strategiese infrastruktuur te beklemtoon. Amerikaanse kommer spruit gevolglik nie voort uit die verkryging van Afrika se minerale nie, maar uit die moontlikheid dat groter beheer oor verskeie skakels in die voorsieningsketting die beskikbaarheid en vloei van kritieke hulpbronne kan beïnvloed.
Vir China word die logika eweneens deur sekuriteitsoorwegings gedryf. ’n Ekonomie wat sy industriële en tegnologiese ontwikkeling toenemend op batterye, kragnetwerke en elektronika baseer, wil nie afhanklik wees van ’n beperkte aantal Afrikalande vir kritieke minerale nie, veral nie wanneer dié lande deur ’n strategiese mededinger beïnvloed word nie. Beide China en die VSA beklemtoon dus die belang van “toeleweringsekuriteit”, maar beskou mekaar se pogings om toegang tot hierdie hulpbronne te verseker as ’n potensiële bedreiging.
Infrastruktuur as die werklike speelveld
Dit is noodsaaklik dat minerale na hawens vervoer word vir verskeping. Infrastruktuur speel in dié verband ’n kernrol. Die Lobito-korridor, ’n 1 300 km lange spoor- en infrastruktuurprojek van Angola se Atlantiese hawe by Lobito na myngebiede in die DRK en Zambië is ’n sigbare voorbeeld. Die korridor bied ’n weswaartse alternatief vir oostelike roetes na hawens in die Indiese oseaan. Die voordele van die Lobito-korridor is reeds sigbaar, maar die strategiese waarde daarvan strek veel verder as net vinniger vervoer. Koperkonsentraat kan per spoor in ongeveer agt dae vanaf die myngebied na Lobito vervoer word, vergeleke met sowat 25 dae per pad na Durban. Die korridor bied dus ’n vinniger en meer betroubare roete vir die uitvoer van kritieke minerale en verminder die afhanklikheid van bestaande vervoerroetes. Dit maak Lobito ’n belangrike deel van pogings om Westerse toegang tot minerale soos koper en kobalt te versterk en terselfdertyd China se oorheersende posisie in hierdie voorsieningskettings te beperk. Washington en sy vennote, waaronder die Europese Unie en ontwikkelingsfinansieringsinstellings, het daarom miljarde dollar bestee om die spoornetwerk op te gradeer, en om elektrisiteitsvoorsiening en ander infrastruktuur langs die korridor te verbind.
Die VSA se International Development Finance Corporation (DFC) het ook finansiering beskikbaar gestel vir die modernisering van die Benguela-spoorlyn. Die belegging in Lobito gaan dus nie bloot oor infrastruktuur nie; dit is deel van ’n groter strategie om beheer oor en toegang tot kritieke minerale te verseker. China se teenvoeter is die Tanzania-Zambia Railway Authority (TAZARA-spoorlyn), die 1 860 km lange verbinding tussen die Koperstreek en Dar es Salaam. Beijing het in 2026 ooreenkomste ter waarde van ongeveer VSA$1,4 miljard met Zambië en Tanzanië gefinaliseer om die spoorlyn te moderniseer en dalende vragvolumes te herstel. Mededinging tussen China en die VSA word toenemend beskryf as ’n stryd tussen ’n westelike en ’n oostelike uitvoerkorridor om beheer oor die Koperstreek se mineraalvloei. Die spoorlyn is daarom meer as net vervoerinfrastruktuur. Dit het geopolitieke waarde, omrede beheer oor die roete invloed gee oor die koste, spoed en toegang tot mineraaluitvoere.
Die Amerikaanse strategie
Die VSA het sy benadering uitgebrei van infrastruktuurfinansiering na ’n breër stel strategiese instrumente. In Februarie 2026 is Project Vault, oftewel die US Strategic Critical Minerals Reserve, aangekondig. Dit is ’n openbare-private vennootskap wat ’n fisiese reserwe van kritieke minerale opbou en bestuur om Amerikaanse vervaardigers teen tekorte en ontwrigtings in wêreldwye voorsieningsketting te beskerm. Die inisiatief word ondersteun deur tot VSA$10 miljard se finansiering van die Export-Import Bank of the United States (US EXIM), aangevul deur byna VSA$2 miljard aan private kapitaal. Die strategiese reserwe is aanvanklik beplan om ongeveer 60 kritieke minerale te omvat. Hierdie benadering is ook sigbaar in die oorname van maatskappye in die DRK, waaronder die mynmaatskappy Chemaf (Indië) deur ’n konsortium onder leiding van Virtus (VSA).
Washington sluit toegang tot kritieke minerale ook in by die land se pogings om vrede in Afrika te bewerkstellig. Die vredesooreenkoms tussen die DRK en Rwanda, wat in 2025 met Amerikaanse bemiddeling bereik is, het veiligheid en toegang tot kritieke minerale binne dieselfde diplomatieke raamwerk verbind. Daar is egter ’n beperking. Selfs indien die VSA toegang tot meer minerale sou verkry, bly raffinering en verwerking grootliks onder Chinese beheer, wat beteken dat Washington slegs ’n deel van die waardeketting beheer. Die Amerikaanse benadering het ook verander. Waar die vorige administrasie die Lobito-korridor hoofsaaklik as ’n projek van gesamentlike ontwikkeling voorgehou het, lê die huidige administrasie groter klem op direkte betrokkenheid by en beheer oor die ontginning van minerale.
China se posisie en die VSA se teenreaksie
China se voordeel lê daarin dat dit reeds sterk in die hele mineralewaardeketting gevestig is, van mynbou en infrastruktuur tot verwerking en finansiering. Beijing brei sy beleggings in koper- en kobaltmynbou voortdurend uit en gebruik infrastruktuurontwikkeling om toegang tot mineraalbronne en strategiese vervoerroetes te verseker. Hierdie ekonomiese posisie het ook ’n duidelike sekuriteitsdimensie. Beheer of invloed oor myne, spoorlyne, hawens en ander kritieke infrastruktuur kan China se vermoë versterk om toegang tot strategiese hulpbronne te handhaaf, uitvoerroetes te beïnvloed en langtermynverhoudings met Afrika se mineraalproduserende lande te verdiep. Dit skep ook moontlike voordele vir logistieke en inligtingsamewerking, omdat kommersiële infrastruktuur toegang tot strategiese vervoerpunte en streeksnetwerke bied. Die sekuriteitsgevolge lê dus nie noodwendig daarin dat ekonomiese infrastruktuur direk vir militêre doeleindes gebruik word nie, maar daarin dat ’n sterk ekonomiese posisie China se strategiese opsies en invloed kan uitbrei.
Hierdie kombinasie van ekonomiese en sekuriteitsbetrokkenheid wek in Washington kommer oor moontlike strategiese gevolge van China se toenemende betrokkenheid by infrastruktuurontwikkeling. Amerikaanse amptenare wys daarop dat sekere diepseehawens en ander vervoerinfrastruktuur in die toekoms moontlik ook vir militêre doeleindes aangewend kan word. Bata in Ekwatoriaal-Guinee word in hierdie verband dikwels as ’n moontlike ligging vir ’n toekomstige Chinese vlootfasiliteit genoem. Daar is egter tans geen afdoende bewyse dat China ’n permanente militêre basis aan Afrika se Atlantiese kus beplan of gaan vestig nie. Amerikaanse kommer weerspieël eerder ’n breër verskuiwing in die strategiese betekenis van infrastruktuur en minerale, wat nie slegs as ekonomiese hulpbronne beskou word nie, maar ook as strategiese bates wat toegang tot kritieke hulpbronne, nasionale veiligheid en geopolitieke invloed kan beïnvloed.
Gevolgtrekking
Kritieke minerale en infrastruktuur wat ontginning, verwerking en vervoer moontlik maak, verkry toenemend strategiese betekenis. Daar is ook ’n sekuriteitsdimensie daaraan verbonde. Afhanklikheid van ’n mededinger vir verwerking, vervoer of tegnologie beperk ’n staat se strategiese ruimte en verhoog eksterne druk. Mededinging tussen die Lobito- en TAZARA-korridors illustreer hierdie verskuiwing. Strategiese spoorlyne verkry toenemend ’n betekenis soortgelyk aan tradisionele seeroetes, aangesien beheer oor vervoerinfrastruktuur toegang tot minerale, markte en uitvoerroetes kan beïnvloed. Sowel die VSA as China gebruik daarom infrastruktuurbeleggings om toegang tot strategiese hulpbronne en vervoernetwerke te versterk. Hierdie mededinging bied Afrikastate terselfdertyd ’n geleentheid om strategiese ruimte te vergroot. Dit vereis dat mededinging tussen eksterne moondhede benut word om geleenthede vir onderhandeling te skep, meer waarde plaaslik te behou en keuses van vennote en vervoerroetes uit te brei. Die mate van strategiese outonomie word dus nie slegs deur die optrede van China en die VSA bepaal nie, maar ook deur Afrikastate se vermoë om afhanklikhede te bestuur en beheer oor hulpbronne en infrastruktuur te behou.
Bronne
Nantulya, P. 2025. China’s critical minerals strategy in Africa. 9 Desember. https://africacenter.org/wp-content/uploads/2026/02/Chinas-Mineral-Strategy.pdf?utm.
OECD. 2025. Background note: The Lobito Corridor. 10 April. https://www.oecd.org/content/dam/oecd/en/events/2025/04/oecd-emerging-markets-forum/Panel%202_OECD%20EMF%20Background%20Note%20-%20The%20Lobito%20Corridor.pdf?utm.
Vandome, C en R Dideberg. 2026. The Lobito Corridor shows how digitization is shaping critical minerals competition. 20 Julie. https://www.chathamhouse.org/2026/07/lobito-corridor-shows-how-digitization-shaping-critical-minerals-competition?utm.

