Kringloop deur Bets Smith: ’n resensie

  • 1

Kringloop
Bets Smith
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799387773

Reine is 'n student en semifinalis in 'n skoonheidskompetisie. Dit bring haar in aanraking met verskeie instansies, soos 'n kleremaker, grimeerkunstenaar en 'n gesondheidspa.

Sy vermoed spoedig dat iemand haar dophou en begin verskeie mense verdink. Later begin ’n man haar agtervolg en ongevraagde boodskappe los. Reine deel haar kommer met haar maats, maar debutante word maklik daarvan verdink dat hulle net aandag en publisiteit soek. Daarom kry sy net van haar boesemvriendin Thea simpatie en ondersteuning.

Die eerste 60 bladsye handel oor hierdie kat-en-muis-speletjie en dit duur heeltemal te lank vir die storie om rigting te kry. Die leser leer ook iets van die sluiper se gedagtegang en dit word duidelik dat dit veel meer as studentepret behels en gee mens hoop vir die boek. Die skrywer laat dit egter na om die leser ware insigte in die sluiper se agtergrond en motiverings te gee.

Later word die weë van Reine en Thea geskei, maar 'n dokter tree na vore en doen sjirurgiese werk op Reine.

Einde raad verhuis Reine na 'n ander dorp om van haar agtervolger weg te kom, hoewel sy nog nie weet wie hy is nie. Met baie onoortuigende toeval vestig talle van die mense van wie sy 'n kliënt was hulle ook op die dorp en sy loop ook weer die sjirurg raak.

Dit bied aan die skrywer die ideale geleentheid tot verdieping en om verdagte karakters en hul motiewe teen mekaar af te speel, maar dit bly onbenut.

Allerlei maatreëls word getref om Reine te beveilig en selfs 'n speurder raak betrokke. ’n Speurder in ’n spanningsverhaal is gewoonlik ’n interessante karakter met baie ondervinding. Hy of sy kry die leser betrokke omdat die leser insae kry in die speurder se beredenerings oor wie skuldig kan wees. Speurders benader die verdagtes uit verskeie hoeke, voer onderhoude, plant slim leidrade, vat die leser op verskeie dwaalpaaie en verras die leser dikwels met die ware skuldige. Hierdie beproefde resep word ongelukkig nie gevolg nie.

Die ander beproefde tegniek is natuurlik naelbytoorgange tussen storielyne wat mekaar onderbreek en die leser betrokke hou. Weinig hiervan gebeur in Kringloop en dit verander in 'n lees-maar-tot-by-die-einde-boek, terwyl dit juis kan-nie-neersit-nie-boeke is wat lesers hul slaaptyd laat uitstel.

'n Goeie spanningsboek bevat gewoonlik verskeie goedgemotiveerde moordverdagtes. 'n Knap speurder. Goeie dialoog en 'n storielyn wat jou sommer in die eerste paar bladsye begin gevange hou. En natuurlik spanning.

Daar is wel twee spannende tonele wat baie goed en volledig beskryf word, maar dit red nie die boek nie.

Bets Smith het al onder meer 21 romanses geskryf en dit is haar derde spanningsroman. Dit is kennelik nie haar sterk punt nie. 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top