Kom na my tuin, Rosa Rosarum

  • 1

Prent: Pixabay

My tannie Debora het as kind nie van haar naam gehou nie. Dus is sy Sussie genoem. Sy het ook altyd gesê sy wil tog net nooit met ’n Swanepoel trou nie. Sy het, en toe was sy vir ewig Sussie Swanepoel.

.......

Ek het nogal gedink “Deborah Roos” val mooi op die oor. Daarom het ek my eksman in die eetsaal van die hawe vir haweloses in Hillbrow waar ons mekaar ontmoet het, gevra wat sy van is.

......

Ek het nogal gedink “Deborah Roos” val mooi op die oor. Daarom het ek my eksman in die eetsaal van die hawe vir haweloses in Hillbrow waar ons mekaar ontmoet het, gevra wat sy van is. Nou moet ek ’n goeie storie bederf deur te sê ons was albei werkend, ek vir die Hawe en hy daarbuite – hy het daar gewoon omdat sy groot suite met balkon spotgoedkoop was. Wanneer ’n Oostenrykse tong “Steinmair” uitspreek, klink dit nogal indrukwekkend: “Sjtain-maia!” soos ’n bevel. In Afrikaans en Engels word dit lelik verwring.

Maar hierdie storie gaan nie oor my nie.

Die Pieter Swanepoel met wie my tannie getrou het, was bitter aantreklik en boonop geleerd. Toe ek in die sewentigs ’n lid van hulle gesin geword het, was hy wetenskaponderwyser by ’n hoërskool. Hy het ’n studeerkamer gehad, met ’n deur van riffelglas. Daar het hy altyd gesit en werk terwyl hy aan sy gunstelingsnoepery, gedroogde dadels, kou. Soms het ’n mens hom in die greep van ’n hopelose lagbui gehoor, soos iemand wat op die vloer rondkruip. Dan kon jy weet hy was weer besig om na een van sy Jan Spies-plate te luister.

.......

Dan het ek by die Swanepoels gaan bly – hul lang huis was op die hoekerf oorkant die hoërskool. Daar is ek opgeneem in die boesem van ’n gewone gesin, as so iets ooit bestaan

.........

Waarom het ek ’n lid van hulle gesin geword? Want my ouers het elke jaar vir ’n paar maande oorsee gegaan. Dit was in die dae toe die rand en die dollar gelyk was en die pond twee rand gekos het. Dan het ek by die Swanepoels gaan bly – hul lang huis was op die hoekerf oorkant die hoërskool. Daar is ek opgeneem in die boesem van ’n gewone gesin, as so iets ooit bestaan. My gesin was beslis nie gewoon nie; meer sal ek nie sê nie. By die Swanepoels was daar vaste reëls; jy eet altyd op dieselfde uur en die dis hang af van die dag van die week. Vrydagaande was dit worsbroodjies.

Die sitkamer was in herfskleure en daar was blindings voor die vensters, nie gordyne nie. Daar was groot bome in die tuin en die huis was donker en koel. Daar was ’n soort gerusstellende voorspelbaarheid.

Die Swanepoels het vyf kinders gehad – ’n dogter, Rosa, en vier seuns. Die oudste seun was al uit die huis. Die seuns en die wetenskaplike pa was petrolkoppe. Die reusemotorhuis het altyd na ghries, olie en petrol geruik; nie ’n onaangename reuk nie. Alles was pynlik netjies, skoon en op sy plek. Daar was geen wrakke in die jaart nie.

Die seunskamer was groot met ingeboude beddens teen die muur. Ek het in Rosa se kamer met twee enkelbeddens geslaap. Sy was agtien jaar ouer as ek en het reeds skoolgehou by Transoranje Skool vir Dowes. Sy was vlot in vingertaal en in vervoering oor haar leerlinge. Sy was baie toegewyd en het tot laat in die nag gesit en tik, aan voorbereiding en aan haar vele stokperdjies en belangstellings. Dit was ’n baie gerusstellende geluid, die klik-klak van ’n ou Olivetti. Sy het my nooit soos ’n indringer laat voel nie, maar intens belanggestel in alles wat ek doen, op ’n mooi, entoesiastiese manier, en vir my plek gemaak in haar klerekas.

........

Rosa het die huis verlaat eers ná haar ma in haar tagtigs oorlede is. Sy het albei haar ouers versorg tot hul dood. Toe het sy in ’n aftreeoord ingetrek.

........

Rosa het die huis verlaat eers ná haar ma in haar tagtigs oorlede is. Sy het albei haar ouers versorg tot hul dood. Toe het sy in ’n aftreeoord ingetrek.

Die Swanepoel-huishouding het soos ’n goedgeoliede masjien gefunksioneer. Daar was nie ’n huishulp nie en elkeen het takies gehad. Selfs die seuns is geleer om beleefd en diensbaar te wees. Hulle is aan my pa se kant van die familie en baie anders as my ma se familie, wat hartstogtelike, luide mense met humeure en temperamente was. As jy Roos-bloed het, glimlag jy immer en ’n kwetsende of luide woord kom nooit oor jou lippe nie. As iemand jou grief, gee jy ’n klein, goedverdoeselde verbale stekie, liefs met ’n glimlag. Ek het, soos oral altyd, tot op die punt van onsigbaarheid probeer inpas.

Gaan jy saam met hulle met vakansie, is padkos groot. Jy trek langs die pad af vir feestelike pieknieks. Rosa hou van alles dagboek en neem konstant foto’s. Wat het geword van al haar vakansiedagboeke, met foto’s wat nog by ’n apteek of fotografiewinkel ontwikkel moes word? Wie stel nou nog daarin belang dat Pappie eers by die derde piekniekplek wou stilhou, dat die seuns mekaar met hardgekookte eiers gegooi en Mammie haar borsspeld verloor het en dat klein Deborah se neus heeltyd in ’n boek was?

Elke middag wanneer ek van die skool af kom, het tannie Sussie gesê: “Ek gaan maak gou vir ons koffie”, en halfpad orent gekom uit haar stoel. Dan sê ek, goeie kind: “Nee, sit, Tannie, ek sal maak.” Wanneer ek terugkom met haar koppie, vra sy altyd: “Waar is joune?” Ek dink nie ek het ooit die moed gehad om te sê: “Ek drink nie koffie nie.”

In die Swanepoel-huishouding was daar klein rituele en gebruiklike grappies. Wanneer ek die toiletrol omruil, sê tannie Sussie: “Ek is bly om te sien jy is meganies aangelê. Die seuns is beslis nie.” Rosa het binnepret gehad deur die kondensmelk in ’n Tupper-houer met die etiket “mayonnaise” te bêre sodat die seuns dit nie opslurp nie. Koekbak was groot.

Oom Pieter was die enigste mens wat vir tannie Sussie Debora genoem het, soos sy intussen graag wou bekendstaan. Dus was daar twee van ons in die huis. Hy het gebry en die papegaai het ook in sy stem aanhoudend, vraend “DebooooGGGaaaa?” geroep.

Die kinders was oor meer as twintig jaar versprei. Die jongste seun was nog klein en liewer vir musiek as motors. Een van die ander broers moes ’n mens in die donker of op ’n verlate plek liefs vermy. Ons twee het eendag in ’n veld gestap, kaalvoet natuurlik. Toe ek gaan sit om die duwweltjies uit my voetsole te trek, is hy skielik in my ruimte, met jagende asem en grypende vingers en sê hortend: “Jy sit darem nou lelik …” Gelukkig was ek Victrix Ludorum en het soos ’n pyl uit ’n boog weggespring en soos die wind gehol, duwweltjies en al. Sien jy hom daarna tussen mense, is hy doodbeleef, botter kan in sy mond nie smelt nie. Daarvan sou Rosa of Mammie natuurlik nooit uitvind nie, want ’n mens klik nie. En wat sê jy in elk geval oor so ’n episodetjie? Jy glimlag en hou die blink kant bo.

Dit was ’n jolige gesin vol aktiwiteite en elkeen is raakgesien. Daar is van ’n mens verwag om by te dra tot die geselskap, in plaas van om gesien en nie gehoor te word nie. Jy het behoort. Rosa het helder gelag vir jou flou kwinkslae.

.......

Dit was ’n jolige gesin vol aktiwiteite en elkeen is raakgesien. Daar is van ’n mens verwag om by te dra tot die geselskap, in plaas van om gesien en nie gehoor te word nie. Jy het behoort. Rosa het helder gelag vir jou flou kwinkslae.

........

Diere was belangrik. Buite was groot voëlhokke vol allerlei eksotiese gevleueldes wat noukeurig versorg is. Die honde was twee toy poms wat graag gekef het en hul kos is weekliks op die stoof gekook, dan ruik die hele huis na goedkoop, vetterige maalvleis sonder sout, ’n aaklige reuk. Ek dink nie daar was ooit katte nie, want hulle is voëlmoordenaars. Ek het saam met die seuns sokker gespeel en kon nogal goed takel.

Aan al hierdie dinge dink ek omdat Rosa verlede week onverwags oorlede is. In die jare wat verby is, het ek my tweede gesin versaak en verwaarloos. Ek het haar maar ’n hand vol kere gesien. Toevallig was ek darem ’n maand of wat voor haar dood na haar aftreeoord. Toe ek dus op die gedenkdiens snot en trane huil, ontroosbaar, het die broers sekerlik gewonder: Waar was jy al die jare?

Rosa het later ’n gerekende versamelaar van boeke, poskaarte en kennis oor ou Pretoria geword. Haar argief is gesog. Sy laat ’n groot leemte onder haar broerskinders. Elke kind benodig ’n tante wat hom of haar sonder voorbehoud liefhet en aanmoedig en op ’n mooi manier belangstel in alles wat hulle doen.

Rosa is reguit hemel toe. Ek het ’n helder droom gehad oor haar nuwe woning, hoog in die wolke. Duiselingwekkend ver onder was berge, boomtoppe, mere, watervalle. Haar kamer was ruim en vol lig. Daar was ’n outydse rooi Olivetti.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top