Skrywer: TJ Strydom
Titel: Koos Bekker’s billions
Uitgewer: Penguin Random House (Pty) Ltd
ISBN: 978-1-77609-657-2
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Koos Bekker. Die 69-jarige mediamagnaat wat die Suid-Afrikaanse medialandskap vervorm en wat hom, volgens Forbes, die 1341ste rykste mens op aarde gemaak het. ’n Dollarbiljoenêr. Tog, tot en met die sakejoernalis TJ Strydom se boek Koos Bekker’s billions, is daar nog nooit ’n boek oor dié Naspers CEO geskryf nie.
Strydom is die skrywer van ’n ander biljoenêrboek Christo Wiese: risiko en rykdom.
Hy erken dat alhoewel Bekker bewus is van die boek, dit nie sy goedkeuring wegdra nie.
Strydom se indrukwekkende bronnelys getuig van ’n deeglike nagevorste boek. Hy het ook, dalk omdat Bekker se naam sinoniem met televisie is, gedeeltes uit films gebruik om sekere punte te onderstreep.
Soos die titel voorstel, is die boek nie ’n biografiese skets van die ikoniese meesterbrein agter die betaaltelevisiekanaal M-Net se lewe nie. Dit is egter veel meer as ’n sakebiografie. Strydom fokus wel op 15 wenstrategieë wat Bekker, na die skrywer se mening, in sy sakelewe toegepas het, maar daar is ook staaltjies uit sy persoonlike lewe.
In sy onderhoud met Christel Cornelissen (Maroela Media) sê die skrywer van Koos Bekker’s billions dat ’n mens ’n volle storie moet skryf, want niemand wil ’n handboek lees nie. Hy demonstreer bogenoemde 15 strategieë so kleurvol dat selfs dié resensent, wat geen belangstelling in rand-en-sent-boeke het nie, ’n lysie met aantekeninge gemaak het.
Een van die dinge wat vir my die meeste uitstaan, is sy liefde vir geskiedenisboeke en sy waagstuk met Chinese tegnologie. Forbes beskou dit as moontlik die grootste waagbelegging ooit, maar dit is Bekker se geskiedenisleerstof wat hom die profetiese keuse laat neem het dat China die toekoms is.
Ek het ook die geskiedenis rondom die gedrukte media vreeslik interessant gevind, want dit het vir my ’n helderder beeld van ons verlede en die man wat Koos Bekker is, geskilder.
Dit is Bekker se siening rondom geld wat my lank gaan bybly ná die lees van die boek. In 2014 spreek hy ’n vertrek vol MBA-studente in Nederland toe. Hy maak die volgende stelling: “I’m not convinced that great wealth is really correlated to happiness.” Daarna verduidelik hy die impak en nut van sy eerste miljoen. Volgens hom gebeur daar niks tussen 10 miljoen euro’s en 100 miljoen nie, ook nie tussen 100 miljoen en 200 miljoen nie. Sy gevolgtrekking is die volgende lewenswysheid: “Beyond a certain point, money is pretty pointless and certainly not worth devoting your life to.”
Koos Bekker’s billions is ’n broodnodige toevoeging tot literatuur rondom die Suid-Afrikaanse besigheidselite. Ek beveel dit vir enige persoon aan wat wonder hoe ’n mens dit kan regkry om skatryk te word.
Kommentaar
Is daar 'n Afrikaanse weergawe van die boek?