Kortliks met Stefaans: Reels-leesstof en Power

  • 0

Reels-leesstof

Na Don Winslow se meesterstuk The winter of Frankie Machine (2006) het ek Josh Bazell se debuutmisdaadroman Beat the reaper (2009) op Bob Shop gekoop (dankie, Riaan!) met die hoop om dieselfde high te beleef. In laasgenoemde is Peter Brown, ’n dokter in New York, eintlik ’n voormalige mafia-sluipmoordenaar. Niemand weet van sy gewelddadige verlede nie ... totdat ’n pasiënt hom herken. Terwyl hy probeer oorleef, word die storie afgewissel met terugflitse wat wys hoe hy by georganiseerde misdaad betrokke geraak het. Soortgelyk aan wat Winslow gedoen het.

Ek kon om een of ander rede nie in die boek kom nie.

Ek het my toevlug in twee Orphan X-novelles / kortverhale deur Gregg Hurwitz gevind. The code (#0.5) speel baie vroeg in Evan se lewe af – nog voordat hy volledig “Orphan X” word. Dit fokus op sy opleiding onder Jack Johns en wys hoe emosioneel onbeholpe hy nog is. The recital (#8.5) volg ná The last Orphan en speel vóór Lone wolf af, wanneer Evan reeds die Nowhere Man is en meer selfbewus begin raak oor gewone menslike ervaring. The recital wys hoe diep sy opleiding hom van gewone menslike emosies vervreem het. Die belangrikste laag in The code lê eintlik in Evan se nadenke oor risiko, vrees en menslike gedrag. ’n Ferris wheel-toneel staan sentraal: Evan besef mense betaal vir kunsmatige gevaar, omdat hulle lewens meestal veilig en beheersd is. Vir hom – iemand wat werklike geweld geken het – lyk dit vreemd en amper absurd.

Albei verhale trek ’n verband tussen sy geweld / opleiding en sy “onskuld” ... mag ek sê: emosionele ongeletterdheid. Dit is een van die interessantste teenstellings in Hurwitz se skryfwerk: Evan is terselfdertyd uiters gewelddadig én amper kinderlik onskuldig. Hy verstaan dood beter as intimiteit. En juis daarom bly hy vreemd simpatiek – onder die perfekte geweldsmasker is daar iemand wat steeds probeer uitvind hoe gewone mense mekaar liefhet. Albei stories sluit die eerste hoofstuk van sy volgende boek in.

Kortverhale is soos Instagram-reels. As jy die een geniet het, wil jy die volgende een beleef. Ek krap op Amazon onder ou gunstelingskrywers se korter fiksie rond.

David Baldacci se Bullseye – an original Will Robie / Camel Club short story speel grotendeels in ’n bank af. Beide Will Robie (The innocent en The hit) en Oliver Stone (The Camel Club en The collectors) is karakters in die verhaal. Dit is nie Baldacci op sy beste nie. Net soos Hurwitz, gebruik hy hierdie 2014-novelle om die eerste hoofstuk van sy volgende boek te bemark.

No time left, ook deur Baldacci, was beter. Baie. Al was die einde voorspelbaar. Dalk omdat Will en Stone nie in die verhaal was nie. No time left is ’n mengsel van misdaad en wetenskapsfiksie waarin ’n professionele huurmoordenaar se volgende hit verband hou met sy eie verlede.

In Scar tissue: seven stories of love and wounds (2010) deel Marcus Sakey sewe kort stories, waarvan een hint-fiksie is. Sy kortverhaal “The desert here and the desert far away” het in Clive Cussler se Thriller 2 verskyn. Net soos Martin Steyn in Skimme en spoorsoekers (LAPA, 2026) vertel hy waarom hy die verhale neergepen het. Dit moet nie met Ollie Ollerton se debuutfiksie met dieselfde titel verwar word nie. Anders as Hurwitz en Baldacci, gebruik Sakey nie hierdie bundel om sy nuutste boek te bemark nie – hy deel sommer die hoofstukke van vier vorige publikasies én sy nuutste boek! Dit is mos bemarking op sy beste. Ek was so beïndruk, ek het sy debuutspanningsroman The blade itself by ’n tweedehandse boekwinkel gekoop.

En ge-hook aan die reels-leesstof, het ek Gayle Lynds (The assassins), Christian Cantrell (Scorpion) en Gerald Seymour (Jericho’s war) in my tronk-donasieboks gesit. Nuut. Ongelees. As jy my ken, dan weet jy dit is my tipe leesstof. En om dit weg te gee en Don Winslow se The final score en Broken, sowel as George Pelecanos se The martini shot te koop, bewys hoe goed Scar tissue was.

Herlees jy kortverhaalbundels weer? Ek doen. Ek het David Morrell se Black evening (Cemetery Dance, 1999) al meer as een keer gelees, juis omdat ek daardeur verlief geraak het op die korter kuns. As jy bereid is om bietjie in tweedehandse boekwinkels rond te krap, beveel ek dit hoogs aan. Veral vir opkomende skrywers. ’n Bundel wat ek na Scar tissue herlees het, was Andrew Vachss se Born bad. Dit is in 1994 uitgegee en vrek moeilik om in die hande te kry. Bob Shop is die beste plek om te soek.

Ek is ’n Vachss-aanhanger. Hy het homself nooit as ’n skrywer gesien nie, maar as ’n soldaat in die enigste “heilige oorlog” – om vroue en kinders te beskerm. Hy het sy debuutboek Flood as die eerste skoot gesien. 17 Burke-skote het gevolg. Ek het al 18 en die genoemde bundel. Ek skryf omdat Burke was. Máár met die herlees van hierdie bundel was dit vir my minder goed. Die eerste verhale is almal sterk. Veral omdat die skrywer in die misdadigers se koppe klim. “Hoekom” was vir hierdie aktivis en voormalige tronkhoof nog altyd belangriker as die ontrafeling van die misdade. Baie van die verhale het eks-gevangenes as karakters. Goed en sleg. Die verhaal “Bandit” is so tipies tronkmentaliteit; die einde kon net deur ’n eks-bandiet geskryf wees, of deur iemand wat intiem met mans in oranje uniforms gewerk het.

Drie verhale sing dieselfde deuntjie, die woorde verskil net, maar die eindes weergalm eenders. “Alibi”, “Placebo” en “Stone magic”. En steeds love ek dit. Die meeste van die Cross-verhale in die middel van die boek was vir my minder goed. Ek het ook die toneelstukke Replay en Bridge oorgeslaan. “A flash of white”, “Anytime I want” en “Date rape” is van die sterkste verhale in die boek, en die rede dat ek Born bad weer volgende jaar gaan herlees.

*

Skrywer: Joanne Hichens
Titel: Power
Uitgewer: Tattoo Press
ISBN: 978-1-0370-6353-4

Bogenoemde reels-leesstof bring my by ’n belangrike plaaslike publikasie: Power, saamgestel deur Joanne Hichens.

Die Short.Sharp.Stories-kortverhaalkompetisie word sedert 2013 aangebied. Net in 2020, 2021 en 2022 het daar nie bundels verskyn nie. Die nuwe kompetisie is reeds oop en sluit om middernag op 30 Junie. Al die besonderhede is op Facebook beskikbaar.

22 verhale is in hierdie negende publikasie opgeneem. Verskeie skrywers het reeds in vorige publikasies verskyn. Werner Labuschagne het verlede jaar in beide One life en In other stories (Karavan Press, 2024) gepubliseer. Hy is een van vele skrywers wat ’n meestersgraad verwerf het. David Medalie is ’n professor in die Departement Engels en direkteur van die Unit for Creative Writing aan die Universiteit van Pretoria. Cynthia Kistasamy het eweneens in In other stories gepubliseer, terwyl Janine Milne in Die laughing (2016) verskyn het. Vuyokazi Ngemntu het nie net in vorige publikasies gepubliseer nie, maar spog ook met ’n indrukwekkende lys van publikasies elders. Yuwinn Kraukamp en Peter-Adrian Altini is ook nie nuut in die kompetisie se kringe nie. Die ererol stop nie hier nie, maar ek het reeds hiermee bewys dat die bundel literêre gesag dra.

Met ’n tema soos “power” is dit vanselfsprekend dat van die verhale handel oor beurtkrag, politiek en seksuele misbruik. Daar is uiteraard ook na die onbetaalde beloftes van demonstrasie en #FeesMustFall gekyk. Die bundel se sukses lê egter nie bloot in sy temas nie, maar in die uiteenlopende maniere waarop die skrywers hulle aanslag loods.

Wat ek nié in so ’n tematies swaar bundel verwag het nie, was humor. Kistasamy en Ross Ian Fleming verras onderskeidelik met “Kameel and the firecracker dog” en “The K word”. Lynn Joffe se verhaal “Homecoming” en Tanya Farber se “Standing still” staan vir my in die besonder uit. So ook Kraukamp se verhaal “The department of small reparations”.

As jy ná ’n lang dag nie krag het om ’n roman aan te pak nie, is Power net vir jou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top