Koeëlreën deur Wollie Wolmarans en Japie Bogaards, ’n onderhoud

  • 0

Koeëlreën: Wapens, bloedspatsels en wonde
Japie Bogaards en Wollie Wolmarans
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799382686

Naomi Meyer het met Wollie Wolmarans, een van die skrywers van Koeëlreën, wat by LAPA verskyn het, oor dié boek gesels. Japie Bogaards kon ongelukkig om gesondheidsredes nie enige vrae beantwoord nie.

Hallo Wollie, lekker om te kan gesels. Sal jy asseblief vertel wat jou agtergrond is?

Dankie vir die geleentheid. Ek was jare lank verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisie (SAP) se forensiese laboratorium  (nie die diens – SAPD – nie), waar ek in verskeie moordsake deur baie jare (meer as 20 jaar SAP en 20 jaar nou reeds privaat) forensiese ballistiese werk gedoen het. Ek het in verskeie moordsake waar vuurwapens betrokke was getuig oor die forensiese ballistiese ondersoeke, en dan was daar ook verskeie siviele sake.

Voordat ek as ’n forensiese-ballistiek-deskundige kon kwalifiseer, moes ek eers kwalifiseer as ’n vingerafdrukdeskundige by die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro (SAKB).

Ek was ook gesekondeer deur die SAP om in Rhodesië (nou Zimbabwe) as ballistiese deskundige te werk, waar ek aansienlike kennis opgedoen het oor Oosbloklande se hand- en skouerwapens. 

Nadat ek die polisiediens in 1992 verlaat het, het ek as ’n privaat konsultant opgetree om advokate en prokureurs behulpsaam te wees met hulle sake se voorbereiding en dan was ek ook betrokke by sake soos die Hani-saak, Inge Lotz (nie getuig nie), Oscar Pistorius, Eugene de Kock (nie getuig nie), Mathews Goniwe (nie getuig nie), en baie ander.

Verder het ek ook vir die VN se International Criminal Tribunal for the former Yugoslavia in Kosovo gewerk. Hier was ek betrokke by die opgrawe en forensiese ondersoeke van ’n paar honderd lyke van mense wat in die oorlog doodgemaak is deur die Serwiërs.

Ek het nog altyd ’n belangstelling in vuurwapens, van my dae wat ek as kind op ’n plaas buite Nelspruit grootgeword het.

Wil jy dalk vertel van hoëprofielsake waarvan jy kennis het en wat ter sprake gekom het by die skryf van hierdie boek?

Van die sake waarby ek betrokke was, is reeds hier bo genoem,  maar daar was ook verskeie ander minder bekende sake gewees.

Die skryf van die boek het reeds jare gelede by my posgevat toe ek nog in die SAP was, maar die idee agter die boek was nie soseer om te skryf oor sake waarby ek betrokke was nie; dit was eerder om te vertel van die geskiedenis agter die ontstaan van die ballistiek-eenheid in Suid-Afrika.

Ek het begin om boeke oor ware misdaad in Suid-Afrika te lees (versamel) en besef dat daar ’n leemte in Suid-Afrika is oor die geskiedenis van die forensiese ondersoeke van hierdie misdade. Skrywers soos Benjamin Bennett het in verskeie van sy boeke oor sake soos byvoorbeeld  die moord op Arthur Victor Kimber in Pietermaritzburg geskryf. Ongelukkig is die dokumente in die argiewe meestal in snelskrif geskryf en ek kon nie hond haaraf maak nie.

In baie ander sake het ek in die argiewe foto’s gevind wat deur van die eerste deskundiges in die land gebruik is om hulle identifikasie van die koeël en doppie met die toetse wat in die verdagte wapen gevuur was aan die hof te verduidelik, maar ek het dit gelaat vir ’n moontlike volgende boek – daar lê nog navorsing voor.

Soos ek self sê, is ek nie baie kreatief met die skryfkuns nie, en dit is waar Japie in die prentjie gekom het. Ek het hom deur Lettie Klein van Tuks ontmoet ongeveer vyf jaar gelede en so het die boek die vorm aangeneem soos dit vandag daar uitsien.

Die omslag van die boek, die aanbieding en alles hiervan verklap: vuurwapens is die fokus van julle studie. Waarom interesseer hierdie navorsing julle elkeen, of wat het aanleiding gegee tot jul eerste prikkel en belangstelling in hierdie terrein?

Ek dink jy is verkeerd met betrekking tot die weerspieëling van die omslag van die boek. Ek sien geen wapen op die omslag  nie, maar wel afgevuurde doppies en koeëlgate, wat vir my sê dit gaan oor die oplos van ’n misdaad. Die misdadiger laat nooit (amper nooit) sy wapen op ’n misdaadtoneel nie, maar uit die doppies kan ek as deskundige baie inligting verkry en selfs uit die koeëlgate kan daar baie geleer word. Wat die voorblad vir my vertel, is dat dit ’n misdaadtoneel is.

Voordat ek met die boek begin het, het daar letterlik honderde mense by my gekom en gevra dat ek ’n boek moet skryf, wat vir my vertel dat daar belangstelling is in die rigting van hoe misdade wetenskaplik benader en opgelos kan word.

Ek en Japie het die boek sáám geskryf. Japie het geen agtergrond oor my vakgebied nie. Maar hy was die persoon wat alles vir my moes verwoord om die boek (soos ek in my bedanking aan hom op die laaste bladsy gesê het) in ’n leesbare storieformaat te omskep sodat dit nie soos ’n polisiedossier moet lees nie.

Die meeste navorsing en kennis is van my afkomstig, Japie was die man met die skryfkennis terwyl ek die ou was met die tegniese agtergrond.

Kan ons as publiek aanvaar dat die mense agter die skerms wat sake probeer oplos, weet wat hulle doen?

Ja, daar is gelukkig nog kundiges wat weet wat hulle doen.

Interessant soos julle studie is, wil mens eintlik nie soveel van vuurwapenmisdade lees soos wat tans die geval in ons land is nie. Is daar enige wetgewing ten opsigte van vuurwapens, of enige sosiale veranderinge wat julle kan dink moet verander sodat daar nie soveel misdaad met vuurwapens gepleeg sal word nie?

Ja, ek stem saam dat daar baie meer moorde met vuurwapens in hierdie land gepleeg word as wat die geval moet wees (selfs een is te veel). Dit is so, soos dit tereg deur Japie aangehaal word uit 1 Samuel 17:49–50, dat daar nog altyd die een of ander vorm van wapen was – ’n mes, pyl en boog, en ja, selfs die slingervel. Die vraag is, hoe sit jy dit stop? Dit kan net bekamp word, maar stop? Nooit!

Daar is te veel mense wat onwettig in besit is van vuurwapens en as ek sê “onwettig”, bedoel ek ook mense met ’n “wettige lisensie” maar wat in die werklikheid onbevoeg is om wettig in besit van ’n vuurwapen te wees. Die stelsel maak voorsiening dat onbevoegde mense nie in besit van ’n vuurwapen mag wees nie, maar tog is daar baie onbevoegde mense wat wel wettig in besit is van ’n wapen.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top