
Skrywer: MS Burger
Titel: Bloedfamilie
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978-0-7981-5739-1
’n Kortverhaalbundel kan maklik ’n paar uitstekende verhale bevat; dit beteken nie noodwendig dat die bundel in sy geheel werk nie. Elke verhaal moet sy eie bestaansreg verdien.
MS Burger se Bloedfamilie (Human & Rousseau, 2012) is meer as ’n versameling losstaande verhale. Die 14 verhale, wat in drie dele verdeel is, vorm ’n samehangende kortverhaalsiklus. Karakters, familieverhoudings, herinneringe en motiewe keer telkens terug en bou geleidelik aan ’n groter verhaal. Dieselfde naamlose eerstepersoonsverteller verskyn deurgaans, met die uitsondering van die derde verhaal, “Kinderspeletjies”, waar Burger van ’n derdepersoonsverteller gebruik maak. Lesers moet fyn oplet waarom sy juis by hiérdie verhaal van haar gebruiklike vertelperspektief afwyk.
Die vorm herinner aan Willemien Brümmer se Die dag toe ek my hare losgemaak het (H&R, 2008), waar afsonderlike verhale deur die ontwikkeling van ’n sentrale karakter tot ’n groter narratiewe geheel saamgevoeg word. Meer onlangs toon Frederick Botha in Seuns weet (Protea, 2026) hoe afsonderlike verhale deur terugkerende karakters, temas en motiewe ’n groter geheel kan vorm.
Aanvanklik staan die familiegeskiedenis sentraal. Daarna verskuif die fokus na seksuele ervarings, geweld en geestesgesondheid. In die laaste deel word die familieproblematiek en seksualiteit verder met mekaar verweef.
Wat my uiteindelik beïndruk, is die konsekwentheid waarmee Burger die 14 verhale tot ’n groter geheel verweef.
Die moederfiguur is een van haar interessantste skeppings ... miskien tref dit my vanweë my eie verlede. In elk geval, vergeet die tradisionele beeld van die moeder as veilige hawe – hier ontdek ons ’n wankelende figuur en ’n bron van onsekerheid en emosionele verwarring.
Die vierde verhaal, “Oom Koos”, bevat een van daardie sinne wat jou, soos daardie onvergeetlike sin in Dis ek, Anna, lewenslank bybly. In hierdie verhaal plaas Burger die kind se verwarring oor haar moeder se buite-egtelike verhouding sentraal; sy dra die kind se verwarring meesterlik oor. Eerder as om die emosies netjies te benoem, gebruik sy ’n speelse, soms chaotiese opeenstapeling van klanke, bewegings en beelde. Dit voel asof die kind nog nie die woorde het om haar woede en verwarring behoorlik uit te druk nie – tot by die slot.
“Sere in die mond” se openingsin, “Ek het nie gedink ek sal weer ’n verhaal oor my ma skryf nie”, sê eintlik alles. Wat my hier beïndruk, is dat die skryfproses self deel van die verhaal vorm. Die verteller ontdek vorige tekste oor haar moeder, redigeer dit, herskryf gedeeltes en voeg verskillende weergawes saam om ’n nuwe verhaal te skep.
Hierdie tegniek het my aan Koos Prinsloo laat dink. In van sy verhale word die grense tussen herinnering, werklikheid en fiksie dikwels doelbewus vertroebel. Die skryfhandeling is nie bloot die manier waarop die verhaal vertel word nie; dit word deel van die verhaal. Waar hy dikwels die leser se sekerhede oor dokumentasie, herinnering en fiksie bevraagteken, probeer Burger se verteller deur die herskryf van vorige verhale haar eie geskiedenis verwerk.
Een van Burger se sterkste eienskappe is haar onverskrokke hantering van die liggaam. Seksualiteit, wonde, bloed, geweld en liggaamlike ongemak word nie versag om die leser gemaklik te laat voel nie. Die kru taal is nie bloot vir skokeffek nie; dit gee gestalte aan die verteller se verwonding en aan emosies waarvoor gewone, afgeronde taal soms ontoereikend is.
In “Die affair” (Slagplaas, 1992) skroom Prinsloo eweneens nie om die liggaam en seksuele intimiteit in hul konkreetste vorm te beskryf nie. By albei skrywers word liggaamlikheid nie verromantiseer nie. Dit is dikwels juis die ongemaklike besonderhede wat die menslike ervaring geloofwaardig maak.
Burger se hantering van die wond in “Wildekus” is ’n goeie voorbeeld. Die fisieke besering word deel van die verteller se emosionele verhouding met haar verlede en haar moeder. Die liggaam onthou soms dit wat die mens nie in gewone taal kan verwerk nie.
Botha se Seuns weet bied ’n verdere gesprek met Burger se bundel. Die verband is trouens nie bloot ’n ooreenkoms wat die leser self raaksien nie: Botha het uitdruklik erken dat Bloedfamilie as inspirasie vir sy eie kortverhaalsiklus gedien het. Hy beskryf Seuns weet selfs as ’n soort gay manlike reaksie op Burger se lesbiese verteller. Die twee bundels is dus interessant om saam te lees, veral ten opsigte van seksualiteit, liggaamlikheid, familie en identiteitsvorming.
In Burger se eerste verhaal in deel 2, “Die stripper”, word die vroulike liggaam aan ander se blik blootgestel, binne die wêreld van openbare vermaak. Aanvanklik is die stripper bloot deel van ’n vertoning. Wanneer die verteller haar egter buite die optrede waarneem, begin iets van haar private bestaan deurskemer. Die mens agter die liggaam is natuurlik heelwat ingewikkelder as die beeld waarvoor die gehoor betaal.
Dit het my aan Murray la Vita se hantering van die vroulike liggaam in “Naakstudie” (Speel, Woordfeesbundel, 2024) herinner. In “Naakstudie” maak Maarten ’n naakstudie van Zenda. Die skildery word uiteindelik veel meer as ’n kunswerk. Dit word ’n voorwerp van begeerte, ongemak en besit. Wie besit immers die beeld van ’n mens? Die kunstenaar wat dit geskep het, of die persoon wie se liggaam uitgebeeld word?
Albei verhale laat jou nadink oor die mag van die waarnemer. Om na iemand te kyk, beteken immers nie dat jy daardie persoon ken nie.
Deborah Steinmair se kortverhaal “Maria & Bob & die Bruces” (Jonk, Woordfeesbundel, 2019) sluit by hierdie gedagte aan. Maria gebruik Bob as materiaal vir haar verbeeldingswêreld en probeer hom in ’n karakter omskep. Steinmair se selfbewuste vertelstruktuur, ironie en humor maak die leser bewus van die skrywer se mag om ander mense te skep en te interpreteer.
In Burger se “Wildekus” – wat vroeër in Pomp 12 verskyn het – bring die terugkeer na die moeder se omgewing ou seerkry en onopgeloste familieverhoudings na vore. In Frederik de Jager se kortverhaal “Rooi” (Speel, Woordfeesbundel, 2024) bring Niek se herontmoeting met Iggy, ’n voormalige skoolmaat, ’n hele verlede van herinneringe, begeerte en seksuele identiteit na die oppervlak. Die verhaal ondersoek ook wat met begeerte gebeur wanneer ’n mens ouer word.
In albei verhale is die verlede nie iets wat net agter die karakters lê nie – dit loop saam met hulle en beïnvloed hul huidige verhoudings. De Jager fokus sterker op ouderdom, begeerte en herinnering, terwyl Burger die familiegeskiedenis en die emosionele letsels daarvan vooropstel.
Hoe meer mens in die bundel delf, hoe dieper word die simboliek van die voorblad. Ses naakte, mannekynagtige figure staan in ’n ry agter mekaar, hul gesigte almal in profiel na regs weggedraai. Die herhaling van die figure roep die beeld van ’n familielyn op: mense wat aan mekaar verwant is en tog elkeen ’n eie identiteit behoort te hê. Die naaktheid stel hulle bloot en kan die menslike liggaam as ’n ruimte van kwesbaarheid, pyn, seksualiteit en identiteit voorstel. Tog is daar iets onheilspellends aan die figure se ooreenkomste en hul winkelpopagtige voorkoms. Hulle lyk soos mense, maar het geen eie stem nie. Dalk lê hierin ook iets van die bundel se groter vraag: Hoeveel van ons identiteit behoort werklik aan ons, en hoeveel word deur die familie waarin ons gebore word, gevorm?
Bloedfamilie is met die Jan Rabie-Rapport-prys 2013 bekroon. Dit is beslis ’n bundel om te versamel en te herlees. Weer en weer.

