Koronavirus open ons oë

  • 1

Die mens is tot stilstand gedwing en die aarde skep asem. In dorpe en stede die wêreld oor loop wilde diere in strate omdat die mens afwesig is. Die lug is skoon en alles met longe, selfs plante, is dankbaar vir die afwesigheid van motors en vliegtuie, en dít wat roer as gevolg van binnebrandmasjiene.

Na “lockdown” kan ons nie teruggaan na hoe dit was nie. Ja, vliegtuie en motors sal steeds daar wees, maar die soeke na ’n oplossing om te verseker dat die aarde self sy eie nodige koolsuurgas voorsien, moet met net soveel erns benader word as die soeke na ’n entstof om die koronavirus hok te slaan. Die mens, diere en plante se voortbestaan is in gedrang as gevolg van ’n oormaat koolsuurgas wat tot aardverwarming lei … en dis alles die mens se toedoen. Ons skuld ons siek aarde ’n groot verskoning.

So, wat kan ek (slegs ’n druppel in die emmer) doen om die aarde se koors te breek?

Milaan in Italië het reeds die eerste ernstige stap gedoen deur die bane vir motors minder te maak en fietsbane breër. Stellenbosch is ook hard aan die werk om fietsry te bevorder as gevolg van die voordele wat dit nie net vir die persoon op die saal inhou nie, maar ook vir die dorp in sy geheel en alle ander aardbewoners, want trapfietse het nie uitlaatpype nie. Stadsbeplanners werk glo reeds daaraan om strate veiliger en meer aanloklik te maak vir fietsryers. Soos ons destyds, sal duisende kinders weer met hul fietse skool toe ry; die opeenhoping van motors by skole – twee keer per dag – sal mettertyd soos mis verdwyn.

Die gewildheid waarmee fietsry in die 21ste eeu toeneem, kan met die Oerknal vergelyk word. Die tempo waarteen dit versnel, is soos die klankgolwe van die Knal – al wyer en vinniger. Elektriese fietse het hul verskyning gemaak en is besonder gewild onder ouer mense wat brandstofbesparing en matige oefening verlang. Deur ’n knoppie te druk kan jy kies hoeveel hulp die elektriese motor moet voorsien, onder andere afhangende van die terrein waar jy ry. Kan ons aanneem dat ons oor 30 jaar slegs elektriese voertuie op ons paaie sal toelaat – of is daar nog mense wat nie die gevaartekens kan sien wat “lockdown” vir ons uitgelig het nie?

Kom ons omhels ’n rustiger en gesonder lewenstyl en ry met fietse om te kom waar ons wil wees, hetsy werk, winkels of ontspanning, en sodoende vir ons nageslag ’n gesonder aarde na te laat. Moontlik kan werkgewers selfs stortgeriewe voorsien, en veilige parkering vir die fietse, om gelukkiger werkers en beter diens te bevorder.

Dink aan die opgewondenheid van ’n kleuter wat leer fietsry: daardie eerste paar treë wanneer hy agterkom dat Pa nie meer die saal vashou nie; die ongeloof in die oë wanneer sy besef sy ry nou op haar eie. Dis ’n grootwordoomblik, ’n fietsry-oomblik wat aan die lewe gehou moet word omdat dit soveel voordele inhou.

Dankie aan almal wat reeds met hul fietse ’n bydrae lewer om vir die nageslag ’n gesonder aarde te verseker. Elke druppel kan ’n verskil maak.

  • Pieter Loots se boek het onlangs verskyn en hier is nog besonderhede:

Uitgewers : Groep 7 Drukkers (Pty) Ltd
www.groep7.co.za
ISBN : 978-1-928456-53-7
  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top