Kort balletuittreksels laaf die siel

  • 0

Cape Ballet Africa in Michelle Reid se Smoke (Foto: Paul Seaby)

Midde-in ’n baie besige paar weke, beland die uitnodiging vir Cape Ballet Africa se Petite Giselle en SALT-ed by The Drama Factory in Strand in my inboks. My instink sê dat die hope wasgoed, e-posse en papierwerk wat die laaste paar weke agterweë gebly het, eerder my aandag gaan verg, maar ek maak ’n selfsugtige besluit om eerder ’n Saterdagmiddag hieraan te wy.

Ek nooi my vriendin saam. Ons kuier voor die vertoning by die teater met ’n glasie yskoue Villiera Brut-vonkelwyn. Sy vra uit oor die program, want ek het ná die KKNK, waar SALT deur dié geselskap my regtig betower het, al soveel male daaroor gesels.

Die vertoning wat wag, bied uittreksels uit die internasionale choreograaf en regisseur, Maina Gielgud, se tradisionele Giselle en ook Michelle Reid se stomende Smoke, wat deel is van Cape Ballet Africa se gewilde driedubbele program SALT.

Maina Gielgud, internasionale choreograaf, danser en regisseur, bied geselekteerde hoogtepunte uit die gewilde klassieke Giselle, ’n romantiese verhaal van onskuldige liefde en verraad. Maina het met geselskappe regoor die wêreld gedans, waaronder Sadlers Wells Royal Ballet, Scottish Ballet, Australian Ballet, Ballet Nacional de Cuba, CAPAB, PACT en die London Festival Ballet. Sy was ook die direkteur/mede-direkteur van die Australian Ballet, Royal Danish Ballet en Houston Ballet.

Daarbenewens sal ons die geleentheid hê om die eerste Suid-Afrikaanse opvoerings van Kirsten Isenberg se nuwe pas de deux, Nocturne, te geniet, wat by die gesogte internasionale Benois de la Danse 2025 sy première gehad het.

Ek geniet dit om dinge saam met vriende te doen wat nie so gereeld in die teater kom, of ’n wynproe doen, of nuwe disse ervaar nie. My werk as joernalis van al die lekker dinge in die lewe gee my ongelooflike voorregte, maar maak ook soms dat mens dalk kan afstomp oor die uniekheid en heerlikheid van dinge. Dis asof vriende se opregte genot van daardie nuwigheid jou terugbring aarde toe, stadiger laat asemhaal en regtig ervaar.

Ek voel hoe die gejaag uit my lyf wyk. Hoe die melankoliese klanke van Adolphe Adam se musiek in Giselle my spinnerakke wegvee. Hoe die wasige net van die ballerina se romp lyk soos die punte van ’n spierwit swaan se fyn vlerkveertjies. Dis so stil en intiem in die teater dat jy die getik-tik-tik van die ballerinas se puntskoene kan hoor. Die hartseer op die dansers se gesigte is so duidelik sigbaar, omdat hulle so naby is.

In Nocturne – die intieme ontmoeting van twee dansers in eenvoudige swart kostuums tussen skemer en sonop – is amper poëties in die eenvoud. Met hul atletiese liggame wat op maat van Chopin se musiek beweeg, besef jy die oomblik tussen hulle is vlietend – net so vlietend soos die genotvolle oomblikke in die teater.

Niemand is op hul selfone nie; niemand praat nie. Die magiese krag van ballet, met ’n effense kinkel danksy briljante choreografie, pragtige kostuums en talentvolle dansers, het almal vasgevang. Vir daardie heilige 60 minute is dit net saligheid in jou lyf.

Ek kyk na my vriendin se gesig in die teaterskemerte. Sy is heeltemal meegevoer. Toe die dansers in hul rooi kostuums op die verhoog kom in Smoke, ’n smeulende jazz-geïnspireerde dans, klap sy spontaan en haar lyf begin op die ritme van die meesleurende musiek saamwieg.

Met “Papa was a rollin’ stone” deur The Temptations lig die atmosfeer in die teater. Die amper opruiende jazz-aanslag vervang die melankolie en kopstilte van die vorige stukke. Die dansers wriemel en rol hul lywe in iets tussen robotagtige bewegings, vervleg met tango-draaie en -swaaie. Ek is sommer weer terug in La Boca in Buenos Aires waar die tango-dansers jou op die straat vermaak.

Michelle Reid se choreografie is uitstekend en bou die middag se vertoning op na ’n hartkloppende finalé.

Ek kan heeltemal verstaan hoekom die vorige twee speelvakke van Cape Ballet Africa uitverkoop is by The Drama Factory. Wat is dan nou lekkerder om jou vriendinne by die teater te ontmoet – ’n katspoegie van jou huis – en met ’n glas borrels of rooiwyn jou hele wese oor te gee aan die mooi van dié vertoning? Geen laatnag-ryery op die N2 of R300 na ’n teater toe nie.

Enige kritiek? O, beslis! 60 minute is te kort! Ek sou heelmiddag daar in die skemerte na ballet – in al sy vorms – kon kyk ...

Kayla Schultze in SALT (Foto: Oscar O Ryan)

Natuurlik is daar groot opgewondenheid toe ek na afloop van die vertoning hoor SALT met Debbie Turner as choreograaf is van 17–27 September by Theatre on the Bay. Kaartjies kos R350–R400. Bespreek deur Webtickets.

Dis ook by die Toyota Stellenbosch Woordfees op 14 Oktober om 17:00, 16 Oktober om 20:30 en 17 Oktober om 20:00 in die Adam Small Ouditorium. Kaartjies kos R190–R290 of R220–R320 by die deur. Bespreek deur Quicket.

Maina Gielgud se vollengte Giselle is van 13–22 November 2025 by die Baxter-teater op die planke. Kaartjies kos R200–R495. Bespreek deur Webtickets.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top