Koebaai allerbeste onvolprese Naomi

  • 5

Ola senorita

Hierdie is jou laaste week by LitNet.

En hierdie is die laaste rubriek van my wat jy sal versorg. Ek skryf dit met ’n swaar hart. Al het ons mekaar by tye die harnas ingejaag, het ek altyd geweet ek kan jou vertrou om met absolute integriteit en profesionaliteit op te tree. Altyd.

Foto: Izak de Vries

Ek weet jy sou hierdie in privaat wou sien, eerder as iets wat vir publikasie aangebied word. Jou werk het feitlik altyd agter die skerms gebeur, en ek dink LitNet se lesers verdien om ten minste te weet wie jy is. Dis ook hoekom ek self die foto kies. Jy’s hopeloos te modest om daarmee vertrou te word.

Ek het probeer uitwerk waar en wanneer ons mekaar ontmoet het, en ek moet tot my skande erken ek kan nie onthou nie. PEN Afrikaans was jou beste raaiskoot toe ek jou vra – want jy is mos die institutional geheue. My eerste LitNet-skryfsel is in 2014 geplaas, so dis iewers voor dit. Vyf jaar dat ons saamwerk. Klompie sakke sout. Ek onthou geleenthede dat ek laataand rubrieke ingestuur het, veral na verkiesings en staatsredes, en jy was altyd gereed om laatnag te werk om seker te maak dit kom vars en keurig versorg by die leser uit. Ek twyfel of LitNet-lesers besef hoeveel bloed, sweet en trane jy ingesit het.

Ek kan nie een keer onthou dat jy my laat verstaan het jy werk eintlik kantoorure nie. Dit sou maklik wees om te praat van jou in terme van werksetiek en toegewydheid, deeglikheid en bowenal professionaliteit. Maklik, maar dit sal jou mensch-wees in al jou kompleksiteit misken.

Dis die einde van ’n era, jou weggaan. Vir my was jy nog altyd die hartklop by LitNet.

Die dag in Maart toe jy my laat weet het jy gaan weg, het ek jou gelukgewens en gesê hoe bly ek vir jou is.

Ek het gelieg.

Een slag toe ek baie klein was, wou ek met my broer en sy maats speel. Hulle was besig om karate-skoppe te oefen. Lang storie kort, ek was nie baie welkom nie, maar die dreigement dat ek my ma gaan sê hy los my alleen, het gemaak dat hulle my laat saamspeel. Toe skop een van die seuns my wind uit. Daai gevoel van snak na asem, met jou mond wyd oop maar daar kom nie genoeg suurstof in jou longe nie – dis bietjie hoe ek gevoel het toe ek hoor jy gaan weg.

Die meeste mense wat jou net van LitNet ken, sal jou ken as die rooikop met die kamera wat elke liewe boekbekendstelling en Woordfees-aanbieding en taalgeleentheid bywoon en foto’s plaas. Op jou stil manier doen jy waarskynlik meer om ’n liefde vir Afrikaans in al sy fasette te bevorder as al die ander wat skryf en sing en tekere gaan oor die taal.

Ek is gelukkig genoeg om ook die after hours Naomi te ken – die welbelese, sensitiewe, kunstige vrou met die vlymskerp sin vir humor, die dromer wat nie net hoop vir ’n beter toekoms nie maar aktief daaraan werk. Die vriendin wat lojaal is selfs wanneer dit ten koste van jouself is.

So, vandag kan ek net my waardering uitspreek. Jy is amazing. Plus ek kan met ’n rein gemoed jou alles van die beste toewens in jou nuwe loopbaan.

Lee Ann Womack het ’n klompie jare terug ’n liedjie gesing: “I hope you dance”.

Dit begin so:

I hope you never lose your sense of wonder,
you get your fill to eat but always keep that hunger,
may you never take one single breath for granted,
God forbid love ever leave you empty handed,
I hope you still feel small when you stand beside the ocean,
whenever one door closes I hope one more opens,
Promise me that you’ll give faith a fighting chance,
and when you get the choice to sit it out or dance,
I hope you dance.

Dis my wens vir jou. Mag jy altyd vreugde kies. En so elke nou en dan jouself eerste stel.

Met baie liefde

B

  • 5

Kommentaar

  • Fantastiese stuk, Bettina! Ek is ook baie jammer om te hoor ons verloor vir Naomi, maar hopelik gaan sy steeds op 'n ander plek haar kundigheid ten bate van ons taal en sy mense aanwend.
    Mooi loop, Naomi!

  • Margaret Cordier

    Dankie Naomi. Al ken jy my nie, weet ek jy was deel van 'n roesrooi-môre wat ook vir my aangespreek het.
    LitNet is die wonderlike platform wat jy help oprig het tot die stewige staan vandag.
    Gehoop ek kon jou nog eendag ontmoet.
    Mooi loop!

  • Johan Esterhuizen

    ... en moet Naomi se bydrae tot die uitbou en sukses van die Woordfees nie onderskat nie! Ja, Naomi doen. Safe landings.

  • Wat 'n pragtige afskeidswens. Baie dankie, Bettina en geseënd vorentoe Naomi.
    Alles wat mooi is.
    Johann

  • Gustaf Claassens

    'n Mooi ode wat seer sekerlik waardeer sal word. Dis dalk ook gepas vir ons as lesers (wat ons dikwels slim probeer hou) om Bettina se goeie wense te onderskraag aangesien ons as lesers nog minder bewus is van die groot werk, tyd en opoffering wat gemaak word om 'n forum soos LitNet aan die gang en lewendig te hou. Dis 'n platform in ons taal waar geklets, gedink en skryf kan word. Dit lig in, slyp en skerp op. Dit beïnvloed en verander (selfs) denke en bied 'n veelheid insigte wat so belangrik is vir 'n lewende volk of nasie.
    Dank is natuurlik ook verskuldig, in dalk, en selfs 'n groter mate, aan voltydse rubriekskrywers soos Bettina en ander wat voortdurend kreatief en skeppend aan temas moet dink en daaroor skryf. Blootstelling aan kritiek is van die dinge wat verduur (moet) word. Die waarde van sulke rubriekskrywers se insette en bydraes is egter groter en meer positief as wat besef word. Dit maak ons as gewone burgery lees, dink en selfs die "pen" optel. Solank dit gebeur, is daar hoop. Mense wat nie in hoop leef nie, sal nie sommer moeite doen om bydraes (goed of swak) te maak nie. Die uitdaging is om alles so beskaafd moontlik te hou, ook wanneer nie saamgestem word nie. Natuurlik voldoen ons as lesers nie altyd hieraan nie. Na alles bly ons almal maar net mense met sterk oortuigings en emosies. Die tye waarin ons leef maak dat dikwels oorreageer word wat op sigself nie as verskoning kan of moet dien nie. Nietemin, die kort van alles is dat daar waardering is, en behoort te wees, vir almal wat ons laat DINK.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top