Kommandant Piet, jou afskeid en vertrek was te gou

  • 8

Piet Botha: foto Naomi Bruwer

’n Teater in duisternis gehul. Rook wat soos mis oor die verhoog hang, dig en swaar. ’n Enkele straal blou lig wat deur die misrook skyn om die silhoeët van ’n hedendaagse Boerekryger met sy vol baard af te ets. Sy wapen is nie ’n Mauser nie, maar ’n Fender. As hy lostrek, is dit nie met die klanke van swiepende koeëls nie, maar met die arpeggio’s van ’n kitaarsolo. En dan wéét ek daar waar ek op 19 in die donker teater staan: Die rebellie is nie verby nie; ons hét nog ’n kommandant.

Later jare, nadat hy die burgers die eerste keer in die nuwe bedeling opgeroep het om saam te staan, het ek hom die eerste keer die Kommandant begin noem. Nie die Generaal nie, maar die Kommandant. Generaals voer hele leërs aan, kommandante hoogstens ’n bataljon. Generaals drink konjak saam met die eerste minister, kommandante drink hardehout saam met hulle manskappe. En dit was sweerlik waar van die Kommandant – selde kon hy op duisende troepe staatmaak, áltyd op honderde; en nooit was hy skaam om saam met ’n manskap te drink nie.

Nie dat dit ’n slegte ding was nie. Wanneer ’n oorlog skeefloop, is dit dikwels die kleiner, beweegliker eenhede wat die stryd in ’n ander rigting stuur. En so was dit ook met die Kommandant. Nooit het hy sy visier op die groot slae gemik nie; nee, áltyd het hy gemik op die kleiner veldslag. Nie stadions nie, maar klubs. Al wanneer jy hom op die groter verhoog sien veg het, was wanneer dit sy guerrillataktiek gepas het om vinnig in en vinnig uit te beweeg, en dan weer terug op die langpad na die volgende veldslag ver buite die oog – daar waar klein oorwinninkies die rebellie lewend gehou het.

Hoe belangrik klein oorwinninkies in die lang oorlog is, het die Kommandant van vroeg af verstaan, omdat hy vroeg al besef het hoe groot die mag van die vyand is. Korporasies en die bedreiging wat hulle vir die musiekbedryf inhou – hoe hulle stelselmatig die gees en die aarde vernietig, en hoe die politici hulle gewillige handperde is. Omdat hy in die ou bedeling hierdie dinge eerstehands beleef het, kon hy hom van vroeg af behoorlik bewapen vir die lang oorlog: klassieke-musiek-opleiding in sy tienerjare; die studie van die letterkunde in sy studentejare; en dan natuurlik sy lewenslange bemoeienis met die ou meesters – Bob Dylan, Neil Young, Willie Nelson, en vele ander.

Die Kommandant kon sekerlik vroeg in sy loopbaan aangesluit het by ’n groter leër, sê maar in Londen of Los Angeles. Maar die verkenningstogte wat hy in daardie gewestes onderneem het, was genoeg om hom te oortuig dat hy sy bydrae op die plaaslike gevegsfront moes lewer. En so het hy óns Kommandant geword, want plaaslik had hy nie sy gelyke nie. Teen die laat tagtigerjare van die vorige eeu, minstens reeds teen daardie aand wat ek hom op 19 die eerste maal in aksie gesien het, was sy naaste manskappe reeds gekies, en het hulle mettertyd onder dié wat ore het om te hoor bekend geword onder die legendariese naam: Jack Hammer.

Hoewel die Kommandant ’n Boer in murg en been was, en die universele taal van musiek sy hoofmedium was, het hy in die eerste fase van sy roemryke loopbaan die ou koloniale taal gebruik om die antikoloniale oorlog voort te sit. Dis uit hierdie jare dat die eerste drie Jack Hammer-albums kom. In daardie jare het die burgers onder sy aanvoering uit slegs ’n paar pelotonne bestaan, maar ons getalle het aangegroei toe hy die stryd uitgebrei het deur Afrikaans te begin gebruik. In die openingsreëls van daardie eerste Afrikaanse album het hy saamgevat waaroor die Kerkvaders en die antieke filosowe boeke volgeskryf het:

Kyk daar is geen verskoning
Vir alles wat ons doen
Doen ons maar net om iets
Van die hemel te proe.

Daarmee het die Kommandant sy manifes onder ’n donkermaan bekendgestel: Hy en sy manskappe roep die burgers op om hier op aarde vir ’n stukkie hemel saam te staan. Ek was finaal oorgehaal tot die ideaal.

Vir die volgende paar jaar het ek die Kommandant vanaf die agterhoede van sy bataljon gevolg. Meegemaak hoe hy hoogs suksesvolle guerrilla-aanvalle loods, hoofsaaklik by gevegsterreine in die noorde, waar ek toe gewoon het: Grand Central, Café Barcelona, Steak and Ale.

Wanneer en hoe dit gekom het dat ek hom eendag persoonlik ontmoet (of myself gaan voorstel?) het, kan ek nie meer onthou nie. Miskien toe daardie ander groot kryger, Johann Botha, hom na ons program Spookstasie op RSG genooi het. Of miskien toe hy pas uit die voorste linie van nog ’n veldslag van die verhoog afgekom het, dalk by Dagga Dirk se Stalteater op Oudtshoorn.

Ek onthou wel helder hoe ek en hy eendag by Struisbaai langs sy geliefde see in die middel-2000’s gesit en gesels het. Hy was tydelik met verlof van die front, bekommerd oor een van sy manskappe wat met die dwelmduiwel slaags geraak en aan die verloor was. Turend oor die see het ons gewonder waar ons die Boeddha sou vind, en wat die Kommandant kon doen om te keer dat hy sy manskap vir altyd verloor.

Dit was in daardie jare dat die oorlog my na ander fronte gevoer het – Frankryk, Australië, en uiteindelik na die ou Vrystaat, waar die spoke, die maan, die reën en die treine waaroor die Kommandant so digterlik kon raak, nog altyd die lewe kenmerk.

Ek onthou ’n keer toe die Kommandant een middag tydens die Vrystaatse Kunstefees by die beroemde terrein van menige veldslag – die Aasvoëlklub – in die tyd na sy album Spookpsalms feitlik manalleen laat een agtermiddag met slegs ’n akoestiese kitaar moes baklei teen die nadraai van sy verlies aan Vivian, moeder van twee van sy drie dogters en die rock van sy roll oor soveel lang jare. Daar in die halflig van die Aasvoëlklub kon al die burgers sy littekens sien glim, die jongste wonde nog oop. Dit was die tyd toe die Kommandant die hartseerste man in die land was.

Maar hy het nie gaan lê nie. Hy’t weer opgestaan, weer sy Fender opgeneem en met die stryd voortgegaan om van sy roemrykste oorwinnings aan te teken: 2016 se Handful of rain met Jack Hammer, en 2018 se Die middernagtrein, met dieselfde manskappe wat die musiek min of meer ononderbroke vanaf 1996 saam met hom gemaak het: Paul “The Duke” van de Waal, Tertius “Beankowski” du Plessis en Johnathan “The Kid” Martin.

Soos alle groot soldate in ’n nimmereindigende oorlog uiteindelik die hoogste prys betaal, moes die Kommandant dit oplaas ook doen. Die dekades van die stryd het oplaas die tol van sy 63-jarige lyf geëis, en op 2 Junie 2019 het die Coach hierdie sagmoedige, dapper reus van die gees kom haal, na waar hy nou saam met die ander helde van die plaaslike gevegsfront van die stryd vir die vryheid van die gees kan rus. Hulle sê Eugène Marias het hom by ’n Bosveldvuur anderkant die Donkerstroom verwelkom, en dat Karel Schoeman stilswyend ’n fluit sjampanje vir die Kommandant aangereik het.

Hoekom het juis hierdie twee helde hom verwelkom? Omdat hy, soos hulle, uit hiérdie aarde, in hiérdie land, ook geskryf het van die verganklikheid, die verlies, die verlede, die onreg en, ja, die hemel – of dit nou in die koue, skraal windjie was, of onder ’n lug vol helder wolke.

Kommandant Piet, as jy hierdie lid van jou bataljon dit sal gun: Jou afskeid en vertrek was te gou, te skielik, te finaal, maar ek sal jou nooit vergeet nie. Jy was oor dertig jaar, sedert daardie aand op 19 tot nou, op die vooraand van 49, so rotsvas in my lewe soos daardie klip op Eugène Marais se graf in die Heldeakker, Pretoria. Rock steady. Ondanks die littetekens oor jou hele lyf, ondanks verdere wonde, het jy nóóit opgegee nie, maar altyd weer opgestaan en aangegaan, en daarvoor eer ek jou vandag, want jy het my geleer dat die enigste ware genesers die gewonde genesers is.

Mag die engele jou wonde nou verbind, mag jou littekens nou vervaag, en mag jy die ewige rus geniet. Weet dat ons in jou bataljon sal voortgaan met die oorlog waarin jy ons gelei het – om net iets van die hemel te proe. Hou vir ons die kole van die Ewige Bosveldvuur warm, en stuur groete vir die Oubaas.

Sien jou (eendag) weer.

Johann Rossouw

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Ruston Hornsby

    Piet's legacy will live on through his music. 'n Wonderlike huldeblyk aan ons held - te vroeg weggeneem. Slaap saggies ou vriend. Tot ons weer ontmoet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top