![]() Foto: gesinsargief (verskaf)
|
|
Sêgoed van Koos du Plessis “Ek is ’n doodgewone ou, ek het niks om oor myself te sê nie. My liedjies praat van my.” (Rapport, 19 Januarie 1992) Oor platemaatskappye wat sy liedjie meer “kommersieel” sou maak: “Dan kan my liedjies maar eerder toe onder die stof raak. Ek skryf vir myself.” (Radio en TV Dagboek, 5–11 Maart 1984) Sy skuheid vir publisiteit moet in sy onkreukbare eerlikheid gesoek word: “Laat die bietjie mense wat van my plate hou, eerder mooi dinge van my dink.” (Radio en TV Dagboek, 5–11 Maart 1984) As Irma haar pa in vyf woorde moes opsom, wat sou dit wees? “Spitsvondig; vlymskerp; melankolies; en in sy eie woorde, dalk: soeker en droomswendelaar.” (Netwerk24, 19 Februarie 2024) As almal ver is As almal ver is, Refrein: As almal ver is, vind jy jouself Weerloos, en eensaam, soos ’n vrou voor die spieël. (Uitgewer: Incline House) https://laurikarauch.com/as-almal-ver-is-liedjie/ |
Gebore en getoë
Koos du Plessis is op 10 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Sy volle name was Jacobus Johannes. Hy was die jongste van vier kinders. Sy pa was Jacobus Johannes du Plessis en sy moeder was Hester Johanna Buitendag. Sy ouers het op Rustenburg geboer, maar toe het hulle die plaas verloor en moes hulle Springs toe verhuis, waar Koos ’n groot deel van sy jongjare deurgebring het.
Koos het sy laerskool aan die Laerskool PAM Brink voltooi en hy is daarna na die Hoër Seunskool Hugenote waar hy gematrikuleer het. Op sy tweede album was ’n liedjie oor hierdie jare, wat hy “Molberge (herinneringe aan Springs)” genoem het.
James Jenkins het in Radio en TV Dagboek (5–11 Maart 1984) geskryf dat Koos as kind dit baie geniet het om op een van die familieplase – Boshoek, naby Sun City en Nooitgedacht, naby Bronkhorstdam – te gaan kuier. Hierdie herinneringe het hy later vasgelê in sy gedigte en sy liedere.
As jong seun het Koos tekens getoon dat hy wel ’n aanleg vir musiek het en het sy ouma se traporreltjie gespeel. Hierdie orreltjie het later in sy huis ’n staanplek gevind. In sy standerd agt-jaar (graad 10) het hy besluit om sanglesse te neem, maar die musiekonderwyseres het hom afgeraai “weens ’n skynbare gebrek aan vaardigheid”. (Wikipedia)
Verdere studie en werk
Ná skool is Koos die Pretoriase Normaalkollege waar hy gekwalifiseer het as onderwyser. Hy het ook later ’n BA-graad met Afrikaans as hoofvak aan die Universiteit van Pretoria verwerf, asook sy BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand.
In 1964 gedurende sy studentejare het Koos die jong Mornay (ook) du Plessis ontmoet. Sy was die tweede oudste dogter van pastoor Justus du Plessis van die Apostoliese Geloofsending. Ná sy universiteitsjare word hy ’n koerantman – ’n loopbaan wat hy gevolg het vanaf 1967 tot en met sy dood in 1984. Hy het aanvanklik by sy ouers in Springs gewoon terwyl hy by Die Vaderland in Johannesburg gewerk het. Later het hy hom in ’n woonstel in Joubertpark in Johannesburg gaan vestig.
In 1969 is hy en Mornay getroud. Hulle is na Europa vir hulle wittebrood en met hulle terugkeer is hulle na Amanzimtoti in Natal, waar Koos in 1970 by Die Nataller begin werk het as nuusredakteur en hoofsubredakteur. Hy is later bevorder tot adjunkredakteur. Mornay het onderwys gegee.
Teen die einde van 1971 het Koos en Mornay weer besoek aan Europa gebring en het hulle Frankryk, Spanje, Nederland en Duitsland besoek. Omdat Koos siek geword het, moes hulle egter vroeër terugkeer. In 1972 het hulle in Randburg gewoon nadat Koos weer werk by Die Vaderland gekry het. Dit was gedurende hierdie tyd dat hy sy BA Honneursgraad verwerf het.
Teen die einde van 1972 is Koos by die Oggendblad in Pretoria aangestel. Hier sou hy vir langer as 10 jaar werk – as sub-, nuus- en hoofsubredakteur. In 1973 met die geboorte van hulle oudste dogter Irma het hulle ’n huis in Wierdapark in Centurion gebou waar hulle tot en met Koos se afsterwe gewoon het. Nog twee dogters Karien en Karla is in 1974 en 1975 gebore.
Koos het reeds as student begin liedjies skryf, onder meer om ekstra liedjies vir hulle eie serenadegroep (The Gravediggers) beskikbaar te hê om te sing. Hy het ook die kitaar ontdek. Dit was later sy gunsteling-instrument. ’n Vriend het hom gehelp om die verskillende drukke te bemeester.
Douglas Davis en Carl Theunissen was saam met Koos eerstejaars aan die Normaalkollege en ook in dieselfde koshuis, het Davis aan Kirby van der Merwe vertel: “Eers kon ons nie vat aan mekaar kry nie. Hy was strak en stroef en byna onvriendelik. Maar later, ná ’n paar uitstappies saam, het ons begin besef dié Du Plessis-ou het eintlik ’n geweldige lekker sin vir humor. Hy was vol kwinkslae en sêgoed. Ons het baie gelag.”
Koos en Douglas het op daardie tydstip altwee as joernaliste begin werk – Koos by Die Vaderland en Douglas in die nuuskantoor van die destydse SAUK. Hulle het ’n “karige gemeubileerde” woonstel in Wolmaransstraat teen Joubertpark gedeel.
Douglas het verder vertel: “Dit was daar waar hy een aand ewe doodluiters aan my gesê het: ‘Baas (my bynaam), ek wil vir jou ’n liedjie sing.’ En hy sing ‘Kinders van die wind’. Dit was in 1967. Die lied het my aangegryp. Ek het afgesit na Nic Swanepoel, wat destyds elke week die program Ateljee aangebied hiet. Ek vertel hom van ’n vriend wat ’n mooi liedjie geskryf het. Koos moet maar kom kuier, sê Swanepoel.
“Nic het later wel een Woensdagaand ’n liedjie van Koos op Ateljee gespeel. Maar dit was nie ‘Kinders van die wind’ nie.”
Oor die ontstaan van Koos se ander groot trefferlied/-gedig, het Douglas Davis verder vertel: “Koos het een aand peinsend die Laerskool Joubertpark in ons straat bekyk, toe gaan sit en ‘Sprokie vir ’n stadskind’ geskryf. Die Laerskool Joubertpark het klankdempers gehad wat die stadsgeraas moes uithou. Dit was vir Koos erg dat kinders só moes grootword.
“Hy was mensliewend en het nooit mense afgekraak nie, maar kon gekke en dwase nie duld nie. Ek wéét, want ons het in ’73 en ’74 saam in die nagkantoor van die Oggendblad gewerk. Koos het soms sy kitaar daar gehad. Die laaste blad, bladsy 1, het tussen twaalf en twee in die nag gesak. Terwyl ons gewag het dat die setters met die voorblad klaarmaak, sou Koos sy pakkie Lexingtons (so ’n harde enetjie) uithaal en ondeund sê: ‘Wat van ’n ou tabacci, ou macki?’ Ons twee het toe ‘Kinders’ en ‘Sprokie’ gesing.
“Een aand was Koos besonders mismoedig omdat hy nie sy musiek verkoop kon kry nie. Hy was al by ’n paar platemaatskappye met sy bandjies wat hy self opgeneem het. Dis toe dat ek, verskoon my taal, my gat opruk en die bandjie vir Nick Taylor vat. Nick het daarna geluister en gesê hiér is ’n nuwe stem...”
Nick Taylor het sy eie produksiemaatskappy Incline House bedryf. Hy het Koos se albums uitgegee en word vandag beskou as die kunstenaar wat Koos bekend gemaak het. Nick het aan Kirby van der Merwe in Insig vertel: “Koos wou aanvanklik nie self sing nie. Hy wou net hê sy liedjies moet gesing word. Hy het ook geen formele musiekopleiding gehad en kon nie note lees nie. Hy sou daarom tuisopnames van sy liedjies na my bring.”
Dit was ook gedurende hierdie tyd dat Katinka Heyns, filmmaker en aktrise, in Koos se liedjies begin belangstel het: “En dit is hoe dit gebeur het dat ‘Kinders van die wind’ uiteindelik die temalied vir Katinka se televisiereeks Phoenix en Kie geword het,” het Nick Taylor gesê.
Koos wou sommer “Kinders van die wind” vir Katinka gegee het, maar Nick het toe al reeds as uitgewer die lied by SAMRO geregistreer: “Ek het vir Koos raad gegee oor hoe om aan kopiereg vas te hou. Toe die tantiemes begin inrol, daag Koos een dag op met ’n splinternuwe tuimeldroër as geskenk vir my en my vrou, Birthe, om met die babadoeke te help,” het Nick bygevoeg.
Jannie du Toit het vir Koos du Plessis in 1979 leer ken tydens die liedjie-aande wat elke Vrydagaand vir twee jaar lank by Jannie se huis in Pretoria gehou is en vir Jannie was Koos ’n “onuitputlike bron van kreatiwiteit en ’n groot inspirasie vir die sogenaamde Musiek en Liriek-beweging, die voorloper van vandag se moderne songs”.
Irma du Plessis vertel aan Maryke Roberts op LitNet oor haar pa se skryfproses: “My pa het dikwels in die laatnag en nanag gewerk, en klein papiertjies en uitlegblaaie met notas en gediggies in sy handskrif het die hele huis vol gelê – ook stukkies agter op ’n sigaretdosie geskryf. Hy het ’n baie indrukwekkende handskrif gehad. Hy het daarvan gehou om sy werk later uit te tik, en die klank van ’n tikmasjien is nou nog vir my gerusstellend.”
Koos se melodieë het dus ’n besliste impak op die Afrikaanse musiektoneel gemaak, maar net so het sy lirieke tot mense gespreek. Dit was dus vanselfsprekend dat sy lirieke/gedigte een of ander tyd gepubliseer sou word. In 1981 het Nick Taylor ’n bundel met 10 liedjies van Koos, saam met die bladmusiek, kitaardrukke en die lirieke, by sy produksiehuis Incline House uitgegee.
Ook in 1981 (met ’n herdruk in 1988) het Tafelberg Uitgewers Kinders van die wind en ander lirieke met wysies en akkoorde gepubliseer. Hennie Aucamp het die inleiding tot hierdie bundel geskryf: “Wie só vertel, het nie die slagwerk van foefies en katoeters nodig nie. Wie só vertel, skep ’n eie stilte selfs binne ’n storm. Koos du Plessis verower sonder geweld.”
Vir Kerneels Breytenbach (Die Burger, 24 September 1981) vat Hennie Aucamp met bogenoemde woorde Koos du Plessis se kunstenaarskap saam: “Du Plessis se werk is omgeef van ’n eiesoortige kalmte, ’n rustigheid waaruit hy sy visie verkondig. Du Plessis het die gawe om só te verwoord dat Jan Alleman maklik daarby aanklank vind; dan beklink hy die bekoring met musiek wat eenvoudig is, maar na ’n enkele luister in ’n mens se gedagte weerklink. [...]
“Afrikaanse musiek het die afgelope paar jaar ’n merkwaardige opbloei beleef, en die aard van die musiek wat gemaak is, het nuwe kulturele bane geopen, en groter belangstelling daarvoor aangewakker. Du Plessis bring ’n raakpunt met verskillende Europese tradisies, asook met populêre kunstenaars soos Leonard Cohen en Paul Parrish. Saam met die nuwe musiek het ook die begeerte by gewone sangers gekom om te deel in hierdie nuwe skeppings en hierdie bundel voorsien dan pragtig in hierdie behoefte. Du Plessis se werk is naas dié van Anton Goosen die enigste wat só ’n bundel regverdig.”
Wat veral vir Anna van Zyl (Volksblad, 23 April 1988) uitgestaan het by die lees van die lirieke in Kinders van die wind, is Du Plessis se “kundige woordspel, die besondersheid van sy woordintegrasie. Klank, betekenis, wisseling van net een woord om ’n gans ander betekenis te kry en die melodie, vorm als ’n eenheid wat jou telkens in hierdie mens se groot verlange, sy eensaamheid, sy donkertes indompel. Die teks maak ’n aanslag op jou sinne, soos iemand dit uitgedruk het. En uit die lirieke spreek ’n wysheid wat die liedjies laat uitklim bo die meeste lekker liedjies. [...]
“Koos du Plessis se lirieke is meer as net liedjies. Hy werk en speel met die taal soos ’n ware woordkunstenaar. Woorde en gedagtes word ingepas tot ’n treffende heelheid. Hy styg uit bo die sentimentele deur ’n kundige woordvervanging in ’n sin.”
Ook Mariëtte Crafford (Die Transvaler, 26 Oktober 1981) is beïndruk met Du Plessis se lirieke: “Met die verskyning van ’n bundel van Du Plessis se lirieke, Kinders van die wind, het sy liedjies se woorde ’n ander taal begin praat. Dis dan ook te verstane dat die woorde nie op die konvensionele manier tussen balke en drukke verskyn nie, maar in versvorm op die blad langs die wysie en akkoorde. Want Koos se lirieke is gedigte.
“Dié wat nie van Koos se musiek hou nie, kry nou ’n kans om sy lirieke as gedigte in hul eie reg onder oë te hou. As ’n mens na Koos du Plessis se liedjies luister, is sy stem en die musiek en liriek ’n eenheid wat vertel van drome en verlange van volksverhale en eensaamheid. Maar by die lees van die bundel, is dit ’n mens wat spreek van sy betrokkenheid by wat om hom gebeur. [...]
“By die lees van die bundel, weet ’n mens Koos se talente werk saam om hom ’n besondere sanger in Afrikaans te maak. Maar jy weet ook dat sy liedjies se woorde ’n gedig is voordat dit liriek geword het.”
En toe in die vroeë oggendure van Sondag 15 Januarie 1984 het Koos du Plessis se Volksie van die Knoppieslaagte-pad geloop, ongeveer 3 km vanaf sy huis in Wierdapark. Hy was 39 jaar oud.
Hy was waarskynlik op pad na sy vriend Nick Taylor wat ongeveer 15 km van Koos-hulle af gebly het: “‘Ons het pas teruggekom van vakansie af,’ het Nick gesê. ‘Ek het na sy huis toe gebel om te sê ons is terug. Ek en Koos was besig om aan ’n nuwe album te werk en hy was baie opgewonde oor materiaal wat hy voltooi het terwyl ek weg was. Ek het nooit kon droom dat hy so suksesvol sou wees nie. Ek dink Koos seker ook nie. Hy wou, soos ek, net musiek maak; musiek wat saak maak.’” (Insig, April 2004)
In 1984 word Koos du Plessis se eerste digbundel by Human & Rousseau uitgegee onder die titel Om jou verlaas te groet. Hy het gedurende sy universiteitsdae ’n groot aantal gedigte geskryf, het sy vrou Mornay aan Die Vaderland (5 Augustus 1985) gesê ná die publikasie van hierdie digbundel: “Dit was ook een van sy grootste ideale om as digter bekend te wees en as hy vandag geleef het, sou hy baie trots gewees het op dié bundel. Dit was moeilik om die gedigte gereed te maak vir publikasie, want in baie gevalle was woorde uitgekrap en ander bo-oor geskryf. Danksy dr Fanie Olivier is dié taak vergemaklik. Die meerderheid van sy studentedae-gedigte is in die bundel opgeneem, maar daar is ook heelparty wat hy ten tyde van sy loopbaan as koerantman geskryf het.”
Fanie Olivier was ook die resensent van Om jou verlaas te groet in Rapport (11 Augustus 1985): “Daar word dikwels gepraat oor die sogenaamd onsterflikheid van digters en skrywers, trouens van alle kunstenaars. As daar wel so iets is, het Koos du Plessis dit sekerlik bereik met sy ‘Kinders van die wind’.
“Hierdie lied, saam met ’n paar ander van Du Plessis, het die Afrikaanse luisterlied ’n waardigheid verleen sodat dit baie van die prulwerk wat onder daardie naam opgedis word, kan weerstaan. [...] Daar is min ander beoefenaars van dié genre wat met soveel eerlikheid kan vertel, en wat nie weggelok word deur soetsappigheid en mooiskrywery nie.
“Daarom is dit besonder verblydend dat daar ’n versameling nagelate werk verskyn het. Deur hierdie publikasie verseker die uitgewers dat Koos du Plessis nie net geken en onthou sal word deur daardie liedere van hom wat gedurende sy lewe verskyn het nie. Hierdie publikasie bied nou aan musiekskrywers die geleentheid om tekste te toonset, maar dien ook as ’n model vir liedjieskrywers wat deesdae agter elke klip opduik.
“Boonop is daar in hierdie versameling meer as net ‘liedjies’; daar is ras-egte gedigte wat nie gesing wil of kán word nie, maar soos goeie poësie net op die woord af alleen gaan bestaan.
“Daarin lê die bewys van hierdie troebadoer se vakmanskap opgesluit, ’n vakmanskap wat ons in Afrikaans en in die Afrikaanse musiekwêreld kwalik kan ontbeer.”
PG du Plessis het Om jou verlaas te groet vir Die Transvaler (1 Augustus 1985) geresenseer en hy moes erken dat hy die bundel ietwat skrikkerig opgeneem het – bang dat dit dalk net ’n “sameraapsel” sou wees van goed wat in laaie opgegaar het. Maar gelukkig was dit toe nie.
“In die wêreld van die luisterlied sal Koos du Plessis se bydrae lank gereken word, want hy het van liedjiewoorde poësie gemaak, en dit gesing. Vir Afrikaans het hy só baie gedoen, want hy was een van dié wat woorde kon skryf wat sélf iets besonders gesê het. [...]
“In die literatuur het die klank van sy verse ’n ander dreun gehad: sy weemoed, nostalgie en direkte romantiek was slepend en mineur. Sy woorde het bevreemdend kom val op die ore, omdat dit vir musiek vatbaar was, en op die oë, omdat dié so dikwels en so lank na raaisels en kristalle gestaar het.
“Hy het weer soms met gemak gerym; hy het die eenvoud vermeng met romantiese beelde en verlangens; hy het omgesien na sy ritme, die metrum korrek gehou waar nodig. So het hy die boesemsonde van baie van ons jonger digters ontkom; ritmiese breuke wat ten hemele skree en die geskrifte tot iets anders maak as poësie... [...]
“Laat dit dan nog ’n bydrae van Koos du Plessis wees: dat hy ritmies trefseker was soos Breyten, en dat daar waar hy ouer modes gebruik het, hy dit goed gedoen het. Dié wat om die (laasgenoemde) gebruik van ouer vorme, hierdie verse sonder meer gaan afmaak as synde nie deel van dié geslag se golf nie, maak fout, en weet van golwinge te min.
“Sy temas, sy beheptheid met die wind, die sterre, die tydelike tent, die verganklikheid; die gebruik van dikwels geykte paradokse oor lewe en dood, skyn en werklikheid; asook die wyse waarop sy ontwikkeling van die konka-beeld te vroeg beëindig is – dit staan in sy oop poësie vir almal wat oë het, om te lees.
“Vir dié wat harte het, is daar die weemoed, die vraagtekens langs liefhê, lewe, die uitspansel en doodgaan – geskryf deur ’n troebadoer-digter, wat sy woorde kon sing – vir hulle wat nie toondoof en ritme-bot is nie. Die tone van sy lied, die klank van sy woorde, sy wonder-beelde, dié sal u ánders moet beoordeel.
“Dit is uit ’n ander tradisie, dis van ’n newe-genre, wat ’n ánder begrip vra. En dáár is dit goed en uiters leesbaar.”
Ter herdenking aan Koos se 50ste verjaardag is nog ’n bundel in 1995 deur Queillerie uitgegee. Dit bevat ’n sestigtal nagelate verse van Du Plessis, asook ’n klompie ongepubliseerde verse, onder die titel Skink nog ’n uur in my glas. Variante is op die teenblad van 12 van die verse gevoeg sodat die jongste weergawe van ’n gedig as die standaard aangebied is en die vroegste telkens as variant.
In Volksblad (22 Januarie 1996) het Simona Swart só geskryf: “Die verseboek word in sewe temas verdeel wat gepaste gedigte by mekaar groepeer, en só tot ’n oorhoofse tema van fatalisme, verlies, ontnugtering, buitestanderskap en vrae na die godheid en dood bydra. Dié temas is dig verweef en mag by mense wat nie met Koos se werk bekend is nie, die indruk van ’n somber, verdoemende noodlot wek.
“Min kunstenaars kon egter gevoel en atmosfeer in gestroopte eenvoud soos Koos du Plessis oordra:
Menswees is tien duisend dorse;
les maar dié een vir die nag.
Dit ís geoorloof vir hansworse
om soms ook vir mekáár te lag. [...]
“Koos se bundel sal spreek tot elke soekende siel wat al die eensaamheid, wroeging en teistering van die lewe aan eie lyf gevoel het. Sy laaste bundel mik reëlreg vir die hart en kneus behoorlik.”
Ilza Roggeband (Sarie, 31 Januarie 1996) het só geskryf: “Dit gee ’n mens ’n kykie in die siel van die skrywer se soeke na God, sy wroeging oor die lewe self en sy liefde vir die nag [...]. Sommige verse lees nie maklik nie, ander kan jy amper die skrywer self hoor sing. ’n Hele paar is soos ’n dolk deur die hart. Maar die vers wat die leser seker die beste insig in Koos du Plessis gee, is ‘Digter’:
Uit stof is ek gebore.
Ek laat my donker sporeoral waar ek stap.
Lê my roeping dalk daarin
dat ek die stof moet word waarin
’n ander voet kan trap?”
Huldeblyke:
- Douglas Davis, vriend: “Om hom as ’n vriend te kon hê en om die ontstaan van al twee hierdie wonderlike liedjies (‘Kinders’ En ‘Sprokie’) te kon meemaak, was ’n wonderlike voorreg. Ek onthou ook tien jaar later, toe die bewonderaars begin kom het – Pik Botha het hom een keer letterlik laat haal om te kom kuier nadat Koos sy eerste uitnodiging skaam-skaam gesystap het!” (Insig, April 2004)
- Nick Taylor: “Die dag toe Carl Theunissen die eerste keer met Koos by my ateljee in Melville opdaag, was dit nie soos mense sou glo, die lirieke wat my getref het nie, maar die musiek. ‘As jy my kon volg’ was die eerste liedjie op die vreeslike swak bandopname. Maar ek was oorstelp deur die lied, regtig nie deur die liriek nie. Dit het net gewérk. En eers toe ek rustig kon sit en na al die liedjies luister, het ek besef dit was ’n baie spesiale man wat dié liedjies kon skryf. Dit, nadat die band by al die platemaatskappye was en hulle gevoel het dis nie kommersieel nie. Ek glo vandag hulle het Koos misgekyk omdat hulle na die lirieke geluister en die musiek as te eenvoudig afgemaak het.” (Insig, April 2004)
- Carl Theunissen, vriend: “Vir my was Koos du Plessis beslis nie swaarmoedig of negatief nie. Sy musiek miskien, maar Koos self was fun and laughter. Hy was bliksems gevat en stout met daai groen oë van hom. Hy was een van die snaaksste mense wat ek geken het. Wat in enige situasie die eienaardige, die ironiese kon sien. En hy was woordslim. Hy kon jou met die vloer gelyk maak as jy hom met spitsvondigheid wou troef. [...] Die man het horisonne gesien waarvan ons toe nog net gedroom het. Daai tyd het ons gedink Afrikaanse musiek is net geskik vir Boeremusiek, ryliedjies en volkspele. Niemand het gedink Afrikaans kan ’n sangtaal wees wat dieper simbole verteenwoordig nie. En toe skryf Koos ‘Kinders van die wind’ en ‘Sprokie vir ’n stadskind’.” (Insig, April 2004)
- Jannie du Toit: “‘Kinders van die wind’ het plaaslike sangers gewys hoe om die sprong te maak weg van die greep van die Engelse en Amerikaanse folk en ballades waarin Afrikaanse musiek destyds vasgevang was. Op ’n manier het hy Suid-Afrikaners voorberei op dit wat kom en om vars te dink. Hy was nie net ’n sanger nie, hy was ’n regte liedjieskrywer met sy digterlike aanslag en sy aanleg vir die luisterlied. Hy het presies getoonset. Sy Afrikaanse diksie was suiwer, anders as deesdae se sangers wat te hard probeer om cool te klink. Koos het doodgewoon Afrikaans gesing.” (Insig, April 2004)
- Jannie du Toit: “Ek dink hy het met sy woorde ’n nog groter impak gehad as met sy musiek. Hoe sy woorde en musiek by mekaar uitgekom het, is egter wat vir my uitstaan.” (Beeld, 15 Januarie 2019)
- Hennie Aucamp, in sy inleiding tot Kinders van die wind en ander lirieke: “Koos du Plessis is een van die belangrikste digter-komponiste in Afrikaans. Enkele van sy tekste het al deel van die kollektiewe onbewuste geword. Niemand vra meer wie ‘Kinders van die wind’ se woord en musiek geskryf het nie. Dit was maar net altyd daar, soos ’n volksliedjie.” (Taalgenoot, April 1996)
- Hennie Aucamp, in sy inleiding tot Kinders van die wind en ander lirieke: “Koos [...] is ’n kunstenaar en ’n volksmens, en deur sy woord en lied raak ook ons tot werklike lewe gewek; onthou ons die plase en mense en Afrikaans van ons jeug; keer ons, al is dit net ’n liedjie lank, terug na ons oorspronge.” (Die Transvaler, 28 September 1981)
- Gordon Engelbrecht het in The Citizen geskryf: “True to the nature of the poet, he shunned publicity, refusing interviews and rarely appearing on stage and television. By all appearances, he was determined not to be a ‘star’. Consequently, a large body of South Africans were unfamiliar with his recordings, and it became an intense personal treasure for me over the years to introduce the uninitiated to the magic of his music.” (Artikel deur Guy de Maertelaere, bron en datum onbekend)
- Maryke Roberts wou by Irma du Plessis weet wat haar trots maak om Koos du Plessis se oudste dogter te wees: “As ’n bekende persoon se kind sê ek altyd dat – anders as so ’n persoon se ouers of eggenoot – ’n mens waaragtig geen aandeel gehad het in die persoon se talent of sukses nie. Ek is diep dankbaar dat my pa die soort nalatenskap agtergelaat het wat hy graag wou. En soos die afgelope 40 jaar bewys het, is dit Koos Doep wat die laaste woord inkry:
As dit gedaan is en verby,
Die aarde weer sy erfdeel kry,
Sal hierdie kluisenaar in my
Nog iewers in ’n boekrak bly.” (LitNet, 19 Februarie 2024)
- Karla du Plessis het aan Gert Coetzee vertel oor haar pa en sy werk: “Ek dra hom en sy liedjies diep in my saam. Dit is lekker om al die stories agter die liedjies te ken. Ons het hom maar min sy rêrige liedjies hoor sing, want hy het dit meestal snags gedoen.” (Taalgenoot, April 1996)
- Katinka Heyns, aktrise: “Ek onthou die aand wat ek en Chris [Barnard, Heyns se man] die laaste keer saam met Koos du Plessis gekuier het. Hy het gesê dat hy eintlik iets heeltemal anders sou wou doen. Toe ek hom vra wat?, het hy gesê: ‘Wie weet?’ Hulle wou huis toe gaan, en hy is na ons rondawel om die kindertjies te gaan haal en na die motor te dra. Chris wou help en toe sê Koos nee, hy wil hulle graag self dra. En toe het hy hulle een vir een gedra. Dis die laaste prentjie wat ek van hom het, hy wat hierdie kindertjies so in die donker dra.” (Beeld, 15 Januarie 2019)
- Theuns Jordaan: “Wat Koos gedoen het, is woordkuns. Daar is lewenswysheid in sy werk opgesluit. Die eenvoud van die melodieë was een van die redes vir die sukses van sy liedjies, maar eintlik is dit net lirieke, lirieke.” (Huisgenoot, 30 September 2004)
- Mathys Roets: “Sy liedjies is universeel. Elke ou kan iets in Koos se liedjies op homself toepas. Ek het al selfs gevind dat die liedjies se betekenis verander soos my eie verwysingsraamwerk deur die jare verander het. Ek kry elke keer iets nuuts daaruit.” (Huisgenoot, 30 September 2004)
- Johan Rademan, radioman: “Koos se senuwees het rou gelê. Sy liedjies was vir my amper ’n verdedigingsmeganisme vir homself om die hardheid van die lewe te hanteer. Daar is ’n melankoliese verlange in sy liedjies. Maar daar was ook liedjies wat slim-ironies was. Hy het ’n manier gehad om mense van hul pretensie en valsheid te stroop.” (Huisgenoot, 30 September 2004)
- Koos Kombuis: “Hy was iemand buite sy tyd. Aan die een kant was hy uit die oude doos, van die ou skool en altyd op soek na of besig om te hunker na die dinge van die verlede. Aan die ander kant was hy sy tyd vooruit. Vandag se jong mense kan aanklank vind by sy post-modernistiese selfondersoek en eksistensialistiese ontgogeling.” (Huisgenoot, 30 September 2004)
Toekennings en huldeblyke
1980
- Sarie-toekenning vir “Kinders van die wind” wat aangewys is as beste liedjie in 1980.
1983
- Koos du Plessis is in Augustus 1983 deur die ATKV vereer vir sy bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.
1996
- In Februarie 1996 is die produksie Brug oor die sterre in die Scaena-teater op die UV-kampus aangebied, onder die regie van Salomé Combrink. Vir dié produksie het Koos se dogter Karla nie alleen haar debuut op die verhoog gemaak nie, maar het sy haarself ook as kunstenaar bewys deur die toonsetting van heelparty van haar pa se gedigte.
2004
- PG du Plessis het Nagkantoor vir die KKNK in Maart 2004 geskryf en dit is onder die regie van Sandra Prinsloo op die planke gebring. Dit was PG du Plessis se poging om die mens agter die sanger-liedjieskrywer beter te leer ken.
2007
- Lucas Maree se weergawe van “Kinders van die wind” is die temalied van ’n Afrikaanse rolprent Ouma se slim kind. Lucas het die lied verwerk.
2009
- Tydens die Volksblad-kunstefees is die produksie Dagboek van ’n swerwer op die planke gebring met Jannie du Toit, Anna Davel, Christa Steyn en Douw Steyn. Dit is in 2008 vir ’n paar Kanna-toekennings benoem tydens die KKNK. Die regisseur was Jaci de Villiers.
2010
- In April 2010 bied Martin Smit, vise-voorsitter van die NZAV-afdeling in die noorde van Nederland, vier konserte in samewerking met Karla du Plessis, Koos se dogter, aan in Groningen.
- In die Mardi Gras-teater by Carnival City bring die akteur, televisie-aanbieder en kabaretkunstenaar Jacques Botes op 24 April hulde aan Koos du Plessis met die produksie Bondgenoot – Koos du Plessis (die Koos Doep-storie).
2013
- In Oktober 2013 word Koos du Plessis se “Kinders van die wind” aangewys as die grootste Afrikaanse liedjie van alle tye in ’n veldtog wat Maroela Media geloods het. Dit is in 1978 deur Laurika Rauch opgeneem en gebruik as temalied vir die televisiereeks Phoenix & kie. Hieroor het Laurika Rauch gesê: “Ek sou nooit toe [in 1978] kon raai watter hoogtes die liedjie sou bereik nie. Ons het niks gehad waaraan ons dit kon meet nie. Dit was uniek en vars, en tegelykertyd diep en toeganklik vir die publiek.” (Volksblad, 30 Oktober 2013)
2014
- Jannie du Toit se produksie van Doep is nie dood nie is in die NG Kerk Heuwelkruin in Bloemfontein opgevoer met Clinton Zerf as pianis en Susan Mouton as tjellis. Dit is ook by 2014 se KKNK opgevoer met Coenraad Rall as pianis.
2018
- In Desember 2014 het lesers van die dagkoerant Beeld Koos du Plessis se “Somerkersfees” aangewys as die liedjie wat hulle die graagste op die Kersfees Skouspel wil hoor.
2022
- Tydens Woordfees word Niel van Deventer se dokumentêr oor Koos du Plessis En tog die deuntjie draal: Die Koos du Plessis-verhaal In Rapport is só oor die film geskryf: “Met sy pragtige musiek in die agtergrond vertel mense naby aan Koos sy storie op onderhoudende wyse met knap redigering en inligting wat nuwe perspektief op Du Plessis se lewe gee, veral oor sy liefde vir gedigte. Sy formidabele bydrae tot Afrikaanse musiek en van sy minder bekende liedjies rond dié puik dokkie af oor ’n man wat wonderlik met musiek deurmekaar was.”
2024
- Om Koos du Plessis se nalatenskap te vier het Jannie du Toit weer sy produksie Doep is nie dood nie op die 40ste herdenking van sy dood in die Atterbury-teater opgevoer. Jannie du Toit het as volg geskryf oor hoekom hy nog altyd Koos du Plessis se werke sing: “Hy het ’n besondere aanvoeling gehad vir akkoordgebruik, asook vir woord- en toonverhoudings. Sy keurige en ráák taalgebruik onderskei hom van die meeste Afrikaanse liedjieskrywers. Vier dekades ná sy dood is sy liedjies steeds relevant omdat hy iets universeels gehad het om te sê.” (Netwerk24, 17 Januarie 2024)
1970’s tot vandag
- Deur al die jare is Koos du Plessis se liedere deur die volgende kunstenaars verewig: Laurika Rauch, Coenie de Villiers, Jannie du Toit, Mathys Roets, Johannes Kerkorrel, Wynand Strydom, Theuns Jordaan, Battery 9, Van Coke Kartel, Wessel van Rensburg en McCoy Mrubata se weergawe van “Kinders van die wind”. In 1982 het “Kinders van die wind” ook internasionale blootstelling gekry toe die Franse pianis Richard Clayderman ’n plaat gemaak en dit die top van die Franse treffersparade gehaal het. (Guy de Maertelaere)
- Toonsettings: Irma du Plessis skryf so in Erfdeel: “Ek is ook lief vir die toonsettings van my pa se gedigte. Laurinda Hofmeyr se ‘Afskeid’ is ongelooflik. Ook Karla, my suster, het ’n besonderse toonsetting gedoen van ons pa se gedig ‘Dwaalspoor’ – wat sy opgeneem het as ‘Jou vreemde naam’. Die Brixton Moord & Roof Orkes het ‘Dagboek van ’n swerwer’ opgeneem, wat ook deur Karla getoonset is. Andries Bezuidenhout het twee gedigte van my pa wat Anna Davel bymekaargesit het – ‘Middernagreisiger’ en ‘Belydenis’ – getoonset.”
In 2004, 20 jaar na Koos du Plessis se afsterwe, publiseer African Sun Media Erfdeel: Koos du Plessis – versamelde werke, wat saamgestel is deur sy oudste dogter Irma du Plessis. En in 2024 verskyn daar ’n tweede uitgawe wat volledig deur UJ Press herdruk is. Dié boek het ook al die kitaarakkoorde vir die lirieke van sy liedjies ingesluit.
Die uitgewersnota oor die 2024-uitgawe het as volg gelui: “Hierdie mooi geproduseerde en besondere versamelbundel sluit al Koos se lirieke – wat ook as verse gelees kan word – in, asook toonsettings van Koos se verse deur ander kunstenaars. Daar is ook pragtige foto’s van Koos. Hy was bekend daarvoor dat hy geweldig mediasku was. Die gedigte uit Koos se twee digbundels, Om jou verlaas te groet (Human & Rousseau, 1985) en Skink nog ’n uur in jou glas (Queillerie, 1995), is heropgeneem saam met ’n vyftiental destyds ongepubliseerde gedigte. Boonop gee Erfdeel vir lesers ’n kykie agter die skerms, met inligting oor hoe en waar liedjies ontstaan het en sleutelmomente uit Koos se besondere loopbaan en nalatenskap.”
Irma skryf in haar voorwoord dat die boek die produk is van ’n begeerte om “Koos se kreatiewe werk, gedagtes oor sy nalatenskap en ’n kort lewensskets [sic] byeen te bring. Koos se twee versbundels asook ’n bundel lirieke was reeds vir ’n geruime tyd uit druk uit. Daar het ook maar met verloop van tyd foute in opnames en vertolkings van Koos se lirieke – veral wat betref liedjies wat eers na sy dood bekend geword en wat deur ander kunstenaars opgeneem is – ingesluip en ons wou seker maak dat die korrekte weergawe in alle gevalle beskikbaar is. Versoeke vir biografiese inligting oor Koos word gereeld aangestuur en ons het geen teks gehad om belangstellendes heen te verwys nie. Dan is daar ook heelwat van Koos se lirieke wat nie algemeen bekend is nie, asook ’n paar treffende en sensitiewe toonsettings van enkele van sy verse wat meer blootstelling verdien. Bowenal wou Mornay, Karien, Karla en ek verseker dat ’n volgende generasie Suid-Afrikaners en Afrikaanssprekers toegang tot Koos se werk het.” (LitNet, 19 Februarie 2024)
Irma het aan AJ Opperman in Beeld vertel: “Baie van my pa se musiek is al tien jaar voor Phoenix & Kie geskryf. So ook ‘Kinders van die wind’. Dit is nie werk wat hy in opdrag geskep het nie. So as mense nie daarop afgekom het nie, het daar dalk nooit iets van gekom nie.
“Wat skrywers betref, dink ek my pa is beïnvloed deur die Dertigers, soos NP van Wyk Louw en Elisabeth Eybers. Ook die Veertigers, soos DJ Opperman. Hy het ’n groot, uitgebreide biblioteek gehad, eintlik ’n baie breë spektrum. Dis vir my interessant dat hy – lyk dit my – nie besonder aanklank by die Sestigers gevind het nie.
“Oor musiek was hy baie, baie eienaardig. Hy het geglo hy moenie daarna luister nie, want hy gaan beïnvloed word. Hy sou so ’n bietjie Kris Kristofferson geluister het as dit moes. Hy wou nie musiek luister nie, net musiek maak.”
Publikasies:
|
Publikasie |
Kinders van die wind en ander lirieke met wysies en akkoorde |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0624015149 (hb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
|
Literêre vorm |
Musiek- en liriekbundel |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Om jou verlaas te groet: nagelate verse |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0798118717 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Skink nog ’n uur in my glas |
|
Publikasiedatum |
1995 |
|
ISBN |
9781874901419 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Queillerie |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasies oor Koos du Plessis
- Du Plessis, Irma: Erfdeel: Koos du Plessis – versamelde werke. Stellenbosch: African Sun Media, 2004; Johannesburg: UJ Press, 2024 [ISBN 9781776482849 (sb)]
-
- Conradie, Anschen: “Erfdeel” ’n tydlose herdruk. Netwerk24, 29 Januarie 2024
- Koos Doep se “Erfdeel” val buite tydsgrense. Beeld, 26 November 2004
- Nuut op die rak: Koos Doep kom weer. Netwerk24, 28 Januarie 2024
- Roberts, Maryke: Erfdeel: Koos du Plessis – versamelde werke: ’n onderhoud met Irma du Plessis. LitNet, 19 Februarie 2024
-
Artikels oor Koos du Plessis
- Bezuidenhout, Andries: Skielik is jy vry: Die lewe en musiek van Koos du Plessis. OuLitNet, 2 Maart 2004
- Bezuidenhout, Roof: Hulde aan ontslape helde. Rapport, 8 Julie 2007
- Boekkooi, Paul: Du Toit het sleutel wat Koos Doep se tydloosheid ontsluit. Beeld, 7 Mei 2014
- Bosch, JK: Bly oor erkenning vir Koos du Plessis [brief]. Volksblad, 6 Oktober 2004
- Boshoff, PB: Die deuntjie draal: Op die spoor van Koos du Plessis
- Botha, Ingrid: Die vele gedaantes van die (musiek)muse. Volksblad, 26 Mei 2012
- Bouwer, Anna-Retha: Kommentaar: En tog, die deuntjie draal. Netwerk24, 14 Januarie 2014
- Britz, Elretha:
- Burger, Kobus:
-
- “Nagkantoor” is PG se hulde aan Koos Doep. Die Burger, 24 Maart 2004
- PG huldig Koos Doep. Beeld, 22 Maart 2004
-
- Clunie, Erna: ’n Gedig wat sing [bespreking van “Herinneringe”]. Huisgenoot, 8 Julie 2010
- Coetzee, Gert:
-
- Karla maak woorde én sy sing ... Taalgenoot, April 1996
- Koos Doep, die eerlike godsoeker. Taalgenoot, April 1996
-
- Combrink, Salomé: Koos se Karla. Rooi Rose, 3 April 1996
- Comestor, Johannes: ’n Kransie vir Koos du Plessis. LitNet, 8 Junie 2010
- Daantjie Dinamiet: Koos Doep leef voort. Maroela Media, 10 Mei 2015
- De Bruin, Philip: Koos Doep-koors tref Nederland 25 j ná dood. Beeld, 17 Junie 2009
- De Lage Landen en Zuid-Afrika. Zuid-Afrika, Julie/Augustus 2009
- De Maertelaere, Guy: Swerwer sonder rigting: de dichter-zanger Koos du Plessis [bron en datum onbekend]
- Die gróót Afrikaanse album. Volksblad, 25 Oktober 2014
- Die legende leef voort. Beeld, 29 Junie 2004
- Doep-lied fliek se temalied. Die Burger, 18 April 2007
- Grootse Afrikaanse liedjies op twee CD’s. Volksblad, 29 April 2015
- Harmse, Natasha: ’n Nuwe waardering vir Koos Doep as digter. Klyntji, 20 Januarie 2023
- Hollander, Haydee: Nagkantoor. Roekeloos, 29 Junie 2004
- Huldeblyk aan Koos du Plessis. Beeld, 9 April 2010
- Jannie du Toit – Doep is nie dood nie. Roekeloos, 6 Januarie 2024
- Jantjies, Candice: Spesiale konsert vir Koos Doep in Pretoria 40 jaar ná sy dood. Netwerk24, 5 Januarie 2024
- Jenkins, James: Ons bring hulde aan Koos du Plessis, die dromer ... Radio en TV Dagboek, 5–11 Maart 1984
- Jongste uitgawes sluit musiek in. Die Burger, 24 September 19921
- Keppler, Virginia: Klein Koos Doep “ongelooflik soet”. Volksblad, 17 November 2009
- Koos Doep se formidabele musiekbydrae. Rapport, 17 Julie 2022
- Koos Doep wen by Beeld se lesers. Beeld, 14 Desember 2018
- Koos du Plessis (Wikipedia)
- Koos en Kerkorrel vat voor. Volksblad, 26 Julie 2014
- Levinson, Sollie: Digkuns vir graad 10, 11 en 12 [bespreking van “Sprokie vir ’n stadskind”]. Klasgids, Mei 2003
- Lewis, JH: Besprekings van gedigte vir niemoedertaalsprekers [bespreking van “Kinders van die wind”]. Klasgids, November 1997
- Liedjieskrywer Koos vereer deur ATKV. Transvaler, 10 Augustus 1983
- Liedjieskrywer Koos word vereer. Vaderland, 11 Augustus 1983
- Lubbe, Dave: “Koos” [gedig]. Volksblad, 24 Januarie 2014
- Malan, Mariana:
-
- Koos Doep blý praat. Die Burger, 31 Maart 2014
- Koos Doep se liedjie gewildste nóg. Volksblad, 30 Oktober 2013
- Nuwe geslag leer Koos ken. Die Burger, 24 November 2004
- Resensie | Koos du Plessis se lewe en werk in uitstekende dokkie belig. Netwerk24, 12 Julie 2022
-
- Opperman, AJ:
-
- Koos Doep se Mornay praat oor herdruk van versamelde werke. Netwerk24, 30 Januarie 2024
- Nuwe dokumentêr oor Koos Doep op fliekNET te sien. Netwerk24, 15 Desember 2021
- Soeker Koos se deuntjies draal. Beeld, 15 Januarie 2019; Die Burger, 15 Januarie 2019
-
- Parker, Elize: Koos Doep sielvol gehuldig op 40e herdenking van sterwensdag. Pretoria Rekord, 27 Januarie 2024
- Produksie hou Koos onsterflik. Netwerk24, 13 Maart 2015
- Robinson, Marguerite: En steeds werp Koos sy skadu ... Rapport, 19 Januarie 1992
- Roggeband, Ilza: En die wenner is: die liriek. Huisgenoot, 30 September 2004
- Roodt, PH: Rondom boeke [bespreking van “As almal ver is”]. Vaderland, 29 Oktober 1981
- Smit, Martin: Gronigens eerbetoon aan Afrikaanse troubadour. Zuid-Afrika, Februarie 2010
- So onthou ons Koos du Plessis – 20 jaar later ... Roekeloos, 26 Mei 2004
- Steenkamp, Alita:
- Swart, Simona: En skielik voel Koos du Plessis nie so ver [Brug oor die sterre]. Volksblad, 19 Februarie 1996
- Swerwersdagboek huldig Koos Doep. Volksblad, 26 Junie 2009
- Van der Merwe, Kirby: En tog, die deuntjie draal. Insig, April 2004
- Van der Spuy, Carla: Koos Doep se werk is sieraad vir Afrikaans. Maroela Media, 27 Maart 2024
- Van Heerden, Suné: Grootste Afrikaanse liedjie van alle tye: “Kinders van die wind”. Maroela Media, 26 Oktober 2013
- Van Rooyen, Morné en Annelene Oberholzer: Koos du Plessis: Sku digter se liedjies praat namens hom. Huisgenoot, 10 Mei 2018
- Van Zyl, Seugnet: Koos du Plessis 40 jaar ná sy dood “steeds relevant”. Netwerk24, 17 Januarie 2024
- Williamson, Eagan: Koos Doep se eerste kleindogter gebore. Volksblad, 6 Maart 2008
- Wynand Strydom bring hulde aan Koos du Plessis. Roekeloos, 19 Julie 2025
Koos du Plessis se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 09/10/2025 gepubliseer.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


