Kortliks met Stefaans: 4 Februarie 2025

  • 0

Ons almal hou van ’n goeie politieke skandaal. Dink aan die nuusgebeure rondom Vlakplaas en die BSB se moordbendes in die doodsnikke van apartheid; om nie eens te praat nie van die renosterstropery of die eilandboek (waarvan ons nie mag praat nie)!

Wat sal die groot kokkedore alles doen om hulle geheim stil te hou?

Dit was die donker tye van ons land se geskiedenis! Zuma het ook die deur oopgemaak vir goeie politieke spanningsromans.

Ek weet: Als wat ek sê, klink soos ’n komplot, maar juis! Samesweringsteorieë maak goeie stories. En in fiksie hoef alles mos nie kosjer te wees nie – net die moontlikheid dat dit waar kon wees is, lok lesers. Dink byvoorbeeld aan Die vierde kabinet wat in die middel ’90’s kykers voor TV-skerms vasgenael gehou het.

Mike Nicol wend ons politieke verlede meesterlik aan in sy boeke wanneer hy dit kombineer met die hede. Deon Meyer het ook al suksesvol aan die politieke spanningsroman geraak. Beide Chris Karsten (Seisoen van sonde) en Johan Jack Smith (Zola) het die resep volgens my vervolmaak.

In die Amerikaanse konteks is Nelson DeMille se The general’s daughter en Stephen Hunter se Point of impact seker die beste voorbeelde. Lee Child kraai egter koning.

Skrywer: Lee Child
Titel: One shot en The hard way
Uitgewer: Bantam Press
ISBN: 0-593-05411-3 & 0-593-05500-4

In One Shot, die negende Jack Reacher-boek, word James Barr gearresteer nadat ’n skerpskutter op die publiek losgetrek het. Vyf mense is dood. Barr is ’n voormalige skerpskutter wat 14 jaar gelede gecrack en vier mense doodgeskiet het. Alle vingers wys na hom – totdat Reacher, ’n voormalige majoor in die militêre polisie, opdaag ...

Wat my van die boek laat hou, is eerstens Child se skryfstyl. Kort sinne. Amper soos ons op skool leer skryf het. Kyk net hier: “The man with the rifle drove north. Not fast, not slow. Not drawing attention. Not standing out” (bl 9).

Kort sinne versnel ’n boek se tempo en werk goed in spanningsliteratuur. Wat ook tot die spanning bydra, is Child se vermoë om die lesers heeltyd op hoogte te hou van die tyd. Daarby het die skrywer ’n skerp oog vir detail.

As dit nie Barr was wat die skote gevuur het nie – wie was dit? Hoekom? Belangriker nog: Wat sal hy – hulle – alles doen om die geheim te hou?

Ek was gek oor die filmweergawe van The general’s daughter en Shooter (die naam waaronder Point of impact verfilm is), maar nie oor One shot nie. Tom Cruise was nie op my lys van keuses vir Reacher nie. Ek het eerder vir John Travolta, Gerard Butler, Liam Neeson, Ben Affleck, Matt Damon of Mark Wahlberg in die rol gesien. Reacher is immers ’n reus, ’n harde man.

Ek weet daar was nog ’n Reacher-film, maar ek het dit weens Cruise nie gekyk nie. Ek sal wel The hard way kyk as dit verfilm word, ongeag die akteur, so goed was die boek. Dit is my gunsteling-Reacher-boek.

Net soos in One shot, is daar ’n groter komplot. Ek dink net Child het dit beter beplan. Meer afdraaipaaie.

Kate Lane en haar dogter, Jade, word ontvoer. Die ontvoerders eis eenmiljoen dollar, in kontant. Ons weet dat dit nie die laaste keer gaan wees nie en wonder wat gaan gebeur as Kate se man, Edward, nie meer geld het om te betaal nie. Nog ’n Man on fire?

Ons wonder ook hoekom Kate geteiken is. Verder vind ons uit dat Edward se eerste vrou vyf jaar gelde ontvoer is, dat sy nooit lewendig teruggekom het nie. Is daar ’n verband? Wat is dit? En hoe pas sy militêre verlede by alles in?

Soos die storie omvou, stuur Child my op die een dwaalspoor na die ander een.

Net een ding het my gepla: Reacher se vermoë om tyd akkuraat weer te gee sonder ’n horlosie. Dit word ’n paar keer gedemonstreer.

In One shot, The hard way se voorganger, lees ons:

Reacher checked his watch. (ble 56, 108)

Reacher checked his watch again, and waited. (bl 217)

Daar kan dalk nog ’n paar wees; ek het net vinnig gesoek omdat ek geweet het dat ek dit gelees het. Na drie keer (of meer) is dit onmoontlik om die gedagte skielik af te gooi.

Skrywer: Chris Hauty
Titel: Deep state
Uitgewer: Simon & Schuster
ISBN: 978-1-4711-8563-2

Enige boek wat hierdie leser na ’n Lee Child aanpak, gaan die dwarslat mis. Dalk is dit Chris Hauty se Deep state se grootste sonde en moet jy nie my opinie lees nie.

Tog.

Waar Child kort sinne aanwend, verkies die draaiboekskrywer lang sinne en nog langer paragrawe. Dit vertraag uiteraard die tempo van die boek. Omdat die omgewing te veel beskryf word, vertraag dit die tempo nog verder. Dit is asof die boek sukkel om aan die gang te kom. En as dit nie genoeg is nie, pla al die onnodige inligting oor wat met kleiner karakters in die toekoms sou kon gebeur ook.

Verder, waar ’n gewone Joe in ’n agent verander te midde van ’n dodelike samesweringskomplot, soos wat ons gesien het in James Grady se klasieke 1974-blitsverkoper Three days of the condor, James Swallow se Dark horizon en Matthew Quirk se The night agent, het Hayley Chill ’n militêre agtergrond. Sy is té wonderlik om geloofwaardig te wees, en myns insiens is sy boonop onderontwikkel.

Dit is een van daardie boeke waaraan ek te veel tyd en geld gemors het.

...
As jy van Child se boeke hou, of Smith se Zola weer gelees het, is Conyer se debuut-spanningsverhaal, Present tense, net vir jou.
...

Skrywer: Natalie Conyer
Titel: Present tense
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 978-1-4859-0489-2

Piet Pieterse is voormalige lid van BOSS. Ek lees: “Apartheid’s Bureau of State Security. Murders, tortures, bombers, general doers of evil. Famous for it, for getting away with it via the Truth and Reconciliation Commission” (bl 8).

Hy word vermoor deur ’n tyre and necklace, ’n teregstellingsmetode uit die apartheidsera wat gebruik is om verklikkers in die townships te vermoor. Met ander woorde, dit is ’n warm patat van ’n saak. Veral kort voor ’n verkiesing.

Kaptein Schalk Lourens moet die saak oplos, want “[w]e don’t want to be accused of not doing the best to find Pieterse’s killer, no matter what the man himself did, or was” (bl 23).

Wat wil jy meer van ’n boek hê?

Natalie Conyer, wie se kortverhale al verskeie pryse ingepalm het, weet hoe om haar woorde ekonomies te gebruik; dit dra by tot die spanning. As jy van Child se boeke hou, of Smith se Zola weer gelees het, is Conyer se debuut-spanningsverhaal, Present tense, net vir jou. Sy is een van ons Suid-Afrikaans-gebore skatte wat werd is om te ontdek. Ek is ook dankbaar om te sien dat Lourens voortleef in Present darkness.

Lees ook:

Dark Horizon deur James Swallow: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top