Kringloop deur Bets Smith: ’n lesersindruk

  • 0

Kringloop
Bets Smith
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799387773

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Bets Smith se roman Kringloop (2018) handel oor ’n debutantfinalis, Reine Duvenage, wat deur ’n onbekende man geteister word. Die teistering bereik ’n klimaks wanneer sy ontvoer word.

’n Onverwagte oorlewingsdrang veroorsaak dat Reine ontsnap. Die gevaar is egter nog lank nie verby nie. Sy het deur haar ontvoerder se vingers geglip, wat sy wilskrag om haar te vind, versterk.

Hier neem die roman ’n interessante draai. Weens beserings tydens haar ontvoering ondergaan Reine ’n gesigoperasie, waarna sy uit die stad vlug, ’n waghond kry en leer hoe om haarself te verdedig. Dit is tydens hierdie tydperk dat die roman verdiep en Reine sterk karakterontwikkeling ondergaan. Dit is egter nie lank voordat haar vorige lewe haar wel inhaal en sy weer vir haar lewe moet veg nie. Hierdie keer is sy gelukkig voorbereid en nie alleen nie.

Bets Smith se roman was lekker om te lees. Dit neem onverwagse draaie en Smith hou die leser goed in die duister oor wie die ontvoerder is. Daar is egter oomblikke van verwarring. Tonele waarin die aanranding of ontvoering plaasvind, is soms deurmekaar en moeilik om te volg. Dit kan dalk as ’n skryfstyl gesien word wat die karakter se onkunde en verwarring oor wat gebeur beklemtoon.

Bets Smith | Foto: verskaf

’n Ander verskynsel wat ook ’n bietjie verwarring veroorsaak, is Smith se wisseling tussen fokalisators. Later in die roman word daar gewissel tussen Reine en die speurder, Pieter Taljaardt, wat haar ontvoering ondersoek. Die verwisseling is baie ontnugterend, omdat dit sonder enige visuele aanduiding plaasvind. Dit veroorsaak dat mens eers in die middel van die sin agterkom dat die toneel en fokalisator verander het. Daar is egter ’n tweede verwisseling van fokalisator, tussen Reine Duvenage en haar ontvoerder, wat in teenstelling met die vorige verwisseling heel gemaklik plaasvind. Die wisseling tussen hierdie twee fokalisators vind gemakliker plaas omdat dit duidelik met die titels “prooi” en “jagter” aangedui word.

Die roman is in vier afdelings verdeel, naamlik:

  • Hades: die onderwêreld
  • Limbus: uitgesluit van die hemel maar nie verdoem tot die hel nie
  • Styx: die rivier wat die deurgang is tussen die aarde en die onderwêreld
  • Elisium: ’n hiernamaals gereserveer vir die dapperes.

Die betekenis van elke afdeling word in die indeks van die roman verskaf. Hierdie afdelings kan as ’n onheilspellend (voorspelling) gesien word van die gevaar wat nog moet kom. Dit is ook moontlik dat die titel van die roman, Kringloop, hierby aansluit. Die vier afdelings is met ander woorde die vier stadiums (kringe) waardeur ’n persoon, meer spesifiek die karakter Reine, moet beweeg tot haar uiteindelike uiteinde, dit wil sê die lewe of die dood. Die titel kan egter ook verwys na die roete wat die reeksmoordenaar volg wanneer hy slagoffers soek. Hy loop kringe in verskillende gebiede in Suid-Afrika, op soek na kandidate. Dit is dan ook wat dit op die ou end so moeilik gemaak het om van hierdie reeks moorde bewus te word.

Op die roman se voorblad is ’n foto van ’n jong dame. Alles is feitlik in skaduwee en onsigbaar, behalwe haar groen oë. Met die fokus op die groen oë kan daar aangeneem word dat dit Reine Duvenage op die voorblad is, aangesien karakters in die roman telkens na haar besonderse groen oë verwys. Dit is ook as gevolg van haar oë dat die reeksmoordenaar haar as ’n slagoffer gekies het:

Hy kyk die finaliste waarderend deur ... Eers met die tweede kykslag vat sy oë die meisie raak en sy asem word min. Dis die een. ... Die beenstruktuur van haar gesig is die perfekte onderbou vir die doek wat daaroor span ... Rooiblonde hare wat die wange liefkoos, oë, helder soos kristal wat ’n innerlike lig moet terugkaats maar dit nie doen nie. Die leegheid in daardie kyk tref hom opnuut soos ’n skoot yswater. Leeg, tot die pot in die kykers wakker word en hom uitdaag, hom tart en uitlok. (7, 8)

Verder word daar ’n swart roos aan die onderkant van die voorblad vertoon. Baie subtiel. Dit kan ’n verwysing wees na die swart rose wat Reine se teisteraar vir haar in die hospitaal gestuur het. Dit kan egter ook ’n figuurlike uitbeelding van die dood wees.

’n Subboodskap van die roman kan wees dat mens waaksaam en sorgvuldig moet lewe, terwyl die hoofboodskap is dat mens teen die monsters in aangename mense moet waak. Dit sluit aan by die uiteindelike ontmaskering van die teisteraar, ontvoerder en reeksmoordenaar – ’n persoon wat ongesiens deur die samelewing loop, omdat hy nie as ’n misdadiger voorkom nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top