Kon ek ook maar ’n hond gewees het?

  • 0

LitNet se Stemme is ’n reeks van 10 kort, kragtige monoloë, geskryf deur gevestigde en opkomende dramaturge, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi.

In Andrico Goosen se Kon ek ook maar ’n hond gewees het? speel Ivan Abrahams die rol van ’n hawelose bejaarde wat die einde van sy lewenspad bereik nadat hy sy bestaan aan klassieke musiek gewy het. Nicole Holm het die regie behartig.

Hier gesels Andrico Goosen, Ivan Abrahams en Nicole Holm oor hoe hulle die monoloog benader het.

Kon ek ook maar ’n hond gewees het?

Dr Wiemstra is ’n afgetrede dirigent met terminale kanker. Beethoven is ’n “pavement special” wat dr Wiemstra aangeneem het, vir jare ’n getroue en lojale vriend.

Hier slaap oubaas se honne. Mooi so. Saggies slaap. Nog net so rustig. Nog net so stil soos altyd. Nie soos daai donnerse ge-kef-kef van ’n straatbrak of die eindelose hulpkreet van ou Vlooi wat hier langsaan vir Nora skree: “Jirre man, luister vir my. Ek het nou genoeg gehad van jou kak. Kry maar vir julle ’n ander brak om na die huis te kyk!” nie. Ek sal nooit die dag vergeet wat die arme ding die agterpootjies so op die grond saamgesleep het nie. Toe die ou ruggie ingegee het nie. Kyk nou vir hom. Kyk.

Kyk hoe trek hy nou die verminkte agterlyfie saam op daai twee Checkers-trollie-wieletjies. Haai, die arme ding. Jy weet, hulle kon hom darem maar uitgesit het. Nou dra hy maar elke dag sy kruis saam met hom. Kon ek ook maar ’n hond gewees het? Julle het dit so maklik. So eenvoudig. Die besluite word vir julle geneem. Ag Jirre, kyk nou net daar. Vlooi! Vlooi!

Daarsy. Moenie simpel wees nie, man. Reverse, dammit! Reverse. Die arme ding. Net so onnosel soos sy baas. Haak alewig die twee wiele in die opening van die hek of steek vas in die tuinbedding. Die arme ellende. Nora glo mos vasbeslote dat jou pa die Jemel sal haal. Jirre, as sy maar net kon hoor hoe jou pa die Jirre se kinders by die Filharmoniese Jeugorkes soms kon vervloek. “Nee, maar doktor Wiemstra, jy het die gawe gekry om die Jirre se musiek tot by ons ou Japie in die Jemel te kry.”

Beethoven, jy hou pa se voete darem so warm. Elke dag voel dit vir pa of nog iets hierdie liggaam kom groet. Eers die groottoon wat kouer raak en ophou werk tot dit ál af versprei om die arme pinkie ook aan te tas. So lyk dit vir my of die bloed al hoe luier raak. Minder en al minder kom gee dit lewe aan die verste punte van dié liggaam. Dit is asof die liggaam homself wil verraai. Lyk pa darem netjies?

Ek wonder wie gaan vandag kom kuier. Hulle raak ook al hoe minder by die dag. Op een stadium was daar sommer ’n dosyn van hulle wat kom groet het. Miskien is dit sy vandag. Miskien.

Dit moet sy wees. Dit moet. Sy was nog nie hier nie. Nie hier verby nie. Ek sal … ek sal vir haar Berlioz dirigeer.

Symphonie Fantastique speel.

Ja, sy sal onthou. Dink jy sy sal onthou? Jy’s reg. Ja, dis voor jou tyd. Ver voor … voor jou tyd. Sy sal seker dink hierdie was ’n saak van selfsugtigheid … Dis presies wat sy sou … Maar vandag is my dag. Ek kan nie meer nie. Nie langer hierdie pyn verdra nie. Nes ou Vlooi skop ek vas in die tuinbeddings van hierdie vervalle liggaam. Al wat nog oorbly – die grond wat klonte vorm binne my – die pyn wat die fisieke en geesdriftigheid van my bestaan belas.

Wat sal hulle op my toon boei? Dood met versagtende omstandighede? Want hierdie is my finale wens. My enigste wens. Ek wens dit tog vir myself dat ek die finaliteit van my bestaan kan bepaal. Sag slaap, oubaas se honne, en as jy voor my by of in die Waar Ook Al kom, stuur groete vir haar. Laat weet haar Berlioz leef voort.

***

Stemme is ’n Nuwe Skryfwerk-projek van LitNet en word ondersteun deur die LW Hiemstra Trust.

Al die Stemme-monoloë word in die volgende agt weke op hierdie blad vrygestel:

Stemme

Lees hier meer oor die Stemme-projek:

Stemme: LitNet se monoloogprojek met Suidoosterfees, KKNK en NATi

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top