Krag van natuur sluit Panthera Africa se hekke

  • 0

Vlamme (foto deur die Overstrand-munisipaliteit)

In Januarie vanjaar was die Groter Overstrand vir twee weke in ’n stryd gebonde met brande wat buite beheer was.

Op 4 Januarie 2026 om 13:00 breek ’n brand in Pearly Beach in die Wes-Kaap uit. Kort daarna, op 7 Januarie om 18:15, breek ’n tweede en ’n derde brand in Stanford uit. Brandbestryders was gou op die toneel en helikopters is ook ingespan om met die bestryding te help.

Daar was grootskaalse skade aan privaat eiendom.

’n Organisasie wat groot skade gely het, is Panthera Africa, naby Stanford.

Panthera Africa personeel gebroke

Cathrine Nyguist sukkel om haar trane terug te hou wanneer sy vertel van die sowat vyf dae se intensiewe brandbestryding. Vir Panthera Africa was dit ’n emosiebelaaide, vreesaanjaende stryd om die diere te beveilig, sê Nyguist.

“Dit is ons taak, ons roeping, om hulle veilig te hou.”

Vir Panthera se personeel was dit ’n onbekende ervaring om fisiese vure dood te slaan, verduidelik Nyguist. “Daar het soveel aangegaan. Die vlamme, hierdie natuurkrag, was net oral.”

Die nagevolge en skade van die brand wat Panthera Africa tot sy knieë gedwing het, lê swaar op stigters Cathrine Nyguist, Lizaene Cornwall en die res van die personeel se gemoed en skouers. Wat hulle in die gesig staar is stilte, leë kampe, as, en verwoesting.

Vlamme en beserings

Met ’n brand wat om hulle woed was dit ’n gejaag teen tyd om die diere, personeel en eiendom te beskerm.

Reeds op die eerste dag van die brand het Cornwall kontak gemaak met ander sentrums om te reël dat die diere uitgeplaas word. Op dag twee het die wildleweveearts Peter Caldwell uit Pretoria gekom om te help met die massa-ontruiming.

’n Leeu word voorberei (foto deur Panthera Africa)

“Die brand het as gevolg van die wind vinnig uit ander rigtings gekom, vinniger as wat ons verwag het en op voorbereid was. Daar was aanhoudende vonke wat nuwe vlamme en heropvlammings veroorsaak het.” Nyguist verduidelik dat hulle vlamme moes doodslaan, die diere verdoof, medies versorg, in kratte kry en vervoer.

“In alle eerlikheid, ons het nie gedink ons sou nodig hê om hulle almal te ontruim nie.” Dit het duidelik geraak dat die brand buite beheer is toe dit in Oliver, ’n wit leeu en ook die rede vir Nyguist se passie, se kamp begin brand het. Dit besluit is gemaak om al die diere te ontruim.

Die tierwyfie Arabella en leeuwyfie Baguira, ontvang tans intensiewe behandeling in Pretoria onder toesig van Caldwell. Hulle benodig voortgesette, hoogs gespesialiseerde daaglikse sorg vir die afsienbare toekoms.

’n Personeellid van die reservaat voeg by: “Die duur van die behandeling kan tans nie met sekerheid bepaal word nie, en deurlopende ondersteuning is noodsaaklik om hul versorging en herstel te verseker.”

Ten spyte van die rook, vlamme, helikopters in die lug, mense wat skree oor die radio en paniek om die diere, was die meeste van hulle kalm, vertel Nyguist. Dit spreek van die vertroue wat hierdie diere oor die jare met Panthera Africa se personeel gebou het.

By Panthera Africa ervaar hierdie groot katte en ander wilde diere al vir tien jaar net liefde en veiligheid. Nyguist vertel trots dat die reservate waar die diere nou is, sê dat Panthera trots kan wees op hulle diere, “want hulle is kalm en aangepas. Dit wys dat ons ons werk gedoen het.”

Arabella (foto deur Panthera Africa)

’n Gerug het ontstaan dat die tierwyfie, Arabella, tydens die brand uit haar kamp ontsnap het. Nyguist maak dit gou duidelik dat dit glad nie die geval was nie. Arabella het net plat in haar skuiling gaan lê en met die rook kon niemand haar sien nie.

RIV Rays

Die katte is na voerkampe, wat veilig was, geskuif sodat die vlamme in hulle eie kampe geblus kan word. Waar moontlik is diere sonder verdowing verskuif.

“Die vlamme was al hier toe ons die ander uitgekry het,” vertel sy verder.

Nyguist verduidelik dat waar nodig, die diere verdoof is toe medies ondersoek is. Dit was om te sien of daar enige beserings is en seker te maak hulle is sterk genoeg om vervoer te word. Daarna is hulle goed gehidreer en is immuunversterkers ingedien. Sodra hulle in hulle onderskeie kratte was, is hulle wakker gemaak voor die reis begin.

“Anders weet jy nie in watter kondisie hulle is nie.”

Rays, ’n tier wat ook deur Panthera Africa gered is van onwettige beenhandel, het ook gehoorsaam na sy voerkamp beweeg. Hy is verdoof vir ontruiming maar wou nie aan die slaap raak nie. Daar was geen ander keuse as om hom onder swaarder verdowing te plaas nie. Tussen die stres, die verdowing, die inperking van die krat en die rook het dit nie goed gegaan met die pragtige Rays nie.

Nyguist vertel hartroerend van Rays se dood.

“Hy het swaar gekry, jy kon dit hoor aan sy asemhaling. Hy het in ’n koma gegaan en het net nie weer wakker geword nie.”

Integriteit en etiek vir Panthera

Panthera Africa se missie is om die misbruik van wilde diere te beëindig. Die wette moet verander sodat diere so goed beskerm is dat hulle nie meer nodig het om gered te word nie. Die bewaringsgebied waarop Panthera Africa geleë is, het in April 2015 sy deure vir die publiek oopgemaak. Hier het groot katte en ander wilde diere, almal gered uit ongunstige omstandighede in aanhouding, ’n veilige tuiste gevind.

Vir Panthera Africa is etiek en integriteit belangrik. Hulle werk met groot katte en ander wilde diere as ’n hartsaak. Dit is vir hulle ’n eer en ’n voorreg om dié diere se beskermers te wees.

Tydens die onderhoud met Nyguist by die reservaat, was Cornwall juis op die pad om besoek aan die uitgeplaaste diere af te lê.

Daar is tans sewe wilde diere op die reservaat. Panthera Africa se sosiale media bestuurder vertel: “Ons het nog vir Skillie die skilpad, Lucky en Love die jakkalse, die gebonde paar Jasper en Tammy (’n tierboskat en ’n kat), die twee rooikatte Amy en Gigi en ons mak diere by ons op die perseel.”

Sy sê “sou ontruiming weer nodig wees weens brandgevaar, is hierdie diere kleiner en kan hulle veilig in kratte gelaai en vinnig verskuif word.”

Gabriel (Foto deur Panthera Africa)

Gabriel (luiperd) en Pardus (swart luiperd) is by Ashia Cheetah Conservation in Paarl. Ander diere is tydelik by verskeie erkende reservate en organisasies geplaas, insluitend Jukani Wildlife Sanctuary, The Lions Foundation, ADI Wildlife Sanctuary, Lionsrock Big Cat Sanctuary (Four Paws) en Shamwari in die Oos-Kaap.

Kode rooi

Heelwat uitdagings het bygedra tot die onbeheerste brande waarmee die Overstrand se nooddienste geswoeg het. Die onvoorspelbaarheid van die wind is die een van die grootste uitdagings in die bekamping van ’n brand.

Nooddienste van ander areas soos Stellenbosch, die Swartland, Kaapse Wynland en Drakenstein het ook ingespring om die Overstrand Munisipaliteit te hulp te kom. Drakenstein en die Kaapse Wynland brandbestryders moes ontruim om brande in hulle eie areas te beveg.

Dean O’Neill, die munisipale bestuurder van die Overstrand-munisipaliteit, sê dat die brande maklik begin. “Die warm, droë toestande en sterk winde blaas die vonke wat van die vuur af kom, van ver af.”

’n Kode-rooi-rampkondisie is tydens die brand in die Overstrand aangekondig. Die besluit berus by die brandweerhoof van die spesifieke area. “As hy sien die hulpbronne is nie voldoende nie en die stand van die vuur en hoe vinnig dit brand kan hy dit tot ’n kode rooi verklaar.”

Skade vir boere

Die brande was hoofsaaklik op privaat eiendom. O’Neill sê die omvang van die skade kan nog nie bepaal word nie, maar, “van die blomboere het wel te kenne gegee dat hulle oesskade gekry het.”

Verder is daar groot skade aan tafeldruiwe en fynbos. Byeboere het korwe verloor. Geen skade aan munisipale infrastruktuur is veroorsaak nie. Noodpersoneel is behandel vir ligte rookinaseming en een of twee van die boere het brandbeserings opgedoen. Op die derde dag van die brand is ’n brandweerwa van die Stellenbosch Munisipaliteit beskadig.

O’Neill prys die gemeenskap se samewerking en sê die skade kon selfs groter gewees het as mense nie so saamgestaan en gehelp het nie.

Opset word vermoed in albei brande

Kriminele bedrywighede word nie uitgeskakel nie en is waarskynlik die rede vir die brande.

“’n Voorlopige verslag dui daarop dat die brande heel waarskynlik opsetlik begin was,” vertel O’Neill. “Dit word nou deur die SAP (Suid-Afrikaanse Polisiediens) ondersoek.”

O’Neill wil graag die publiek daarop attent maak dat elkeen sy of haar gesonde, praktiese verstand moet gebruik wanneer dit kom by die maak van vure.

“Moet nooit ’n vuur onbeman laat nie. Maak seker dit is dood wanneer jy klaar is.” Hy waarsku ook huiseienaars om seker te maak hulle dakgeute is skoon is en dat daar droë blare lê nie. Verder moedig hy aan dat mens by die owerhede moet aanmeld wanneer iets, of iemand, uit plek lyk.

“Deur niks te sê nie maak jy jou deels skuldig en deel van die probleem,” sê O’Neill.

2025-brande

De Kelders, Gansbaai en Stanford het ook Oktober tot November 2025 gebuk gegaan onder brande en sowat 4 000 hektaar het uiteindelik afgebrand.

Inwoners van sekere buurte moes hulle wonings ontruim en Gansbaai was vir sowat vyf dae sonder krag.

Die oorsaak van hierdie veelvuldige brande is toegeskryf aan beweerde brandstigting.

Ten slotte

Die brande is tans onder beheer, volgens die Overstrand Munisipaliteit, maar ’n wakende oog word gehou oor die area en verslae van rook word opgevolg.

Verwoesting (foto deur Annette Havenga)

Wat hou die toekoms en die pad vorentoe in vir Panthera nadat hierdie ongenaakbare brand deur die reservaat geblaas het en ’n pad van verwoesting gelos het?

Nyguist sê: “Ons is in diep rou, maar ek het hoop vir ons toekoms en die pad vorentoe.”

Die hooffokus is die welstand van die diere en hulle genesing.

Vir Panthera lê verskeie uitdagings nog voor. Assesseringsprosesse moet afgehandel word voordat daar eens gedink kan word aan kontrakteurs, pale plant, skuilings bou en die hervestiging van die diere. Oor hierdie edel reservaat hang ook ’n wolk van banklenings, veeartsrekeninge en ander skuld wat voortspruit uit die ramp.

Sonder hulp van die regering doen Panthera Africa beroep op die publiek en privaat besighede. Nyguist is dankbaar vir die hulp en donasies wat reeds ontvangs is. Met soveel onsekerheid oor die toekoms van Panthera is die nood steeds groot.

Oor hulle toekoms hangs ’n rits vraaagtekens. Is die reservaat veilig genoeg? Wat meer kan gedoen word om die diere se veiligheid te verseker? Waar gaan die kostes eindig? Gaan Panthera Africa uit die as kan verrys en weer hulle deure oopmaak?

Ten slotte sê Nyguist, “Vir nou haal ons net asem. Daar is baie werk wat voorlê, ook baie trauma, persoonlik en vir die diere, om te verwerk.”

Lees ook:

Universiteit Kaapstad-brand

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top