Koos Kombuis: "Die liedjies het hulleself geskryf"

  • 0

Koos Kombuis se nuwe album, Langpad na Lekkersing, is pas uitgereik. Hy beantwoord 'n paar vrae oor die musiek, die politieke landskap, en skarebefondsing.

Goeiedag, Koos. Hoe's dinge deesdae? 

Baie goed, dankie, Henry. Ek maak myself sielkundig gereed vir 'n post-Zuma bestaan. Mag die hoop nie beskaam nie. 

Baie geluk met die nuwe album! Dit is op meer as een manier 'n verrassende album – onder meer die intieme, rustige, amper hartseer drade wat deur die liedere loop. Tot hoe 'n mate was dit 'n doelbewuste besluit – dat jy nou, in terme van waar jou loopbaan is, en ook hoe die tydsgees lyk, só 'n meer ingekeerde versameling liedere wou skep? Of was dit bloot wat gevloei het toe jy gaan sit en skryf? Dink jy sommige aanhangers sal dalk teleurgesteld wees met die gebrek aan uit-en-uit "snaakse" liedjies? Selfs "Cool Paradys" is kwalik 'n komedie ...

Dankie, ek is bly jy hou van die album. Eintlik het die liedjies hulleself geskryf. Om die waarheid te sê, ek het baie hard probeer om nié nuwe liedjies te skryf nie. Toe kom die donnerse blou maan oor my pad. En toe besef ek ek kan nog nie aftree nie. Ek was absoluut gereed en bereid om net nog 'n outoppie te word met 'n snaakse kortbroek en dun wit beentjies wat glo die hemel is in die platteland. Toe tref die muses my weer met 'n stink spoed.

En, jy's reg, dit was nie snaaks nie. Dit is moeilik om in hierdie tye iets te kry om oor te lag. 2016 was 'n moeilike, hartseer jaar. Omtrent 200 celebrities is dood, en Victor Matfield het finaal afgetree. Die tyd was reg vir 'n ernstige en emosionele CD, het ek gevoel.

Een van die uitskietersnitte (hoewel elkeen waarlik uit eie reg bedonnerd is!) is "Ek wil net huis toe gaan", wat saam met David Kramer geskryf en opgeneem is. Hoe het dit gebeur dat julle saamgespan het vir hierdie snit? Het julle saam besluit op 'n tema en julself in 'n kamer (werklik of digitaal) toegesluit, of hoe het dit gebeur? Wat is die lekkerste elemente daaraan om saam met hom te werk, en is daar enige uitdagings betrokke?

Langpad na Lekkersing is, soos jy weet, opgedra aan David Kramer. Daar was 'n oomblik, verlede jaar tydens die Naledi Berge Nog so Blou-show in Oudtshoorn, toe ek en Pietman 'n duet doen van David se liedjie "Jy's my Sweetheart", toe die idee my soos 'n bom tref: dis lekker om te sing! Daai song het my teruggevat na my musikale roots. Dit was destyds my temaliedjie toe ek op Kannetjie verlief geraak het. Dit het my herinner hoekom ek ooit in die eerste plek musiek begin maak het.

Toe ek nou eers vir David laat weet ek dra die album aan hom op, en hom vra of hy 'n draai in die studio wil maak, toe verras hy my deur een van die liedjies saam met my te help skryf. Hy het ook raad gegee oor die res van die album en Schalk Joubert gehelp kies aan die materiaal. Sy ervaring en ondersteuning was goud werd vir hierdie album!


David Kramer en Schalk Joubert. Foto: Verskaf

Dis interessant dat daar twee Engelse liedere op die album is – "The intergalactic muesli song" en "The universe is weightless". Dit voel of hulle beide in tema en gevoel sterk by mekaar aansluit. Is dit vir jou gemakliker om kosmosverwante temas in jou liedjies in Engels te verken? Of het dit toevallig so gebeur? Is daar 'n noemenswaardige verskil tussen waaroor jy graag skryf in Engels en Afrikaans? Het dit iets te doen met 'n ander "stem" in jou kop wat aanskakel, of hou mens in gedagte wat die gehoor en/of aanhangers verwag en verlang in die onderskeie tale?

My vrou sê ek sing altyd 'n oktaaf hoër as ek in Engels sing. Ek weet nie hoe dit gebeur nie. Wel, al hoe meer van my ou vriende raak deesdae geïnteresseerd in selfontdekking en die kosmos, so ek is seker nie alleen nie? Aangesien Erns Grundling gaan stap het in Spanje, en Maryna Blomerus 'n boek geskryf het oor kwantumfisika, mag ek seker spekuleer oor die Melkweg! Van kleins af wonder ek of daar regtig melk in die Melkweg is. Vandaar my obsessie met ontbytgraankosse en sterrekunde.

Die Engelse liedjies was eintlik deel van 'n langtermynprojek, "Songs From a Cluttered Kitchen", en ek sit nog met 'n klomp van daai songs wat nie hierdie album gehaal het nie. Dalk gaan my volgende album net oor brekfis cereals en outer space, wie weet? Ek sal solank Weigh-Less of Vital nader vir 'n moontlike borgskap ...

Langpad na Lekkersing is ook 'n besonder polities/maatskaplik-bewuste album (soos ons natuurlik sou hoop!). Voel jy, as liedskrywer en kulturele figuur met 'n groot groep volgelinge, 'n soort verantwoordelikheid om luisteraars te betrek as medereisigers van 'n sekere soort, om te deel in die interpretasie van wat om ons aangaan? Hoe dink jy het die manier waarop jy dinge waarneem, en ook hoe jy hierdie waarnemings "voorlê" in jou songs, verander oor die afgelope paar jaar? Hoe beskou jy die betrokkenheid (of gebrek daaraan) van nuwe/jonger plaaslike kunstenaars by hierdie soort interpretasies, en hoe sou jy dit graag wou sien ontwikkel?

My eerste gedagte toe ek die crowdfunding-ding afskop, was dat hierdie 'n moerse belangrike CD gaan wees wat Afrikaanse musiek gaan "red". Dis vir my nou, in retrospek, moeilik om te glo dat ek so arrogant kon gewees het om te dink een album is so belangrik. Gaandeweg, hoe langer ons met die opnames besig was, en hoe dieper ons in die projek betrokke geraak het, hoe minder het ek gedink aan die sosiale impak en hoe meer het ek net gefokus op die liedjies self. Al die ander issues het weggeraak in die periferie. Toe die album klaar uit is, en Maroela Media bel my en vra my of ek nou voel ek het Afrikaanse musiek "gered", toe weet ek glad nie waarvan hulle praat nie, want ek het heeltemal van my eerste sales pitch vergeet! Al wat ek kon sê, was: "Ek hoop die album beteken iets vir 'n paar mense." Wel, die eerste batch is uitverkoop, ons moes nog laat druk. Touch wood.

Eienaardig genoeg, en dis dalk ‘n soort synchronicity, terwyl ons besig was met die album het daar ‘n paar opwindende dinge begin gebeur in plaaslike en ook Afrikaanse musiek. As daar iets is wat “gered” moet word, was ek nie al ou wat so gedink het nie. Daar is nuwe, jong stemme om dop te hou. En party van die ouer garde, soos ek, lyk of hulle ook nou gereed is om hulself te herontwerp … onder andere David Kramer self! Sy nuwe show is baie goeie nuus!

Die feit dat "Die fokol song" herbesoek, opgediep en aangepas is, is lekker! In 'n onderhoud met Netwerk24 het jy gesê die idee is om 'n soort positiewe wending aan dié lied te gee. Dit is ... wel ... 'n uitdaging! Waar/waarom het hierdie behoefte ontstaan? Is daar 'n mate van optimistiese nihilisme betrokke? Of hoe beskou jy die saak? Om dit eenvoudiger te stel – hoe wil jy hê moet luisteraars anders voel oor Suid-Afrika ná hulle die nuwe "Fokol song" geluister het? Trouens, hoe sou jy die vraag beantwoord oor die album in die geheel?

Ek weet dis moeilik om te verduidelik, maar twee jaar terug was ek baie meer negatief oor Suid-Afrika as vandag. Ek het gedink: as goeie ou lefties soos Andries Bezuidenhout nie meer hoop het nie, dan is alles regtig in sy moer! Intussen het ek baie meer positief geword. Dis nie asof dit nou beter gaan nie. Met hierdie skrywe weet ek nog nie hoe die Zuma-sage gaan lyk teen die tyd dat hierdie onderhoud geplaas word nie. Dinge kan wonderlik uitwerk of dit kan totaal verkeerd gaan. Maar wat ook al gebeur, ons moet net onthou: dit gaan net orals oor die res van die wêreld soveel kakker. Amerika is in sy moer. Europa het hulle gat gesien. Liberale politiek is die nuwe establishment-narratief. G'n wonder Amerikaners stem vir Donald Trump nie. Alles is gefok. Ek weet die water in die Kaap is amper op en ek weet die boere kry bitter swaar en ek weet ons demokrasie is elke vyf minute in nuwe gevaar, maar ek wil in geen ander land woon op die oomblik nie. Suid-Afrika is 'n wonderlike plek. Dis hoekom ons nou daai song herdoop het na "Die Trots Suid-Afrikaanse Fokkol Song". Dinge gaan oneindig beter hier as in enige ander land. Ons kom selfs oor die weg met ons eie Moslems! Fok, dis iets om oor dankbaar te wees!

Ons fokus baie hard op die lirieke tot dusver in hierdie onderhoud! Op 'n musikale vlak bevat die album ook geweldig baie verrassings – die verskeidenheid instrumente, die treffende arrangements ... en vele meer. Ek mag verkeerd wees, maar dit voel of daar 'n paar kopknikke na helde van weleer is. Veral die "Ma en Pa blues" voel of dit 'n Roger Waters-lied kon wees. Aan die ander kant is liedjies soos die titelsnit baie meer "vintage" Koos Kombuis. Hoe het die proses om die regte benadering vir elke lied te kies gewerk? Was dit 'n kwessie van opsetlike afwisseling skep, of het julle net bloot probeer dink wat sal kief werk vir watter liedjies? Was die versoeking daar om 'n paar verskillende benaderings vir elke lied te probeer?

Schalk Joubert was tot 'n baie groot mate verantwoordelik vir die keuse van arrangements, hoewel ek aangedring het op sekere musikante – ek sal jou nou-nou meer daarvan vertel. En, ja, dis seker nie 'n skande om kop te knik in die rigting van Roger Waters nie, nè? Ek was baie excited toe ek besef die loodsvideo wat Fokofpolisiekar gebruik vir hulle crowdfunding campaign is gebaseer op 'n klavierstuk wat sonder twyfel sterk beïnvloed is deur "The Gunner's Dream" van Pink Floyd. So ons is in goeie geselsskap!

Verskeie uiteenlopende musikante, soos Albert Frost, Anna Davel, Ramon Alexander, Schalk Joubert, Wilken Calitz (hei, ek ken hom) en nog talle ander, het bydraes tot die album gemaak. Tot hoe 'n mate dink jy het dit wat hulle na die tafel gebring het, op die ou end die album beïnvloed – nie net die klank nie, maar ook die deurlopende denkwyses? Is daar 'n soort goue draad wat anders sou gelyk het indien die versameling musikante anders of selfs afwesig was?

Die eerste musikant wie ek genader het na Schalk Joubert en David Kramer, was die Cape Jazz-pianis Ramon Alexander. Ons het verlede jaar bevriend geraak toe ons 'n rukkie lank in dieselfde huis gebly en saam gejêm het. Sy teenwoordigheid op baie van die liedjies gee die album 'n subtiele crossover flavour wat ek nie alleen sou reggekry het nie. Dan het die ander musikante hul kant gebring. Anna Davel het een liedjie getoonset en al die pad afgevlieg om te kom help sing. Corné Crous het bewys sy is meer as net 'n 7de Laan-aktrise; sy doen wondere op "Blou Maan".

En, jy's reg, natuurlik kan mens nie verkeerd gaan met ouens soos Albert Frost, Kevin Gibson, Nick Turner en Riku Lätti aan jou kant nie! My grootste teleurstellings was dat Katlego Maboe en Stef Bos dit nie kon maak nie, en dat slegs die helfte van Die Skynmaagde (Wilken Calitz) kon kom. Waar, o waar was Henry Cloete, vra ek jou met trane in my oë (huil sonder trane!)?


Corné Crous en Koos Kombuis. Foto: Verskaf

Besig om homself te skop oor 'n besonder hartseer skedulekonflik ... Kom ons fokus eerder op iets anders. In 'n vorige onderhoud het ons gepraat oor die crowdfunding-proses wat vir hierdie album se befondsing gebruik is. In dieselfde Netwerk24-onderhoud sê jy dit was 'n bitter moeilike jaar, vol slapelose nagte. Ek neem aan jy sal 'n album dus nie sommer gou weer só wil aanpak nie? Of is dit tog, alles in ag genome, die moeite werd? Wat het jy as musikant geleer uit die proses? Wat was die moeilikste daaromtrent, en wat was lekker? Dink jy anders oor die musiekbedryf en als wat dit inhou as wat die geval was voor jy met die crowdfunding begin het?

Ek is baie, baie bly die crowdfunding het gewerk. En, anders as met Fokofpolisiekar se blitzkrieg, het dit aanvanklik gelyk of dit gaan misluk. As Carel Gericke nie sy vyftig duisend neergesit het nie, weet ek nie – daardie bydrae het die bal aan die rol gesit. Ek is baie dankbaar vir Jumpstarter se hands-on-benadering, en 'n klein borgskap teen die einde deur Aramex sou eindelik help met die posstukke. En toe die crowdfunding-geld opraak en die album is nog nie klaar nie, moes ek ou sweterige bandanas opveil vir dronk mense om nog cash te kry. Jy sal sien dat ons baie min geld aan die omslagboekie gespandeer het. Daar was nie eens plek vir kiekies nie! En weet jy, die admin was iets vreesliks. Ek is nou nog bang daar is mense wie se name ek iewers vergeet het, of dat ek nog iemand 'n getekende CD skuld. Dan's dit tough shit, ek is nou klaar. Ek het tydens die hele 2016 slegs een week vakansie gehad, 'n paar dae met my familie in die Wildtuin, en gelukkig het ons darem een leeu van agter af gesien, al was hy honderde meter weg!

Al my tyd die res van die jaar het gegaan aan die beplanning en opname van hierdie CD. As ek ooit weer 'n album maak, record ek dit op my selfoon en stuur vir mense die liedjies op Instagram, fok die res.

 

Die album is nou uit – wat hou die nabye toekoms in vir Koos Kombuis? Is daar 'n toer wat gepaardgaan met die uitreiking, of vat jy dit eerder tans rustig? Verwag ons nog romans of ander skryfsels binnekort? En dalk nog 'n album of collaborations nie te lank van nou af nie?

Ons gaan nie toer nie. Ons gaan nie 'n launch vir die pers hou nie. Ek het niks press releases gestuur nie. Daar's 'n tannie by Huisgenoot wat 'n resensie belowe het, so touch wood. Hierdie album is nie deel van die worsmasjien van kommersiële Afrikaanse musiek nie. We put it out there, take it or leave it. Ek is verskriklik bly RSG speel darem van die tracks. En dat mens die songs hoor as jy die "Liedjie"-app het. Dalk maak ons eendag 'n video vir kykNET, maar ek is nou te lui.

Dit klink nou seker of ek moerse slapgat is. Maar my vrou het nou net vir my gesê ek moet my vinger uit my gat uit trek, ons gaan Vrydag march teen Zuma, sy’s besig om die hele buurt te mobiliseer! VIVA!!! 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top