Korona-paranoia tref die wêreld

  • 3

Fotobron: Pixabay

Is die koronavirus wat wêreldwyd besig is om soos ’n veldbrand te versprei ’n geval van gogga maak vir baba bang, of het die wêreld  rede tot ernstige kommer? Dit is waaroor daar die afgelope weke om braaivleisvure en op sosiale media gegons word.

Terwyl die virus besig om ook in Suid-Afrika by die een die na die ander provinsie in die land aan te klop, wonder mense hoe bekommerd hulle regtig moet wees.

Kenners is dit oor die algemeen eens dat daar geen rede vir paniek is nie. Hulle sê Suid-Afrikaners moet kalm bly. Dit is egter nie net die koronavirus wat besig is om wêreldwyd soos ’n veldbrand te versprei nie. Fopnuus en paniek rakende die virus versprei duisend maal vinniger as die virus self.

In Australië het twee vroue mekaar te lyf gegaan in ’n kettingwinkel oor ’n pak toiletpapier. Nugter weet hoe toiletpapier die virus gaan keer. Daar was so ’n stormloop om toiletpapier in die hande te kry toe die virus begin versprei dat winkels in Australië klante toegelaat het om slegs een pak toiletpapier te koop. Een van die klante het haar nie daaraan gesteur nie. Sy het haar hele trollie vol toiletpapier gelaai. Toe iemand anders die laaste pak toiletpapier van die rak wou neem, het die vrou met die oorvol trollie dit by haar gegryp. Dit het byna in ’n vuisgeveg ontaard en die  winkeleienaar moes die vegtende vroue uitmekaar hou.

In Suid-Afrika word daar gelukkig nog nie vuis geslaan oor toiletpapier nie. Handewasmiddels verkoop egter soos soetkoek en verbruikers kla dat party winkels se prys oornag die hoogte ingeskiet het.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, probeer al sedert verlede naweek vure doodslaan. Hy het Suid-Afrikaners die versekering gegee dat daar geen rede tot paniek is nie. Hy sê die departement se pogings om al die mense op te spoor wat in kontak was met diegene wat met Covid-19 gediagnoseer is, tot dusver suksesvol was.

Dr Jantjie Taljaard van die afdeling aansteeklike siektes by Tygerberg-hospitaal het aan Netwer24 gesê korona is ’n groep virusse wat normaalweg verkoue veroorsaak. Daar is die afgelope 20 jaar egter nuwe koronavirusse geïdentifiseer wat die genetiese oorsprong geneem het van virusse wat normaalweg in diere voorkom na virusse wat mense kan aansteek.

Drie voorbeelde is SARS-CoV wat in 2022/2013 in China ontstaan het, MERS-Cov wat in 2012 in Saoedi-Arabië geïdentifiseer is en die 2019-Cov wat op die oomblik die wêreld op hol het en selfs die wêreld se ekonomie laat bokspronge maak.

Volgens Taljaard lyk dit of die bron van infeksie in al drie gevalle vlermuise was, met ’n intermediêre dier. In die geval van SARS was dit ’n sivetkat, in MERS se geval ’n kameelperd, terwyl die intermediêre dier in die geval van die huidige virus steeds onbekend is.

Daar is skynbaar ook nie net een stam wat COVID-19 veroorsaak nie; daar is twee stamme  van die nuwe koronavirus wat wêreldwyd versprei, sê ’n kenner wat 103 gevalle geanaliseer het. Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê egter daar is geen bewyse dat die virus verander nie.

Virusse is in elk geval altyd besig om te muteer, en veral RNA-virusse soos die huidige virus en SARS. Meer hieroor kan op Newscientists se webwerf gelees word.

Tot dusver kom Afrika besonder lig daarvan af. Kenners weet steeds nie regtig waarom daar so min gevalle van die koronavirus in Afrika aangemeld is nie. Dit ten spyte van die feit dat China, wat die oorsprong van die virus is, Afrika met sy 1,3 miljard mense se grootste handelsvennoot is.

Die verspreiding van die virus in Afrika is ’n groot kommer, omdat baie van die lande op die kontinent se gesondheidsdienste veel te wense oorlaat. Afrika staar reeds ’n byna onoorkomelike probleem in die gesig om siektes soos tuberkulose en vigs te probeer hokslaan.

‘n Ander medikus, Leon Retief, het aan LitNet gesê hy dink nie Suid-Afrika  het die mannekrag of fasiliteite indien die koronavirus op groot skaal in Suid-Afrika sou uitbreek nie. Hy sê mens moet egter versigtig wees om dit kategories te stel dat daar ’n landwye krisis sal wees. Mens moet voorbereid wees op dit wat dalk mag gebeur sonder om paniekerig te raak.

Die VSA het hom daartoe verbind om sowat agt miljoen rand aan die Suid-Afrikaanse regering beskikbaar te stel om met die hantering van die COVID-19-pandemie te help. Die waarnemende direkteur van USAID in Suid-Afrika, Natasha de Marcken, sê die Amerikaanse regering is beïndruk met die manier waarop die Suid-Afrikaanse regering inligting oor die virus deel. Amerika het intussen ’n reisverbod van 30 dae van Europa na die VSA ingestel nadat meer as duisend Amerikaners positief vir die siekte getoets het. President Donald Trump het die aankondiging op televisie gemaak

Oor die talle boererate wat die rondte doen sê Retief daar is ’n moontlikheid dat sinkaanvullings mag help. Hy sê hy is nie ’n aanhanger van aanvullings nie, maar hier mag dit dalk nuttig wees.

Die koronavirus is nie slegs ’n mediese virus nie. Dit is ook ’n mediavirus wat die wêreld se ekonomie geskud het. Ekonome beskryf dit as ’n swart swaan, ’n term wat veral in die ekonomie gebruik word wanneer daar iets gebeur wat niemand voorsien het nie en krisisafmetings aanneem.

Antoni van Nieuwkerk het tydens ’n paneelbespreking by die Toyota US Woordfees op Stellenbosch gesê die koronavirus gaan die wêreld en Suid-Afrika se nasionale ekonomieë rampspoedig beïnvloed. Hy sê die ekonomiese invloed van die virus is reeds in Suid-Afrika sigbaar.

Van die sektore wat die swaarste getref word, is toerisme, mynbou en telekommunikasie. Tagtig persent van die selfone in die land word in China gemaak. Terwyl die virus aktief is en die mense nie werk nie, voer China nie uit nie. China is ook Suid-Afrika se grootste handelsvennoot.

Ook op sportgebied saai die virus chaos en het dit wêreldsport in ’n warboel gedompel. Talle belangrike internasionale sportbyeenkomste is reeds gekanselleer en daar hang ’n vraagteken van onsekerheid oor talle byeenkomste. Dieselfde geld vir internasionale kongresse.

In Suid-Afrika verloop dinge tot dusver nog heel normaal. Daar is geen aanduiding dat die virus enige effek gehad het op die bywoning van die afgelope week se Woordfees op Stellenbosch nie. Die meeste feesgangers groet mekaar steeds met die hand en gebruik nie die sogenaamde voetgroet wat deesdae in sommige lande posvat waar die virus groter afmetings aanneem nie. Indien die virus vinnig versprei, kan dit egter ook nadelige gevolge vir Suid-Afrikaanse byeenkomste hê. Dink maar aan die KKNK wat eersdaags begin, en verskeie sportgeleenthede en ander feeste

Dat die virus ’n ernstige pandemie is en meer as net ’n gewone verkouekiem, is ’n feit soos ’n koei. Om egter histeries te raak en op hol te gaan daaroor gaan niemand baat nie. Daar gaan in elk geval elke dag baie meer mense dood in motorongelukke of aan hartaanvalle as aan die koronavirus.

Indien mens al die virusse en kieme in ag neem wat die rondte doen, is die koronavirus maar ’n druppel aan die emmer.  As daar een positiewe aspek is wat uit hierdie pandemie na vore gekom het, is dit om mense opnuut bewus te maak van gesonde higiëne. Eenvoudige dinge soos gereeld hande was en om ’n sakdoek of sneespapier saam te dra en daarin te hoes as mens verkoue het, is skielik weer belangrik.

Die meeste mense wat die virus opdoen, herstel daarvan.

Wat egter kommerwekkend is, is dat mense wat gesond geword het van die virus en uit hospitale ontslaan is, later weer positief daarvoor getoets is. Gesondheidsowerhede in China sê sowat 14 persent van pasiënte wat van COVID-19 herstel het en uit die hospitaal ontslaan is, weer positief getoets het. Dieselfde verskynsel is in Japan aangemeld nadat ’n vrou in haar veertigs vir die tweede keer positief getoets het nadat sy ontslaan is.

Hier is ’n webwerf om te besoek indien jy meer te wete wil kom oor die virus en watter voorsorg getref behoort te word.

Hierdie skakel geld vir die VSA, maar is ook van toepassing, of potensieel van toepassing, op Suid-Afrika.

Italië het nie meer genoeg ventilators nie; niemand bo 65 word meer tot waakeenhede  toegelaat nie. Dieselfde kan in Suid-Afrika gebeur. Nie sal nie, maar kan.

Sien ook: https://lionbridge.ai/datasets/coronavirus-datasets-from-every-country/?fbclid=IwAR3q2T-iG-ANnl6pz0d-qS53sKTzAnmvZfMXUeX9EKdl2Qk1VM9OUiZqeDU.

Lees ook:

Crippling fear of Corona becomes a South African reality

  • 3

Kommentaar

  • Hans Richardt

    Ai, SARS-COVID is al vanaf 2002 met ons. Die gewone griep is 1 van 7 tipes Corona-virus. In SA gaan gemiddeld 6000 dood aan Griep/influenza jaarliks.
    In 18 jaar is die dit eerstemaal wat die virus 'n pandemie verklaar word. Behalwe afsondering, is daar geen medikasie.

  • Deskundiges tot stilswye gedwing.

    https://www.news24.com/SouthAfrica/News/information-squeeze-covid-19-scientists-experts-in-sa-silenced-as-government-centralises-communication-20200318

    News24-berig lees soos volg:
    “Government has effectively gagged epidemiologists, virologists, infectious disease specialists and other experts on Covid-19 with an instruction that all requests for comment about the state of the pandemic, the virus itself and its spread should be directed to the National Institute for Communicable Diseases (NICD).

    Several senior and experienced scientists told News24 directly that they were requested not to speak to the media and to direct all communications to the NICD.

    The Ministry of Health confirmed this, saying that communications around the coronavirus needed to be ‘tightened’ and that experts needed to be left alone to do their work.

    This means that, for the most part, with a few exceptions, only government’s version of the spread of the virus is reaching the public.”

    Wat is die implikasie hiervan op persvryheid, asook videos op die internet? Die Youtube-videoskakel vervat in my vorige kommentaar het reeds meer as 20 miljoen kykers opgelewer.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top