Kortverhale met lang bene: Woordfeesbundel-gesprek by die Toyota US Woordfees 2020

  • 3

Vanjaar se Woordfees-kortverhaalbundel is op Vrydagaand 6 Maart bekendgestel en die eerstepryswenner (Marie Toerien) is aangewys. Waarom die volgende dag nog ’n verdere gesprek rondom die bundel aanbied?

Feesgangers wat die geleentheid bygewoon het, sou besef het: ’n Gesprek rondom die Woordfeesbundel het wenke verskaf aan enigiemand wat belangstel om volgende jaar in te skryf – en die gesprek het uitgelig op watter lang bene sekere van die kort stories in vorige jare se bundels deesdae rondstap.

Die paneel op die verhoog was Rudie van Rensburg (wie se kortverhaal drie jaar gelede in ’n bundel opgeneem is), Gerda Taljaard (wie se kortverhale tot dusver elke een van die vyf bundels gehaal het), Michèle Meyer (wie se verhaal in ’n vorige bundel in ’n kortfilm omskep is), Cliffordene Norton (wat meer as 25 kortverhale in baie ander publikasies die lig laat sien het en wie se verhaal in vanjaar se bundel opgeneem is) en Suzette Kotzé-Myburgh (sameroeper en betrokke as beoordelaar en redigeerder by elke bundel tot dusver).

Hier onder volg hooftrekke van die gesprek:

Suzette, sameroeper en keurder, het die agtergrond gegee. Die Woordfees het in 2016 marknavorsing gedoen en gevra: Wat wil mense by ’n fees hê? Die antwoord onder feesgangers, was: ’n T-hemp. Saartjie Botha het daarteen besluit en gesê: Wat van ’n kortverhaalbundel?

Die projek het gegroei en ontvang elke jaar sedert dit oopgestel is vir almal wat wil skryf om deel te neem, honderde inskrywings.

Vanjaar se keurders was Suzette Kotzé-Myburgh, Valda Jansen en Madri Victor.

Hulle het anoniem punte gegee en die ongeveer 25 verhale wat die hoogste punte gekry het, is die stories wat in die bundel opgeneem is.

Gerda Taljaard, vyfmalige bundelopgeneemde, het gesê: “Daar is nie ’n wenresep nie. Al wat ek kan sê, is dit help nie om twee dae voor die tyd ’n storie te probeer skryf nie. Ek begin agt maande voor die tyd. En dan skryf ek sommer drie stories. Ek vra dat vriende dit deurlees en my help om die beste van die drie te kies. Net soveel onderwerpe: liefde, haat, wraak, geweld, seks. Maar dis nie wát mens skryf nie, dis hóé. Ek is bly oor die geleentheid, want uitgewers gee nie graag kortverhale uit nie. Dankie aan die Woordfees.”

Rudie van Rensburg praat oor die rimpeleffek van ’n verhaal wat hy ’n paar jaar gelede in die bundel opgeneem gehad het: “Ek moet eers my kop in skaamte laat sak. Ek het ’n naweek lank aan die storie gewerk. Synde ’n misdaadskrywer, het ek iets heel anders probeer. Iets humoristies. Sedert die storie geskryf is, het dit begin smeek vir ’n boek. Toe word dit Hans steek die Rubicon oor. Die kortverhaal was die eerste twee hoofstukke daarvan. RSG het die boek as ’n voorlesing begin uitsaai. Tobie Cronjé het dit voorgelees. En sedertdien het ek die filmregte verkoop. Ek mag nog nie veel meer daaroor sê nie. Ek kan net sê die kortverhaal het uiteindelik soveel bene bygekry.”

Cliffordene Norton: “Dis my 25ste gepubliseerde kortverhaal. Ek gebruik nie agt maande om ’n storie te skryf nie. Maar ek begin beslis nie die aand voor die tyd nie. Verlede jaar het ek eers gedink: Dis nou te veel rejection. En toe trek ek my sokkies op, en ek skryf nog ’n storie. Ek was baie huiwerig om dit in te stuur, maar stuur dit toe wel in. En toe ek hoor ek’s in die bundel – het ek dit amper nie geglo nie.”

Suzette Kotzé-Myburgh reageer op Cliffordene: “Keurders reageer individueel op ’n verhaal. Elk het ’n 33%-stem. As iemand die eerste keer opgehou het, hou aan met probeer. Moenie opgee nie!”

Die projek is ’n spanpoging van die Woordfees en Du Toitskloof-wyne. Deur Du Toitskloof se borgskappe ontvang die wenner R30 000 en is daar ook ’n bydrae tot elke skrywer se tantieme.

Michèle Meyer sê van haar ervaring: “Verwesenliking van ’n lewenslange droom. ’n Onvergelyklike ervaring.”

Gerda Taljaard op die vraag waar sy aan haar idees kom: “Ek is ’n ou storieslet. Dit kom nogal maklik vir my. Ja, die stories is uiteenlopend. Ek skryf nogal donker stories. Selfmoord, of dood, of enige vreemde tema. Maar musiek is iets wat my inspireer. Ek luister nie na musiek terwyl ek skryf nie, maar wel voor die tyd. Iets anders wat my geweldig inspireer, is film. Met hierdie verhaal, “Drakebloed” ... Die eerste sin het maande voor die tyd al by my opgekom: “Alona Gelderblom het nog altyd ’n oog vir skoonheid gehad.” My storie handel oor haar: die vrou wat twee kinders onder haar vlerk neem; eintlik ’n obsessie met hulle skoonheid het, nie oor sy vir hulle omgee nie. Sy het ’n agenda en die twee kinders het uiteindelik ook ’n agenda.”

Rudie van Rensburg: “Ek wou nie vir die bundel ’n misdaadding skryf nie. In ’n vorige boek het ek gedink oor Kassie Kasselman se ma wat op ’n swendelaar verlief geraak het. Hierdie storie in die misdaadroman, het toe die tema van my inskrywing vir die kortverhaalbundel geword. En daardie einste kortverhaal word toe nou weer ’n ander boek (Hans steek die Rubicon oor). Ek het geleer hoe moeilik dit wel is om humor te skryf!”

Wegneemwenke vir deelnemers aan volgende jaar se bundelinskrywing:

  1. Begin lank voor die tyd, beplan en verfyn jou verhaal.
  2. Kry ’n tegniek, amper ’n hulpmiddel of lekker invalshoek vir jou storie.

En onthou: Daar is ook ’n filmprys wat kykNET geskep het. Vorige jare het ’n wenner en filmprys opgelewer. Vanjaar is daar vyf filmpryse, wat nog nie bekendgemaak is nie.

Die wenners van die filmpryse (hetsy kortfilm, TV-, of vollengtefilm) word op 15 April bekendgemaak.

Daardie kort storie in jou kop mag dalk in ’n volgende Woordfeesbundel opgeneem word. En wie weet – dalk klim een van jou karakters in so ’n Woordfeesbundel sommer heeltemal uit die bundel en loop van daar af op hoë stelte weg met ’n lang skaduwee agter hom aan.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Marie Toerien

    Dit was ’n magiese ervaring om die storie uit die Suid-Bokveld met die feesgangers te deel. Baie dankie aan Suzette Kotze-Myburgh, Danie Marais, Saartjie Botha, Madri Victor en al die ander deelnemers.
    Oppas vir die vrou met die lang voete in die Kobee👻

  • Is dit toeval dat hierdie kompetisie elke jaar deur ou tannies beoordeel en gewen word? Kan ons dalk ’n plan maak om die kompetisie van die ou-tannie-mafia te red? En hoe is dit moontlik dat bruin stemme, na alles, steeds so onderverteenwoordig in die bundel is? Is ons Afrikaans nie goed genoeg vir julle nie?

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    In teorie word inskrywings vir die kortverhaalbundel mos onder streng geheimhouding voorgelê en ná alles gaan alles sekerlik nie oor bruin of wit stemme nie, maar Afrikaanse stemme. Hierdie jaar se beoordelaartannies: Suzette Kotzé-Myburgh, Valda Jansen en Madri Victor, lyk darem ook nie heeltemal so oud nie. Tannie Toerien se storie moet ek nog lees, maar tannie Elsa skryf nie te vrot nie ‒ oor Poppie Mangena. Ek glo jy sal verheug wees om te verneem dat die Jan Rabie Marjorie Wallace-beurs suiwer op meriete mildelik aangewend om bruin stemme te bevorder.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top