Komplimente aan Herman Meulemans – en komplimente aan Festival voor het Afrikaans 2018

  • 0

Herman Meulemans

Onlangs – na afloop van die Festival voor het Afrikaans aan die Vlaams Cultuurhuis De Brakke Grond in Amsterdam – het ek weer die voorreg gehad om Herman Meulemans se treffende, gevoelvolle oorsig en waardering van daardie naweekgebeure in LitNet te lees, en terselfdertyd ook met groot agting te waardeer. Reeds is sy verduideliking van die gepaste plasing van die Festival by die Vlaams Cultuurhuis histories interessant en openbarend sover dit die Afrikaanse kultuur en Afrikaanse taal betref. Oor die inklusiewe spektrum van die programinhoud berig hy met sigbare entoesiasme: “Het Festival voor het Afrikaans zette … een grote spot op het mooiste dat de Afrikaanse taal in al haar cultuuruitingen biedt. Muziek, theater, film, poëzie en literatuur ondergingen een kruisbestuiving. Zij gingen in elkaar op in een denderend, sfeerscheppend totaalspektakel.”

Dit is nie die eerste bydrae wat Herman Meulemans oor en vir Afrikaans lewer nie. Oor die jare het ek meermale kennis gemaak met sy resensies, oorsigte en kommentare oor akademiese boeke, vakbydraes, letterkundige werke, belangrike akademici, politici, letterkundiges – en natuurlik ook met produkte van sy eie akademiese werk, en selfs met sy eie pogings tot poësie. Telkens het sy talente in hierdie rigtings my beïndruk, verbaas en soms selfs verras. In hierdie oorsig en kommentaar van hom oor die Festival voor het Afrikaans was dit weer eens die geval, en in al drie die gemelde geledinge van beïndruk, verbaas en verras. Waarom sou ‘n Belg, meer spesifiek ‘n Vlaming, die moeite doen om hierdie fees in sy geheel by te woon, en dan met opmerklik borrelende meelewing en grote waardering daaroor te berig? Ek vind die antwoord hiervoor in sy jare lange verbintenis met Suid-Afrika, veral by wyse en deur middel van sy medewerking en uitruil met vakgenote hier te lande. Deur hierdie wisselwerking met Suid-Afrikaners – hier te lande én in België – het hy ‘n fyn gevoel vir die land en sy mense ontwikkel, asook ‘n fynproewersmaak vir hul diverse kultuurgoedere, en by uitstek ook vir die Afrikaanse taal. Ek glo die goeie dinge wat hy oor hierdie wye spektrum heen koester – en ook vrygewig uitspreek – het hul oorsprong in hierdie langdurige blootstelling en intense wisselwerking met die mense van die land, en natuurlik verder versterk deur die noue kultuur- en taalbande met Vlaandere, Vlaminge en die Vlaamse taal.

Vir eers, wat my die meeste opval en beïndruk van Meulemans se oorsigtelike waardering van die fees, is dat hy self uitmuntend daarin slaag om die diverse en kunsryke inhoud en verloop van die gebeure op sigself op heel kunssinnige wyse en in soortgelyke trant as die Festival aan te bied. Meulemans toon ‘n sensitiewe aanvoeling vir die kuns wat hy gesien en beleef het, en in sy vertolking van en waardering vir die fees strek hy, of reik hy ook veel verder en wyer uit as hierdie enkel gebeure wanneer hy skryf: “Tijdens het Festival voelde je onafgebroken die warme, heftige polsslag van Zuid-Afrika.” Hierdie sluimerende verbondenheid aan Suid-Afrika, asook die uitdruklike waardering vir Afrikaanse kultuur- en kunsgoedere kry konkrete beslag dwarsdeur sy oorsig van die fees in sy geheel, in sowel die spesifieke waardering van item tot item as in die waardering van die bydraes van kunstenaar tot kunstenaar.

Maar laat ek inhouds- en gevoelsgewys eers enkele grepe uit sy oorsig en waardering van die Festival van nader bekyk.

Saam met sy eie woordbydraes – én met gulde erkenning ook aan dié van Naomi Meyer – kontekstualiseer en beoordeel Meulemans die gebeure op eie, kunssinnige en gevoelvolle wyse: item vir item, kunstenaar vir kunstenaar, groep vir groep, en genre vir genre – én verpersoonlik daarby hierdie bydraes verder met eie, terplaatse-getrekte foto’s van die persone en groepe wat op allerlei wyses en deur middel van ‘n verskeidenheid media hul kuns aangebied het. Inderdaad maak hierdie foto’s, saam met die besonderse woordspel in sy beriggewing, die Festival nog méér lewend, lewendiger en ook meelewender vir diegene wat nie daar was nie – spesifiek daardie aanvoeling van die “warme, heftige polsslag van Zuid-Afrika” waarna hy verwys.

Maar Meulemans gaan verder en kontekstualiseer hierdie bydraes met treffende prosa en poëtiese woordspel, onmiskenbaar onder die invloed van – selfs matig bedwelmd deur – Afrikaanse woord- en liedkunstenaars wat in sy kommentaar deurskyn. Van Gert Vlok Nel se openingsbydrae sê hy: “Hij deed dat met zijn zacht, ingetogen en weemoedig stemgeluid, zijn gigantisch muzikaal en poëtisch talent en zijn beeldrijke taal.” Oor Riku Lätti, wat saam met Jackie vir Meulemans die “muzikaal duizendpoot-duo met spirit voor artistiek teamwork” word, laat hy hom beeldsprakig soos volg uit: “Zanger, liedjesschrijver en componist Riku Lätti heeft het Festival vanaf de aftrap tot het einde op een formidabele wijze begeesterd. Hij was verantwoordelijk voor de vele wervelwindjes die het publiek in de zalen van de Brakke Grond warm en koud deden blazen.”

En dan oor Sandra Prinsloo, die “iconische theaterdame”, in haar solovoorstelling, Moedertaal, weergaloos in die vertolking van die rol van ‘n ouerwordende, alleen, maar tog gelate terugblikkende Nellie: “een teder, intimistisch verhaal, meesterlijk onder woorden gebracht door Nico Scheepers”. Oor die emosiegelaaide effek wat die storie en die verhoogspel van Prinsloo op die gehoor gehad het, berig Meulemans: “Wanneer de zaal stilletjes leegloopt en de toeschouwers het prachtige decor […] nog eens van heel nabij bewonderen, dan kan je uit de gedempte gesprekken afleiden dat eenieder de triestheid en de tragiek van Nellie’s situatie heel sterk heeft aangevoeld.” Sandra se eie inskatting is insiggewend: “Die klem val vir my altyd tog op kuns; die taal is die rivier wat die storie ondersteun en belig.”

Maar boweal staan Meulemans se durende bewondering vir die werk van Laurika Rauch wat hy reeds oor vele jare koester, duidelik uit. Die onderskrif by haar foto verwoord dan ook veel van hierdie bewondering: “Laurika Rauch, grote dame van het Afrikaanse lied en sfeerschepper bij uitstek in De Brakke Grond”. Op ‘n ander plek, in ander konteks, het Meulemans nogmaals in ‘n fragment sy persoonlike waardering teenoor haar en haar rol op die fees uitgepreek: “Het optreden van de koningin van het Afrikaanse luisterlied zal ik nooit vergeten, ook niet de virtuoze gitarist die haar nu begeleidt. Werklik sensationeel!!!” Hy word nogmaals en voelbaar betower deur haar poëtiese liedjiewoorde: “ons groet die dag, goeie môre my sonskyn.” En, mymer hy verder: “nog zoveel meer in rots gebeitelde woorden dringen tot mij door”: “jij is te dierbaar om seer te kry”; “gooi vir my ’n klippie, ’n klippie in die oseaan”; “vergeet om my te vergeet”. Vir hom is dit alles “evergreens” én “pure magie”.

Ek het aan die begin van my relaas verwys na Herman Meulemans se altyd teenwoordige, sensitiewe sosiologiese perspektief. Dié manifesteer ook uitdruklik in sy beoordeling van die film Die Ellen Pakkies Storie – in Kaaps-Afrikaanse dialek geskryf – wat volgens sy inskatting op die fees “voor iedereen een unieke ervaring zou worden. Het is de ervaring geworden van rauwheid die gepaard gaat met ultiem mededogen.” Verder: “Die Ellen Pakkies-storie is verbluffend authentiek. De film drukt je terneer omwille van zoveel brutaliteit maar doet je tegelijkertijd opveren omwille van zoveel moed en inzet om het leven van anderen draagbaar te maken.” ‘n Soortgelyke sosiaal-sensitiewe trant is ook onderliggend aan Meulemans se kommentaar op die film Die rebellie van Lafras Verwey, waarin fasette van die Suid-Afrikaanse samelewingsproblematiek treffend uitgespeel word – met ewe duidelike uitlopers na sosiale kritiek – en waarin die hoofkarakter, “de brave ambtenaar Lafras Verwey … droomt van een wereld zonder misdaad, corruptie en onrecht en die zich verzet tegen verandering en vernieuwing.”

Die voorgaande is slegs kortstondige flitse op enkele, bondige grepe uit die kleurvolle en luisterryke Festival voor het Afrikaans-program soos deur Meulemans in sy wonderlike oorsig en resensie van die gebeure in De Brakke Grond in Amsterdam verwoord en verbeeld – en soos hier tweedehands deur my opgesom. Daar was veel meer items, veel meer kunstenaars, en ‘n veel wyer en omvattender uitstalling en vertoon van Suid-Afrikaanse en Afrikaanse talent, kuns en kultuurgoedere. Alles goed deur Meulemans in fokus geplaas, en ook paslik vir ‘n ieder en elk met verskuldigde erkenning en waardering in sy omvattende oorsig aan bod gebring. Ook die briljante, persoonlike onderhoudinsette van Naomi Meyer gee soms onverwagte perspektief op die kunstenaars en verryk daardeur op gevoelvolle wyse die resensie tot hoër vlakke. Pragtig! In die onderhoud met Hannelore Bedert berig Bedert van haar liefde vir Afrikaans wat “zo instant [was] dat ik er zelf eventjes van schrok”, en “er hangt een soort gastvrijheid onder de muzikanten en songwriters die wij soms een beetje missen in onze westerse cultuur.” Oor Churchil Naudé, bekende kletsrymer of rapper, gee Meulemans tipiese sosiologiese perspektief: “In zijn poëtische teksten loopt hij niet weg voor de belangrijkste sociale misstanden in Zuid-Afrika.” Oor Klaas Delrue: hy “brengt Adem ten gehore, een uiterst gevoelige song over het geschenk van het leven”, en saam met Stefan Dixon sing die twee om de beurt in Afrikaans en Nederlands “Vir Nou, Voor Nu”: “Die ritme gee my hoop. Die ritme los my kaal. Die ritme gee my kans om weer asem te haal. – Het ritme geeft mij hoop. Dit ritme is mijn taal. Dit ritme leert mij hoe ik weer adem haal.” ‘n Pragtige vermenging van twee verskillende maar tog só nou verwante tale. Loki Rothman, Laurika Rauch se begeleier, is vir Meulemans “die een regelrechte gitaarvirtuoos” wie geniale klank skep en deur wie “de klassieke gitaar het hybride karakter krijgt van snaarinstrument en slagwerk”.

Soos gesê, was daar nog véél meer van kuns, van kunstenaars, en van vertoon van kultuurgoedere van uiteenlopende en soms hibriede aard – sy dit solo- en groepoptredes, sy dit woord- en liedkuns, sy dit toneel- en filmkuns, en nog vele meer. Wat vasstaan, is dat Suid-Afrikaanse en Afrikaanse kuns in ryke verskeidenheid, vir een hele naweek, in Amsterdam, voluit koning gekraai het, en sekerlik tot almal se plesier, almal se verryking, en almal se waardering.

Ten slotte: Met sy rykgeskakeerde, gevoelvolle woordspel bring Meulemans ook hierdie oorsig of resensie van die Festival voor het Afrikaans tot ‘n einde, en ‘n mens word daardeur nogmaals herinner aan die wedersyds verrykende verbondenheid tussen Afrikaans, Vlaams en Nederlands, asook die noue verbintenis tussen Suid-Afrika en die Lae Lande – geskiedenisgewys, taalgewys en kultuurgewys. Meulemans se eie inskatting op die gebeure van daardie naweek in September van 2018 in De Brakke Grond in Amsterdam som hy ten beste op in die volgende woorde, en soos ook verbeeld in sy laaste twee foto’s, onderskeidelik van hooggeplaaste gaste en deelnemers: “Zondagavond 10u. Het doek valt. De Grote Zaal van de Brakke Grond is tot de nok gevuld wanneer het Festival voor het Afrikaans wordt afgesloten met de Grote Wasgoedlyn Finale. Het Festival en de Wasgoedlyn Finale hebben een warm, weldadig bad gegeven van het Afrikaans in al haar cultuuruitingen. Het contrast is groot met de koude die Amsterdam in haar greep heeft nu de herfst is begonnen. Het publiek en de artiesten, voltallig aan de Wasgoedlyn, zijn het roerend eens dat Ingrid Glorie en Isabelle Vermeij van het Zuid-Afrikahuis met hun puike organisatie van het Festival een huzarenwerk hebben afgeleverd.”

Dingie van Rensburg
Bloemfontein

Festival voor het Afrikaans 2018

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top