Andrico Goosen

Andrico Goosen is in Brakpan aan die Oos-Rand van Johannesburg gebore. Hy is ’n multidisiplinêre praktiserende kunstenaar. Hy voltooi sy voorgraadse en nagraadse studies aan Universiteit Stellenbosch in toneelspel en regie. In sy finale jaar ontdek hy die werk van The Handspring Puppet Company en besluit om die waters van hierdie medium te toets. Hierdie groot verskuiwing lei daartoe dat hy in 2015 sy nagraadse studies in kontemporêre Suid-Afrikaanse poppe- en voorwerpteater voortsit. In 2016 stig hy saam met ander kunstenaars hulle eie poppemaatskappy, The Loft Puppet Company.

Die maatskappy lewer werk wat wissel van kinderteater tot volwasse teater. Die onderneming het in 2019 ’n kykNET Fiësta-benoeming ontvang vir beste teaterontwerp vir “Beloofde Land | Promised Land. Ander optredes in poppespel is Andrico se betrokkenheid by Janni Younge se kort uitreksels van “Firebird” en sy deelname aan “Huppelkind” by die Toyota US Woordfees in 2020, waar die geselskap ’n benoeming ontvang het vir die beste ensemble.

Andrico is ook ’n film- en televisie-akteur, bekend vir sy rolle in bekroonde produksies soos “Boland-moorde”, “Sara se geheim”, “Kanarie” en “Die spreeus”. Verder dwaal hy ook rond in die tegniese afdeling van die filmwêreld as ’n bystand en stelversierder.

Sy voorliefde vir ’n verskeidenheid performance mediums lei daartoe dat hy onlangs aandag begin bestee het aan sy eie skryfkuns. In 2020 is hy deel van die Jakes Gerwel Stigting, NATi, Kunstekaap en Suidoosterfees se Jong Sterre-program. Hierdie program bied hom die geleentheid om sy toneelstuk “But, Baby I Love You” te voltooi saam met ses ander jong dramaturge en die mentor, Abduragman Adams.

Hy is voortdurend besig om nuwe vaardighede te slyp of om nuwe dinge te leer. In 2017–2018 is hy deel van BASA se Debuutprogram. In hierdie tydperk het hy ’n bedryfsertifikaat behaal in Batebaseerde Gemeenskapsontwikkeling, Ontwerpdenke, Marknavorsing en Sakemodelle. In 2021 sluit Andrico ook by die Theatre and Dance Alliance en Im4theArts se subkomitee aan om die weg te baan vir ’n “Handves van Regte vir Suid-Afrikaanse Kunstenaars”, nadat die bros toestand van die kunste tydens die Covid-19-pandemie sy gesig gewys het.

Kon ek ook maar ’n hond gewees het?

Andrico Goosen Stemme | Voices | Amazwi 2021-07-27

LitNet se Stemme is ’n reeks kort, kragtige monoloë, aangebied in samewerking met die Suidoosterfees, KKNK en NATi. Kyk hier na Andrico Goosen se Kon ek ook maar ’n hond gewees het? met Ivan Abrahams, onder regie van Nicole Holm. Die teks van die monoloog is hier beskikbaar, asook ’n video waarin Goosen, Holm en Abrahams oor die stuk gesels.

Top