Kommentaar op die Oscar-toekennings 2013

  • 0

Die beste nuus oor vanjaar se Oscars is natuurlik dat Searching for Sugar Man die prys gewen het as beste dokumentêr, aangesien twee Suid-Afrikaners gesorg het vir die herrysenis van die sanger Rodriguez.        

Ek plaas my keuse vir wenner telkens tussen hakies.

Beste Film

Benoemings: Amour,Argo, Beasts of the Southern Wild, Django Unchained, Les Misérables, Life of Pi, Lincoln, Silver Linings Playbook, Zero Dark Thirty

Wenner: Argo (Django Unchained)

 


Ben Affleck, regisseur van Argo

Van die nege benoemdes het ek net Amour nie gesien nie, omdat dit nog nie by ons draai nie.

Django Unchained (met ’n oormaat grafiese geweld): Mag na ’n vreemde keuse lyk, maar tussen die klomp verdienstelike benoemdes is dit die enigste een wat as ’n sorgvuldig uitgewerkte film van begin tot einde slaag – wat bevestig word deur die feit dat Tarantino die Oscar gewen het vir beste oorspronklike draaiboek. Elk van die ander sterk films het ’n inherente swakheid wat hulle as wenner gediskwalifiseer het.

Argo: Heel goed, maar ek was nie uitermate beïndruk met die film nie, wel met Ben Affleck se spel in die hoofrol. Miskien is dit omdat ’n mens vooraf reeds weet die oëverblindery gaan slaag, en dit ondermyn die spanningselement.

Beasts of the Southern Wild: ’n Baie goeie fliek, grensverskuiwend, maar die aanbieding is plek-plek net té obskuur, sodat ek nie regtig kon uitmaak wat aangaan nie.

Les Misérables: Populêre massavermaak. Ek sou hierdie benoeming vervang het met Flight.

Life of Pi: Baie goed, en visueel oorrompelend, maar daar word onnodig te veel afgewyk van Yann Martel se uitstekende boek. Ang Lee was meegevoer deur die fantastiese tegnologie tot sy beskikking, sodat hy die gevreesde Bengaalse tier in ’n sirkustier verander het. In die boek is daar ’n geloofwaardige progressie in die verhouding tussen Pi en die tier, maar die tier bly áltyd ’n uiters gevaarlike wilde dier.

Lincoln: Baie goed, maar hopeloos te vol besonderhede geprop en gevolglik te lank. Groot stukke van die fliek voel soos ’n droë geskiedenisles.

Silver Linings Playbook: Hoort nie op die benoemingslys nie; ek sou dit vervang het met The Sessions. Silver Linings Playbook is ’n aangename fliek, maar dis nie Oscar-materiaal nie. Duidelik dink die Amerikaners egter anders, dalk weens hulle religieuse verhouding met sport. Hier is dit voetbal wat as die karakters se evangelie van geloof en hoop aangebied word, en in Parental Guidance is dit bofbal – ons kort net ’n fliek oor basketbal om die drie-eenheid te voltooi.

Zero Dark Thirty: Goed, selfs indrukwekkend, maar die fliek is te lank en uitgerek en die perspektief is eenogig Amerikaans.

’n Opmerklike tendens van vanjaar se benoemings is hoe sterk Amerikaanse patriotisme deurkom, te wete in Lincoln, Argo en Zero Dark Thirty. Met Tarantino se tipiese aweregsheid vorm Django Unchained ’n baie interessante teenhanger vir Lincoln (die twee flieks speel omtrent in dieselfde tyd af). By Tarantino hoef die slaaf nie te wag op bevryding deur die veelgeroemde Amerikaanse president en die demokratiese prosesse van die parlement nie; hy bevry homself – met ’n geweer.

Beste akteur

Benoemings: Bradley Cooper (Silver Linings Playbook), Daniel Day-Lewis (Lincoln), Hugh Jackman (Les Misérables), Joaquin Phoenix (The Master), Denzel Washington (Flight)

Wenner: Daniel Day-Lewis (Daniel Day-Lewis)

 


Daniel Day-Lewis

Day-Lewis is die vanselfsprekende keuse, maar die kompetisie was nogal sterk. Vir my hoort Joaquin Phoenix en Denzel Washington gelyk in die tweede plek. Ek sou Bradley Cooper se benoeming vervang het met John Hawkes (The Sessions) en Hugh Jackman s’n met Ben Affleck (Argo).

Beste aktrise

Benoemings: Jessica Chastain (Zero Dark Thirty), Jennifer Lawrence (Silver Linings Playbook), Emmanuelle Riva (Amour), Quvenzhané Wallis (Beasts of the Southern Wild), Naomi Watts (The Impossible) 

Wenner: Jennifer Lawrence (Quvenzhané Wallis)

 


Jennifer Lawrence

Lawrence se benoeming was die enigste verdienstelike een uit Silver Linings Playbook, met ’n vertolking wat uitstaan in hierdie liggewig-fliek, maar die negejarige Wallis se spel is regtig iets besonders. Ek kan nie oordeel oor Emmanuelle Riva en Naomi Watts nie (The Impossible begin draai binnekort by ons).

Beste ondersteunende akteur

Benoemings: Alan Arkin (Argo), Robert de Niro (Silver Linings Playbook), Philip Seymour Hoffman (The Master), Tommy Lee Jones (Lincoln), Christoph Waltz (Django Unchained)

Wenner: Christoph Waltz (Philip Seymour Hoffman)

 


Christoph Waltz

Waltz is ’n waardige wenner, maar as daar enige geregtigheid in die wêreld was (wat dikwels ontbreek by die Oscars), moes Philip Seymour Hoffman die prys gekry het. Alan Arkin het nie ’n moeilike rol gehad nie, en Robert de Niro doen maar sy gewone Robert de Niro-dingetjie. Tommy Lee Jones is uitstekend, maar sy kleinerige rol weeg nie op teen Hoffman se monumentale vertolking in ’n besonder komplekse film nie.   

Beste ondersteunende aktrise

Benoemings: Amy Adams (The Master), Sally Field (Lincoln), Anne Hathaway (Les Misérables), Helen Hunt (The Sessions), Jacki Weaver (Silver Linings Playbook)

Wenner: Anne Hathaway (Helen Hunt)

 


Anne Hathaway

Hathaway se goue beeldjie is geen verrassing nie, maar die aktrise wat uittroon in hierdie kategorie, is Helen Hunt. My tweede keuse sou Amy Adams gewees het.

Beste regisseur

Benoemings: Michael Haneke (Amour), Ang Lee (Life of Pi), David O Russell (Silver Linings Playbook), Steven Spielberg (Lincoln), Benh Zeitlin (Beasts of the Southern Wild)

Wenner: Ang Lee (Michael Haneke)

 


Ang Lee

Waarom nege films benoem word, maar net vyf regisseurs, sal net die Hollywood-mense weet. ’n Film en ’n regisseur gaan tog saam soos ’n boek en ’n skrywer. Ek het reeds my besware teen Ang Lee genoem, en aangesien Tarantino nie benoem is nie, sou my keuse waarskynlik Haneke gewees  het (te oordeel aan sy vorige films, spesifiek The White Ribbon).

Beste buitelandse rolprent

Wenner: Michael Haneke


Michael Haneke

Ek kan ongelukkig nie kommentaar lewer op die beste buitelandse rolprent nie, aangesien nog nie een by ons gewys het nie, maar my keuse sou waarskynlik ook Haneke gewees het.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top